
Elke stem begin by 'n interpretasie. Cherrel Africa leen by Swanson en Mancini die gedagte dat politiek altyd oorredend is en ons dwing om, bewus of onbewus, te interpreteer, te evalueer en op te tree. Dit vra agentskap van die kieser. Jy neem die woorde en dade van politici en partye in, besluit self wat dit beteken, en dié betekenis bepaal waar jy jou kruisie trek.
Min Suid-Afrikaanse politici het hulle so lank en so doelbewus besig gehou met hoe kiesers hulle lees as Helen Zille. In Maart vanjaar het sy 'n duikpak aangetrek, 'n snorkel opgesit en in 'n slaggat vol modderwater in Douglasdale gaan swem. Die gat was glo al drie jaar daar. Die burgemeester, Dada Morero, het met sy eie video by dieselfde gat geantwoord, en binne dae is dit herstel.
In hierdie ontleding lees ek vier veldtogte waarin Zille self die gesig van die DA was: 2009, 2011, 2014 en 2026. Ek kyk na wie sy elke keer probeer bereik het en hoe kiesers gereageer het. Die draad wat deur al vier loop, is die stadige groei in swart steun vir die DA.
Die nasionale verkiesing van 2024 is die keerpunt in hierdie storie, al word dit hier nie as veldtog ontleed nie. John Steenhuisen het die DA se veldtog gelei, en Zille was nie die gesig daarvan nie. Haar rol het ná die stemdag gekom, toe sy en Tony Leon die DA se onderhandelingspan gelei het in die gesprekke wat op die regering van nasionale eenheid uitgeloop het. Die uitslag loop wel deur die hele stuk. Die ANC het op 40,18% geval, die DA het 21,81% gekry en MK 14,58%. Vir die eerste keer het geen party 'n meerderheid gehad nie. Dit was die begin van koalisieregering op nasionale vlak, en dis die agtergrond waarteen Zille nou in Johannesburg veldtog voer.
2009: Stop Zuma
Die eerste slagspreuk was Vote to Win. Die Stop Zuma-plakkaat het op 13 April verskyn, minder as twee weke voor die stemdag. Ryan Coetzee, die strateeg agter die boodskap, het later gesê die doel was om die DA se eie kernkiesers na die stembus te kry. Hy reken dit was dalk die verskil tussen wen en verloor in die Wes-Kaap.
Sewentien jaar voor die slaggat het Zille self die eerste Stop Zuma-plakkaat opgesit. Sy was toe DA-leier en burgemeester van Kaapstad, en die veldtog is om haar gebou. Sy het sprekend in Xhosa, Afrikaans en Engels deur die land getoer. Dit was 'n gewaagde skuif om die naam van 'n ander party se president op die opposisie se plakkaat te sit. Vir my wys dit hoe gemaklik Zille en haar DA-span van destyds was met die rol van die uitgesproke leier.
Die reaksie was skerp. Allan Boesak van Cope het gesê die veldtog ruik na “swart gevaar”, en die Sowetan het dit met die DP se Fight Back-veldtog van 1999 vergelyk. Kommentators soos Peter Bruce en John Maytham was openlik ontsteld, en die media se reaksie was byna eenstemmig vyandig.
Die uitslag het Coetzee gelyk gegee. Die DA het nasionaal 16,66% gekry en die Wes-Kaap gewen. Southall en Daniel wys egter waar die groei vandaan kom: oud-NNP-kiesers, bruin kiesers regoor die land, en wit kiesers wat in 1999 en 2004 weggebly het maar in 2009 na die stembus teruggekeer het. Volgens Southall en Daniel het Zille se opvallende pogings in ontevrede swart gemeenskappe nie 'n deurbraak gebring nie, en hulle het gewonder of die DA sy glasplafon bereik het.
2011: Kliptown
Die wortel van die 2011-veldtog lê in 2006. Coetzee het toe 'n interne dokument geskryf met die titel Becoming a Party for All the People. Daarin staan dat dit die DA se ambisie is juis om hul basiese kiesers te oorskry deur 'n beduidende aantal swart stemmers te oortuig.
Zille het die veldtog in Kliptown, Soweto, begin. Dis waar die Vryheidsmanifes in 1955 aanvaar is, en die Mail & Guardian het die plek gelees as 'n simbool van nie-rassigheid wat die DA vir homself wou opeis. Die slagspreuk was The DA delivers for all, en op die plakkaat het sy langs Lindiwe Mazibuko en Patricia de Lille gestaan. Vir die bestaande kiesers was die boodskap dieselfde as vir almal: dienslewering. Die DA het 23,9% van die stemme gekry, teenoor 16,3% in 2006. Volgens die party het swart steun gegroei. Zille het gesê die DA het vir die eerste keer wyke met net swart kiesers gewen, en dit die keerpunt genoem waarvoor sy gewag het.
Die kritiek het 'n naam gekry: Op 'n saamtrek het Julius Malema Zille 'n madam genoem wat 'n “monkey dance” doen op soek na stemme, en hy het Mazibuko die “madam se tee-bediende” genoem. Die beeld het gehaak aan Zille se dans en toyi-toyi op die veldtogpad, wat haar teenstanders gekritiseer het. Kritici het haar gesien as 'n wit madam wat arm swart mense vir stemme inspan. Dieselfde kritiek duik in 2026 weer op.
2014: Ken jou DA
Die Know Your DA-veldtog wou klem lê op die DA se anti-apartheidsherkoms met lig spesiefiek op Helen Suzman en Zille se werk as joernalis in die Steve Biko-saak.
Die gesig van die veldtog in Gauteng was Mmusi Maimane, en ek glo dit was 'n doelbewuste keuse. Maimane het die geloofsbriewe en persoonlikheid om 'n veldtog te lei, maar die party het ook 'n swart gesig nodig gehad. Die tendens wys vir my dat die werwing van swart kiesers ná 2007 Zille se hoofdoel geword het, en sy het jong swart leiers in sleutelposte geplaas: Mazibuko as parlementêre leier en Maimane as nasionale woordvoerder. Zille het later self erken sy het Mazibuko se kandidatuur gesteun omdat sy nie kon waag dat 'n swart kandidaat verloor nie.
Die nasionale boodskap het om Zuma gedraai. Die DA het sy veldtog gefokus op wat onder Zuma se bewind skeefgeloop het, met Nkandla in die middel. Die Ayisafani-advertensie het gesê die ANC is nie meer dieselfde nie.
Die DA het 22,2% gekry, sy beste nasionale uitslag tot op daardie stadium. Zille het gesê sowat 760 000 swart Suid-Afrikaners het vir die DA gestem, ongeveer een uit elke vyf DA-stemme. Hierdie is die DA se eie skatting.
Verwarrende syfers en stadige groeikoerse
In my navorsing hieroor is daar twee syfers wat met mekaar verwar word. Die een is hoeveel swart kiesers vir die DA stem. Die ander is hoeveel van die DA se kiesers swart is.
Die verwarring bestaan omdat die IEC nie uitslae volgens ras tel nie. Daar is ook geen rede daarvoor nie, want demokrasie word deur die individuele kiesers gedryf, asook die geheimhouding van hul stemme. Elke syfer kom uit meningspeilings of modelle, en partye kies die syfer wat hulle die beste pas. Die twee meet verskillende dinge. Die eerste meet of die party die meerderheid van die land bereik. Die tweede meet hoe divers die DA se eie kiesers is. 'n Kleiner wit of bruin opkoms kan selfs die swart aandeel van die DA se stemme laat styg sonder dat een ekstra swart kieser van mening verander het. Wie oor transformasie skryf, moet dus eers vra watter syfer bedoel word.
In Oktober 2013 het die DA in die Parlement vir die Wysigingswetsontwerp op Billike Indiensneming gestem en toe sy steun teruggetrek. Die reaksie binne die party het meer gesê as die uitslag.
Hier begin 'n draad wat tot by 2026 loop. Zille het reeds toe 'n kanaal na kiesers gehad waarby geen redakteur betrokke was nie. Op Twitter het sy self besluit wat gesê word en wanneer. In 2012 het 'n ANC-lid haar in die Wes-Kaapse wetgewer gevra hoekom sy swart mense haat, na aanleiding van haar tweet oor “vlugtelinge” uit die Oos-Kaap. Ná die 2019-verkiesing het kommentators geskryf haar Twitter-uitbarstings het die party swart stemme gekos.
Southall en Daniel het in 2009 opgemerk dat klein partye uitgedruk is omdat hul ondersteuners vir 'n groter party gestem het sodat hul stem kan tel. Dit was 'n waarneming oor kiesers, maar die DA het daardie gewoonte al van 2004 af aangemoedig. Cherrel Africa beskryf hoe die DA in 2014 in die Wes-Kaap pamflette en radio-advertensies gebruik het om kiesers te sê dat 'n stem vir enige ander opposisieparty vermors is. Die taktiek het gewerk. Die klein partye het in die provinsie weglaatbare steun gekry.
Dieselfde veldtog het ook rassegebaseerde boodskappe aan bruin kiesers gerig. Een pamflet het Jimmy Manyi se uitspraak aangehaal dat daar te veel bruin mense in die Wes-Kaap is. Dit het gewaarsku dat die ANC se nuwe indiensnemingsregulasies bruin mense uit werk kan hou. Volgens Africa is die DA nie by die stembus vir dié retoriek gestraf nie.
Ná 2014 het die DA se nasionale steun platgeval: 22,3% in 2014, 20,7% in 2019 en 21,8% in 2024. In 2019 het die party stemme aan die VF+ verloor terwyl swart steun nie gegroei het nie. Dieselfde jaar het Zille as voorsitter van die federale raad teruggekeer. Maimane het kort daarna bedank en haar tweets oor kolonialisme as een bron van wantroue genoem.
Die redes vir die stadige klim kom telkens by twee knope uit. Die eerste is die etiket van 'n wit party. Die tweede is regstelling.
Die prys daarvan het in 2024 sigbaar geword. Die DA het nooit deur die plafon van swart steun gebreek nie, en die ANC het in die nasionale verkiesing tot 40,18% gedaal. Jacob Zuma se nuwe MK-party het met 14,58% derde gekom. Niemand het 'n meerderheid gehad nie, en die regering van nasionale eenheid is gebore. Op plaaslike vlak het dieselfde breuk al ná die 2021-verkiesing begin wys. Johannesburg het sedertdien sewe burgemeesters gehad.
2026: Gogo in die slaggat
Vanjaar is Zille, op 75, self die kandidaat. Sy het haar kandidatuur op 20 September 2025 by die Eyethu-sentrum in Soweto bekendgestel en is sedertdien voor die gordyn van die politieke verhoog. Dis dieselfde openingskuif as Kliptown, veertien jaar later. In 2011 en 2014 het die DA doelbewus swart leiers vorentoe geskuif om sy boodskap aan swart kiesers te dra. In 2026 staan Zille alleen voor, en die veldtog in Soweto rus op haar eie geloofwaardigheid.
Die vorm van die veldtog is nuut. Zille het die verkiesing na sosiale media geneem, met 'n roeibootjie in 'n oorstroomde straat in Soweto en 'n BMW 325i, die gusheshe, wat sy laat tol het. Daily Maverick het berig die video’s het voorstedelike WhatsApp-groepe aan die brand gesteek en die verkiesing net oor dienslewering laat gaan. Ek meen die DA het hier die pas aangegee vir digitale veldtogvoering in Suid-Afrika. Die bewys lê in die reaksie. Morero moes met sy eie video by dieselfde slaggat antwoord. Wanneer jou teenstander jou formaat moet naboots om terug te praat, stel jy die reëls van die gesprek.
Southall en Daniel het in 2009 Zille se opvallende pogings in ontevrede swart gemeenskappe beskryf. Hulle het ook geskryf dat die DA hoop om sy glasplafon te breek deur in die Wes-Kaap te wys dat hy beter aan arm gemeenskappe lewer. Die 2026-veldtog volg dieselfde resep, sewentien jaar later. Die slaggat in Douglasdale en die bootjie in Soweto is die dienslewering-argument in beeldvorm.
'n Teatrale gebaar wys egter net die probleem uit, en kiesers wil ook die plan sien. Ayanda Mdluli skryf dat die gusheshe, 'n BMW-model wat in townships met misdaad en vrees verbind word, swart kultuur as 'n rekwisiet gebruik en hy vra waar die plan vir swart kiesers is. Toe Daily Maverick aan Zille in Soweto vra vir voorbeelde van waar die DA in Johannesburg diens gelewer het, het sy geantwoord dat die DA nie in regering was nie. Die DA het die stad tog van 2016 tot 2019 en weer van 2021 tot 2023 bestuur.
Africa wys dat veldtogboodskappe saam met politieke gebeure werk om kiesers te oorreed. 'n Video oor 'n slaggat word dus gemeet aan wat kiesers in hul eie straat sien. Op sosiale media word die gusheshe-kritiek met haar ou tweets oor kolonialisme saamgevat. Dis wat Swanson en Mancini bedoel. Dieselfde video kan in een buurt as energie gelees word en in 'n ander as bespotting.
Wat in die 2026-veldtog ontbreek, is 'n boodskap aan wit en Afrikaanse kiesers. Jonathan Moakes, 'n voormalige hoof-uitvoerende beampte van die DA, het in Maart 2026 geskryf dat die kern in die noordelike voorstede nie ernstig aan 'n ander party sal dink terwyl Zille die kandidaat is nie. Zille sê self die grootste struikelblok is DA-ondersteuners wat nie gaan stem nie. Dié kiesers word dus aan die stembus herinner, en daar eindig die gesprek.
Die bewyse dat hul lojaliteit gewaarborg is, is dun. In 2019 het die VF+ van die DA se stemme weggeneem. Gareth van Onselen sê die nuwe klein partye eet meer aan die DA as aan die ANC.
Die DA se antwoord op klein partye is die ou een. Die party vra kiesers om nie vir kleiner partye te stem nie en waarsku teen “coalitions of chaos”. Zille waarsku dat 'n verdeelde opposisiestem die ANC aan bewind kan hou, en haar teiken is 490 000 stemme in totaal, die getal wat sy sê die DA vir 'n volstrekte meerderheid in Johannesburg nodig het. Dis die boodskap van die 2014-pamflet, dat 'n stem vir 'n klein party vermors is, in 'n nuwe baadjie.
Die volgende draai
Southall en Daniel het geskryf dat voorspellings van 'n twee- of driepartystelsel nog voorbarig is. Hulle het die verskuiwing raakgesien, maar gemeen die tyd daarvoor sou eers later kom. Sewentien jaar later is daardie tyd hier, al versprei die stemme oor baie meer as twee of drie partye. In Johannesburg staan 82 partye en onafhanklikes op die stembrief, en tussen 2022 en 2026 het 120 van 435 wyke in tussenverkiesings van party verwissel. Die peilings plaas die DA tussen 29% en 36% in Johannesburg, ver voor die ANC en ver van 'n meerderheid.
As 2026 meer koalisies as 2024 oplewer, en dit oorspoel na 2029, is dit vir my 'n aanduiding dat Suid-Afrikaanse kiesers na kleiner partye fragmenteer, en dat die tweede rondte van die Suid-Afrikaanse demokrasie begin kop uit steek. Vir politieke leiers en partye is koalisies moeilik omdat dit samewerking verg. Tog is samewerking, en die getroue uitvoering van wat mense met hul reg om te stem doen, die kern van demokrasie.
Die DA se boodskap om “groot” te stem word dan al moeiliker om te verkoop. Die DA verstaan egter dat die veldtog vir 2029 en daarna reeds aan die gang is. Wanneer 'n meerderheid afgebreek kan word (iets wat klaar gebeur het, en nie ten volle aan die DA toegeskryf kan word nie) mik 'n party vir sy eie meerderheid?
Die uitslag
Die DA het 430 674 stemme in Johannesburg gekry, sowat 60 000 minder as Zille se oorspronklike teiken was. Die IEC het die finale uitslae op 8 November verklaar. Met 34,6% is die DA die grootste party in die stad, nege persentasiepunte hoër as in 2021. Met 91 van die 270 setels is dit egter ver van die 136 wat vir 'n meerderheid nodig is.
Die DA moet dus koalisievennote vind, en die naaste een is ActionSA met 43 setels. Herman Mashaba het wel gesê samewerking hang af daarvan dat die DA sy leierskap verander, en spesifiek dat Zille uit die prentjie moet wees. Toe die Sunday Times berig dat ActionSA dit as voorwaarde vir gesprekke stel, het Mashaba die berig wel misleidend genoem. Die DA staan by Zille en sê die grootste party in 'n koalisie moet die burgemeester kies. Volgens dieselfde berig verken DA-leier Geordin Hill-Lewis ook breër reëlings, selfs een wat die ANC kan insluit.
Selfs saam met ActionSA kom die DA op 134 setels, twee kort. 'n Derde vennoot moet dus aan boord kom, en die opsies is juis die kleiner partye: die IFP met sewe setels, en die VF+, die PA en Rise Mzansi met vyf elk.
Die koalisiegesprekke begin nou eers, en wie in die burgemeesterstoel gaan sit, is nog nie bekend nie. Die kandidaat wat die DA gekies het om Johannesburg te wen, het intussen die naam geword waaroor die moontlike koalisie onderhandelinge struikel. Of Zille burgemeester word, lê nou in die hande van die partye wat die DA kiesers gevra het om te ignoreer.
Lezli Edgar is 'n media-navorser en kopieskrywer met 'n meestersgraad in mediastudies. Haar Substack Am I right? bied insigte oor die Afrikaanse media, identiteit, kultuur, en die driedubbele knoop daarvan.

Nog artikels deur Lezli Edgar:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







