Die BELA-wet is misplaas oor tuisonderwys
Geburokratiseerde tuisonderrig sal leerders nie baat nie.
Artikel 51 van die nuwe BELA-wet is oorweldigend verwerp deur tuisskolers tydens die publieke verhore, omdat dit ouerlike gesag ondermyn.
Nieteenstaande tienduisende besware, is die artikel onveranderd aanvaar — sonder dat die departement empiriese bewyse of 'n maatskaplik-ekonomiese impakstudie vir hierdie beleidsverskuiwing uitgevoer het. Die Minister van Basiese Onderwys is daarvan oortuig dat sy geen ander keuse het as om hierdie gebreklike wet toe te pas nie. Verder voel sy verantwoordelik daarvoor om die reg op basiese onderwys vir elke kind te verwesenlik. Wat nou gemaak?
Wat sê Artikel 29(3) werklik?
Artikel 29(3) van die Grondwet bepaal:
“Elkeen het die reg om op eie koste onafhanklike onderwysinstellings tot stand te bring en in stand te hou wat—
(a) nie op grond van ras diskrimineer nie;
(b) by die staat geregistreer is; en
(c) standaarde handhaaf wat nie minderwaardig is vergeleke met standaarde by vergelykbare openbare onderwysinstellings nie.”
Hierdie bepaling beskryf die regte en pligte van persone wat skole stig of bestuur. Nie van ouers wat hul eie kinders opvoed nie.
Artikel 51 van die BELA-wet bepaal dat tuisleerders by die staat geregistreer moet word en deur “bevoegde assessors” volgens 'n minimum standaard gemonitor moet word. Hierdie formulering en plasing impliseer dat die BELA-wet tuisonderwys as 'n vorm van onafhanklike skoolonderwys beskou, omdat:
Artikel 51 onder Hoofstuk 5 van die wet val, wat oor onafhanklike skole handel;
die registrasievereistes daarin ooreenstem met dié van onafhanklike instellings in Artikel 29(3) van die Grondwet; en
die Skolewet — wat deur die BELA-wet gewysig word — volgens sy oorspronklike aanhef beperk is tot die organisasie, bestuur en befondsing van skole.
Deur tuisonderwys binne dieselfde raamwerk as onafhanklike skole te reguleer, begaan die BELA-wet 'n grondwetlike kategoriefout. Die BELA-wet verwar die reg om 'n instelling te stig met die verantwoordelikheid om 'n kind groot te maak — twee verskillende regskategorieë. Die vereistes van Artikel 29(3) geld vir instellings, terwyl die bepalings van Artikel 51 betrekking het op die handelinge van natuurlike persone. Om vereistes wat vir regspersone ontwerp is op gesinne toe te pas, is irrasioneel en bots met die beginsel van grondwetlike rasionaliteit — dat wetgewing logies met sy doel verbind moet wees. Verder:
Artikel 29(3) geld vir die stigting en instandhouding van instellings, maar tuisonderwys is nie iets wat “gestig” word nie. Dit is 'n natuurlike en voortdurende ouerlike plig wat nie staatsvergunning vereis nie.
Artikel 51 geld slegs vir kinders van skoolgaande ouderdom, terwyl tuisonderwys vanaf geboorte tot onafhanklikheid strek. Dit is irrasioneel om staatsvergunning te vereis bloot omdat 'n kind 'n sekere ouderdom bereik het.
Artikel 29(3)(a) verbied rassediskriminasie deur instellings — 'n bepaling wat sinloos is wanneer dit op individuele ouers toegepas word.
Artikel 29(3)(c) vereis dat instellings standaarde handhaaf wat nie minderwaardig is aan dié van openbare skole nie — 'n kollektiewe instelling-standaard wat nie logies op geïndividualiseerde, tuisgebaseerde leer toegepas kan word nie.
Artikel 29(3)(b) vereis dat instellings by die staat registreer, maar kinders is reeds in die bevolkingsregister aangeteken; her-registrasie het geen rasionele grondslag nie.
Om dus die vereistes van Artikel 29(3) op ouers se opvoedkundige keuses toe te pas, is grondwetlik inkonsekwent en wetgewend misplaas.
Kinderwet is gepas
Die verhouding tussen ouers en kinders — insluitend opvoeding — word deur die Kinderwet gereguleer. Hierdie wet erken ouers as die primêre versorgers wat verantwoordelik is vir hul kinders se opvoeding, sonder dat staatsvergunning vir enige aspek van ouerskap vereis word. Die Kinderwet:
veronderstel ouerlike bevoegdheid om vir en onderrig aan kinders te gee;
maak voorsiening vir ingryping wanneer ouers hul pligte versuim; en
balanseer ouerlike onafhanklikheid met die staat se eindbeskermingsrol;
sluit opvoeding in sy definisie van “versorging” in: “om die kind se opvoeding en grootword te rig, te lei en te verseker …”
Indien daar navorsing is wat die noodsaak vir regulering van tuisonderwys kan aantoon, is dit meer rasioneel en grondwetlik konsekwent om dit onder die Kinderwet te plaas, nie onder 'n wet wat vir skole bedoel is nie. Die kinderwet bevat ook uitvoerige toesigmeganismes om verwaarlosing te identifiseer en aan te spreek. Dit bewys dat beskerming moontlik is sonder vooraf-lisensiëring of algemene staatsmonitering van alle gesinne.
Die Kinderwet reguleer die ouer-kind-verhouding; die Skolewet reguleer instellings wat in loco parentis (in die skoene van die ouer) optree. Logies gesproke moet laasgenoemde binne eersgenoemde raamwerk funksioneer — anders belemmer dit die kind se reg op ouerlike sorg.
Artikel 2 van die Grondwet bepaal verder dat enige wet of optrede wat onbestaanbaar met die Grondwet is, ongeldig is. Aangesien Artikel 51 grondwetlik inkonsekwent is, sal dit moeilik wees om in praktyk af te dwing. Die botsing tussen grondwetlike regte en wetgewende ontwerp sal noodwendig onvoorspelbare en teenstrydige toepassing meebring.
Onderwysdepartemente sal dus binne hierdie beperkinge verantwoordelik moet optree. Drie realistiese benaderings is moontlik, beginnende met minimale implementering: beperkte afdwinging, lae vervolging en minimale hulpbronne, terwyl die interne teenstrydigheid geïgnoreer word. So 'n benadering herinner aan Sowjet Unie-grap waarvolgens werkers sal aanhou voorgee dat hulle werk solank as wat base voorgee om te betaal. 'n Moratorium op vervolging is ook wenslik: Artikel 3 van die BELA-wet verplig nie onderwysdepartemente om ouers te vervolg wat nie registreer nie. 'n Provinsiale Hoof van Departement kan dus 'n moratorium op vervolging instel en slegs vrywillige registrasie toelaat vir gesinne wat die staat se goedkeuring as voordelig beskou. So 'n moratorium strook met administratiewe rasionaliteit en proporsionaliteit—om nie skaars hulpbronne op die afdwinging van 'n grondwetlik twyfelagtige bepaling te bestee nie. Daar is dan ook die moontlikheid van vrystelling ingevolge Artikel 4: Departemente kan vrystelling van die skoolplig toestaan aan ouers wat bloot kennis gee dat hulle hul kinders buite die skoolstelsel wil opvoed.
Op die langer termyn het Suid-Afrika 'n nuwe onderwysbedeling nodig wat leerwyses buite die skoolstelsel erken en bemagtig. So 'n raamwerk behoort ouers toe te laat om hul grondwetlike verantwoordelikheid vir hul kinders se opvoeding uit te leef, terwyl die staat sy plig nakom om elke persoon se reg op basiese onderwys ingevolge Artikel 29(1)(a) te beskerm.
Toesig moet die kind se reg om te leer beskerm — nie die ouer se reg om te onderrig lisensieer nie.
Die Minister se rol
Die Minister beroep haar op 'n plig om elke kind se reg op basiese onderwys te verwesenlik en gebruik dit as grondslag vir ingryping in gesinne. Volgens die Kinderwet is onderwys egter deel van ouerlike sorg, bepaald “leidinggewing, rigtinggewing en versekering van die kind se opleiding en opvoeding…” — met ander woorde, die primêre opvoedingsbevoegdheid berus by die ouers.
Geskiedkundig het die Skolewet nie hiermee gebots nie: die Minister se mandaat was om die skoolstelsel te bestuur, nie om buite die stelsel oor huishoudelike opvoeding toe te sien nie. Die BELA-wet se nuwe aanhef brei die mandaat uit deur te praat van om: “… die onderrig van kinders te fasiliteer deur die bevordering en beskerming van die reg op basiese onderwys”. Hierdie is gewoon 'n poging om die mag van die onderwysminister uit te brei sonder dienooreenkomstige wysigings aan die Grondwet of die Kinderwet. Artikel 51 probeer dié uitbreiding operasionaliseer deur lisensiëring, kurrikulum-voorskrywing en monitering van tuisonderwys. Dit is instrumente van beheer, nie van bevordering en beskerming nie, en daar is geen empiriese bewys dat sodanige beheer die reg op basiese onderwys verbeter nie. Die gevolg is dat die bepaling arbitrêr en irrasioneel raak: dit skuif die klem weg van kinderregte na die lisensiëring van ouers. Daarby bepaal Artikel 29(1)(a) dat elkeen die reg op basiese onderwys het — ook volwassenes wat uit die stelsel val. Die BELA-aanhef wat slegs na “kinders” verwys, probeer dus die reg tot basiese onderwys arbitrêr tot kinders beperk, in stryd met Artikel 29(1)(a).
Die stryd vir vryheid vir onderwys eindig nie met die BELA-Wet nie. Dis slegs 'n nuwe fase van verset teen 'n ongrondwetlike poging van 'n minister om Godgegewe ouerlike gesag te ondermyn. Met die Grondwet aan ouers se kant is dit tyd vir 'n nuwe gesprek oor beleid — een wat nie beheer soek nie maar vertroue herstel tussen ouers en die staat.
Die pad vorentoe lê nie in vervolging nie, maar in samewerking en respek vir gesinsvryheid.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










