MK se Aanval op Selfbeskikking is Vreemd
Manyi bots met sy eie nasionalistiese logika.
Loopbaanpolitikus Mzwanele Manyi se kennisgewing van voorneme om artikel 235 van die Grondwet te skrap, is op die oog af maar net nog 'n voorgestelde foefie-grondwetwysiging uit die parlementêre mallemeule.
Maar dit is eintlik veel meer onthullend as dit. Volgens die kennisgewing wil Manyi die bepaling oor selfbeskikking skrap omdat dit glo “verwarring, teenstrydighede en dubbelsinnigheid” in die grondwetlike raamwerk veroorsaak en die “vals indruk” skep dat kulturele gemeenskappe op selfbeskikking aanspraak kan maak.
Artikel 235 sê egter juis dat die selfbeskikking van die Suid-Afrikaanse nasie as geheel nie die erkenning uitsluit van die reg op selfbeskikking van 'n gemeenskap met 'n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis nie, binne 'n territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse deur nasionale wetgewing bepaal.
Zoeloes se de facto-selfbeskikking
My eerste gedagte toe ek Manyi se voorstel lees, was dat die Xhosa nie juis in voeling is met die volk onder wie sy party hoofsaaklik steun werf nie. Die voormalige ANC-, ATM-, EFF- en nou MK-politikus het hierdie saak duidelik nie op 'n ideologiese of logiese vlak behoorlik deurdink nie. Want as daar een groot gemeenskap in Suid-Afrika is wat in die praktyk reeds 'n mate van selfbeskikking, historiese erkenning en institusionele voortbestaan geniet wat ander groepe nie het nie, dan is dit die Zoeloe-volk. Die Ingonyama Trust administreer ongeveer 2,8 miljoen hektaar grond in KwaZulu-Natal vir tradisionele gemeenskappe, terwyl die MK-manifes uitdruklik belowe om die rol en gesag van tradisionele leiers te versterk.
Die stoerste selfbeskikkers onder Afrikaners is waarskynlik jaloers op die mate van simboliese én praktiese selfbeskikking wat die Zoeloes geniet. Die Zoeloe-volk het 'n koningshuis, hul eie howe en grondbeheer. Verder het hulle kulturele en politieke gewig wat ver buite die grense van KwaZulu-Natal strek. Selfbeskikking in die Zoeloe-geval is dus ook nie net “intern” nie, maar behels ook eksterne politieke mag. In die 2024-verkiesing het MK nie net KwaZulu-Natal oorrompel met 45,35% van die provinsiale stem nie, die party het ook 9,79% in Gauteng en 16,97% in Mpumalanga gekry. Nasionaal het MK 14,22% behaal. Dit wys dat Zoeloe-gedrewe politieke energie lankal meer as net 'n provinsiale verskynsel is.
Die sukses van MK was waarskynlik die gevolg van 'n besondere sameloop van faktore. Zoeloe-nasionalisme, 'n sterk teengesagsorde-sentiment (anti-establishment) teen die ANC as voormalige bevrydingsbeweging wat nou vir baie kiesers die nuwe verstarde gesagsorde verteenwoordig, steun vir Jacob Zuma as persoonlikheidsfiguur asook die algemene protesdrang van kiesers wat nie noodwendig 'n samehangende ideologiese projek steun nie, maar wel 'n politieke voertuig soek waardeur woede, ontnugtering en kulturele lojaliteit gelyktydig uitgedruk kan word.
Manyi probeer 'n grondwetlike geleentheid gryp wat, indien iemand dit kreatief en vreedsaam wou benut, juis vir gemeenskappe soos sy eie ondersteuners se breër nasionalistiese intuïsies bruikbaar kon wees. Die ironie is dat 'n party wat op Zoeloe-historiese bewussyn, tradisionele gesag en etniese lojaliteit ry, nou 'n sleutelgrondwetlike bepaling wil verwyder wat erken dat gemeenskappe met 'n gedeelde taal- en kultuurerfenis op 'n vorm van selfbeskikking kan aanspraak maak. Die reaksie uit selfbeskikkingsgeledere teen die voorstel was groot. Afrikaner-groepe, Kaapse afstigters en ander wat sterk oor selfbeskikking voel, het Manyi se voorneme met reg gekritiseer.
Maar daar is natuurlik ook 'n vreemde spanning hier. Baie van hierdie groepe sal op beginselvlak aanklank vind by Zoeloe-nasionalisme se klem op volk, kultuur, geskiedenis en politieke selfstandigheid. Maar hulle sal terselfdertyd vervreem word deur dele van die MK-projek soos die openlike marxisme, die anti-markte ingesteldheid, die dekolonisasiedenke en partykeer ook die anti-Westerse retoriek.
Versoeningskanse?
'n Mens wonder dus hoe versoenbaar 'n Westerse selfbeskikkingsbeskouing met die MK se bepaalde anti-Westerse ideologie en hul eie Zoeloe-nasionalistiese uitkyk op selfbeskikking is. Die party is byvoorbeeld nie eenvoudig dieselfde as die EFF nie, al is daar op die ekonomiese vlak ooreenkomste. MK se eie manifes spreek van versnelde grondherverdeling, die beskerming van hulpbronne teen “buitelandse entiteite”, die versterking van tradisionele leiers, en in verskeie uitlatings is daar selfs eksplisiete steun vir onteiening sonder vergoeding, nasionalisering van banke en myne, en die afskaling van die 1996-grondwetlike bedeling. Dit is dus nie verkeerd om te sê dat MK duidelike marxistiese trekke het nie.
Maar die EFF is anders. Die EFF is van sy ontstaan af 'n selfbewuste, ideologiese projek. Die party beskryf homself amptelik as 'n radikale, linkse, anti-kapitalistiese en anti-imperialistiese beweging en sy grondwet en geskiedenis wys op 'n party met 'n vaste organisatoriese identiteit, 'n duidelike ideologiese kern en 'n langer termyn politieke selfbegrip. Sedert 2013 bestaan die EFF as 'n konsekwente politieke handelsmerk. MK is daarenteen veel meer hibried: links oor die ekonomie, tradisioneel in kultuur, Zoeloe-nasionalisties in steunbasis, populisties in styl, en persoonlikheidsgebonde aan Jacob Zuma in 'n mate wat die EFF nooit aan een etniese basis of tradisionele gesagsorde gebind was nie.
Dis ook hoekom MK nie 'n natuurlike vyand vir AfriForum of ander selfbeskikkingsgesindes kan wees nie. Op die marxisme en ekonomiese populisme bots hulle natuurlik. Maar op die onderliggende beginsel dat gemeenskappe nie bloot geïsoleerde individue sonder geskiedenis, kultuur of groepsregte is nie, is daar potensieel groot gedeelde grond. Baie mense wil dit nie hardop sê nie, omdat MK in ander opsigte so onaanvaarbaar of roekeloos lyk. Maar die nou gedeelde belange oor selfbeskikking is daar. Die party se steunbasis is Zoeloe-nasionalisties en nasionalisme sluit dikwels aan by die intuïsie dat mense meer is as net burgers van 'n neutrale administratiewe staat.
Dit maak Manyi se stap des te dommer. Hy probeer juis die beginsel afskaf wat sy eie party se dieper sielkundige en politieke aantrekkingskrag ten dele verklaar. As MK bloot nog 'n links-populistiese party was, sou die skuif ten minste konsekwent gewees het. Maar MK is nie net dit nie. MK wil terselfdertyd 'n sosialistiese ekonomiese program, sterker tradisionele gesag, kulturele trots, anti-establishment-woede en etniese politieke mobilisering dra. Daardie mengsel is reeds vol spanning. Manyi se voorgestelde skrapping van artikel 235 vererger net die teenstrydigheid.
Ten slotte, ek dink nie MK gaan so lank hou soos die EFF nie. Die EFF is, vir al sy gebreke, institusioneel herkenbaar. MK lyk nog grootliks soos 'n voertuig vir opstandigheid en 'n protesstem. Die party het dalk 'n “National High Command” en selfs 'n nasionale organiseerder wat glo met struktuurbou belas is. Maar die werklike indruk bly dié van 'n beweging wat op charisma, griewe en reaksie leef, eerder as van diep organisatoriese dissipline wat politieke volhoubaarheid noodsaak.
Protespartye kan wel lank oorleef as die gevestigde orde aanhou misluk. Maar niks aan MK se styl dui nog op die soort volhoubare organisasie wat oor dekades heen 'n stabiele politieke tradisie word nie. Dit lyk veel eerder soos 'n voetsoolvlak-ontploffing van ontevredenheid, gebind deur 'n geskiedkundige figuur en 'n sterk streek- en identiteitskern. Juis daarom behoort 'n mens versigtig te wees om elke MK-uiting as diep ideologies deurdag te beskou. Soos met baie politiek is dit dikwels net opportunisme.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











