In 'n vorige artikel is uiteengesit hoe die Suid-Afrikaanse regering toenemend sy mag gebruik om 'n enkele kurrikulum vir alle leerders voor te skryf. Een kurrikulum vir publieke skole, onafhanklike skole en selfs tuisonderwys.
Soos die kurrikulum tydens apartheid gebruik is om die staatsideologie te bevorder, word dit ook gedoen na apartheid, ondanks die Witskrif vir onderwys van 1995 wat die bedoeling uitgespreek het om diversiteit in kurrikula te bevorder. Met die publikasie van voorgestelde veranderings aan die geskiedenis leerplan in 2026 het meer mense bewus geraak van hoe staatsbeheer oor kurrikulum gebruik kan word om bepaalde ideologiese raamwerke te bevorder.
Hoewel daar sedert die vroeë 2000’s verset teen staatsbeheer oor kurrikulum was, was dié verset dikwels swak en gefragmenteer. Hierdie artikel analiseer die redes daarvoor, met spesifieke fokus op Afrikaanse onderwys, maar ook op die breër onderwyslandskap.
Die SA Onderwyslandskap
Die Skolewet erken tans slegs drie onderwysvorme naamlik publieke skole, onafhanklike skole en tuisonderwys. Oor die afgelope dekades het nuwe onderwysvorme soos aanlynskole, leersentrums en tutorsentrums egter toenemend prominent geword. Hierdie vorme word nie deur die Skolewet erken nie.
Die meeste Afrikaanse onderwys word steeds deur publieke skole verskaf. Na raming is daar ongeveer 300 000 tot 500 000 leerders in Afrikaanse enkelmedium publieke skole. Baie van hierdie skole se beheerliggame handhaaf gehalte Afrikaanse onderwys en Christelike waardes deur hulle magte te gebruik om taal- en toelatingsbeleid te bepaal. Die BELA-wet teiken egter hierdie skole deur die magte van beheerliggame in te perk wat hulle vermoë om hul karakter te behou, bedreig.
Ouers vir wie Christelike en/of Afrikaanse onderwys belangrik is, kies dikwels onafhanklike skole. Die swaar las van regulatoriese voldoening maak dit egter dikwels duur om sulke skole op te rig en te bedryf. So 'n skool moet aan munisipale bywette voldoen om reg gesoneer te wees, by die provinsie registreer en by Umalusi geakkrediteer word. Die BELA Wet verskerp hierdie oorregulasie verder deur die straf vir die bedryf van 'n ongeregistreerde skool tot een jaar tronkstraf te verhoog.
Selfs wanneer 'n skool geregistreer is, kan owerhede die registrasie maklik terugtrek as die skool in onguns beland by die politieke maghebbers. 'n Bekende voorbeeld is die Curro Roodeplaat skool, wat in 2015 met deregistrasie gedreig is na 'n gerug oor beweerde rassisme versprei is. Selektiewe afdwinging van oorregulering maak onafhanklike skole kwesbaar.
Bedreigde Tuisonderwys
Tuisonderwys, waar ouers self verantwoordelikheid neem vir die onderrig van hulle kinders, is een van die vinnigste groeiende onderwysvorme in Suid-Afrika. Onlangse navorsing toon dat daar ongeveer 300 000 tuisleerders in Suid-Afrika is, waarvan 48,5% se huistaal Afrikaans is. Afrikaanse tuisleerders vorm dus 'n beduidende deel van die breër Afrikaanse onderwyslandskap.
Die BELA-wet bedreig hierdie onderwysvorm deur universele registrasie af te dwing, gekoppel aan vereistes oor kurrikulum en assessering. Ouers wat nie voldoen nie, kan krimineel vervolg word. Dit beperk tuisonderwys verder tot “hoofsaaklik in die omgewing van die leerder se tuiste” en ouers mag tutors, ander ouers of familie slegs gebruik vir “spesifieke areas van die kurrikulum wat die leerder volg”. So word tuisonderwys in effek omskep in staatsgoedgekeurde onderwys tuis, met ouers wat self die koste en verantwoordelikheid dra.
Leersentrums word dikwels deur oud-onderwysers of entrepreneurs bedryf, meestal op bestaande residensiële eiendomme. Omdat sulke sentrums onderrig kan aanpas by die behoeftes van individuele leerders, is dit veral geskik vir kinders met spesiale behoeftes of kinders wat nie goed in groot skoolomgewings funksioneer nie. Weens streng en onbuigsame regulatoriese vereistes sukkel baie van hierdie sentrums om as onafhanklike skole te registreer.
Aanlynskole bied weer onderrig via die internet aan, insluitend leermateriaal, interaktiewe lesse, assessering en individuele ondersteuning. Vir baie gesinne maak dit buigsame gehalte-onderwys meer toeganklik.
Tog funksioneer leersentrums en aanlynskole in 'n regulatoriese niemandsland.
Leerders, in skole en tuisonderwys, maak gereeld gebruik van tutors, wat individuele onderrig verskaf om leerders te help om by die kurrikulum te bly, hetsy fisies of aanlyn. Sommige tuisskoolouers gebruik tutors nie net vir ekstra hulp nie, maar vir die volledige kurrikulum. In gevalle waar leerders nie in skole geplaas kan word nie, bied tutorsentrums aan desperate ouers 'n oplossing om onderwys aan hulle kinders te verskaf. Veral waar oorvol klasse en krimpende skoolbegrotings die geval is, word tutors al hoe noodsaakliker. Die BELA-wet beperk egter beide die hoeveelheid onderrig wat tutors mag gee en die plek waar hulle dit mag aanbied.
Verskeie tendense beïnvloed die dinamiek in die onderwyslandskap. Eerstens is die aantal leerders uit middelklasgesinne wat vir onderwys kan betaal besig om te krimp, alhoewel die totale leerlingtal steeds groei. Die fertiliteit van middelklasgesinne is al vir dekades onder die vervangingsyfer van 2,1 kinders per vrou. Volgens navorsing van Solidariteit is die fertiliteit van Afrikaners ongeveer 1,6. Selfs die fertiliteit van die totale bevolking is byna by die vervangingsyfer. Aan die ander kant groei die aantal leerders wat nie kan betaal vir onderwys nie, en selfs afhanklik is van die skool om kos te voorsien.
Hoër-kwintiel publieke skole en onafhanklike skole kompeteer toenemend vir hierdie krimpende poel leerders uit middelklasgesinne. Dit word vererger omdat baie van sulke gesinne emigreer. Verder kies baie Afrikaanse ouers vir Engelse skole, omdat hulle hul kinders wil voorberei om in die buiteland te gaan werk. Tweedens het die staat vir dekades nagelaat om genoegsame publieke skole te bou om tred te hou met die groeiende leerdertal. In April 2026 het Lebogang Maile van die Gautengse Onderwysdepartement publiek erken dat daar 'n tekort van 200 skole in die provinsie is, terwyl daar slegs 7 nuwe skole per jaar gebou kan word. Dit het veroorsaak dat klasgrotes konstant gegroei het en kwaliteit van onderwys in publieke skole gedaal het. Slegs in hoër-kwintiel publieke skole waar ouers finansieel bydra kan kwaliteit gehandhaaf word.
Derdens word die tekorte in skole deur verstedeliking vererger. Die hoeveelheid leerders in provinsies soos Gauteng en die Weskaap het bogemiddeld gegroei, terwyl leerders in meer plattelandse provinsies afneem, wat die voortbestaan van kleiner plattelandse skole bedreig.
Vierdens trek Suid-Afrika se ekonomie swaar en sy belastingbasis is besig om te krimp. Om die begroting te laat klop het die staat vir dekades meer skuld aangegaan, en die rente op hierdie skuld raak nou 'n noemenswaardige deel van die begroting. Terwyl onderwys altyd een van die grootste items op die begroting was, plaas die kleiner belastingbasis en hoër rentes nou druk op onderwysbegrotings. In 2024 het die Weskaapse onderwysdepartement meer as 2400 onderwysers afgelê as gevolg van 'n R3.8B tekort oor drie jaar. In 2026 het die Gauteng Departement subsidies aan Kwintiel 5 skole gesny as gevolg van 'n R444M tekort. In die Ooskaap het die onderwysdepartement gereeld nagelaat om onderwysers te betaal en selfs sekere skole gesluit.
Spannings tussen onderwysvorme
Bogenoemde tendense veroorsaak spannings tussen die verskillende onderwysvorme.
Onderwys word dikwels as 'n kollektiewe verantwoordelikheid van ouers gesien. Sommige kerke sien dit as 'n gemeenskaplike verantwoordelikheid van kerklidmate en stig onafhanklike skole vir hulle lidmate. Ander sien dit weer as 'n kollektiewe verantwoordelikheid van 'n kultuurgemeenskap en gebruik beheerliggame om die karakter en kwaliteit van publieke skole vir hulle gemeenskap te bewaar. Sulke gemeenskappe belê miljoene rande in die fasiliteite van sulke skole. As gesinne in sulke gemeenskappe kies vir tuisonderwys of informele sentrums, word dit dikwels gesien as 'n ontwyking van die kollektiewe verantwoordelikheid wat die res van die ouers met 'n swaarder las laat. Veral in plattelandse gebiede waar die voortbestaan van die skool bedreig kan word as slegs 'n klein aantal leerders die skool verlaat, kan dit groot spanning veroorsaak.
Onderwyservakbonde is dikwels negatief oor leersentrums, aanlynskole en tuisonderwys, aangesien dit tradisionele onderwysposte bedreig. Veral in 'n omgewing waar onderwysbegrotings onder druk is. Vir geregistreerde onderwysers wat jare lank gestudeer het oor hoe om kinders te onderrig, is dit ook 'n teer punt as enige ouer dit sommer tuis kan doen.
Oorvol goeie publieke skole, veral in die Weskaap en Gauteng is dikwels negatief teenoor tuisleerders of leerders van informele sentrums, wat probeer terugkeer na publieke skole. Daar bestaan 'n vrees dat hierdie leerders nie op standaard is nie, en dat hulle toelating die skool se slaagsyfer negatief kan beïnvloed.
Fragmentasie in die onderwys
Afrikaanse skole se regte word reeds deur invloedryke organisasies soos Afriforum en Fedsas beskerm. Daarom is die noodsaak vir samewerking met ander onderwysvorme nie altyd vir hulle onmiddellik sigbaar nie. Alhoewel alternatiewe onderwysvorme nie beskerming geniet van soortgelyke organisasies nie sal hierdie onderwysvorme bly groei, aangesien die skoolstelsel toenemend minder relevant word vir 'n wêreld wat vinnig verander.
Die BELA-wet kan gelees word as 'n poging van 'n falende staat om deur swaarder strawwe vrees te skep sodat skole en ouers hulle vrywillig onder staatsbeheer plaas, ten spyte van beperkte administratiewe kapasiteit om die wet af te dwing.
Terwyl Afrikaanse skole hulle teen toenemende staatsbeheer verset funksioneer alternatiewe onderwysvorme toenemend onafhanklik van die staat se praktiese beheer, selfs al bestaan daar formeel regulatoriese beperkings. Die grootste bedreiging vir alternatiewe onderwysvorme is nie vervolging self nie, maar die vrees vir vervolging wat in die praktyk selde plaasvind.
Soos onderwysers aftree en nie vervang word nie, soos begrotings krimp, soos skole minder word, sal altenatiewe onderwysvorme groei en staatsbeheer oor onderwys afneem. Teen die tyd dat beleid aangepas word, sal groot dele van die alternatiewe onderwyslandskap reeds onafhanklik van die bestaande model ontwikkel het.
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











