Hoe presteer die DA se Gwarube en Maynier?
Goeie bestuur van 'n problematiese stelsel lei tot swak regering.
Die Demokratiese Alliansie (DA) roem homself op goeie regering. In munisipaliteite kan goeie regering relatief maklik gemeet word aan tasbare uitkomste soos slaggate, kragvoorsiening, water, sanitasie en vullisverwydering. In onderwys is prestasie egter moeiliker om te meet, juis omdat onderwys nie bloot 'n administratiewe diens is nie, maar die verwesenliking van 'n fundamentele reg.
Tans beklee die DA twee invloedryke onderwysportefeuljes: Siviwe Gwarube as nasionale minister van basiese onderwys, en David Maynier as Wes-Kaapse minister van onderwys. Die vraag is nie of hulle aktief is of sigbare uitsette lewer nie, maar of hulle werklik goed regeer wanneer hulle gemeet word aan die aard en omvang van die reg op onderwys.
Die reg op onderwys as maatstaf
Artikel 29 van die Grondwet waarborg aan elkeen die reg op basiese onderwys. Die enigste sinvolle manier om die prestasie van 'n onderwysminister te beoordeel, behoort dus te wees in terme van die mate waarin daardie reg kwantitatief én kwalitatief verwesenlik word.
Dit vereis egter eers 'n duidelike begrip van wat onderwys is.
Suid-Afrikaanse wetgewing bevat geen eksplisiete definisie van onderwys nie. Die mees gesaghebbende riglyn is waarskynlik artikel 26(2) van die Universele Verklaring van Menseregte, waarvolgens opvoeding gemik moet wees op “die volle ontwikkeling van die menslike persoonlikheid en die bevordering van respek vir menseregte en fundamentele vryhede.”
Hierdie omskrywing beklemtoon dat onderwys 'n uiters individuele reg is. Wat 'n goeie opvoeding vir een kind is, kan onvanpas wees vir 'n ander. Daar bestaan nie iets soos ’n universeel “goeie” opvoeding vir alle kinders nie. Om dié rede bepaal artikel 26(3) uitdruklik:
“Ouers het 'n voorafgaande reg om te kies watter soort opvoeding hulle kinders ontvang.”
Enige onderwysbeleid wat hierdie geïndividualiseerde aard ignoreer, ondermyn noodwendig die reg self.
Hoe realiseer die Skolewet die reg op onderwys?
Die Suid-Afrikaanse Skolewet poog om die reg op onderwys te verwesenlik deur verpligte skoolbywoning. Ouers van kinders tussen ses en vyftien jaar is verplig om hulle kinders by 'n skool in te skryf.
Binne skole word leerders volgens ouderdom en graad gegroepeer, onderrig volgens 'n staatsvoorgeskrewe kurrikulum, en geëvalueer aan die hand van gestandaardiseerde assesserings. Bevordering geskied op grond van administratiewe en kurrikulêre nakoming, nie op grond van individuele ontwikkeling of behoefte nie.
Die Skolewet fokus dus oorwegend op stelselkonformiteit, nie op die ontwikkeling van die unieke persoonlikheid van elke kind nie. Dit is daarom geen verrassing dat onderwys in Suid-Afrika toenemend as 'n krisis ervaar word nie. Soos dit treffend in Daily Maverick gestel is:
“We are not educating them; we are merely warehousing them until they are old enough to be an unemployment statistic.”
Dat die skoolstelsel 'n gebrekkige middel is om die reg op onderwys te verwesenlik, is reeds lank erken. Juis daarom is daar in 1996 voorsiening gemaak vir tuisonderwys. Sedertdien het onderwys buite die skoolstelsel eksponensieel gegroei — nie as ideologiese protes nie, maar as 'n praktiese reaksie op tekortkominge van die stelsel.
Hoe behoort prestasie gemeet te word?
Onderwysministers meet hul prestasies graag aan:
matriekslaagsyfers,
die aantal skole wat gebou is,
die uitfasering van puttoilette,
of die aantal kinders wat toegang tot skole gekry het.
Hoewel hierdie maatstawwe maklik kwantifiseerbaar is, sê hulle byna niks oor die mate waarin die reg op onderwys verwesenlik word.
Meer sinvolle maatstawwe sou wees:
die mate waarin vryheid geskep word vir uiteenlopende onderwysvorme buite die skoolmodel;
die mate waarin ouers bemagtig word om verantwoordelikheid te neem en onderwys te kies wat in die beste belang van elke individuele kind is.
Hoe presteer die DA-ministers volgens hierdie maatstawwe?
David Maynier
David Maynier se voorganger, Debbie Schäfer, het beperkte maar betekenisvolle stappe geneem om onderwyspluralisme te bevorder. Die Wes-Kaapse Onderwyswet is aangepas om samewerkende skole moontlik te maak.
Onder Maynier se leierskap het hierdie benadering egter plek gemaak vir 'n hernude fokus op die uitbou en konsolidering van openbare skole. Die aanstelling van 'n provinsiale onderwysraad is laat vaar.
Maynier se beperkte begrip van tuisonderwys het duidelik geblyk tydens 'n parlementêre sitting waar 'n senior amptenaar, in sy teenwoordigheid, foutiewe bewerings gemaak het dat tuisskoolouers sekere kwalifikasies moet hê en dat huisbesoeke verpligtend is. Hierdie bewerings moes later formeel teruggetrek word. Die insident dui nie bloot op 'n kommunikasiefout nie, maar op 'n fundamentele onbekendheid met 'n wettige en groeiende onderwysvorm.
Kortom: Maynier bestuur die skoolstelsel doeltreffend, maar toon min belangstelling daarin om die reg op onderwys buite daardie stelsel te versterk.
Siviwe Gwarube
As nasionale minister het Siviwe Gwarube 'n meer eksplisiete sentraliserende benadering. Sy verbind haarself openlik tot die implementering van die BELA-wet, wat onder meer:
strenger registrasievereistes vir tuisonderwys instel,
swaarder strawwe invoer vir ouers wat nie registreer nie,
en verhoogde sanksies vir ongeregistreerde onafhanklike skole invoer.
Anders as haar voorganger het sy wel 'n nasionale onderwysraad aangestel, maar dis opvallend dat geen verteenwoordiger van tuisonderwys daarin ingesluit is nie — ten spyte van die feit dat tuisonderwys een van die vinnigste groeiende onderwysvorme in die land is. In die department se 2024-2029 navorsingsplan is daar niks oor onderwys buite die skoolstelsel nie. Soos haar voorganger gaan sy voort om tuisonderwys te reguleer, sonder selfs die mees basiese navorsing oor hoeveel tuisleerders daar is.
Gwarube se beleid toon 'n duidelike uitgangspunt: gelykheid word bevorder deur meer kinders in dieselfde stelsel, onder dieselfde kurrikulum en onder dieselfde toesig te plaas. Vryheid, ouerlike keuse en onderwysdiversiteit word nie as waardevolle eienskappe van 'n gesonde onderwysorde beskou nie, maar as risiko’s wat bestuur en beperk moet word.
Die groeiende kloof
Terwyl die ministers hulle politieke loopbane uitbou op grond van statistieke wat aandui hoe goed “die stelsel” funksioneer, sit ouers met getroumatiseerde kinders, kinders wat skool haat, kinders wat nie presteer nie, kinders wat ander waardes aangeneem het as die ouers, ens. Kinders wat deel is van die TIMMS en PIRLS statistieke waarvolgens 81% van graad 4 leerders nie met begrip kan lees nie. So groei die kloof tussen die ministers en ouers elke dag.
40% van die Graad 1 kohort verlaat die skoolstelsel voordat hulle matriek bereik. Sommige ouers kies tuisonderwys. Ander stuur hulle kinders na een of ander sentrum wat te klein of te anders is om te registreer as 'n onafhanklike skool. As ministers faal om die reg op onderwys in terme van Artikel 29 van die Grondwet te verwesenlik, tree ouers in die beste belange van hulle kinders op in terme van Artikel 28 en verlaat die skoolstelsel.
Gebreekte Stelsels met Goeie Leiers
Waar Debbie Schäfer beperkte pogings aangewend het om ouers meer keuse en verantwoordelikheid te gee, fokus die huidige DA-ministers op die verdere uitbou en beskerming van die staatsbeheerde skoolstelsel — selfs in 'n tyd van krimpende begrotings en toenemende stelselspanning.
Die kernprobleem is nie dat Gwarube en Maynier niks doen nie. Dit is dat hulle albei uitstekende bestuurders van 'n stelsel is wat die reg op onderwys struktureel verarm, deur dit te reduseer tot skoolbywoning, administratiewe nakoming en meetbare uitsette.
As die skoolstelsel nie meer in staat is om die reg op onderwys te verwesenlik nie, is dit futiel om die skoolstelsel te probeer regruk. Goeie bestuur van 'n verkeerde paradigma bly swak regering.
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Die aanbieding van die Weskaapse Onderwysdepartement (WKOD) aan parlement is vrygestel. Hier word die visie van die WKOD beskryf as :"Quality Education for every child in every classroom in every school in the province." Dit beteken dat die bevordering van kwaliteit onderwys buite skole nie deel is van die WKOD se visie nie.