Die Suid-Afrikaanse regering beroem hom dikwels daarop dat hy soewerein is. As soewereine staat kan Suid-Afrika self binnelandse en buitelandse beleid bepaal. Niemand het die reg om daarmee in te meng nie. Nie die VSA nie. Nie die kerk nie. Nie AfriForum nie.
Maar, is Suid-Afrika werklik soewerein?
'n Volledig soewereine staat behoort nie struktureel afhanklik te wees van skuld nie. In Spreuke 22:7 staan daar: “Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is 'n slaaf van die man wat uitleen.” Elke jaar is die Suid-Afrikaanse staat egter afhanklik van skuld om die begroting te laat klop. Staatskuld staan op ongeveer 75% van Bruto Binnelandse Produk (BBP). Met so 'n skuldlas is dit ambisieus om te beweer dat jy soewerein is.
Die grootste geldleners is binnelandse beleggers, waarvan pensioenfondse die grootste is. Pensioenfondse se fondse kom van die maandelikse bydraes van werkers. Beleid van pensioenfondse word bepaal deur trustees. Trustees word gekies deur werknemers. Met ander woorde, dis werkers wat beheer behoort te hê oor die geld wat geleen word aan die staat.
Trustees is egter nie kenners op die gebied van beleggings nie. Hulle hoef slegs enkele kort kursusse te slaag. Hulle word nie vergoed vir die werk as trustee nie, en moet maar in hulle vrye tyd lees deur honderde PowerPoint-skyfies wat voor 'n kwartaallikse vergadering versprei word. Grotendeels vertrou hulle op die hoogs opgeleide administrateur wat die PowerPoint-aanbieding doen.
Dis onwaarskynlik dat sulke trustees voorwaardes gaan stel wat verbonde is aan staatslenings. Selfs al sou hulle dit wil doen, sal dit baie moeilik wees om dit te doen deur die komplekse struktuur van administrateurs, batebestuurders en reguleerders. Die hefboom waarmee die eintlike maghebber in Suid-Afrika die staat verantwoordelik kan hou, bestaan eenvoudig nie. Die gewaande soewereiniteit van die staat is dus grotendeels afhanklik van die afwesigheid van die hefboom.
'n Soewereine staat het 'n monopolie op geweld
Die soewereine staat het 'n monopolie op geweld. Dit maak wette. As iemand die wette oortree, word die polisie ontplooi en oortreders gearresteer. Die howe vonnis die oortreder, en die Departement van korrektiewe dienste sal die persoon regstel en transformeer in 'n wetsgehoorsame burger.
Daar is egter groeiende gebiede waar die monopolie op geweld nie meer geld nie. Waar bendes die tamboer slaan. Die president besluit om die weermag te ontplooi in daardie gebiede. Ongeag of die weermag daarin sal slaag om die polisie weer in beheer te plaas, is dit 'n erkenning dat die staat sy monopolie op geweld in sekere gebiede verloor het. Buitengewone stappe is nou nodig om te poog om dit te herstel. Die staat is dus nie meer oral soewerein in die afdwing van wette nie. In sekere gebiede kan baie wette sonder sanksie geignoreer word.
In 'n soewereine staat is al die takke van die staat ook onafhanklik. Die regbank kan sonder vrees of vooroordeel oortreders vonnis. In Suid-Afrika word dit egter dikwels gerapporteer dat politici regters, aanklaers, advokate en getuies intimideer en selfs vermoor word. Die mees onlangse voorbeeld is Julius Malema wat 'n aanklaer op X gedreig het, nadat hy gevonnis is oor die afvuur van ‘n vuurwapen in die publiek. Dis nader aan 'n piesangrepubliek as 'n soewereine staat.
'n Soewereine staat het beheer oor toegang
'n Soewereine staat kan bepaal wie in sy grondgebied kan kom en wie nie. Daarvoor is daar grense met heinings, mure en wagte. Die Suid-Afrikaanse staat het hierdie dinge egter verwaarloos. Onwettige immigrante kom die land binne sonder dat die staat dit eens weet. Baie neem deel aan die informele ekonomie en maak gebruik van staatsdienste. Om Suid-Afrika te sien as soewerein op grond van die staat se toegangsbeheer is ook wensdenkery.
'n Soewereine staat moet ook sy grense kan beskerm teen invalle van ander state. Daarvoor het nasionale state 'n weermag. Toe die volk Israel militêr op sy magtigste was, was daar vrede, soos daar staan in 1 Konings 4:25:”… sodat Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berséba, al die dae van Salomo”. Suid-Afrika se weermag is egter in 'n haglike toestand. Reeds in 1998 het 'n Suid-Afrikaanse militêre intervensie misluk in 'n klein staat soos Lesotho. Ook 'n intervensie in 2025 teen rebellegroepe in Kongo het klaaglik misluk. Vir alle praktiese doeleindes het Suid-Afrika waarskynlik min vermoë om wesenlike weerstand te bied teen invalle van ander state.
Wat is Suid-Afrika?
'n Staat wat op skuld oorleef, gebiede oorlaat aan bendes en toegang nie ten volle kan beheer nie, kan kwalik as soewerein gesien word. Om kritiek af te wys op grond van gewaande soewereiniteit is bloot politieke retoriek.
Alhoewel min mense hierdie politieke retoriek ernstig opneem, gaan finansiële instellings voort om lenings te gee, gebaseer op die aanname dat die staat onbepaald sy monopolie op geweld kan aanwend om uitstaande skuld van die bevolking te verhaal.
Totdat dit begin swik onder die gewig van skuld, nie meer kan waag om belasting te verhoog nie, en daarin misluk om rente te betaal. Dan is dit vir almal sigbaar dat die staat nie soewerein is nie. Die staat het alreeds 'n ernstige knou gekry toe dit sedert 2013 nie in staat was om e-tol tariewe vir Gauteng se snelweë in te samel nie. En weer in 2025 toe dit nie in staat was om BTW te verhoog nie.
Pensioenfondse koop staatseffekte met die doel om die betroubare rente te gebruik om pensioenuitbetalings te finansier. As die staat egter nie meer rente kan betaal nie, raak pensioenfondse in die knyp. Dan begin fondse soek na beleggings wat betroubare rente kan genereer, maar nie afhanklik is van die staat nie. Indien alternatiewe finansiële instrumente ontwikkel word wat betroubare opbrengste kan lewer sonder afhanklikheid van die staat, kan dit die dinamiek van staatsfinansiering ingrypend verander.
Daar is dus heelwat redes om te glo dat die Suid-Afrikaanse staat glad nie so soewerein as wat dit beweer nie.
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










