Keir Starmer, die Verenigde Koninkryk se Eerste Minister, het onlangs steun uitgespreek vir die idee om die stemouderdom in die VK na 16 te verlaag. Die redes om die stemouderdom na 16 toe te verlaag klink ook heel edel want “jongmense het ook 'n reg op inspraak in hul toekoms.”
Dit is natuurlik nie 'n nuwe voorstel nie. Elke paar jaar steek dit kop uit in verskeie lande en dit word gewoonlik aangevuur deur 'n mengsel van sentiment, populisme en moontlike party-politieke voordeel. Die argument is dat as jy ouer as 16 is en jy kan werk, belasting betaal, en jy word geraak deur wetgewing, dan behoort jy ook te kan stem (selfs al is mens nog te jonk om te drink, by die weermag aan te sluit of krediet aan te gaan).
Myns insiens as daar 'n gesprek moet wees oor ouderdom en stemgeregtigheid, behoort dit eerder in die rigting van verhoging te gaan. Want om om te kan stem is nie net 'n reg nie, dit is 'n verantwoordelikheid. En verantwoordelikheid vereis gesonde oordeel (iets wat selfs onder meeste volwassenes skaars is).
Daar is 'n heersende ortodoksie dat die jeug oor buitengewone insig beskik en dat jong mense nie net weet wat verkeerd is met die wêreld nie, maar ook weet hoe om dit reg te maak. Kyk maar na Greta Thunberg, of David Hogg, of enige van die jong figure wat die afgelope dekade as morele kompasse aangebied is.
Romatisering van die jeug
Die romantisering van jeug is wel niks nuuts nie. Maar die intensiteit waarmee dit vandag plaasvind, is nuut. Die verheerliking van “die jeug” is 'n soort burgerlike geloof in die moderne Westerse wêreld. Dis amper 'n morele refleks. Talle mense sê outomaties dinge soos “die jeug is die toekoms” of “ons moet luister na jong stemme” sonder om ooit ernstig te vra of dit werklik wys is. Dis 'n tipe heilige koeie-retoriek. Moenie vra of die kalf iets weet van landbou nie want die kalf is jonk, opreg, en het met die Internet groot geword dus sal die kalf weet.
En die jeug is immers innemend. Die jeug het energie en ywer wat dikwels vir morele helderheid verwar word. Mense wil glo dat die jeug nog nie deur die wêreld se hardheid geslyp is nie. Maar dis juis daardie ongeslypte aard van die jeug wat maak dat die jeug nie juis die beste besluite neem nie. Vir een of ander vreemde rede glo ons terselfde tyd dat die jeug slegte besluite neem in hul eie lewens want hulle is immers nog jonk en moet nog foute maak maar terselfde tyd dat die jeug se opinies bepalend moet wees vir openbare diskoers. Daar is 'n skerp teenstrydigheid hier. Ons aanvaar dat jong mense nog nie hul eie lewens heeltemal kan bestuur nie, maar verwag terselfdertyd dat hul opinies bepalend moet wees vir openbare diskoers oor klimaatbeleid, koloniale geskiedenis, en die ekonomie. Dit maak nie sin nie. Dis 'n kultuur wat verward is oor wat gesag beteken, en wie dit moet dra, soos ek al van ter vore oor geskryf het.
Die geskiedenis is vol voorbeelde van jongmense wat hul oortuiging in aksie omskep het (dink aan Mao se Rooi Wag, die Franse studente-opstande in 1968, die Hitlerjeug of the Hippies van die 60s). Hierdie soort verwarde romantisering van jeug het dus 'n geskiedenis, maar dit het selde so ongerig of grensloos gefunksioneer soos nou.
Die rede hoekom hierdie romantisering van jeugskennis so gewild geword het, het deels te doen met die verval van vertroue in tradisionele gesag. Omdat tradisionele bronne van gesag en kundigheid oor die algemeen as verdag beskou word en omdat baie van die bronne van gesag in die onlangse verlede 'n paar groot kwessies ernstig verkeerd gekry het (ons kyk na julle, Covid-19 deskundiges), het baie mense begin luister na die wat hulle glo die minste korrup kan wees naamlik die ongeskonde jeug. In die proses om die boom van kennis te ontwortel het ons nou die lote begin aanbid.
Hierdie kultus van jeug gaan hand aan hand met die aanlyn wêreld waarin jong mense hulself vorm. Die platforms wat die jeug inlig (TikTok, Instagram, YouTube, Discord, Twitter/X) is nie gebou om kennis te verdiep nie, maar om opinies te versterk. Die feite wat op hierdie platforms versprei is dikwels nie dit wat noodwendig waar is nie maar dit wat gewild is binne 'n bepaalde egokamer. Daar word nie stilgestaan by nuanse of konteks nie maar net of jy die regte morele refrein van jou groep kan opsê.
En hierdie platforms beloon opvoerigheid, nie wysheid nie. As jy op 17 sê “die kapitalisme is besig om ons wêreld te vernietig,” of “Israel is Hitler,” of “feminisme is die ware vyand”—alles uitsprake wat jy deesdae aan beide ekstreme kante van die politieke spektrum hoor, ironies genoeg—dan kry jy miljoene kyke en volgers. Beide het 'n obsessie met identiteit as die kern van alle betekenis. Dus word jou aanvoeling en hiperbool beloon, en niemand vra vir jou bronne nie, want wie kan die “bronne” in elk geval nog vertrou? En so ontstaan 'n hele geslag wat leer dat jou intuïsie, jou identiteit, en jou morele woede outomaties beteken dat jy iets belangriks te sê het.
Wat dan volg, is nie net 'n generasie wat praat sonder kennis nie, maar 'n kultuur wat nie eers meer verwag dat hulle kennis moet hê nie. En dis natuurlik nie uniek aan links of regs nie. Aan die linkerkant is dit 'n kultus van emosionele moraliteit. Aan die regterkant is dit 'n kultus van sarkastiese sekerheid. Maar altwee het dieselfde onderliggende arrogansie: die idee dat hulle alles weet.
Hierdie kultus van jeug gaan ook nie net oor bewondering nie. Dit gaan ook oor gebruik. Politieke groepe weet presies hoe bruikbaar jongmense as morele dekking is. Wanneer 'n jong aktivis iets sê wat inpas by die heersende narratief, word dit behandel as heilige waarheid. Maar wanneer daardie selfde jeug 'n onwelkome mening uitspreek, oor immigrasie, geslag of geloof, dan is die reaksie dat die spesifieke jeugdige nog jonk is en moet leer. Die waarheid is dus dat die jeug is net waardevol as dit die regte dinge sê.
Die ou idee van politieke volwassenheid—dat jy iets van die wêreld moes verstaan, dat jy moes leer hoe kompleks besluite is, dat jy iets moes word voordat jy 'n rol kon speel in die vorming van jou samelewing is besig om te verdwyn. In sy plek kom 'n nuwe soort simboliese aktivisme, waar jy as jongmens net daar hoef te wees om as moreel betroubaar beskou te word. As jy kwaad is, klink jy reg. As jy oortuig is, is jy 'n leier.
Maar politieke oordeel is nie 'n uitdrukking van persoonlike opregtheid nie. Dis nie 'n Instagram-storie of 'n TikTok-reaksie nie. Dis iets wat gebou word, stadig, oor tyd, met blootstelling aan mense wat jy nie self kies nie en aan feite wat nie vir jou gemaklik is nie en dus jou dwing om daaroor te besin.
Slot
Daarom is die hele stemouderdomsdebat eintlik net die spits van 'n groter ysberg. Die probleem is nie net of 16-jariges moet stem nie. Die probleem is 'n samelewing wat begin glo het dat jeug op sigself gesag dra. Dat die wêreld se probleme opgelos gaan word deur jonger en jonger mense meer en meer platforms te gee sonder om hulle die toerusting te gee om daardie platforms verantwoordelik te gebruik.
Daar is niks verkeerd met jeug nie. Almal was iewers jonk. Ek word waarskynlik self nog beskou as deel van “die jeug”. Maar ons samelewing moet ophou voorgee dat die jeug meer weet as wat hulle/ons doen.
Die oplossing lê dus nie in die stilmaak van jong stemme nie. Maar dit lê ook nie in die verering van hulle nie. Wat ons nodig het, is 'n kultuur wat kan onderskei tussen vyre uitdrukking en uitdrukking met gesag en tussen entoesiastiese oortuiging en insig.
Nog artikels deur Daniël Eloff op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.