Suid-Afrika is op die vooraand van 'n groter waterskeidingsmoment as dié van die 1994-oorgang. Daar is groot moontlikheid vir wye onstabiliteit. Die uitkoms van die plaaslike regeringsverkiesings van November 2026 gaan waarskynlik grondverskuiwings veroorsaak met verreikende gevolge vir ons land se politiek.
Daar gaan honderde (dalk meer as 'n duisend) raadslede wees wat hul poste en enigste bronne van inkomste verloor. Raadslede se pakkette sluit gewoonlik 'n basiese salariskomponent in, plus gestruktureerde elemente soos selfone en selfoonuitgawes, reis- en verblyf-/motorvoertuigtoelae, behuisingstoelae, munisipale bydraes tot pensioen-/voorsorgfondse (dikwels tot ongeveer 15% van die basiese salaris) en mediesefondsbydraes. Dit beteken dat gewone deeltydse raadslede tipies totale pakkette in die lae tot middel-honderdduisende rand per jaar ontvang (hoër in metros), terwyl voltydse uitvoerende posisies in groter munisipaliteite meer as R1 miljoen per jaar beloop, plus die genoemde toelaes en versekeringsdekking.
Wat nog meer kommerwekkend is, is dat baie huidige raadslede gaan hul toegang tot begunstiging verloor, soos om byvoorbeeld deur frontmaatskappye tenders met opgeblaasde pryse te bekom of daarin te deel, met die onverdiende inkomste wat daaruit voortspruit. Daar is dus baie op die spel vir hierdie kaders wat uitgestem gaan word.
Meningspeilings en voorspellings dui ook daarop dat ongeveer 50% van ons munisipale rade geen volstrekte meerderheid gaan hê nie (“hung councils”).
'n Verkiesingsnederlaag op plaaslike vlak is nie bloot die verlies van politieke invloed nie. In baie munisipaliteite beteken dit die skielike ontwrigting van 'n hele plaaslike politieke ekonomie. Dit behels salarisse wat verdwyn, komitee- en uitvoerende poste wat verloor word. En dan politieke aanstellings wat verander en gevestigde netwerke rondom kontrakte, verskaffers en toegang tot besluitnemers wat verbrokkel. Hoe groter die ekonomiese waarde van politieke beheer geword het, hoe groter is die aansporing om daardie beheer ten alle koste te behou of so gou moontlik terug te wen.
Die risiko is boonop nie net dat voormalige ampsdraers ontevrede gaan wees nie, maar dat hierdie stryd binne uiters brose instellings gaan afspeel. 'n Nuwe meerderheid of koalisie erf nie 'n skoon administraties nie. Hulle erf daardie korrupte bestaande kontrakte, skuld, vervalle infrastruktuur, personeelstrukture en dikwels jare se swak finansiële bestuur. Die politieke verandering kan dus binne enkele dae plaasvind, terwyl institusionele herstel jare neem.
En om alles te vererger, ontvou hierdie scenario binne groter provinsiale en nasionale omgewings waar staatsverval eerder die reël as die uitsondering is.
Die geskiedenis van munisipale administrasie oor die afgelope paar dekades in Suid-Afrika wys dat nasionale en provinsiale ingrypings oor die algemeen weinig verskil gemaak het. Dit is meestal net om die stoele op die Titanic se dek rondgeskuif, waarna die verdere ondergang eenvoudig voortgegaan het sodra die ingrypings formeel geëindig het.
Dit weens die feit dat die ingrypings bloot die simptome van die probleem aangespreek en nie die probleem self nie. Ou ANC-kaders wat misluk het, is bloot deur nuwe ANC-kaders vervang wat later ook weer misluk het, omdat meritokrasie nie die deurslaggewende oorweging by hul aanstellings of nominasies was nie en omdat daar nie 'n einde gemaak is aan kaderontplooiing en politieke inmenging in munisipale administrasie nie.
Maar die optrede wat van alle raadslede verwag word word uitvoerig uiteengesit in die Nasionale Tesourie se “A Guide to Municipal Financial Management for Councillors” en die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur self. Raadslede moet hulself vertroud maak met die jongste WMFB-omsendbriewe, die munisipaliteit se spesifieke beleide en deurlopende opleiding deur SALGA of provinsiale tesourieë, aangesien praktiese toepassing en finansiële gesondheidsaanwysers voortdurend ontwikkel.
Nog artikels op Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










