Die Kloof tussen Studie en Praktyk
'n Graad is meer 'n toegangsbewys as beroepsgereedskap.
In hierdie artikel besin ek oor Bryan Caplan se boek The Case Against Education: Why the Education System Is a Waste of Time and Money en my eie ervaring as 'n siviele kerningenieur.
Ek vind besonders baie aanklank by Caplan se waarneming as ekonoom dat onderwys meer oor “sosiale seine” uitstuur as oor menslike kapitaal gaan. Dit strook ook sterk met my professionele ervaring. Hy is reg dat baie min van wat ons op universiteit leer, werklik verband hou met wat ons in die werkplek doen. Ek is een van die min mense wat regstreeks in die veld werk waarvoor ek gestudeer het, met 'n posbeskrywing wat ooreenstem met my meestersgraad in siviele kerningenieurswese. Maar ek erken geredelik dat baie van my loopbaangeleenthede meer te danke was aan my eie “sosiale seine” wat ek aan werkgewers gestuur het as aan my werklike vaardighede.
Baie van die verantwoordelikhede wat ek gehad het, kon net so goed deur iemand met baie minder kwalifikasies verrig geword het.
Die Stelsel Verdien Ondersoek
Daar was nog altyd iets aan die onderwysstelsel wat vir my nie heeltemal sin gemaak het nie. Op skool is ek blootgestel aan vakke wat vir my totaal irrelevant gevoel het, soos Afrikaanse poësie uit die 1930’s, Shakespeare se Engels (waarvan ek nie 'n enkele reël kan onthou nie), en biologie oor plante wat ek geweet het ek gaan vergeet. Die lys is eindeloos. Vreemde wiskunde met min praktiese waarde, kuns-, sport- en musiekklasse wat selde 'n blywende waardering vir “hoë kultuur” of rugby gekweek het.
Dit beteken nie die Suid-Afrikaanse onderwys was swak nie. Verskeie van my onderwysers was toegewy en uiters begaafd, veral in wiskunde, 'n seldsame sterkpunt van hulle spesifiek in 'n land wat dikwels vir sy swak wiskunde uitkomste gekritiseer word. My laer- en hoërskool was in Gauteng se “topliga”, en ek het vandag nog kontak met vriende van daardie tyd, al het ons lewenspaaie lankal geskei.
Wat my op skool en universiteit die meeste verwar het, was die skeiding tussen wat mense studeer en wat hulle uiteindelik doen. As 18-jarige het ek geglo die beste strategie was om net deur skool te druk en universiteit toe te gaan, waar ek 'n rigting kon kies met 'n duidelike doel. In my geval siviele ingenieurswese. Ek het dit feitlik met 'n muntgooi gekies. Tussen my pa se loopbaan as finansiële bestuurder en my oupa se werk in boumateriaal.
As ek vandag terugkyk, besef ek dat ek het nie regtig geweet wat ek wou doen nie. 'n Gapingsjaar was nie vir my 'n opsie nie, want ek het vermoed dat as ek eers begin werk, gaan ek nooit terug universiteit toe nie. My ouer suster het rekeningkunde gekies, waarskynlik beïnvloed deur my pa se bekendheid met die veld, en selfs haar destydse kêrel (nou my swaer) het dieselfde pad geloop.
Universiteit teenoor Werk
Universiteit was lekkerder. Ek kon ten minste sien hoe vakke soos stertkeleer, tegniese tekeninge, betonontwerp en strukturele ontleding op regte probleme toegepas kon word.
Maar toe ek begin werk, het ek besef hoe min universiteit my voorberei het. Min maatskappye het verwag dat ek kode skryf of ingewikkelde teoremas toepas. My eerste werk (die bou van selfoontorings) het meestal uit papierwerk bestaan en om as 'n voorman of projekbestuurder met 'n graad op te tree. Ek het dit wel geniet. Ek het selfs 'n toring gebou wat nou nog staan, maar ek kon nie verstaan waarom dit 'n tersiêre graad vereis het nie. Later, as gehalteingenieur by 'n sementmaatskappy, het ek 'n meer tegniese rol aangeneem, net om te ontdek dat die meeste laboratoriumwerk outomaties was en my hoofplig was om grafieke in Excel in te voer.
Wat my ook opgeval het, was dat baie poste óf 'n BEng óf 'n BTech vereis het. In Suid-Afrika is daar 'n duidelike verskil tussen die twee. 'n BEng is meer selektief en akademies veeleisend. Byvoorbeeld, jy kan nie as Professionele Ingenieur registreer sonder 'n BEng nie, en slegs diegene met so 'n kwalifikasie mag sekere dokumentasie wettig onderteken.
Maar as werkgewers die twee grade as feitlik uitruilbaar behandel, wat is dan die doel en sin van die moeiliker pad? Klaarblyklik het min werkgewers regtig 'n verskil gesien.
Die Gaping tussen Studie en Praktyk
Nadat ek na Frankryk verhuis het, het dieselfde probleem weer opgeduik. Ek het 'n eenjaar-meestersgraad aan 'n grande école gedoen, maar werkgewers het eerste gevra: “Waar het jy studeer?”.
My vier-jaar Suid-Afrikaanse graad vol teorie het min gewig gedra. Die stelsel het eerder kandidate verkies wat uit erkende universiteite kom, en hulle het vir my dus hoofsaaklik beoordeel op grond van daardie eenjaar-kursus en internskap. Ek het ook opgemerk dat daar in die Franse siviele ingenieurswese min formele lisensiëring is. Meganiese en siviele ingenieurs beweeg maklik oor en vervul mekaar se rolle heen en weer. Dit is iets wat ondenkbaar in die Engelse stelsel is. Tog is Frankryk se infrastruktuur bestendig, wat vir my aandui dat lisensiëring dalk meer simbolies as werklik noodsaaklik is.
Baie ingenieurs met wie ek gepraat het, het my ervaring gedeel. Of hulle nou van Sjina, Indië, voormalige Britse of Franse kolonies, Amerika of Europa kom maak min saak. Binne maande in die werkplek kan jy skaars raai waar iemand studeer het. Ek moes ook aanvaar dat die meeste werk nie tradisionele ingenieurswese is nie, maar eerder koördinering en bestuur. Iets wat baie mense sonder kwalifikasies net so goed kon doen. In my eie werk, wat hoofsaaklik uit versterkte betonontwerp en eindige element analiese bestaan, doen ek byna geen hoëvlakwiskunde nie. Ek het byvoorbeeld net een Laplace-transformasie die afgelope jaar gedoen, en die buigmoment- en skuifkragdiagramme word alles deur sagteware hanteer. Soms doen ek 'n handberekening, maar dis skaars meer as hoërskool-algebra.
Eerlikwaar het rekenaarspeletjies my beter voorberei vir die gereedskap wat ek vandag gebruik as my graad.
The Case Against Education het my gehelp om sin te maak van dit alles. Caplan voer aan dat onderwys hoofsaaklik 'n “sosiale sein” is. Dit is volgens hom 'n manier om werkgewers te wys jy is indiensneembaar eerder as 'n bron van nuttige kennis. Volgens sy berekeninge verduidelik menslike kapitaal slegs sowat 20–30% van die waarde van onderwys, terwyl seinwaarde 70–80% uitmaak. My Franse meestersgraad het my min vaardighede geleer wat ek nie aandiens kon aanleer nie. Dit het bloot bewys ek kan werk. Die nuttigste vaardigheid was nie die kurrikulum nie, maar om Frans te leer sodat ek met my kollegas kon kommunikeer.
Volgens die seinteorie dra onderwys drie hoofeienskappe oor aan werkgewers: intelligensie, pligsgetrouheid, en konformiteit (die vermoë om reëls te volg en take te voltooi, selfs al lyk dit arbitrêr). As Caplan reg is, moet ons tradisionele vierjaar-grade heroorweeg. Waarom werkservaring uitstel vir iets wat baie mense reeds teen hoërskool bemeester? Waarom moet dit steeds 'n stigma dra om op 16 of 18 te begin werk?
Herbedink onderwys
Regerings wêreldwyd – insluitend Suid-Afrika en Frankryk – moedig mense aan om meer te studeer, maar min toets die beleid empiries. In die VSA beloop die onderwysbegroting $1,2 triljoen. Dit is groter as hul spandering aan verdediging.
Ons moedig studente aan om ingenieurs en spesialiste te word, net om te ontdek daar is 'n reuse-gaping tussen wat geleer en wat gedoen word. Na my mening het ons veel minder formele onderwys nodig, minder spesialiste, en ons moet dalk ophou om ingenieurswese (of ander beroepe soos medisyne en regte) as verhewe te beskou. Die meeste ingenieurs se werk behels bestuur, papierwerk of take wat weinig met hul kwalifikasie te doen het. Tot twee derdes van gegradueerdes werk nooit in hul studierigting nie en sal waarskynlik nooit toepas wat hulle geleer het nie.
Dit sou 'n eerliker gesprek wees as ons erken dat vir baie poste in ingenieurswese die kwalifikasie hoofsaaklik oor die sein gaan, en nie oor die vaardighede wat die werk werklik verg nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Universiteit is deel van die samelewig se "sosiale leers". Daar is verskeie maniere om te klim om bo uit te kom, sommiges is vinniger as ander, en sommige stadiger, en dit verskil van mens tot mens. Die vraag is of 'n graad vir jou persoonlik vinniger by jou eindbestemming gaan uitkry of nie.