OntLaer het onlangs 'n artikel van my gepubliseer oor die ANC en hul optrede in die hart van die staatsmasjinerie in Suid-Afrika nadat hulle die land in 1994 oorgeneem het.
Die artikel het 'n blik gewerp op die ANC se optrede binne die provinsiale regering in die jare kort ná hul oorname, toe die groot taak om die staatsbedeling te transformeer op hul skouers gerus het. Wat ek in die artikel uiteengesit het, is my persoonlike ervarings van daardie jare. Toe ek die Nuwe Suid-Afrika vrywillig in 'n senior staatsdiensposisie gedien het, het ek nog die illusie gehad dat Madiba se idee van 'n nuwe bedeling met gelykberegtiging vir almal uiteindelik aangebreek het — en dat dit my voorreg sou wees om, juis omdat ek deur die ANC as 'n nie-ANC-kader in diens geneem is, daardie eerbare doel te help bereik.
Die kort en die lank van die ervaring was egter een van groot ontnugtering en teleurstelling. Die ANC-kaders het baie gou die staatsdiens polities gekaap met die doel om dit te misbruik as 'n middel tot persoonlike verryking. Hul onderduimse en onetiese metodes om hul doel te bereik, het geen perke geken nie. Dit was ten spyte van 'n CODESA- en tussentydse grondwetooreenkoms dat daar 'n oorgangsevolusie sou plaasvind met die hulp van kundigheid uit die Ou Bedeling, juis om die land se administrasie nie te kniehalter nie. Maar die comrades kon hulleself nie keer nie, soos ek in die gemelde artikel vertel het, kon hulle nie wag om die staatsdiens te verpolitiseer nie en het binne enkele jare 'n korrupte, patronaatgedrewe ontginningsstaatsdiens geskep met die hoofdoel om persoonlike rykdom te bekom.
Ek skryf onlangs verder vir The Rational Standard hoe absoluut onopgewasse en onbevoeg die gemiddelde ANC-kader is om behoorlike munisipale oorsig uit te oefen. Dit verklaar dan ook waarom munisipaliteite onder die ANC in die meeste gevalle ineengestort het, en waarom 'n voortsetting van die ANC se werkswyse om kaders in munisipale rade te ontplooi (die bekende “deployment”-strategie) hoegenaamd nie opgewasse is vir die komplekse taak van 'n munisipale raadslid nie. Dit bied dus geen hoop dat die post-2026-munisipale verkiesings noodwendig beter uitkomste gaan oplewer nie. Die reeds benarde munisipale situasie gaan nog verder vererger word weens politieke binnegevegte op munisipale vlak, juis as gevolg van die waarskynlikheid dat tot 50% van die nuwe munisipale rade nie volstrekte meerderhede ten opsigte van 'n spesifieke politieke party sal hê nie (sogenaamde “hung councils”).
In hierdie huidige artikel wil ek graag met die lesers deel hoe ek die binnewerkinge van die ANC ook op 'n baie latere stadium — nadat hulle reeds 'n paar dekades se regeerervaring agter die rug gehad het en dus veronderstel was om “volwassenheid” te bereik — op munisipale vlak ervaar het. Dit was in my hoedanigheid as nie-uitvoerende direkteur van 'n munisipale plaaslike ekonomiese ontwikkelingsagentskap. Ek is jaar ná jaar vir vier jaar aangestel en heraangestel as nie-uitvoerende direkteur van die agentskap. Dit was vir alle praktiese doeleindes 'n pro bono-aanstelling, met klein stipendia wat betaal is vir die bywoning van vergaderings, asook die terugbetaling van vervoerkoste om die direksievergaderings by te woon. Die agentskap het in terme van die Maatskappywet gefunksioneer, met die munisipaliteit as aandeelhouer. Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) het die meeste bedryfsuitgawes binne streng reëls help dek en het as oorsigliggaam, deur middel van hul eie amptenare en verslagdoeningsvereistes, die bedryf van die agentskap gemonitor. In terme van die ooreenkoms met die NOK moes die munisipaliteit as enigste aandeelhouer ook sekere bydraes tot die bedryf van die agentskap maak. Ek sal later terugkeer na daardie bepaling oor medefinansiering volgens ooreenkoms, wat in die praktyk meestal nooit deur die munisipaliteit nagekom is nie.
Die agentskap se direkteure is in terme van die Maatskappywet aangestel en het dus volle fidusiêre verpligtinge gehad soos deur die wet aan direkteure opgelê. Die teoretiese voordeel van 'n munisipale ontwikkelingsagentskap was dat dit op 'n afstand en “onafhanklik” van die munisipaliteit kon funksioneer, aangesien besigheidsbesluite in beginsel geneem kon word sonder enige munisipale raads- of bestuursinmenging. In beginsel dus 'n baie goeie ontwikkelingskonsep.
Interessantheidshalwe — en ook omdat dit dalk skeptiese lesers kan gerusstel wat hul skeptisisme oor my sieninge en motiewe uitgespreek het op grond van my vorige kritiese artikels oor die ANC — wil ek die volgende noem: ek sou nie as direkteur aangestel gewees het as die ANC nie steeds my goeie bedoelings en integriteit op prys gestel het nie. Natuurlik het die feit dat dit die Nywerheidsontwikkelingskorporasie was wat die proses gemonitor het, ook 'n rol gespeel, want hul eie reputasie en fondse was op die spel en het dus vereis dat direkteure op grond van meriete aangestel word. Ten spyte daarvan het die ANC-stadsraad, en die uitvoerende burgemeester in die besonder, egter die finale sê oor sulke aanstellings gehad. Ek glo dat skeptici en kritici dit sal lees soos die werklikheid dit demonstreer: as ek die ANC-in-regering kritiseer, is dit nie weens anti-ANC-sentimente per se nie. As ek anti-ANC was, sou ek nie in die eerste plek vrywillig vir vier jaar as senior staatsamptenaar in die nuwe ANC-administrasie aangestel gewees het nie; en sou ek beslis ook nie bykans twee dekades later weer in 'n ANC-beheerde staatsopset op munisipale vlak aangestel gewees het om vir 'n verdere vier jaar in 'n senior posisie te dien nie.
Om dit nog duideliker te stel: ek kritiseer die ANC met teleurstelling, ontnugtering en seer in my hart, omdat ek baie graag wou gehad het — en wou help — dat hulle suksesvolle nuwe bewindhebbers van Suid-Afrika word, soos wat die land se kiesers dit wou hê. Maar helaas, ná dekades se mislukkings — baie daarvan weens selfsug en gierigheid wat tot massiewe korrupsie gelei het, maar ook weens uitgediende beleide uit die Sowjetunie-tydperk wat lank reeds elders tot groot mislukkings gelei het — kon ek eenvoudig nie meer swyg nie. My kritiek is skerp, maar doelbewus so, want soos die Engelse sê: “It is sometimes necessary to be cruel to be kind.”
My kritiek is gebaseer op eerstehandse ervarings van agt jaar se aktiewe deelname aan ANC-administrasie- en ontwikkelingspogings, waar ek sonder ophou probeer het om my eie professionaliteit en etiese waardestelsel op die kaders af te vryf. Maar die slegte ouens het ongelukkig gewen, soos hulle sê. Terselfdertyd gee ek egter ook krediet aan 'n klein minderheid baie goeie ANC-amptenare wat in die verlede, en steeds vandag, hard probeer om behoorlike staatsadministrasie en -ontwikkeling te fasiliteer en te bestuur. Ek haal my hoed vir hulle af, want ek weet uit ervaring dat die omdraai van praktyke wat verby die “point of no return” verrot het, nie sonder meer moontlik is nie. Die ANC se verkrummeling gee hoop, maar daar is ontsettend baie gevestigde belange in die party wat letterlik tot die dood toe beskerm sal word deur die groot aantal uiters korrupte ANC-kaders.
Terug na my ervaring by die ontwikkelingsagentskap. Een van die nuutaangestelde raad se eerste take was om 'n hoofuitvoerende beampte aan te stel. Die proses is ook uiters professioneel aangepak en regverdige onderhoude is met die kandidate op die kortlys gevoer. Soos die geluk dit wou hê, was een van die aansoekers 'n uitstekende swart vrou met 'n privaatskoolopleiding en privaatsektorervaring in 'n relatief senior pos, met bewese vaardighede. Sy is egter nie sommer net deur die raadslede gekies nie, al was sy by verre die beste kandidaat. Daar was pogings deur enkele raadslede om 'n kandidaat aan te stel wat vermoedelik politieke motiewe gehad het en deur politieke meesters beïnvloed sou gewees het — iets wat die hele projek sy doel sou laat misloop. Die teenwoordigheid van 'n meerderheid polities “neutrale” raadslede en die invloed van die amptenaar van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het egter tot die regte finale besluit gelei: werklike bekwaamheid is op meriete aangestel. Dit het die agentskap vir omtrent drie jaar in staat gestel om werklike ontwikkelingsprojekte suksesvol van stapel te stuur, binne begroting en met skoon oudituitkomste.
Dit was 'n bewys van hoe dit moontlik is om, met bekwame en eerlike bestuur, ordentlike en bekwame direksie-oorsig en strategiese leiding — en met die afwesigheid van politieke inmenging — werklik sukses te behaal.
Dit dien vermeld te word dat daar onder die reeks suksesvolle projekte van die agentskap een was wat op die toerismeterrein tot vandag toe nog groot getalle nasionale en internasionale toeriste lok. Dit word uiters winsgewend bedryf en het bekendheid verwerf as een van ons land se mees innoverende, interessante en besoekbare toerisme-aantreklikhede.
Soos voorheen gemeld in my ander artikel waarna hierbo verwys is, wil ek nie spesifieke name deel nie, aangesien dit die betrokke individue dalk aan persoonlike blootstelling kan uitlewer met onbedoelde gevolge. Dit was nog nooit my bedoeling om persoonlik te raak nie, maar ek moet sê dat ek graag die uitskieters by name sou wou noem om eer aan hulle te bring. Om daarin te slaag om in die ongesonde ANC-regeermilieu — waarvan ek die toksiese aard reeds in besonderhede beskryf het — te presteer sonder om by oneerlikheid en korrupsie ingesleep te word, is inderdaad 'n noemenswaardige prestasie.
Terug by die lesse vir sukses wat ek uit my ervaring by die munisipale ontwikkelingsagentskap geleer het: sukses hang grootliks daarvan af om die korrekte privaatsektorvennote by projekte te betrek. In gevalle waar daar, om redes van die regstelling van historiese benadeling, spesifiek na 'n vennoot van 'n bepaalde rassegroep gesoek word om by 'n projek te betrek, het die praktyk weereens uitgewys dat meriete en bekwaamheid enige moontlike politieke beïnvloeding moet troef wat daarop gemik is om 'n blote patronaatsvennoot af te dwing ten einde die projek op parasitiese wyse uit te suig vir persoonlike verryking, sonder om wesenlike waarde tot die projek toe te voeg.
Ongelukkig, soos met die meeste ander ANC-verhale, het die goeie werk van die agentskap ná ongeveer drie jaar begin stotter. Die rede was 'n verandering van 'n neutrale direksievoorsitter na een wat toenemend politieke ingesteldhede en motiewe geopenbaar het. Hy het voorstelle begin maak wat duidelik daarop gemik was om die politici ter wille te wees. Dit is aanvanklik deur die raadslede teengestaan, maar het ook gelei tot die bedanking van raadslede wat nie gewoond was aan die ANC se styl van politieke inmenging nie en dus eerder hul direkteurskappe opgegee het. Hulle is natuurlik toe vervang met politieke lakeie wat die ANC ter wille sou wees, al sou dit verdere suksesvolle ontwikkelingsprojekte kelder.
Nie lank daarna nie het die uiters bekwame hoofuitvoerende beampte na wie ek verwys het, ook aanbeweeg. Sy is vervang met die mees ondenkbare swakkeling en volslae ANC-marionet sonder enige bevoegdheid. Dit was die einde van die agentskap se prestasies en, aangesien ek self ook mettertyd bedank het, kan ek nie met sekerheid sê of daar toe nog enigiets anders as bedenklike begunstigingsprojekte deur die agentskap uitgevoer is nie. As daar enige betekenisvolle ontwikkelingswerk daarna plaasgevind het, het ek nooit daarvan gehoor nie. Al wat ek uit mediaberigte kon aflei, is dat die munisipaliteit self ook kort daarna die tipiese ANC-ineenstorting beleef het. Ek glo die agentskap sou dieselfde pad geloop het.
Die munisipaliteit kon of wou ook nooit veel bydra as medefinansierder, ooreenkomstig die kontraktuele verpligting teenoor die Nywerheidsontwikkelingskorporasie nie — iets waarna ek vroeër in die artikel gesê het ek sou terugkeer. Ek is bewus van geringe hulp van die streeksmunisipaliteit om op te maak vir die munisipaliteit se eie onwilligheid of onvermoë om hul finansiële verpligtinge ten opsigte van die agentskap na te kom. Die hulp was meestal nie finansieel nie, maar in natura, soos om 'n beleggingskonferensie vir die agentskap te reël. Dit op sigself was iets om te beleef. Met my aankoms buite die lokaal waar die beleggerskonferensie sou plaasvind, was ek baie beïndruk en opgewonde. Daar was 'n ry luukse voertuie buite die lokaal geparkeer. Ek was verbaas en beïndruk dat sulke opsigtelik welgestelde potensiële beleggers so vroeg vir die konferensie opgedaag het. Toe ek egter die saal binnetree, loop ek my vas in die amptenare van die streeksmunisipaliteit, met bykans geen potensiële belegger in sig nie. Die luukse voertuie het aan die amptenare van die streeksmunisipaliteit behoort.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










