Politieke ontleding word vereenvoudig en verteerbaar gemaak deur groot ideologiese tweespalte.
Eenvoudige pare wat orde aan die chaos van idees en die uitoefening van mag bring. Links teenoor regs, staat teenoor individu, progressief teenoor behoudend, sentralisering teenoor federalisme. Hierdie kategorieë het hul plek. Hulle help ons om politieke denkstrominge te verstaan, beleidskeuses te orden en selfs ons eie waardes te toets. Maar in 'n land soos Suid-Afrika wat net so hard met sy post-apartheid geskiedenis stoei as wat hy met twee dekades se ernstige staatsverval stoei is hierdie ideologiese binêre teenstellings nie altyd behulpsaam nie.
Hierdie ou skeidslyne verduidelik nie noodwendig presies die oomblik waarbinne die land en sy gemeenskappe tans is nie.
Die Perdeskoen-teorie en Griewepolitiek
Volgens die sogenaamde politieke perdeskoen-teorie is die uiterste linkses en regses nader aan mekaar as wat hulle self besef. In die VSA is dit byvoorbeeld duidelik sigbaar. Donald Trump is verkies op 'n vryemarkmandaat, maar het toe talle anti-vryemarkbeleide soos invoerheffings en staatsbesit in privaatmaatskappye geïmplementeer. Beleide wat netsowel uit die voorafgaande Biden, Obama of 'n denkbeeldige Bernie Sanders-administrasie kon kom.
Albei glo dat hul eie groep bedreig word deur 'n korrupte elite of vyandige stelsel, en albei wil die staat gebruik om hul weergawe van regstelling ten alle koste af te dwing. Dis die politiek van griewe (grievance politics) waar elke kant sy eie slagofferskap koester. Die woke linkses sien hulself as slagoffers van patriargie, kapitalisme en koloniale nalatenskappe terwyl die populistiese regses hulself sien as slagoffers van globalisme, progressiewe media en kulturele verval. Beide put mag uit die gevoel van onreg, eerder as uit die strewe na orde, balans en bouwerk. Hierdie uiterstes bou nie, omdat hul politiek van klagtes en vyandskap afhanklik is van voortdurende krisis. Sonder 'n gevoel van bedreiging verloor hul bestaansreg betekenis. Hulle kan dus nie instellings herstel nie, want hul mag spruit juis uit die wantroue teenoor daardie instellings.
Maar in 'n land waar ons strukture letterlik en figuurlik verkrummel, het ons minder ideologiese stryd en meer daadwerklike bou nodig. Reg oor die wêreld is 'n nuwe as van politiek besig om te ontstaan tussen dié wat instellings bewaar en dié wat dit vir applous verbrand. Die skeidslyn bestaan al vir 'n geruime tyd in Suid-Afrika tussen die vervallende staat en privaatentiteite (sakeondernemings en gemeenskappe), maar die land se komende verkiesing gaan toets of die formele politiek uiteindelik gaan opvang en die tweespalt erken.
Die Suid-Afrikaanse Toets
Ten spyte van die groot invloed van hierdie politieke en kulturele gesprekke wat uit die VSA en Europa oorspoel, bly dit dikwels vreemd hoe disproporsioneel ons eie kommentaarklasse hierdie oorsese kwessies binne 'n Suid-Afrikaanse konteks bespreek.
Debatte oor of ons die einde van die VSA as moondheid sien, die migrantekrisis in Europa, of selfs oor wie almal hul Netflix-rekeninge kanselleer, vul menige rubrieke en paneelgesprekke. Maar vir die gemiddelde Suid-Afrikaner, die persoon wat elke dag deur beurtkrag in sy skimagtige nuwe vorms, stukkende paaie en onbetroubare lae waterdruk leef, is hierdie globale strydtonele 'n luukse belangstelling. Ons konteks is die van 'n post-apartheid land wat boonop deur twee dekades van staatsverval, korrupsie en infrastruktuur-ineenstorting moes leef. In só 'n land raak die ideologiese etikette van links of regs minder belangrik. Wat saak maak, is eenvoudiger: wie bou, en wie breek?
Die spanning tussen bou en breek is nie nuut nie. Plato het geskryf oor die geidealiseerde filosoof-konings wat 'n regverdige orde bou teenoor die sofiste en demagoë wat op verval en onkunde teer. Aristoteles het onderskei tussen die wat skep en die polis oftewel stadstaat versterk en die parasiete wat die polis leegsuig. Duisende jare later het Thomas Sowell geskryf oor diegene wat ekonomiese waarde skep teenoor diegene wat net gebruikers is. Ayn Rand se hele bekende boek Atlas Shrugged gaan oor die konflik tussen diegene wat bou en skep teenoor die plunderaars.
Politiek in Suid-Afrika op hierdie oomblik kan inderdaad ook vereenvoudig word tot twee soorte akteurs. Die bouers, wat daar waar hulle is instellings herstel, korrupsie beveg, administrasie verbeter en orde bring. En die brekers wat steel, verwoes, verskonings soek en dit wat van die staat oor bly verder plunder.
Die era van doeners
Die volgende dekade gaan aan die doeners behoort. Nie aan die praters, die teoretici of die kommentaarklasse nie, maar aan die mense en partye wat wys dat hulle kan bou, bestuur en herstel.
Suid-Afrikaners gaan toenemend dié beloon wat op plaaslike vlak kan wys dat hulle paaie regmaak, waterpype herstel, skole laat funksioneer en veiligheid verbeter. Want mense leef nie van ideologie af nie. Hulle leef nie van beleidsdokumente of konferensies nie. Vir die gemiddelde mens is politiek nie 'n filosofiese debat nie, maar 'n kwessie van oorlewing, 'n daaglikse stryd om veilig en voorspoedig te leef. En dit geld nie net vir die armstes nie. Dit geld net so vir die middelklas wat soggens sonder water wakker word, hul bande aan slaggate verloor en terselfdertyd belasting, mediese fonds én vir privaatsekuriteit moet betaal.
Sommige ontleders wys graag daarop dat as mens die ANC, EFF, MK en 'n paar kleiner ideologiese bondgenote se steun bymekaar tel, die transformasie-ideologie steeds 'n meerderheid het. Maar dit is 'n oppervlakkige en myns insiens kortsigtige lees van die politieke landskap. Daardie stemme verskuif tans tussen politieke partye met dieselfde ideologiese oorsprong, maar die partye se onderliggende siekte bly dieselfde, naamlik baie praat en min doen. Hierdie partye verskil dalk in retoriek, maar nie in uitkomste nie. En hoe langer mense se lewens agteruit boer terwyl die volume van die pratery toeneem, hoe meer gaan kiesers hul rug op hierdie hele geslag van politieke redenaars draai. In elke era van institusionele verval word griewe die goedkoopste politieke geldeenheid. Soos Eric Hoffer opgemerk het, kan bewegings wat op wrok gebou is, hulself slegs deur voortdurende krisis in stand hou.
En hierdie tweespalt tussen doen en praat is nie net sigbaar in die formele politiek nie. Dit word ook weerspieël in die burgerlike samelewing. Die groeiende premie wat Suid-Afrikaners plaas op optrede eerder as meningsvorming is duidelik sigbaar in die sukses van burgerregteorganisasies wat werklik doen. Organisasies soos AfriForum, met hul meer as 300 000 lede en honderde plaaslike takke of Gift of the Givers, wys dat mense toenemend aangetrokke is tot sigbare resultate. Hulle vul slaggate, herstel waterpompe, verskaf noodhulp en vat sake hof toe wanneer die staat nie optree nie. Hierdie organisasies groei nie omdat hulle nóg beleidsdokumente publiseer nie, maar omdat hulle plaaslik 'n tasbare verskil maak en dit ten spyte van hoe uiteenlopend mense oor hul politiek voel.
Speel die bal soos hy opduik
Abraham Maslow se hiërargie van behoeftes leer dat mens eers oorlewing en veiligheid moet bemeester voordat jy oor selfvervulling kan besin. Suid-Afrika, met sy kragonderbrekings, watertekorte, misdaad en korrupsie, is eenvoudig te ver van daardie hoër vlakke van politieke besinning af om te debatteer oor die fyn verskille tussen progressivisme, liberalisme en konserwatisme. En ek sê dit as iemand wat daardie debatte werklik waardeer en self daaroor skryf. Maar geen stelsel van idees help jou as jou rioolstelsel nie werk nie.
Een jaar voor die volgende plaaslike regeringsverkiesing behoort Suid-Afrikaners hulself dus nie te vra: “Is ek links of regs?” of “Watter leier pas by my ideologie?” nie. Die vraag is eenvoudiger: Wie bou, en wie breek?
Watter party het 'n rekord van herstel, van finansiële dissipline, van infrastruktuur wat werk en van deursigtigheid? En watter partye het 'n rekord van verval, van selfverryking, van beloftes wat uit die staanspoor wil breek?
Selfs die skerpste kritici sal noodgedwonge moet erken dat daar in hierdie land spesifieke partye is wat bou. Die versoeking sal wees om te sê: ja, maar ek wil eerder vir 'n party stem wat bou én my presiese ideologiese kleur dra. Maar dit is ongelukkig mooi wensdenkery, want daardie ideale party is nie op volgende jaar se stembrief nie. Soos Sacha Feinberg-Mngomezulu op die rugbyveld, moet ons speel met wat voor ons is. In die volgende twaalf maande gaan daar baie geskryf word oor die verkiesing. Oor partye, oor leiers, oor hul twiets en hul skandes.
Die mediastorms gaan ongetwyfeld kom, met al sy geraas en morele paniek, geveinsd of nie. Maar te midde van al daardie woorde behoort ons onsself net een eenvoudige vraag te vra: Stem ek vir bouers, of vir brekers?
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









