Die “eie-ek” in Persoonlike Handelsmerke
Daar is fyn grense tussen eiewaan en selfverkenning in die sakewêreld.
Deur my besigheid het ek 'n persoonlike handelsmerk gebou. My gesig en my naam is dus aan die handelsmerk gekoppel en redelik prominent. Soos ons reeds weet bestaan 'n handelsmerk nie net uit 'n embleem of kleurskema nie maar ook 'n storie, oortuiging en wêreldbeskouing.
Steven Bartlet verduidelik in sy boek, The Diary of a CEO, dat entrepreneurs of sakelui bereid moet wees om mense kwaad te maak. Hy verduidelik vanuit hierdie konteks dat die mark uit drie groepe bestaan, naamlik mense wat vir jou handelsmerk lief is, mense wat jy gaan kwaad maak omdat hulle nie met jou saamstem nie, en dan natuurlik mense wat bloot net nie gaan omgee oor wie en wat jy is nie. Die eerste twee groepe is, volgens Bartlett, die groepe waarop jy moet fokus.
Steven Bartlett se persoonlike handelsmerk kan deur die wêreldbekende potgooi, Diary of a CEO, beskou word. Vanuit 'n Suid-Afrikaanse konteks kan ons die MMA-wêrelkampeioen vegter, Dricus du Plessis, se KNOX-produk of Mel die Storieverteller en Lisa met die rooi hare as goeie voorbeelde van persoonlike handelsmerke sien.
'n Morele vraagstuk waaroor baie smaakmakers, bemarkers en teikengroepe wonder is wanneer selferkenning na selfverheerliking oorskakel. Met ander woorde, wanneer word trots met hoogmoed verwar en kan 'n persoonlike handelsmerk as eties beskou word?
Dr. Brené Brown, ’n navorser van die Universiteit van Houston, verduidelik in haar boek, The Gifts of Imperfection: Let Go of Who You Think You’re Supposed to Be and Embrace Who You Are, dat om eg te wees beteken dat jy die moed moet hê om onvolmaak te wees en nie aan die wêreld se verwagtinge te voldoen nie. Om eg te wees, verg dus deursigtigheid en in die bemarkingswêreld weet ons dat dit nie altyd die geval nie.
Wanneer jy jouself in jou handelsmerk inweef, beteken dit dus nie dat jy egosentries moet wees nie. Ware bemarking gaan oor wat jy tafel toe kan bring sodat jy 'n positiewe verskil of impak in die wêreld kan maak. Om jou identiteit op 'n etiese wyse vir die wêreld te wys, sodat jy 'n verskil kan maak is dapper, juis omdat jy jouself aan 'n groep blootstel wat jy op grond van jou waardes en geloofsoortuigings kan ontstel of kwaad maak.
'n Persoonlike handelsmerk wat gebou is op selfkennis, straal geloofwaardigheid uit omdat dit nie probeer wees wat dit nie is nie. Dis juis hierdie eerlikheid wat ondersteuners, kliënte en lesers trek. 'n Groep mense wat vir jou lief word, omdat hulle met jou kan vereenselwig.
Die risiko van 'n persoonlike handelsmerk lê in die oorskryding van daardie ongeskrewe grens waar selfbewustheid na selfaanbidding kan omskakel. In 'n digitale wêreld vol inhoudskeppers, blogskrywers en smaakmakers, raak dit moeiliker om tussen selferkenning en selfsugtigheid te onderskei.
Die verskil kan egter uitgeken word deur selfsug in selfbewondering uit te vis en begrip in selferkenning te vind. Waar selfsugtigheid op die “eie-ek” fokus, word die “opbouende -ek” in selferkenning as die middelpunt van “ons” gesien. Jy is dus deel van iets en nie die uitsondering daarvan nie. Die sterkste persoonlike handelsmerke is dus dié wat nie op beeldbestuur gebou is nie, maar eerder op identiteit. As jy jouself regtig verstaan en eerlik leef, sal jou handelsmerk natuurlik daarmee ooreenstem.
Vanuit 'n geloofsperspektief kan ons hierdie tema 'n bietjie meer diepte gee. Filippense 2:3 herinner ons daaraan dat ware waarde nie in selfverheerliking lê nie, maar in die nederige kuns om ander hoër te ag as onsself. Jou handelsmerk kan dus as 'n rigtingwyser gesien word om ander te dien.
In die praktyk beteken dit dat jy jou handelsmerk so moet bou dat dit van jou waardes, eerder as van jou selfbeeld, getuig. As jy passievol is oor mense, sal dit in jou inhoud wys. As jy glo in dissipline, sal dit in jou werksetiek deurskemer. Wat jy glo jy is, dit word jy en wat jy word, word uiteindelik ook jou handelsmerk.
Die ironie van persoonlike handelsmerke is dat dit sterk is wanneer dit juis nie op die persoon fokus nie. Jy is dalk die fondasie, maar die boustene behoort vir ander bruikbaar te wees. Die “ek” in 'n handelsmerk is dus nie die einddoel nie, maar eerder die beginpunt en 'n hoofbron.
Om jouself aan 'n persoonlike handelsmerk te koppel beteken nie om die wêreld te oortuig dat jy belangrik is nie. Dit beteken om eerlik oor jou identiteit, jou pad en jou roeping te wees. Dis die daardie fyn lyn tussen “Ek is hier om raakgesien te word” en “Ek is hier om vir jou iets te wys wat groter is as ek.” 'n Persoonlike handelsmerk is dus veronderstel om ander te dien en gaan op die ou end nooit oor die persoon op wie die handelsmerk geskoei is nie, maar eerder die mense wat jy verteenwoordig.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met ‘n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling. Sy het haar honeursgraad in BA Grafiese Ontwerp, met Multimedia as nagraadse studies, by die NWU-Potchefstroom voltooi en is sedert 2017 'n lid van die Internasional Society of Typography Design (ISTD). Vandag is sy die eienaar van ‘n kreatiewe eenmansaak en werk met verskeie organisasies en instansies.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Bronnelys:
Brown, B. (2010). The Gifts of Imperfection: Let Go of Who You Think You’re Supposed to Be and Embrace Who You Are. Hazelden Publishing.
Bartlett, S. (2023). The diary of a CEO: The 33 laws of business and life. Ebury Edge.










