Ek het oudergewoonte lekker gelees aan die OntLaer uitgawe wat my inboks verlede Vrydag soos 'n lankverwagte gas binnegetree het. Kopknikkend het ek saam met Eugene Brink die skynheiligheid van vingerwysende politici bedink, en alhoewel dit by my meer vrae as antwoorde gelos het, het ek ook soos Hilde Kruger gewonder hoe presies ons nou met KI moet maak? Het die Luddiete dalk hierdie keer 'n punt beet?
So lekker as wat hierdie grepe geval het, was dit veral die drie stukke wat hulself met die konsep van die Weste bemoei het, wat my aan die dink gehou het. Soos ek Saterdag teen my plaaslike berg uitklim en Louw se akkerblare om my sien goud word, het ek gewonder wat presies Angus Douglas bedoel toe hy geskryf het oor “ons Westerse sekulêre beskawing” en wie presies die Weste is waarvoor Barend Wesseloo in Charlie Kirk se wrede moord 'n draaipunt wil sien. Is die Weste 'n streek wat mens op 'n atlas kan omkring? Of is dit 'n stel idees, soos die liberalisme en demokrasie waaroor ons gasskrywer TDT geskryf het? So kom ek gooi my stuiwer in die armbeurs met betrekking tot wat presies ek dink “die Weste” is, of ten minste, waar ons daarvoor behoort te soek.
Ideologie
'n Goeie beginpunt is gewoonlik die begin, maar as dit kom by 'n begrip so wollerig soos hierdie majestieuse “Weste” wat ons almal gemaak het en waarvoor ons nou sou moes veg, is dit nie so maklik nie.
'n Kort en bondige samevatting van die Westerse beskawing wat dikwels aangebied word, is dat dit die idees van antieke Atene en Jerusalem saamgevat met die praktyke en strukture van antieke Rome is. Vanuit Jerusalem het die Christelike geloof gekom, een van die mees belangrike fondasies van Westerse denke, indien nie die mees belangrike pilaar of hoeksteen daarvan nie. Ook Rome, met sy ingenieurs en sy boukuns, met sy paaie en sy politieke strukture, is aan ons redelik algemeen bekend. Min beskawings se “sagteware” is nog so belangrik vir die alledaagse funksionering van howe die wêreld oor soos die van Rome. Ek dink nietemin dat die stilste lid van die driemanskap, Atene, in werklikheid die belangrikste stigterslid van Westerse denke is. In die geval van al drie die stukke wat verlede week op OntLaer verskyn het, het elkeen hul met ons denkerfenis besig gehou.
Waarvoor Charlie Kirk sy lewe gegee het, was nie die praktyk van redevoering in een of ander senaat nie. Alhoewel dit blyk dat hy 'n diep gelowige was, was sy doelwit ook nie noodwendig evangelisering nie. Hy het gewerk vir 'n idee - die idee dat 'n gemeenskap vooruit gaan wanneer mense met verskillende idees hierdie idees mag uiter en mag opper sonder vrees van vervolging of die dood. Soos 'n groeiende golf jongmense het Kirk geleef (en gesterf) vir sy idee van 'n ordelike en funksionele samelewing in 'n toestand van konstante wanorde. Hierdie idee, soveel as wat ons erfenis uit Jerusalem en Rome dit onderskraag, kom na my mening op sy sterkste na vore in die werke en wense van Sokrates, Plato en Aristoteles. Daar is tot vandag toe nog lande waar jy jou lewe sal verloor as jy die gode van die meerderheid as vals afmaak, maar in Atene is die apostel Paulus nadese gevra om uit te brei, om meer te vertel. As dit wat hy gedeel het sy aanhoorders se lewens kon verbeter, dan wou hulle dit hoor, hulle wou hom nie stilmaak nie.
Agter hierdie optrede sit daar 'n gewisse volksnederigheid - die Ateners het besef dat hulle nie volmaak is nie, hulle wou leer, hulle wou verstaan, en hulle was bereid om in die gesig gevat te word. In Angus Douglas se stuk vra hy die vraag reeds in sy opskrif: Kan die Sekulêre Weste Afrika insluk? Hy bou 'n saak waarop hy dan sy aanvanklike vraag probeer beantwoord, maar ek wonder of dit die regte vraag is? Ek is nie daarvan oortuig dat die instroming van massas mense wat wesenlik andersdenkend is sinvol of volhoubaar is nie, omdat mense nie sommer van hul oortuigings afsien nie, veral nie in massas nie. Ek dink nietemin dat die regte vraag eerder is of die Weste nog oor die meganismes beskik om te besef dat sy huidige beleide nie werk nie, dus, of die nederigheid wat Paulus in Atene raakgeloop het nog daar is.
Ek wonder of die Weste nog glo dat hy 'n fout kan maak. Solank as wat spraakvryheid bestaan, sal hulle wat die gevare raaksien hul saak telkens kan stel, en as wat hulle verkondig waar is, sal die waarheid mettertyd oorwin - dit glo nie net ek vas nie, die geskiedenis bevestig dit keer op keer.
Chronologie
Die fyn leser mag my dalk nou stop en sê: aikona! Hoe wil ek nou weer inhoudelik redeneer oor die “Weste” as ek die ding nog nie ten volle benoem en begrens het nie?
As die “Weste” dan lande of landstreke is waarvan die idees van Jerusalem, Rome en Atene die fondasie is, en as Atene sentraal staan, dan moet ek sekerlik probeer verklaar hoe hierdie idees tot stand gekom het. (Net om verwarring uit te skakel, beweer ek nie met hierdie keuse dat filosofie nou 'n ereplek bo teologie of staatsleer verwerf het nie, ek dink maar net dat lande soos China of Singapoer ook baie van Jerusalem en Rome het, maar baie min van Atene).
Plato skryf baie van Atene se meer demokratiese neigings aan Solon toe, 'n Ateense staatsman van die 6de eeu voor Christus. Ek dink wel nie dat hierdie aanpassings en nuutskeppings gesien kan word as die geboortemoment van die “Weste” nie. Veel eerder vind ek in Leonidas se opmars na Thermopylai 'n oomblik van selfhandhawing. Soos wat die Duitse prinsdomme nie regtig in eenheid belang gestel het nie totdat die kort Korsikaan hulle daartoe gedwing het na afloop van die Franse Rewolusie, het die onafhanklike Griekse stadstate nie regtig in ernstige eendrag belang gestel nie. Natuurlik was daar liga’s, alliansies en groeperings, maar dit was die identifisering van 'n eksterne bedreiging wat die Spartane en Ateners, en al die res, uiteindelik in 499 v.C. tot eendragtigheid opgeroep het. Daar is na my mening 'n saak uit te maak vir hierdie oomblik as die geboortemoment van die Weste. Uit Atene se nederige soeke na begrip, aangevul en verryk deur die sagmoedigheid en genade wat die Christendom gebring het (wat die filosofie so dikwels nie voorskryf nie) en die orde en bestuur wat Rome bydra, het die omstandighede ontstaan waaronder 'n funksionele samelewing tot stand kon kom.
Patologie
Die probleem met die ideologiese oopdeurbeleid wat intellektuele nederigheid en nuuskurigheid noodwendig veroorsaak, is dat daar elke nou en dan 'n vyand by die voordeur instap, en aan tafel tussen jou kinders gaan sit.
Nie alle gaste bring die goeie, die ware, en die skone saam as hulle aankom nie. Deur die eeue heen het sulke slegte idees dikwels katastrofiese nagevolge gehad. Die misbruik van die kerk as magsinstrument is heel moontlik een rede vir Europa se kwynende invloed na die val van Rome. Die absolute oortuiging in die menslike rede, veral sedert Descartes, is dalk die rede vir die katastrofiese twintigste eeu, ten minste in terme van oorlog. Die oorbeklemtoning van die individu en die waarde van selfverwesenliking is dalk die rede vir kwynende geboortesyfers, en jongmense wat nie in die idee van die tradisionele belang stel nie. Soveel as wat hierdie idees in hul tyd as vooruitgang beskou is, moet selfs hul mees stoere voorstanders sekerlik toegee dat die filosofie in Atene 'n nederige soeke en strewe na begrip was, terwyl die Verligting en sy nasate 'n bulderende bevestiging van die eie foutloosheid is.
In die oomblik toe hy homself van sy wysheid en foutloosheid oortuig het, het die Weste homself van sy nederigheid gestroop, en noodwendig van sy vermoë om homself krities te ondersoek - want watter foutlose wese sal sy tyd immers met so 'n banaliteit mors?
As daar werklik iets soos die Weste is, wat ek dink daar is, en as dit die moeite werd is om dit te beskerm, wat ek dink dit is, dan sal so 'n beskerming begin by die nederige besef dat die mens se kennis beperk is, dat hy maar ten dele ken. Eers wanneer mens vrede daarmee maak dat jou eie idees soms simpel is, kan jy van hulle af wegdraai.
Vorige Donderdae se weerdenkery:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.