Wat Township Ekonomieë Ons kan Leer
Die mark wat sonder algoritmes werk, en waar 'n handdruk belangriker as jou kredietwaardigheid is.
Loop deur enige Suid-Afrikaanse township en jy sal iets besonders sien: 'n ekonomiese ekosisteem waar verhoudings belangriker is as jou kredietgradering, en waar klante twee sigarette, een tamatie of net genoeg suiker vir vanaand se koppie tee kan koop. Dit is nie ekonomiese ondoeltreffendheid nie, maar eerder 'n gesofistikeerde markaanpassing wat spruit uit dekades van uitsluiting.
Die township-ekonomie het ontstaan uit apartheid se doelbewuste marginalisering, wat gemeenskappe gedwing het om hul eie stelsels van handel en besigheid te skep. Wat begin het as blote oorlewing, het ontwikkel in 'n netwerk van ondernemings wat hul klante so goed ken dat groot kleinhandelkettings miljoene spandeer om die vlak van insig na te jaag.
Hierdie besighede funksioneer nie net as winkels nie, maar ook as kennisentrums wat presies weet wie hulle klante is, wat hulle koop, en wanneer hulle dit nodig het. En juis omdat dit so ingeweef is in die gemeenskap self, is die township-ekonomie merkwaardig veerkragtig teen eksterne skokke soos pandemies of ekonomiese ineenstortings.
Vertroue bo kredietgradering
In hierdie unieke markte kan mense op skuld koop bloot op grond van hul reputasie in die gemeenskap. Geen kredietkontrole en geen papierwerk nie. Al wat nodig is, is 'n handdruk en 'n belofte om te betaal wanneer hul pensioengeld inbetaal word. En hierdie is nie roekelose krediet nie maar eerder 'n vorm van sosiale sekuriteit wat in praktyk uitspeel. Waar jou plek in die gemeenskap meer tel as enige algoritme.
Maar wat township-winkels regtig laat uitstaan is die vermoë om presies te koop wat jy kan bekostig. Het jy kookolie nodig maar net R5 in jou sak? Bring jou eie houer en kry kookolie ter waarde van R5.
Hierdie buigsaamheid gaan nie net oor ekonomie nie maar dit gaan ook oor menswaardigheid. As iemand presies kan koop wat hulle nodig het, sonder vermorsing of verleentheid, behou hulle beheer oor hul huishoudelike begroting.
Skubu ('n nuwe winkel) se onlangse bekendstelling in Diepsloot bewys dat formele innovasie werk wanneer dit township-winkels se beginsels aanvaar. Deur klante toe te laat om presiese hoeveelhede kookolie of suiker in hul eie houers te hervul, bou Skubu voort op dieselfde waardigheidbehoudende buigsaamheid wat township-handel laat floreer. Die 50% koste besparing is belangrik, maar wat meer saak maak, is dat dit klante respekteer as mense wat hul eie behoeftes die beste ken en nie 'n gestandaardiseerde produk of diens nie.
Wanneer Soneringsreëls Nie Geld nie
Township-entrepreneurs floreer met wat hulle het. 'n Spaza-winkel kan vinnig in 'n motorhuis opduik, ’n haarsalon werk vanuit ’n agterplaas, en 'n werktuigkundige herstel motors op 'n oop erf. Vir buitestaanders wat onbekend is met hierdie kultuur lyk dit chaoties. Maar vir inwoners maak dit volkome sin. Hierdie organiese plasing van besighede skep mikro-klusters van ekonomiese aktiwiteit wat skuif en aanpas soos lewende organismes.
Wanneer die skool uitkom, verskyn kosverkopers by die skoolhek. Wanneer taxi-roetes verander, volg die besighede. Hierdie aanpasbaarheid stel township-ekonomieë in staat om vinniger te draai as enige korporatiewe herstruktureringsplan.
Die grootste krag van die township-ekonomie lê dus in sy organiese ontwikkeling en die vermoë om oplossings te skep wat natuurlik perfek aangepas is by plaaslike omstandighede en behoeftes. Soos formele maatskappye die potensiaal van hierdie markte begin erken, lê die uitdaging daarin om hierdie stelsels te ondersteun en versterk sonder om hul kern-eienskappe te ontwrig.
Dit verg 'n radikale herbesinning oor tradisionele marktoetredingsstrategieë. In plaas van om eksterne oplossings af te dwing, vereis suksesvolle betrokkenheid by township-ekonomieë om diep te luister, opregte vennootskappe te bou, en die bereidwilligheid om formele praktyke aan informele realiteite aan te pas.
Die Toekoms vir hierdie Unieke Mark
In plaas van om die township as 'n markprobleem te sien, behoort ons dit te erken as 'n plek van inheemse kennis en ekonomiese innovasie.
Die toekoms van Suid-Afrikaanse kleinhandel lê nie daarin om formele strukture op informele ekonomieë af te dwing nie, maar om nuwe modelle te bou wat gemeenskapswysheid eer. As iemand twee sigarette en net genoeg suiker vir vanaand se tee kan koop, is dit nie net 'n transaksie nie, dis 'n bewys van 'n ekonomie wat menswaardigheid bo alles stel.
Phelelani Mkhize is 'n stedelike beplanner en data-ontleder.
Hierdie artikel het oorspronklik op sy LinkedIn verskyn en is met sy toestemming vertaal.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.