
Om oor volksmoord te skryf, is nie 'n aangename taak nie. Dit bring onmiddellik in 'n mens se geestesoog beelde op van mense in arbeidskampe, omring deur hoë draadheinings, met gewapende wagte en honde op patrollie. As ek “mense” sê, is dit nie wat ’n mens werklik in jou geestesoog sien nie: jy sien lewende geraamtes wat eens mense was, met families, vriende en menslike strewe.
Dan dink 'n mens onwillekeurig, nader aan die huis, aan hope lyke, met liggame wat met pangas uitmekaar gekap is; en jy dink aan riviere wat rooi is van mensebloed, met lyke wat ronddryf.
Dan beweeg 'n mens se gedagtes ongenadiglik na 'n plaashuis op 'n afgesonderde plaas in jou eie geliefde land. Jy sien diefwering wat afgebreek is en deure wat met geweld oopgeforseer is. Dan sien jy die onbeskryflike tonele binne die huis, waaroor 'n mens eerder nie wil dink nie …
Dit is dan wanneer debatte oor “volksmoord of nie?” moet probeer wegbeweeg van emosie en dikwels gefabriseerde narratiewe. Dit is dan tyd om so rasioneel moontlik te probeer dink oor 'n onderwerp wat, juis vanweë die emosionele aard daarvan, meestal min ruimte vir rasionele denke laat.
Wat volg, is 'n raamwerk/model vir denke oor volksmoord wat beskrywend van aard is en wat binne 'n breër konteks uitlig wat daaroor gesê móét word. Die idee is dat dit as 'n bron van insig gelees moet word ten einde voorkomende aksie te kan neem. Die opsteller van die raamwerk het beklemtoon dat ingryping in elke stadium moontlik is. Dit kan nie oorbeklemtoon word nie. Daar kan nie gewag word totdat die proses by nommer 99 staan, voordat tot bewusmaking en aksie oorgegaan word om die uiteindelike tragedie van volksmoord te voorkom nie.
Gregory H. Stanton, 'n volksmoordkundige en voormalige Amerikaanse staatsamptenaar — en later stigtersvoorsitter van Genocide Watch — het die raamwerk oor volksmoord waarna hier verwys word, ontwikkel. Hy het dit aanvanklik as 'n agt-stadium-model aangebied, maar later twee stadiums bygevoeg.
Dit word wyd gebruik as 'n ontledings- en vroeëwaarskuwingshulpmiddel om onder meer uit te wys dat ontkenning van volksmoord nie beteken dat die proses nie reeds aan die gang kan wees of dat volksmoord nie uiteindelik kan plaasvind nie. Dit is uiteraard ook relevant binne die Suid-Afrikaanse konteks.
Die belangrikste punte van die model is eerstens dat volksmoord 'n proses is, nie 'n enkele gebeurtenis nie. Die fases is voorspelbaar, maar nie onvermydelik nie. Voorkomende maatreëls kan die proses op enige punt onderbreek. Volksmoord verloop nie streng lineêr nie; fases kan gelyktydig voorkom, oorvleuel of voortduur selfs nadat latere stadiums reeds begin het.
Hier is Stanton se tien stadiums:
Klassifikasie — Mense word in “ons” en “hulle” verdeel op grond van etnisiteit, ras, godsdiens, nasionaliteit, ensomeer.
Simbolisering — Name of simbole word aan die klassifikasies gekoppel (soos kenmerkende klere of neerhalende etikette).
Diskriminasie — Wetgewing, gewoonte of politieke mag word gebruik om regte, burgerskap of volle gelykheid aan die teikengroep te ontsê.
Ontmensliking — Die menslikheid van die groep word ontken; haatpropaganda raak algemeen.
Organisasie — Geweld word beplan en gestruktureer, gewoonlik deur die staat of deur groepe wie se bestaan die staat ontken, onder meer milisies of paramilitêre groepe wat onder 'n dekmantel kan funksioneer.
Polarisasie — Ekstremiste dryf groepe verder uitmekaar; gematigdes word stilgemaak, geïntimideer of uitgeskakel; propaganda word intensiewer.
Voorbereiding — Die “finale oplossing” word beplan, wapens word opgegaar, moordenaars word opgelei, slagoffers word geïdentifiseer en eufemismes word gebruik; die bevolking word deur vrees geïndoktrineer.
Vervolging — Slagoffers word geïdentifiseer en afgesonder, eiendom word gekonfiskeer, doodslyste word opgestel en massamoorde begin.
Uitroeiing — Die massamoord self, wat regtens as genocide (volksmoord) beskryf word sodra die bedoeling om die groep geheel of gedeeltelik te vernietig, duidelik is.
Ontkenning — Daders ontken die misdade, vernietig bewyse en blameer die slagoffers. Hierdie stadium duur dikwels lank ná die moorde voort.
My uitdaging aan lesers is om, aan die hand van Stanton se model soos hier uiteengesit, self die ontbrekende inligting ten opsigte van die Suid-Afrikaanse realiteit in te vul en tot hul eie gevolgtrekkings te kom.

Nog artikels deur Piet du Plessis:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







