Kan die Staat Werklik 'n Kurrikulum Voorskryf?
Die Nasionale Kurriukulumverklaring is reeds nie oral implimenteerbaar nie.
Die gebruik van onderwys as instrument om die staatsideologie gedurende apartheid af te dwing het 'n sentrale rol gespeel om die verset teen apartheid te ontketen.
Daarom is daar na die afskaffing van apartheid 'n nuwe rigting ingeslaan. In hoofstuk 4 van die witskrif oor onderwys (Maart 1995) staan daar :
“Parents have an inalienable right to choose the form of education which is best for their children, particularly in the early years of schooling, whether provided by the state or not, subject to reasonable safeguards which may be required by law.”
en
“Curriculum choice, especially in the post-compulsory period, must be diversified in order to prepare increasing numbers of young people and adults with the education and skills required by the economy and for further learning and career development.”
Ongelukkig is die geskiedenis sedert 1996 grootliks 'n geskiedenis waarin die onvervreembare regte van ouers en kurrikulumvryheid stelselmatig ondermyn is.
Watter kurrikulum moet gevolg word?
Die Wet op Nasionale Onderwysbeleid gee aan die onderwysminister die mag om kurrikulum raamwerke voor te skryf. In terme hiervan word die Nasionale Kurrikulum Verklaring (NKV) voorgeskryf vir skole in Suid-Afrika.
In die NKV staan daar: “Die Nasionale Kurrikulumverklaring Graad R-12 (Januarie 2012) is 'n beleidsverklaring vir leer en onderrig in Suid-Afrikaanse skole…” Volgens die NKV vorm dit die grondslag “… van wat beskou kan word as die kennis, vaardighede en waardes wat noodsaaklik is om te leer. Dit sal verseker dat leerders kennis en vaardighede verwerf en toepas op maniere wat betekenisvol is vir hulle lewens.”
In die praktyk beskou amptenare die NKV as die minimum standaarde waaraan voldoen moet word. Dit impliseer dat skole en ouers daarop mag voortbou, maar nie daarvan mag afwyk deur dele weg te laat nie.
Umalusi speel 'n belangrike rol in die afdwinging van die NKV. Publieke en onafhanklike skole moet akkrediteer by Umalusi, wat die gehalte van onderwys in skole moniteer. Hierdie monitering geskied in terme van die NKV. Alhoewel sommige skole wat ander kurrikulums volg (soos Cambridge-skole) wel by Umalusi kan akkrediteer, is dit moeilik en dis onseker hoe lank dit nog moontlik gaan wees.
In 2021 het die departement van basiese onderwys (DBO) 'n regsopinie van die Staatsregsadviseur oor die saak van buitelandse kurrikulums gekry. Volgens hierdie regsopinie maak huidige wette geen voorsiening vir kurrikulums anders as die NKV nie. Sedert BELA in 2024, is daar geen veranderings gemaak om voorsiening te maak vir ander kurrikulums in onafhanklike skole nie. Dis moontlik slegs 'n kwessie van tyd voordat die DBO begin optree in terme van hierdie regsopinie.
Omdat Umalusi nie gebruik kan word om die NKV regstreeks op tuisskolers af te dwing nie, het BELA 'n registrasievereiste bygevoeg waarvolgens “die voorgestelde tuisonderrigprogram ... hoofsaaklik die aanleer van inhoud en vaardighede dek wat ten minste vergelykbaar is met die betrokke nasionale kurrikulum wat deur die Minister bepaal is”. Ook onderwys buite die skoolstelsel, in die private ruimtes van huishoudings, moet die NKV ten minste in hooftrekke volg. Hoe hierdie vereiste in praktyk afgedwing gaan word is egter nog nie duidelik nie.
Tans is die SACAI eksamenraad, wat by Umalusi geakkrediteer is, verantwoordelik vir die administrasie van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat deur afstandsonderrig instansies aangebied word. Op hierdie wyse moniteer SACAI reeds tot 'n mate tuisonderwys in Graad 10 tot 12. In 'n vergadering in Januarie het SACAI vermeld dat dit reeds aanbevelings aan die minister gemaak het om tuisonderwys ook in graad 9 en laer grade te moniteer. So 'n meganisme sal meer druk plaas op tuisskolers om die NKV te volg.
Die NKV is in 2001 gepubliseer vir publieke kommentaar. Vanuit die geledere van tuisonderwys en kerke is verskeie besware teen die NKV geopper. Van die hoofbesware was:
Dit gee voor om gebaseer te wees op die waardes van die Grondwet. In werklikheid is dit egter gebaseer op enkele subjektief geselekteerde grondwetlike waardes wat gebruik word om 'n politieke ideologie oor te dra.
Dit skryf dieselfde kennis en vaardighede voor vir alle leerders in die land. Indien almal in 'n land dieselfde kennis het, ondermyn dit die diversiteit in die samelewing wat noodsaaklik is vir langtermyn oorlewing.
Dit is gebaseer op 'n intergeloofsbeskouing van godsdiens wat alle godsdienste as noodwendig gelyke menslike versinsels hanteer.
Die groot aantal besware het die promulgering van die NKV met ongeveer 6 maande vertraag, maar uiteindelik geen wesenlike invloed daarop gehad nie. Gevolglik is 'n kurrikulum ingevoer wat die weg gebaan het vir die stelselmatige omskepping van onderwys in 'n instrument van ideologiese indoktrinasie.
Verset teen die NKV
Vanuit die geledere van skole het die Beweging van Christelike Hoër Onderwys (BCVO) die NKV in 2012 in die hof uitgedaag.
Die BCVO het aangevoer dat die NKV slegs 'n beleidsverklaring is. In die hofsaak tussen die Onderwysdepartement en Harris van 2001 het die Grondwethof egter bepaal dat beleid nie afdwingbaar is nie. Slegs wette en regulasies kan afgedwing word. Om die rede het die BCVO die hof genader om 'n verklarende bevel uit te reik dat die NKV nie afdwingbaar is nie. Ongelukkig het die BCVO die saak op tegniese gronde verloor en het die regter nooit uitspraak oor die meriete van die saak gelewer nie.
Die gevolg van hierdie hofsaak was dat skole oorwegend maar ingeval het by die NKV om by Umalusi te kan akkrediteer. Sommige Christelike skole beskou die NKV as iets neutraal en Christelike onderwys as iets wat bloot toegevoeg kan word. Ander meen dat die NKV slegs 'n raamwerk is wat met Christelike inhoud kan gevul kan word. Tuisskolers het oorwegend besluit om nie te registreer by provinsiale departemente nie.
In 2019 het die staat begin met die invoering van omvattende seksonderwys as deel van die kurrikulum. Daar was heelwat verset vanaf ouers hierteen. Die ACDP het 'n veldtog hierteen geloods en ook gedreig om die invoer van seksonderwys in die howe uit te daag.
In die Wes-Kaap was daar egter in 2020 'n ander ontwikkeling. Hafith-skole is skole waar leerders die Koran memoriseer. Sulke skole voldoen nie aan die wetlike omskrywing van 'n skool nie, om minstens twee redes. Eerstens vereis die Skolewet dat skole leerders vir 'n graad inskryf, terwyl Hafith-skole glad nie met grade werk nie. Tweedens is die kurrikulum wat in Hafith-skole gebruik word nie vergelykbaar met die NKV nie, en kan sulke skole dus nie by Umalusi akkrediteer nie.
Om voorsiening te maak vir hierdie skole, het die Wes-Kaapse onderwysdepartement 'n reëling getref waarvolgens leerders wat hierdie skole bywoon vrygestel word van skoolplig op voorwaarde dat hulle 4 ure per week aan Engels, wiskunde en wetenskap spandeer. Dit is 'n de facto erkenning dat die NKV nie universeel afdwingbaar is nie. Meer hieroor kan gelees word by
Die nuwe geskiedenis leerarea
In 2026 is voorgestelde wysigings aan die geskiedenis kurrikulum vir publieke kommentaar gepubliseer. Hierdie veranderings verskuif die klem weg van 'n sterk steun op vaste, kontroleerbare skriftelike bronne na 'n groter beklemtoning van mondelinge tradisies, argeologie, “historiese bewussyn” en 'n bepaalde Afrika-gesentreerde interpretiewe raamwerk.
Hierdie veranderings skep meer moontlikhede om geskiedenis nie bloot as 'n ondersoek na die verlede aan te bied nie, maar ook as instrument om 'n gewenste politieke en ideologiese selfverstaan by leerders te vorm. Hoe meer die klem val op seleksie, interpretasie, herinnering, erfenis en veelduidige narratiewe, hoe makliker word dit vir kurrikulumontwerpers om sekere perspektiewe te bevoordeel, ander te marginaliseer, en die verlede so te rangskik dat dit die legitimiteit van die huidige staatsprojek versterk eerder as om leerders primêr te vorm tot nugtere, kritiese en brongebaseerde historiese beoordeling.
Die taakspan verantwoordelik vir geskiedenis wil egter nie slegs die kurrikulum verander nie, maar ook die vak verpligtend maak vir alle leerders.
Hoe vorentoe?
Uit die optrede van die DBO sedert 2001 blyk dit dat die patroon is om slegs een kurrikulum in Suid-Afrika toe te laat en hierdie kurrikulum aan te wend om die staat se ideologie aan die volgende generasie oor te dra. In publieke skole, in onafhanklike skole en selfs in die privaat ruimtes van huishoudings waar tuisonderwys plaasvind.
Hierdie doelwit word geleidelik oor tyd progressief verwesenlik. Soms is daar heftige reaksies wat veroorsaak dat sekere stappe vertraag word. Ondanks die heftige reaksies word die staat se beheer oor die inhoud oor tyd geleidelik meer. Die afdwing van een kurrikulum vir alle kinders druis in teen verskeie grondwetlike regte. Die reg op godsdiensvryheid, die reg op vryheid van spraak, die reg op ouerlike sorg, om maar net 'n paar te noem.
In Deuteronomium 6:6,7 staan daar:
“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”
Die term “hierdie woorde” verwys na God se woorde wat ons in die Bybel vind, en nie na dit wat voorgeskryf word deur 'n minister nie. Die voorskryf van die NKV is dus in stryd met hierdie godsdienstige opdrag. Hierdie siening word ook in die witskrif geartikuleer. Oor die reg om onafhanklike skole te vestig sê dit: “This would also seem to be a specific extension of the general rights protecting religious belief (section 14), and language use and cultural participation (section 31).” Soortgelyke argumente kan vir ander grondwetlike regte gemaak word.
Die verset teen die NKV is egter gefragmenteer en oneffektief. Verskillende rolspelers het verset aangeteken teen verskillende aspekte van die NKV, sonder 'n verenigde front. Die grootste verset op die gebied van onderwys was die Solidariteit veldtog teen BELA in 2024. Hierdie veldtog het egter gefokus of toelatings- en -taalbeleid in publieke skole, en het die NKV glad nie regstreekse aangespreek nie.
Die publisering van voorgestelde wysigings aan die geskiedenis leerplan het wel reaksies op verskillende forums ontlok. Effektiewe verset daarteen gaan egter moeilik wees, want dit wat voorgestel word abstrak en op 'n hoë vlak geartikuleer. Die werklike impak daarvan sal waarskynlik eers sigbaar word wanneer die eerste handboeke gepubliseer word. Maar selfs al sou 'n veldtog teen die geskiedeniswysigings suksesvol wees, sou dit net 'n tydelike terugslag vir staatsbeheer oor onderwys beteken.
Die pad vorentoe moet eerder gebaseer word op die daarstelling van 'n breë front wat hom daarvoor beywer om 'n regulatoriese omgewing te skep waar kurrikulum glad nie deur die staat voorgeskryf kan word nie. Daar is sterk grondwetlike gronde vir so 'n inisiatief en daar kan voortgebou word op die grondwerk wat reeds gelê is deur die BCVO en Hafith skole.
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










