Die eindspel van Suider-Afrikaanse bevrydingsbewegings
Beraadskamers vol warm winde en min verandering.
Die meeste Suider-Afrikaanse bevrydingsbewegings het op hul onlangse beraad in Kempton Park weer die voorspelbare moets en moenies opgedis.
Die ekonomie moet vinniger groei. Werkloosheid (veral onder die jeug) moet bekamp word. Korrupsie moenie toegelaat word om te floreer nie.
Hierdie bewegings het gepraat en hul doelwitte weer geabstraheer asof hierdie probleme uit die lug geval het. Dit was ook weer 'n praatwinkel waar hulle hulself gelukgewens het vir dekades gelede se militêre veldtogte en politieke oorwinnings, terwyl probleme darem genoem is.
Dit laat hulle seker beter voel om oor hulself en hul probleme te praat. Amper soos 'n hoëvlak-sielkundige sessie. Selfvertroosting en belydenis is egter al uitkomste van hierdie beraad. Dit was seker te wagte. Hulle moet ten minste besorg en dringend klink om hul tanende relevansie te versag. Daar was egter (weer) geen besonderhede oor hoe om die gestelde doelwitte te bereik en uitdagings te bekamp nie. Net breedsprakige retoriek, huigelary en blaamverskuiwing.
'n Selektiewe klub
Wat opval van hierdie beraad is dat hierdie bevrydingsbewegings almal steeds regeer nadat kolonialisme en wit heerskappy oorwin is. Chama Cha Mapinduzi (CCM) regeer Tanzanië al van 1961 af – die langste in Afrika, 'n vasteland vol despote en geriatriese leiers. In hierdie konteks is die ANC met 31 ononderbroke jare (ondanks twee regerings van nasionale eenheid) nog 'n relatiewe nuweling.
Die opvallende weglating was Botswana, waar die regerende Botswana Demokratiese Party verlede jaar klinkend – en vir die eerste keer sedert onafhanklikheid in die middel-60’s – verslaan is. Hulle het 90% van hul parlementêre verteenwoordiging verloor en Duma Boko is as die sambreel-opposisiegroepering se kandidaat as president ingehuldig. Mag is vreedsaam oorgedra. Vrese hieroor het onteenseglik bygedra tot hierdie groepterapie-vermom-as-beraad wat plaasgevind het.
Hetsy Boko nie 'n uitnodiging ontvang het as een van die oorspronklike bevryders nie, en of hy besluit het om eerder nie die beraad by te woon nie (wie kan hom verkwalik?), is seker nie ter sake nie, maar dit is veelseggend. Hy vergestalt reeds wat hulle probeer voorkom: Die einde van eenparty-regering. Anders as die ANC, is hy boonop vriende met Elon Musk en dit het hom in staat gestel om Botswana se eerste satelliet die ruimte in te stuur. Hy is weliswaar besig om die ekonomie te diversifiseer sodat diamante nie meer die vernaamste inkomstebron is nie. Hoëvlak-korrupsie was een van die vernaamste redes hoekom Boko verkies is.
Malawi en Zambië skitter ook in hul afwesigheid en mens kan ook net bespiegel hoekom. So, kom ons bespiegel. Die klein landomslote staat Malawi is tussen 1964 en 1993 as 'n eenparty-diktatuur onder pres. Hastings Banda regeer. Na afloop van 'n referendum het die politiek meer pluralisties geword en Banda se Kongres-party het mag verloor, maar weer in 2020 beheer geneem. Min of meer dieselfde verhaal het in Zambië afgespeel: van 1991 was die land se politieke landskap meer mededingend, met mag wat tussen verskillende partye oorgedra is. Die sakeman Hakainde Hichilema is die huidige president en leier van die meer liberale en vryemark-gesinde Verenigde Party vir Nasionale Ontwikkeling, wat eers in 1998 gestig is.
Die teenwoordigheid van die leierskap in Botswana, Malawi en Zambië sou ongetwyfeld sekere ongemak en selfs spanning op die beraad veroorsaak. Dit sou ten minste krake in die streek se solidariteit na vore bring en meer negatiewe dog realistiese mediadekking tot gevolg hê. En dit sou die ware leitmotief van die beraad ondermyn: Hoe om mag ten alle koste te behou, ondanks die skade wat reeds aangerig is.
Onvry, onbeholpe en onrustig
Die beraad het hierbenewens teen die agtergrond van ander onlangse plaaslike gebeure in Suider-Afrika wat met langtermyn-verskynsels verband hou, afgespeel.
Tientalle mense is dood en honderde beseer nadat 'n opstand Angola verlede maand geruk het. Dit duur voort en ofskoon brandstofpryse die aanvanklike sneller was, word dit onderlê deur dekades se griewe oor armoede, korrupsie en onderdrukking. 'n Weliswaar twyfelagtige verkiesing in Oktober verlede jaar het tot langdurige en gewelddadige oproer in Mosambiek aanleiding gegee. Strate in Zimbabwe se stede – opposisie-bastions – was vroeër vanjaar leeg soos mense weggebly het uit protes teen Zanu-PF en pres. Emmerson Mnangagwa, asook die benarde ekonomiese situasie in die land. Dit is eintlik onnodig om veel oor Zimbabwe se vergrype, korrupsie en agteruitgang uit te wei. Dit spreek nou al vanself dat dit beide 'n sekurokratiese en mislukte staat is.
Ek was self onlangs in Namibië en ek volg nuusgebeure in daardie land, omdat heelwat van my familielede daar woon en boer. Pres. Netumbo Nandi-Ndaitwah het juis op die beraad melding van korrupsie gemaak en dit as 'n vername risiko vir die oorspronklike bevrydingsbewegings se mag uitgewys. Hoewel Namibië 'n stabiele en vrye land is, was die hoëvlak-korrupsieskandale prominent in die nuus en rondom braaivleisvure. Een van hulle is die Namcor-Energon-hofsaak betreffende tendergeld wat na privaat bankrekeninge oorbetaal is. In Suid-Afrika is dit staatskaping, die Phala-Phala-bewerings, die Wapenskandaal en te veel laervlak-korrupsie om op te noem.
Daar hang ook vraagtekens oor hierdie twee lande se verkiesings verlede jaar, omdat daar ook op meer vernuftige en subtiele maniere met verkiesings gekonkel kan word. Die vermaarde Freedom House, wat politieke en burgerlike vryhede in die wêreld meet, het die volgende uitlatings oor Namibië se mees onlangse verkiesing gemaak:
“The elections were marred by ballot paper shortages, severe technical malfunctions, and staffing issues, prompting the president to extend voting at select polling stations. Key opposition parties claimed the extension was illegal, rejected the results, and vowed to challenge the election outcome in court. The African Union’s election observers assigned the Electoral Commission of Namibia a transparency score of just 50 percent.”
In Suid-Afrika het die stemproses in veral opposisiegebiede soos die Wes-Kaap gehaper en baie mense het uiteindelik opgegee en nie gestem nie.
Nes die MPLA in Angola, het beide Swapo en die ANC nietemin aansienlike steun verloor. Wat Tanzanië betref, het Freedom House die land se status van “gedeeltelik vry” na “onvry” verander nadat die 2024-verkiesing deur ongerymdhede en geweld gekenmerk is. Die regerende CCM het 98% van die (uitgebragte) stemme ingeoes terwyl opposisielede geïntimideer en in hegtenis geneem is.
Hulle sou dalk uit sentiment en werklike erkentlikheid vir korrupsie en verkiesingsknoeiery vergewe kon word indien hul lande suksesverhale en lewenstandaarde hoog was. Uiteraard gebruik hierdie bewegings die staatskas om sekere etniese kiesersblokke te beloon, maar die algehele verval is klinkklaar. Behalwe vir Suid-Afrika en Namibië, is die res almal uiters brose state. Dit beteken dienslewering is treurig of in sommige gebiede heeltemal afwesig. Dit word bevestig deur die Fund for Peace se jongste Fragile State Index, wat Zimbabwe, Angola, Mosambiek en Tanzanië se openbare dienste as uiters vrot beskryf.
Al hierdie ekonomieë is heeltemal of grootliks van primêre bedrywe, staatsindiensneming en die informele sektor afhanklik en daar is geen tasbare strategie by een van hulle om na dienste, groter private deelname en ekonomiese nuutskepping te diversifiseer nie. Selfs in Suid-Afrika is die swart middelklas vandag grotendeels ongekwalifiseerde staatsamptenare en nie professionele mense nie, maar selfs hulle stem nie meer getrou vir die ANC nie. Hoewel dit help, moet groei ook nie as 'n wonderkuur beskou word nie. Angola se ekonomie groei al vir jare teen 'n stewige tempo (grootliks danksy olie), maar die vrugte hiervan word nie in indiensneming en 'n verbeterde lewenspeil gesien nie, terwyl inflasie van bykans 30% veral die armes swaar tref.
In weerwil van 'n paar beleefde buigings in die rigting van selfondersoek, het hierdie groep mildelik hul lande se probleme op eksterne faktore soos gepak. Begrippe soos “neokoloniale inmenging” is sonder veel besonderhede en konteks in stellings en verklarings voortspruitend uit die beraad ingespan. Gegewe hul bevrydingsverlede en gepaardgaande sosialistiese inklinasies, is dit nouliks 'n verrassing. Eksterne druk speel wel 'n rol in hierdie lande, maar die skommelende internasionale vraag na hul produkte en skuld jeens ander state en internasionale entiteite is wat hulle behoort te pla. Sulke risiko’s kon egter lankal afgeweer word indien hulle beter besluite geneem het en minder afhanklik van ander lande was. Maar soos die ANC, as gasheer vir hierdie beraad, se opsomming gelui het: “This critical gathering reaffirms the ideological foundations of the six southern African liberation movements.” Die rewolusie het in hierdie gevalle ook sy eie kinders verorber, soos Jacques Mallet du Pan metafories die Franse Rewolusie beskryf het.
Die vraag is hoe lank hul (oorwegend en toenemend jeugdige) bevolkings nog hierdie onveranderlike status quo passief gaan aanvaar. Die vraag is of, indien daar wel vrye en regverdige stemmery sou wees, hulle vandag nog in beheer sou wees. Dit is moontlik en selfs waarskynlik dat minstens sommige van hulle lankal mag sou verloor en tans sonder 'n ware mandaat regeer.
Hoe gaan dit verander in hierdie onderskeie lande en wat kom daarna? In meeste gevalle lyk dit of dit nie by die stembus gaan wees nie. Geweld blyk derhalwe al hoe meer 'n waarskynlikheid te word en die (verdeelde) opposisie kan ook in dieselfde magstrik as die oorspronklike bevryders trap.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










