Die Gevare van die Post-Liberale Spotbeeld
Liberalisme verdien nie dreinering saam met die progressiewe badwater nie.
Ons leef in 'n tyd waar ideologiese karikature, oftewel spotbeelde, toenemend openbare debat oorheers.
Vir lank is konserwatiewe en libertariese skrywers en denkers, in Suid-Afrika en oorsee, as 'n amorfe massa van agterlike, patriargale buffels wat teen vooruitgang is uitgebeeld. Die spotbeeld was 'n wit, manlike, en meerderjarige strooiman (nooit 'n strooivrou nie) wat glo dat aardverwarming 'n mite is. Dus was dit maklik om die strooiman en sy argumente af te maak, want hy verteenwoordig 'n duidelike vyand en gevolglik kan 'n mens sonder die noodsaaklike moeite en intellektuele erns alles wat sy ideologie verteenwoordig verwerp.
Hierdie strooiman-benadering tot diskoers oor die algemeen, het 'n groot rol gespeel in die stigting van OntLaer, waar ons 'n alternatief wil bied, naamlik 'n ruimte waar idees ernstig opgeneem word, waar die groot tradisies van die Weste met respek en erns bestudeer en bespreek kan word sonder om dit te reduseer tot memes of spotbeelde.
Maar wat vir my die afgelope paar jare treffend blyk, is hoe konserwatiewe denkers al hoe meer dieselfde fout begin maak.
Nes konserwatisme as 'n strooiman aangevat is, sien ons nou talle skrywers en kommentators, hier aan die suidpunt van Afrika en elders, wat veral klassiek liberale denkers uitbeeld as vervelig, futloos of verby hul tyd. Die reuse van die liberale tradisie, oud en nuut, John Locke, Adam Smith, Friedrich Hayek ensomeer, word afgemaak as ou stemme van 'n verouderde wêreld. 'n Bekende Afrikaner akademikus het selfs onlangs gesê dat om Locke en Hayek te bestudeer is volgens hom die verveligste ding moontlik. Hierdie klassiek liberale strooiman is toenemend in die visier soos wat die stryd van idees teen progressiwisme, wat geleidelik sy hoofstroomgreep verloor, verskuif na 'n stryd teen liberalisme.
Konserwatiewe denkers en skrywers hou veral daarvan om aan te voer dat konserwatisme werklike menslike natuur verteenwoordig. Die mens hou immers mos nie van verandering nie. En dit is myns insiens grootliks waar. Maar dit is terselfdertyd tyd ook waar dat liberale waardes ook dele van die menslike natuur verteenwoordig. Twee goed kan gelyktydig waar wees. Die mens se natuur bestaan nie uit 'n behoefte aan slegs behoud of slegs verandering nie, maar uit 'n voortdurende spanning tussen die twee. Ons verlang na stabiliteit en wortels, maar net so na 'n vrye ruimte om te kies en te verskil.
Die verwerping van liberalisme in geheel is dus vir my vreemd. Konserwatiewe denkers het nog altyd hul krag gevind in gesprek met die liberale tradisie. Edmund Burke se kritiek op die Franse Rewolusie maak net sin as jy verstaan hoe hy met liberale idees worstel. Alexis de Tocqueville se meesterlike beskrywing van Amerika toon nie 'n verwerping van liberale beginsels nie, maar 'n poging om hul gevolge te verstaan. Isaiah Berlin, self 'n liberale denker, het die waarde van konserwatisme gesien as teenwig teen ideologiese totalitarisme.
Post-liberale wêreld
In die kommentaarklas is postliberalisme die nuutste gonswoord en modebegrip, 'n etiket wat met groot erns rondgegooi word asof dit opsigself dié deurslaggewende ontleding van ons nabye toekoms is.
Die idee van 'n post-liberale wêreld verwys na die oortuiging dat liberalisme (of klassieke liberalisme in teenstelling met liberale progressiwisme) met sy klem op individuele regte, beperkte regering en vryemarkte, sy tersaaklikheid verloor het en nie meer die mees geskikte raamwerk bied om samelewings te orden nie. Post-liberale denkers meen liberalisme het sy eie onderbou vernietig deur 'n oordrewe fokus op die individu en outonomie, wat tot morele relativisme, kulturele versplintering en gemeenskapsverval gelei het. Hulle stel dus 'n nuwe model voor, dikwels gewortel in sterker gemeenskapsbande, godsdienstige of nasionale waardes, en 'n meer gesentraliseerde staat wat die gemeenskaplike goeie sedes afdwing.
Wanneer skrywers dus nou verklaar dat ons in 'n “post-liberale wêreld” leef, klink dit vir my minder na intellektuele vernuwing en meer na 'n verkeerde identifisering van 'n probleem. Wat ons werklik beleef, is nie die dood van liberalisme nie, maar die einde van progressiwisme se greep op diskoers en die samelewing. Progressiewe politiek het oor dekades sy morele kapitaal opgebou deur te veg vir burgerregte, feminisme, antikoloniale bevryding, ensomeer. Maar dit het ontaard in ‘n beheptheid oor identiteit, simboliek en morele polisiëring wat eenvoudig nie meer by gewone mense aanklank vind nie. Dít is wat mense verwerp, nie die liberale kernbeginsels van vryheid en regverdigheid nie.
Die idee van 'n “post-liberale wêreld” is dus self 'n soort strooiman. Dit veronderstel dat ons tot dusver werklik in 'n volbloed liberale wêreld geleef het, en dat daardie era nou afgehandel is. Maar dis eenvoudig nie waar nie. Die afgelope dekades is veel eerder deur progressiwisme as deur klassiek liberalisme oorheers: identiteitspolitiek, kulturele relativisme en die beheptheid op simboliese vooruitgang het die hoofstroom se energie opgeslurp. Ons het nie uit 'n era van Locke, Smith en Hayek gekom nie, maar uit 'n era van aktivistiese progressiwisme wat liberale beginsels dikwels net as dekor gebruik het.
Om nou te verklaar dat ons “post-liberaal” leef, is dus misleidend. Wat ons beleef, is die terugslag teen progressiwisme, nie die dood van liberalisme nie.
Die post-progressiewe tydsgewrig
Ek het onlangs die puik biografie deur Sam Tanenhaus oor William F. Buckley gelees. Buckley was nog altyd een van my gunsteling denkers en skrywers, deels oor sy styl en skerpsinnigheid, maar veral omdat hy nooit geskroom het om sy eie tradisie aan kritiese ondersoek te onderwerp nie.
Wat vir my die meeste getref het in die boek, is hoe oud en vol herhalings die debat tussen liberalisme en konserwatisme eintlik is. Reeds in die 1950’s het Buckley se National Review die klaaglied laat hoor dat liberalisme maar 'n sluier vir radikale sosialisme of selfs kommunisme is. Hulle het geskryf oor die hoofstroommedia se liberale eensydigheid, oor die verval van universiteite, oor die morele uitdagings van 'n samelewing sonder vaste waardes en hoe dit alles tot die einde van die Weste sou lei. Die doemprofetiese voorspellings kon letterlik net so uit die pen van Tucker Carlson of Nigel Farage vandag gekom het.
Die beskuldiging dat “liberales en kommuniste” kop in een mus is, was dus destyds net so volop soos vandag se geruis dat liberalisme en progressiwisme onafskeidbaar is. Maar soos Buckley ('n groot gees in Amerikaanse konserwatiewe denke) self geweet en geskryf het, dikwels in teenstelling met baie van sy konserwatiewe tydsgenote, is die waarheid meer kompleks as dit. Liberalisme is nie 'n radikale filosofie nie, maar 'n tradisie van beperkingsleer, kompromie en gesprek. Hy het begryp dat konserwatisme sy eie gewig en tersaaklikheid verloor as dit die liberale tradisie geheel en al as verraad afmaak.
En hier is die skakel met ons eie tyd. Die enigstes wat vandag werklik en openlik liberalisme op die naam verwerp, is 'n klein groep denkers wat glo hulle tyd het nou aangebreek, asook die lawaaierige stemme op sosiale media wat hul boodskap op algoritmes bou. Die res van die samelewing, die miljoene gewone mense, soek nie 'n einde aan liberalisme nie, maar 'n einde aan die vermoeiende progressiewe oordrywing wat hul lewens begin oorheers.
Daarom glo ek ons tree nie 'n post-liberale era binne nie, maar 'n post-progressiewe een. En dis 'n belangrike onderskeid. As die politieke oorwinning oor progressiwisme gebruik om liberalisme self saam met progressiwisme weg te gooi, is dit soos om die kind saam met die badwater uit te smyt.
Die huidige konserwatiewe oplewing wêreldwyd, van MAGA in Amerika tot AfD in Duitsland en Reform UK in Brittanje, het momentum omdat mense moeg is vir progressiewe morele polisiëring, maar vernaam ook vir die praktiese gevolge van progressiewe beleid. Hierdie momentum is broos as dit bou op die illusie dat die Westerse intellektuele nalatenskap begin en eindig by konserwatisme. Ons staan, soos Newton gesê het, op die skouers van reuse. Dit sluit Locke en Smith, Burke en Aquinas, Scruton en Hayek in. Om daardie erfenis net halfpad te erken, is om die boom te snoei terwyl jy self op die takke sit.
Konserwatiewe denkers doen hulself 'n onguns aan deur liberale denkers te reduseer tot 'n spotbeeld. Dit is ironies, want konserwatisme was nog altyd op sy sterkste wanneer dit teenstanders ernstig opgeneem het. Dit was nooit bloot 'n nee-stem nie, maar 'n worsteling met die volle kompleksiteit van menslike vryheid en orde.
Waak oor die nuwe momentum
Ons gaan ongetwyfeld 'n nuwe era binne waar progressiwisme sy greep verloor en konserwatiewe of populistiese idees veld wen. Die beklemtoning van gesin, geloof en wortels groei vinnig en raak selfs gewild op sosiale media. Daar is baie daarvan om te waardeer. Dit is dieselfde beginsels wat die Westerse beskawing gevorm het. Dit bring 'n sin van gemeenskap en 'n gevoel van geborgenheid terwyl moderniteit dít wat mense anker, dikwels redeloos probeer verpletter.
Maar daar is ook gevare. Elke oplewing het sy eie versoeking tot gevaarlike oordrywing. As die nuwe momentum gebruik word om liberalisme saam met progressiwisme af te skryf, loop ons die gevaar om vryheid van spraak, individuele regte en akademiese nuuskierigheid op te offer op die altaar van gemeenskapswaardes.
Tog moet ons onthou dat die meeste mense nie in ideologiese registers leef nie. Hulle lees nie Locke of Burke voor slaaptyd nie. Hulle kyk na die hier en nou. Werk, veiligheid, skoolgeld en soek 'n toekoms vir hul kinders. En dit is juis daar waar die gevaar van spotbeelde lê. Wanneer ons mense se vrese en hoop tot “-ismes” en strooimanne reduseer, verloor ons die vermoë om mekaar regtig te hoor.
'n Samelewing kan net gebou word op wat waar en konkreet voor ons lê. Nie op spotbeelde nie, maar op die erkenning dat mense altyd meer is as die etikette waarmee ons mekaar afmaak.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.