Vir die laatmilleniër en sy jonger niggies en nefies (min of meer almal wat na 1988 gebore is, na my rowwe en onwetenskaplike skatting) is die volle teks van Die Stem van Suid-Afrika soos wat C.J. Langenhoven dit in 1918 geskryf het, heel dikwels nie bekend nie.
Ek verkies “heel dikwels” as beskrywing van hierdie onbekendheid juis omdat die volle teks steeds by Geloftefeeste, Voortrekkerfunksies, en Cantus-aande gehoor kan word (by laasgenoemde soms minder op noot as by eersgenoemde, maar die punt bly staan). Die insluiting van slegs die eerste koeplet van die oorspronklike teks by die Suid-Afrikaanse Volkslied, het daartoe gelei dat die bogenoemde laatmilleniër heel dikwels geen van Die Stem van Suid-Afrika se ander woorde ken nie. Veral die voorlaaste strofe is treffend, en lei my onderstaande denke so bietjie in. Dit lui:
“Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou —
Dat die erwe van ons vad’re vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.”
Agter elke woord steek heelwat gedagte en 'n paar potensiële debatte. Wat presies moet ons handhaaf en hou? Hoekom is ons teen die hele wêreld vry? Stof tot nadenke. Gepraat van stof: Die erwe van ons vad’re. Die erwe wat vir ons kinders erwe moet bly. Gaan dit hier oor grond? Is hierdie strofe so diep in ons gewortel dat ons hare regop staan elke keer wat onteiening sonder vergoeding ter tafel gestel word (of op sosiale media in hoofletters bedien word)? Miskien. Dalk gaan dit oor iets anders? Ons idee erfenis, miskien. Een van die meer treffende Afrikaanse meningstukke van die afgelope dekade is Flip Buys se 2017 Maroela Media artikel, “Herontdek Van Riebeeck se Skatkis”, waar die punt juis gemaak word dat ons idee-erfenis — die vrye mark, die Reformasie, Demokrasie — die skatte is wat ons deur die skare na die volgende geslag moet dra.
Ek dink dat Buys reg is, maar hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat erfenis kompleks is.
Ikonoklasme en bulte onder morele vertrekpunte
Buite Europa het 'n mens, met die uitsondering van akademiese kringe, nie sommer te doen met die geloofsoorloë van die 16de en 17de eeue nie.
Soms weet ons dat ons 'n Hugenote-van of Hugenotenaam dra, maar wie presies hulle was en hoe hulle hier gekom het word nie sommer in detail uitgepak nie, wat jammer is, want daar steek heelwat rykdom in begrip van wie ons is en waar ons vandaan kom. Vir my was die geskiedenis nog altyd duidelik en onomstrede: My voorouers is vir hul Protestantse geloof vervolg, tot die dood toe en soms op die mees wreedaardige maniere, daarom moes hulle vlug. Die 1572 Bartolomeusnag-slagting (daar is werklik nie 'n ander woord wat die omvang in volle waarde uitdruk nie) is en bly die bult waarop die Hugenote se morele hoëgrond gevestig is, en klaar. Wat erfenis betref is hierdie stukkie, so wreed as wat dit is, nie iets wat die Du Toit’s, Jouberts, Malans, Du Plessis’ wil vergeet nie. Toe ek egter onlangs vir 'n Rooms-Katolieke Europeër noem dat ek in 'n kerk in die gereformeerde tradisie is, kom die antwoord skielik: “Ja, ek weet van daai kerk, hulle het al die kuns vernietig en altare verbrand”. Dit was toe skynbaar nie net ek wat 'n morele hoëgrond gehad het om vanaf te loer nie.
Alhoewel ek die gesprek in selfs sterker oortuiging van my oorspronklike standpunt verlaat het, vermoed ek dat ons woordewisselling vir my gespreksgenoot ook eerder die aanvanklike oortuiging bevestig het as om 'n nuwe insig daar te stel — soms gaan dit dikwels maar so in debatte, nê? Die gesprek het, overgesetsynde, die hele idee van erfenis nog 'n keer deur my kop laat maal.
Anderkant perfek en boos
Die Amerikaanse YouTube-persoonlikheid Megyn Kelly het onlangs 'n videogreep gespeel van 'n dame wat terugverlang na die VSA, nadat sy om hoofsaaklik politieke redes “gevlug” het. Namate nog video’s van hierdie dame gespeel word kom dit uit dat sy, 'n wit vrou, haar eintlik skaam oor die feit dat sy wit is. Hierdie verskynsel is natuurlik, veral in die Engelssprekende wêreld, nie vreemd nie. Die eie erfenis is boos, die eie geskiedenis spreek net van onderdrukking, die eie voorouers was eintlik maar net onderdrukkers.
Eers as mens jouself in 'n ander kulturele milieu plaas besef jy dat dit wat jy van jou eie erfenis kritiseer nie uniek is nie, en dat jou voorouers - in die geval van die Weste - eintlik redelik vroeg opgehou het met iets soos slawerny, in vergelyking met die res van die wêreld. Ek dink byvoorbeeld daaraan dat Nieu-Zeeland reeds in die 19de eeu vir vroue stemreg gegee het, en dat daar nog in 2012 kannibalisme in Papoea Nieu-Guinee plaasgevind het. Kulturele moddergooiery is maar net 'n sinnelose manier om almal se erfenis uiteindelik te bevuil. Elke kultuur het sy groot foute, sy Voldemort-oomblikke wat nie sommer op die naam genoem word nie, en al wat die kritiese teoretici na afloop van die Tweede Wêreldoorlog reggekry het, is om sagmoedige Westerlinge te oortuig dat die ou foute van die verlede 'n kulturele uitsondering is. Soos wat halwe waarhede maar doen, het hierdie selektiewe beklemtoning en weglating van geskiedenis hoofsaaklik verwarring en kulturele selfkastyding veroorsaak.
Ek sou ook dink dat 'n saak daarvoor uitgemaak kan word dat die verskynsels van harde en krasse rassisme dikwels juis in reaksie op 'n kritiese benadering tot geskiedenis is, 'n oorreaksie op wat jy as beswaddering van jou voorsate en dus van jouself ervaar. Beide benaderings is vertragend, dit neem ons intellektueel agteruit.
Burke se tydlose teregwysing
My eerste blootstelling aan ware en werklike politieke filosofie was die werk van Edmund Burke. Ek sukkel soms om te glo dat hy Reflections on the Revolution in France sommer in die aande na 'n voldag se politieke program in die Britse laerhuis geskryf het. Die waarheid, werklikheid en egtheid waarmee hy die Franse se pogings om hul staat soos 'n bruistablet in borrels te laat opgaan is verstommend. Dit is een van daardie tekste waarheen ek keer op keer na terug kan gaan, en elke keer voel soos die eerste keer. So dig, so ryk, so vol is hierdie man se begrip. Oor die samelewing maak hy heelwat opmerkings, veral hier toepaslik is sy woorde:
“Society is indeed a contract. Subordinate contracts for objects of mere occasional interest may be dissolved at pleasure — but the State ought not to be considered as nothing better than a partnership in a trade of pepper and coffee, calico or tobacco, or some other such low concern, to be taken up for a little temporary interest, and to be dissolved by the fancy of the parties. It is to be looked on with other reverence; because it is a partnership in all science; a partnership in all art; a partnership in every virtue, and in all perfection. As the ends of such a partnership cannot be obtained in many generations, it becomes a partnership not only between those who are living, but between those who are living, those who are dead, and those who are to be born.”
As Burke skryf dat die staat 'n vennootskap is, en dat hierdie vennootskap oor generasies heen strek, dan praat hy van erfenis. Die erfenis wat ons ontvang, kultureel, wetenskaplik, polities, of wat dit ook al mag wees, is nie perfek nie, hoe kan dit wees? Die erfenis wat ons oorgee aan ons kinders, die erwe van hulle vaad’re, gaan ook nie perfek wees nie, hoe kan dit wees? Uit die foute van die verlede leer ons wat om nie weer te doen nie, maar ons het nie net 'n reeks ou foute geërf nie. Hy of sy wat daarvan oortuig is dat hulle ganse erfenis boos is, moet onkundig of hewig onder die invloed van indoktrinasie wees.
Die keersy van die munt, die oortuiging dat die eie erfenis oweral foutloos is, en dat elke episode van onderdrukking of uitbuiting vandag anakronisties verklaar en verduidelik en verdedig kan word, spreek eweneens van 'n tipe onkundigheid of hewige indoktrinasie. Die erfenis, soos die voorouers, moet natuurlik die eer ontvang wat dit verdien, maar 'n geslag wat nie die vermoë het om sy ouers of sy erfenis respekvol te kritiseer nie, is verdoem om die foute van die verlede te herhaal.
Burke maak juis hierdie toepassing met betrekking tot Brittanje:
“A state without the means of some change is without the means of its conservation. … At both [the Restoration and the Glorious Revolution]… they regenerated the deficient part of the old constitution through the parts which were not impaired.”
Maak geen fout nie, vir Burke is die staat waarna hy heeltyd verwys iets wat oorgeërf is. Nie net die infrastruktuur nie, maar die idees, die “sagteware” — as ek Buys 'n tweede keer mag aanhaal. Elke generasie ontvang nie net erfenis nie, maar saam met dit ook 'n opdrag. Ons s’n is miskien moeiliker as dié van ons voorouers: Ons moet sin maak van 'n land en 'n wêreld waar identiteit nie meer eenvoudig is nie. Ons moet ons taal gelyktydig lewend hou en groei terwyl ons ook oop moet wees vir globale ontwikkeling en tendense. Ons moet ons geskiedenis saamdra en oordra sonder om daarin vas te kyk.
Om erfenis ernstig op te neem, beteken om die gesprek met die verlede aan die gang te hou. Erfenis is daarom nie 'n statiese ding nie, dit kan nie wees nie. Dit is 'n voortdurende handeling — wisselwerking tussen die twee dade van onthou en herinterpreteer. As ons dit reg doen, kan ons die mooi dra en uitbou sonder om die seer te ontken.
Erfenis as fondasie waarop nuut gebou kan word
Erfenis is nie 'n anker nie; dit is 'n fondament. Hiermee bedoel ek dat dit nie ons beweging of ontwikkeling moet inperk nie, maar dit eerder moet onderskraag. En miskien lê daar, in daardie eenvoudige gedagte, die mooiste vorm van respek vir ons voorouers. Ons neem wat ons van hulle gekry het, deeglik bewus daarvan dat dit nie foutloos oorhandig is nie, en nederig genoeg om te besef dat ons dit nie foutloos sal oorhandig nie, maar ywerig aan die werk om die beste daarmee te doen wat ons kan.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










Uitstekend geskryf!
Goed geskryf Paul!