Die wêreldwye gemiddeld vir artikelbetrokkenheid op 'n nuusplatform is 40 tot 60 sekondes per sessie, en dit is nie per artikel nie, dit is per sessie. Netwerk24-gebruikers bring gemiddeld 16 minute en 11 sekondes per sessie op die platform deur, News24 behaal 7 minute en 56 sekondes en Daily Sun kom uit op 4 minute en 27 sekondes. Sestien minute, vir 'n taalgroep wat die media gereeld herinner word dat hulle 'n minderheid is.
Die syfers kom van 'n geborgde stuk op Netwerk24 self, wat ons in ag moet neem wanneer ons dit lees. Juan Senór, voorsitter van Innovation Media Consulting en hoofspreker by die voorleggingsessies, het 2026 beskryf as 'n heraanpassing soortgelyk aan dié van 1998, maar in omgekeerde rigting. Waar 1998 die begin van uitgewers se digitale era was, is 2026 die punt waar KI-modelle gebruikers se vrae intern beantwoord sonder om hulle na uitgewers se webwerwe te stuur. Mense hoef nie meer na 'n nuusblad toe te gaan vir 'n antwoord nie, want die soekenjin gee dit direk. Organieke verkeer na nuusplatforms is wêreldwyd besig om te krimp. Dat Netwerk24 in dié klimaat steeds 16 minute betrokkenheid per sessie vashou, beteken die leser kom nie vir 'n vinnige antwoord nie. Hy kom vir die stem, die perspektief en die identiteitsruimte wat die platform bied, iets wat geen algoritme hom kan gee nie.
Wit pers. Net anders gespel.
Voor 1994 het navorsers gepraat van die “Wit pers,” 'n mediabedeling wat spesifiek vir wit Afrikaanssprekende lesers gebou is, redaksioneel en kommersieel, met NASPERS as middelpunt. Na 1994 het die verhaal verander, maar nie die lesers nie. Netwerk24 is in baie opsigte dieselfde leserskorps in nuwe klere, betalend, betrokke en lojaal.
Die vraag is nie of Afrikaanse media besig is om te sterf nie. Gratis alternatiewe soos Maroela Media bestaan naas Netwerk24, wat beteken Afrikaanssprekendes het 'n keuse. En die meerderheid kies steeds 'n betalende platform. Die vraag is eerder hoekom dié leser bereid is om elke maand vir iets te betaal wat hy ook verniet elders kan kry, en die antwoord lê in dit wat die platform hom bied bo blote nuus: 'n kulturele tuiste wat hy herken as sy eie. En dié kulturele tuiste is nie 'n uitsluitlik digitale verskynsel nie, want dit is iets wat die gedrukte titels lankal gevestig het en wat die sirkulasiesyfers vandag nog steeds weerspieël.
Druk is nie dood nie. Dit deel 'n bankie met digitaal.
Die ABC Q1 2026-sirkulasiesyfers toon dat totale koerant- en tydskrifsirkulasie in Suid-Afrika vir die vierde agtereenvolgende kwartaal jaar-op-jaar gestyg het na 8,4 miljoen kopieë. Huisgenoot druk steeds 60,345 kopieë per week. Landbouweekblad hou by 10,438. Gedrukte syfers is af in verskeie kategorieë, maar die totaalplaatjie groei.
Terselfdertyd het Media24 in 2024 verskeie Afrikaanse koerante gesluit, maar in 2026 het hulle Die Papier bekendgestel. Netwerk24 het ook pas Netwerk24 Kook bekendgestel, 'n toegewyde kook-app met meer as 5 000 getoetste Afrikaanse resepte uit die argiewe van Huisgenoot, Sarie, Landbouweekblad, Tuis en Weg! Netwerk24 ALLES en News24 ALL THAT het kort daarna gevolg. Hierdie bewegings is nie teenstrydig met die koerantsluitings nie, want die platform verskuif terwyl die leser bly. Die gedrukte en digitale mediums voed mekaar omdat die digitale leef van die geloofwaardigheid wat die gedrukte titels oor dekades gebou het.
Maar wat lees ons dan vir sestien minute?
Dit is die vraag wat die syfer nie beantwoord nie, maar wat die storie vertel.
Neem die verskillende uitbeeldings van Mel Viljoen oor die afgelope weke. Netwerk24 se Huisgenoot het haar terugkeer na Pretoria verwelkom met 'n stuk oor haar botoks, mani, fake tan en Louis Vuitton-sak. eNCA het haar in dieselfde tydperk ondervra oor die werklike rede agter haar en Peet se vertrek uit Amerika, naamlik die besigheidsmoeilikhede waarmee die paar gesit het en wat uiteindelik hul terugkeer na Suid-Afrika genoodsaak het. eNCA het 'n nuusgedrewe feitelike onderhoud gevoer, een waaruit Mel gesê het: “I don’t think this conversation is going anywhere. I don’t need the eNCA platform.” Daarmee het sy presies aangedui waar sy dink haar gehoor is en waar sy verkies om haarself te laat sien. Netwerk24 het 'n lewenstylvertelling gebring en eNCA het die feite nagejaag, en geen van die twee het 'n fout gemaak nie omdat albei hul gehoor bedien het. Maar Mel se antwoord sê meer oor die verskil in platform-identiteit as enige redaksionele beleidsverklaring ooit sal. Dit is ook presies hierdie redaksionele begrip van die leser, wat hom interesseer, wat hom gemaklik laat voel en wat hom laat bly, wat die sestien minute verklaar.
'n Lojale leser. 'n Slim uitgewer.
Die hoë betrokkenheidsyfer wys op 'n leser met die tyd en ekonomiese vermoë om vir inhoud te betaal, sowel as 'n voorkeur vir diepte bo blote klik-en-verdwyn. Afrikaanssprekende lesers geniet histories hoër sosio-ekonomiese status as die Suid-Afrikaanse gemiddelde, 'n punt wat óf met trots by 'n braai gemaak word, óf met ongemak in akademiese tekste erken word, maar dit is ‘n werklikheid wat die syfers weerspieël.
Wat Netwerk24 werklik reggekry het, gaan egter verder as minute en kopieë. Lank voor die platform digitaal geword het, was die tydskrifte wat dit vandag voed reeds meer as bloot nuus of resepte of plaasraad. Huisgenoot, Sarie en Landbouweekblad was die spieël waarin 'n gemeenskap sigself gesien het. Hulle het gesê hoe 'n Afrikaner lyk, hoe ons kook, hoe ons oor ons mense gesels en met wie ons trou. Dié funksie het nie verander toe die druk digitaal geword het nie, want Netwerk24 verkoop steeds identiteit. Dit bied 'n weergawe van wat dit beteken om Afrikaanssprekend te wees in die Suid-Afrika van vandag, een wat vir sy leser aangenaam, herkenbaar en aanvaarbaar is. Die platform is nie bloot 'n nuusbron nie, dit is 'n instelling wat 'n gemeenskap se self-verstaan vir dekades aktief gevorm het en steeds vorm, eerste op papier en nou op skerm.
Sestien minute is nie bloot 'n syfer vir adverteerders nie. Dit is bewys dat wanneer 'n medium sy leser werklik ken, sy stem, sy waardes en sy wêreld, die leser bly. Nie omdat hy moet nie, maar omdat hy tuis voel.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Hallo Piet! Ek wonder ook nogals of ons kan sê daar is (nogsteeds?) ń Wit Pers en White Press in SA media… en wat presies hul identiteite mag wees.
Dankie vir dui uitlig van Naspers, ń ander leser het my persoonlik gekontak om te laat weet dat Die Papier nie aan M24 behoort nie. Tog is Novus holdings, ń maatskappy wat ook aan Naspers behoort, die uitgewer van Die Papier. Die diepte van ons(?) pers se stem word altyd onderskat…
Ek het hierso dalk iets waarin jy mag belangstel: https://vt.tiktok.com/ZSCY1FAnd/
Ek verstaan die uitkyk dat die Afrikaner in sy ‘comfort zone’ wil lees. Die wending wat ek waarneem is day hy/sy dikwels saam stem met wat gelees word. So die een (media) voer die ander (leser), want tog bly dis ABC syfers hoog. Verkope is die drywer soos jy stel, maar die leser moet nogsteeds koop, wil nogsteeds so wees tot ń mate. My navorsing argumenteer uit die oogpunt van ‘belonging’ meer sociologies gebasseer. Hoewel ek defentief kan erken dat jy moet ekonomies sterk van aard wees om selfs te ‘mag’ koop. Daar is navorsing wat ons al vroeg (2001) in klasse verdeel het. ń Groot vraag wat altyd by my bly js maar hoe leef die identiteit dan voort as niemand meer wil koop nie? Is die identiteit dan net te koop? Nie om uit te leef nie?
Kyk, Buckfever Underground het gesing: ek kyk TV en ek weet, ek luister radio en ek weet, ek lees en ek weet: die volk is in die 💩. Terselfde tyd dink ek die krisis roep ons as groep tot introspeksie, is ons besig om vermoor te word, is ons gereed vir hierdie oorbrug tussen mens en tegnologie (“cant spell Afrikaner without AI” het iemand my nou die dag gesê), hoe ervaar ons onderdeukking, mag ons sonder skaamte Afrikaans wees, moet jy wit wees om Afrikaans te wees… meer vra as antwoorde op die oomblik.
Groete, en hoop jy bly warm Piet! 🤗
Lezli, weereens heerlike leesstof wat die denke prikkel.
Ek dink egter baie van die Netwerk24- en Nuus24-betalers is in 'n kokon vasgevang om al die goeie redes wat jy noem: byvoorbeeld, 'n kulturele tuiste wat hy herken as sy eie. Ook: "Netwerk24 verkoop steeds identiteit. Dit bied 'n weergawe van wat dit beteken om Afrikaanssprekend te wees in die Suid-Afrika van vandag, een wat vir sy leser aangenaam, herkenbaar en aanvaarbaar is. Die platform is nie bloot 'n nuusbron nie, dit is 'n instelling wat 'n gemeenskap se selfverstaan vir dekades aktief gevorm het en steeds vorm, eerste op papier en nou op skerm."
'n Leser wat net Netwerk24 en Nuus24 lees; en diegene wat net Network24 en News24 lees, sal egter twee heeltemal verskillende geestelike karterings (of voorstellings) ontwikkel van die toestand van die nasie en die rol van die Afrikaner daarin.
Media24, deur die twee onderskeie e-publikasies parallel te laat loop, kapitaliseer op/misbruik ons gefragmenteerde identiteit in Suid-Afrika. Hulle maksimeer inkomste deur twee verskillende gehore presies te vertel wat hulle verwag om te hoor, of ten minste die werklikheid só te raam dat dit by daardie gehore se politieke en kulturele gemaksones pas.
Ek voel egter hartseer daaroor, want Afrikaanse lesers betaal die groter Media24 (Naspers) om op hul Engelse e-blaaie (Network24/News24) baie dinge kwyt te raak wat die Afrikaanse lesers dwars in die krop sal steek. Om die waarheid te sê, dit sal hulle hoogs die bliksem in maak en hulle hul subskripsies laat heroorweeg!
Jy kan ook maar gerus self die navorsing gaan doen, as jy dit nie alreeds gedoen het nie. Dis tipies hoe die media werk, maar ek persoonlik kan myself veral nie met oom Koos Bekker se Empire vereenselwig wat op die Afrikaners se rûe gebou is (Naspers), maar nou die groter Suid-Afrikaanse bevolking voer met baie anti-Afrikaanse sentimente wat die toekoms vir ons as Afrikaners baie gevaarlik maak omdat valse/verdraaide/veralgemeende persepsies van ons geskep word. Weereens nooi ek jou uit om daardie bewering ook na te vors. Begin gerus met sleutelwoorde soos "Afrikaners", "Afrikaans", "White genocide", "Afrikaner refugees", "Orania", "AfriForum", "Solidariteit". Jy sal gou agterkom wat ek bedoel. Jy sal NOOIT daardie giftige en verdoemende en verdagmakende beriggewing in die Afrikaanse Netwerk24 en Nuus24 raakloop nie.
Ek sê weer: ek verstaan hoe die media werk en hoe belangrik dit vir oorlewing is om die narratiewe uit te dra wat die geld en lesersgetalle indra. Dit sou egter minder van 'n bitter pil vir my gewees het as ek dalk nie geweet het op wie se skouers oom Koos aanvanklik sy Empire (Naspers) gebou het nie. Of as ek myself kon kry om ook hoofsaaklik in die kokon te lewe en net salig kon voortgaan om my Huisgenoot-sprokies te lees — en te probeer vergeet/ontken dat die Afrikaners vandag 'n eksistensiële krisis beleef.
Ek dink my standpunt oor Media24 se Afrikaanse inhoud verskil dus van jou eie gevolgtrekking, wat jy as volg stel: "Dit is bewys dat wanneer 'n medium sy leser werklik ken, sy stem, sy waardes en sy wêreld, die leser bly. Nie omdat hy moet nie, maar omdat hy tuis voel." Ek sou daarmee kon saamstem as ek nie van opinie was dat heelwat Afrikaners nie hul gemaksones wil verlaat nie, en aldus eerder wegskram van wat hulle ongemaklik kan laat voel. Hulle kees dus dikwels hoofssaklik net wat hulle wíl hoor gesë word. Dis selfbedrog waarvoor 'n duur prys betaal kan word. Gaan kyk maar na historiese voorbeelde uit die wêreldgeskiedenis. Die volgende sal aan jou en baie ander lesers bekend wees:
"The famous confessional poem/statement titled 'First They Came,' written by the German Lutheran pastor and anti-Nazi dissident Martin Niemöller in 1946, reflects on the dangers of political apathy and the complicity of silence during the incremental purging of targeted groups by the Nazis."
Dit lui as volg:
"First they came for the socialists, and I did not speak out—
Because I was not a socialist.
Then they came for the trade unionists, and I did not speak out—
Because I was not a trade unionist.
Then they came for the Jews, and I did not speak out—
Because I was not a Jew.
Then they came for me—
and there was no one left to speak for me."
NATUURLIK klink dit oordrewe, maar is dit in terme van wat ons beleef as die stap-vir-stap ("subtiele") verdagmaking van die Afrikaners se behoefte om hul eie skole en universiteite te hê; om ook deur die Staat in diens geneem te kan word; om ook te kan kwalifiseer vir staatkontrakte; ens., ens.???
Hopelik lees jy ook my artikels op OntLaer. As jy dié oor ons krisisse as Afrikaners nog nie gelees het nie, nooi ek jou uit om dit te doen as jy tyd het. Ek sal ook kommentaar en kritiek verwelkom, want dis een ding wat ek teen OntLaer het en hoop om te help verander: omtrent geen kommentare oor ons artikels word gelewer nie. Dis nie gesond nie, want ons skryfwerk word dan monoloë. Meningsverskille wat op volwasse en beskaafde wyse gedeel word, is oneindig bemagtigend...
Ek verseker jou weerens dat ek jou skryfwerk baie prikkelend beleef. As dit anders was, sou ek nie die moeite gedoen het om 'n bykans artikel-lange kommentaar vir jou te skryf nie... 😊