
In die naam van vryheid van spraak het die internet 'n plek geword waar jy kan sê wat jy wil, wanneer jy wil. Boonop is dit goedkoop, meeste van die tyd selfs mahala.
Die afgelope twee weke het ek gekyk hoe Koos Malan en Piet Croucamp mekaar oor en weer in Rapport op Netwerk24 antwoord. Op 16 Oktober skryf Malan dat die nuwe VF Plus al hoe meer soos FW, Roelf en Marthinus klink. 'n Week later antwoord Croucamp met “Nee, prof, die doodsgevaar vir VF+ skuil op heel ander plek”. Die reaksies en kommentaar op albei meningstukke wys vir my hoe maklik Afrikaners gelok word om met skuim om die bek te lees.
Nie ek haat lees nie, haat-lees
Die Cambridge-woordeboek omskryf haat-lees as om iets te lees wat jy nie van hou nie, of wat jy as baie sleg beskou, omdat jy dit geniet om dit uit te lag of te kritiseer. Jy sit ander se argumente onder die vergrootglas en dissekteer dit. Dan deel jy dit met 'n “get a load of this guy”-onderskrif, of jy los 'n oogrol-emoji in die comments.
Maar wat as jy nooit geskryf of gepubliseer het met die doel om gehaat-lees te word nie?
Erik Hinton het reeds in 2015 vir Vice geskryf dat elke gepubliseerde stuk 'n haat-lees is wat net wag om te gebeur. Elke misstap in taal of logika gee die leser 'n rede, en 'n kans, om uit te reik na ander.
Die kritiek kan op die skryfstyl, die taalgebruik, die skrywer self of die publikasie gemik wees. Hinton tref dieselfde onderskeid. Sommige stukke word gehaat-lees oor hul hoogdrawende taal, en ander oor 'n aanstootlike uitgangspunt. Dan is daar die skrywer wat al so dikwels gehaat-lees word dat lesers klaar oor hom besluit het voordat hulle 'n woord gelees het. Ek wonder hoeveel van Malan en Croucamp se lesers reeds by die byreël gekies het aan watter kant hulle staan. Wat al hierdie vorme 'n haat-lees maak, is die doelbewuste besluit om jou ontevredenheid met ander te deel.
Sensasie en klikaas loop dwarsdeur jou tydlyn. Maak 'n uitlokkende uitlating en jy oorheers die kulturele gesprek vir weke. Die likes en comment rol in, en as iemand dit deel, is dit 'n bonus. Nes by 'n ongeluk op die N1 wil almal eers sien hoe die lyke lê en hoe erg die karre verwring is voordat hulle verbyry.
In die Washington Post vertel Singer dat haat-lees bereik ń hoogtepunt wanneer die leser die skrywer se werk deel. Die nasleep kom wanneer daardie einste stuk die mees geleesde van die week of maand word. Die syfers skiet op en die leestal swel.
Volgens Hinton eindig die haat-lees by die redaksie se statistiekskerm, waar die stuk boaan die mees gedeelde lys staan en die skrywer gevra word om nog te skryf. Navorsing deur Jonah Berger en Katherine Milkman van Wharton, wat Hinton aanhaal, verduidelik hoekom. Inhoud wat sterk emosies soos ontsag, woede en angs uitlok, word meer gedeel, of daardie emosie nou positief of negatief is.
Die haat-leser word dus, sonder om dit te wil, die skrywer se beste bemarker. Jou woede is hulle brandstof.
Wanneer die publikasie die teiken is
Soms rig die haat hom teen die publikasie self. Op 13 Oktober publiseer Leigh-Ann Hallak op Rational Standard 'n stuk met die titel “News24 Has United South Africans. We All Hate Them.” Haar aanklag is dat News24, wat aan Media24 behoort, gewone inligting in gelaaide taal toedraai en dit as skandale voorstel. Volgens Hallak het die afkeer van News24 Suid-Afrikaners oor politieke en rasseskeidslyne heen verenig.
Hier word my vraag ongemaklik. Wanneer ons as lesers sê dat die hoofstroommedia ons lok, en ons manipuleer met hoe hulle inligting voorstel, is dit dan 'n haat-lees? Of noem ons bloot die kind by sy naam? Op die tydlyn lyk die twee dieselfde: 'n skakel, 'n skerp onderskrif en 'n stroom instemming. En in albei gevalle styg die syfers van die publikasie wat onder skoot kom.
Deesdae weet jy nie eens of daar 'n mens agter die kommentaar sit nie. Yang Gao, Maggie Mengqing Zhang en Mikhail Lysyakov het vir 'n studie in Information Systems Research meer as 106 000 plasings op Weibo, China se grootste mikroblogplatform, ontleed. Plasings wat kommentaar van 'n KI-bot gekry het, het 23% meer kommentaar en 11% meer likes ontvang.
“Daar word dikwels aangeneem dat mense eerder met mense as met bots sal reageer,” sê Zhang. “Maar ons het gevind dat wanneer bots relevante sosiale leidrade in hul kommentaar inwerk, dit mense aanspoor om terug te reageer. Dit verhoog weer betrokkenheid.”
Bots lees en klik ook, en dit kos geld. Tydens 'n Daily Maverick-bemarkingsmeestersklas, 'n geborgde reeks wat deur eatbigfish Africa aangebied word, het die gasheer David Blyth uit navorsing deur Juniper, ISBA, PwC en die ANA geput. Volgens sommige ramings bereik tussen 40% en 60% van programmatiese advertensiebegrotings nooit 'n menslike gehoor nie. Die wêreldwye verliese weens advertensiebedrog kan teen 2028 tot US$170 miljard styg.
Dink dan weer aan die statistiekskerm. 'n Deel van die leestal wat die redaksie so vier, het dalk nooit 'n mens agter die skerm gehad nie.
Wat my die meeste opval, is Lysyakov se bevinding dat die gesprek wat volg meestal tussen mense self plaasvind, en selde met die bot. Die bot is net die vonk. 'n Haat-lees werk op dieselfde manier. Die stuk gee die aanleiding, en die gesprek self gebeur tussen die lesers. Die verskil is dat jy nou nie meer seker kan wees wie in die skare saam met jou skree nie.
Wanneer jy haat-lees, neem jy deel aan die gemeenskap wat die internet vir ons skep. Milkman het aan Hinton gesê dat die internet 'n eensame plek is, en dat dinge wat ons ontstel dit makliker maak om uit te reik en gemeenskap te vorm. Hinton noem dit 'n soort ongereelde nagmaal, wat wys hoe hard ons moet probeer om met ons aanlyngemeenskappe kontak te maak. Volgens hom is dit genoeg om te wys waarteen jy is, want gedeelde afkeer verbind mense sonder dat iemand sy eie oortuigings op die tafel hoef te sit.
Dat 'n stuk uit 2015 vandag nog so akkuraat lees, sê iets oor hoe min die internet in elf jaar verander het. Wat wel nuut is, is wie saam lees. Ons haat-lees steeds as 'n gemeenskap, maar die skare wat die syfers laat styg, bevat nou ook bots.
Natuurlik wil mens al drie kante van die storie hoor. Op 'n persoonlike vlak is dit verrykend om verskillende opinies teen mekaar op te weeg. Maar Hinton noem die ruil 'n Faustiese ooreenkoms. Ná 'n haat-lees voel hy uitgeput, en sy eie gedagtes voel skielik onbeduidend teenoor die reaksie wat sy haat so maklik gewen het.
Net skaamteloos genoeg
Hannah Glenn skryf op haar Substack dat dié wat die minste omgee, aanlyn die beste vaar. Volgens haar is aandag deesdae so goedkoop dat enige smaaklose uitlating wat aan 'n kultuuroorlog raak, vir weke die gesprek kan oorneem. Sy vra ook wie vir wie gebruik. Is dit die publiseerder wat die gehoor se woede inspan vir publisiteit, of die gehoor wat die skrywer gebruik om 'n punt te bewys?
Mense hoef nie eers goeie of bekende skrywers te wees om gehaat-lees te word nie. Hulle moet net skaamteloos genoeg wees. Tog glo Glenn dat die meeste van wat vandag die kultuur opsweep, gou vergeet sal word, saam met die mense wat dit gemaak het.
Maar dit word eers vergeet wanneer ons ophou om dit aandag te gee. Daarom vra ek myself deesdae een vraag voordat ek op deel druk: Lees ek dit om iets te verstaan, of om saam met die skare te skree? As dit die tweede is, maak ek die oortjie toe. Die skrywer of publikasie kry nie my klik nie, en my eie gedagtes bly myne. Dit klink klein, maar in 'n ekonomie wat op aandag loop, is aandag die enigste ding wat ek kan weerhou.
Wat bly staan, is die werk wat ons doelbewus lees, bespreek en aanstuur. Elke klik is 'n klein stem oor wat die moeite werd is om te onthou. Gee daardie stem aan iets wat dit verdien.

Nog artikels deur Lezli Edgar:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







