Een van die groot knelpunte in ons land is die hoë werkloosheidsyfer, veral onder die jeug, wat onder die hoogste in die wêreld tel.
In plaas daarvan om die grond voor te berei vir verdere uitbreiding, blyk dit dat daar verbete geveg word om slegs die oorblyfsels te eien vir diegene met politieke verbintenisse, of om kontrakte aan maatskappye toe te staan wat die staat se retoriek klakkeloos herhaal en aan die vooropgestelde kriteria voldoen.
Die huidige stand van ons politiek kan derhalwe as volg opgesom word: Daar waar die politiek nodig is, ontbreek dit, en daar waar dit moet terugstaan, meng dit in. Dit gee aanleiding tot 'n bedorwe samelewing, 'n samelewing wat nie sy potensiaal kan verwesenlik nie.
Transformasie of nostalgie?
Die staat dien aldus Hegel as 'n senuweestelsel van die samelewing. Die senuweestelsel verneem van die probleme van die samelewing vanuit die gevoeligheid wat uit die verskeidenheid van domeine van die samelewing kom, en neem vanuit sy eie posisie besluite vir die beswil van die samelewing. Daar behoort dus 'n wederkerige vertroue tussen die staat en die burgery te wees.
Indien daardie boodskappe verkeerd deur die senuweestelsel ontvang of interpreteer word, kan die liggaam skade ly. Die verkeerde interpretasie kan onbedoeld of bedoeld wees. Bedoelde of misleidende waninterpretasie word stelselmatig geïnstitusionaliseer en dra grootliks by tot 'n uitsiglose, korrupte en bedorwe samelewing. Wanneer die vermoë om te handel nie meer tot die verwesenliking van potensiaal gerig word nie, vind dit dikwels uitdrukking in misdrywe. Misdaad kan hier beskryf word as nie-wederkerige aktiwiteit wat alleen die doener bevoordeel ten koste van die slagoffer.
Mettertyd skakel misdadigers met mekaar en vorm sindikate wat aanvanklik nie deur die onbevoegde staat onder bedwang gebring kan word nie, maar wat later 'n mate van stabiliteit herstel in 'n nuwe sosiale kontrak wat tussen sindikate en die regerende party gevorm word. So 'n alliansie is streng gesproke nie meer deel van die liggaam van 'n nasie nie, maar vorm 'n parasiet wat teer op die land.
Benewens hierdie gegewens, is daar twee sentimentele benaderings wat ons land gekelder het en wat werklike vooruitgang verder terughou: Eerstens 'n Fremdkörper nostalgie na 'n sprokiesland van eenvormige waardes, genaamd die “Weste”, en tweedens 'n naïewe Afrika-primitiwisme. Die geredekawel oor die mees wenslike paradys waarheen die samelewing moet terugkeer, hou geen belofte van vordering vir die land in nie. Trouens, die partye het meer as net 'n verwronge begrip van 'n gesaniteerde geskiedenis in gemeen, beide bevorder blinde kollektiwisme ten koste van innoverende, eietydse oplossings waarin burgers (in die nou en breë sin begryp) se talente gekoester en ontwikkel word om die senuweestelsel van die staat met nuwe impulse en gevoeligheid te prikkel.
Die ontoereikende voorbeeld van die Springbokke
Die voorbeeld wat telkens voorgehou word vir Suid-Afrika om uit hierdie verknorsings van bedorwenheid en die bedwelming van sentimentaliteit te kom, is die van die Springbokke, ook onlangs na afloop van die merkwaardige suksesse onder Rassie Erasmus.
Hoewel daar baie is om te leer uit die wyse waarop die talente van veral arm spelers ontwikkel en benut word, hou hierdie voorbeeld die potensiaal in om 'n wanindruk te skep van die stand en moontlikhede van Suid-Afrika. Die hoop wat die Springbokke telkens beloof om aan die nasie te gee, is deesdae moontlik selfs 'n valse hoop, ofskoon die bedoeling van die betrokkenes edel mag wees ('n mens gun die heldhaftige sportmanne dalk ook die oordadigheid).
'n Voorbeeld is immers nastrewenswaardig. Hoe haalbaar is die voorbeeld wat aan ons voorgehou word? Behoewende mense, anders as by rugby, kry oor die algemeen nie die regte toegang tot geleenthede nie omdat onder meer onbevoegde opvoeders en gebrekkige infrastruktuur ontwikkeling ondermyn. Die verlaging van standaarde wat moet opmaak vir hierdie laksheid, verhinder voldoende ontwikkeling en meedingingsvermoë. Nie almal vind egter baat by hierdie “inklusiwiteit” waaroor daar so hoog opgegee word nie; baie word oor die hoof gesien omdat hulle óf nie aan die regte ras behoort nie, óf omdat hulle nie die regte politieke ideologie aanhang nie.
In die geval van die Springokke speel baie spelers oorsee weens gebrek aan plaaslike geleenthede, en word hulle rondgevlieg om vir die land te speel. Daar kan nie van gewone en kleiner maatskappye verwag word om oorsese emigrante te nader om gou op 'n vliegtuig te spring om 'n bietjie kontrakwerk te kom doen nie. Dit werk net nie so in die alledaagse Suid-Afrika nie. Die Springbokke se voorbeeld word voorgehou deur groot maatskappye wat aan SEB vereistes voldoen, en dra sodoende by tot die indruk wat oor Suid-Afrika se oënskynlike suksesse geskep word. Hierdie indrukke bevoordeel 'n klein groepie mense, en ek sou so ver gaan om te beweer dat hierdie indruk toenemend ten koste van die res van Suid-Afrika, swart en wit, aan die groot klok gehang word.
Ekonomiese modelle word aangepas tot demografiese uitkomste wat geen ander doel dien as om stemme te werf nie, en sodoende skryf die kop (die capitas, dit wil sê die staat en die geldmag) voor en die hele liggaam moet saambeweeg.
Die strewes van die samelewing tot selfverwesenliking word toenemend verlaag en vervang deur voldoening (compliance). Om die basiese vereistes van behoefte bevrediging en indiensneming tot ideaal te verhef, is in feite neerhalend en miskennend teenoor die werknemer en die verbruiker. Wat misken word is die unieke potensiaal ven elke mens, groepering, sektore en die breër samelewing.
Oor vermoëns, billikheid en verdienste
Vermoëns
Die mens ontvang natuurlike talent. Om hierdie talent te erken, is meer as 'n menslike erkenning, dit is 'n erkenning van die interaksie tussen mens en natuur. Uit die natuur maar ook met die oog op 'n sorgsame verwerking van die natuur ontvang mens 'n talent. Dit beteken dat die persoon se vermoëns om iets uit te rig, in verband gebring moet word met die hulpbronne wat nodig is vir die verwesenliking van die talent, in ooreenstemming met die waarde (wat breër is as nut) vir die samelewing.
Billikheid
Wat genoem word behoeftes of vraag en aanbod in die ekonomiese diskoers, het met baie meer as net behoefte piramides soos die van Maslow te make. Behoeftes word bepaal deur meer as meganies-biologiese en pragmatiese maatstawwe. Dit word ingebed binne die groter vraag na die sinvolle lewe. Om een voorbeeld te noem: sommige insekte bevat meer proteïne as bees en hoender, en tog word laasgenoemde verkies, wat heelwat meer inspanning, samewerking en sorgsaamheid vereis. Die mens is in hierdie opsig minder pragmaties as diere omdat hy ook 'n simboliese orde vestig waarbinne sy lewe rondom ander ingerig word.
Anders gestel: samewerking tussen mense geskied nie net op 'n wyse wat regstreeks aan die behoeftes voldoen nie, maar bind die produsent en verbruiker in 'n struktuur van wedersydse erkenning. Die produksie sowel as die verbruik word gekoppel aan praktyke wat standhoudend bly buite die transaksie. Indien die produsent of verbruiker onbillik behandel word, is die uitkring effek uiteindelik skadelik vir die samelewing sowel as die omgewing.
Verdienste
Die oorgang van die kultivering van vermoëns tot 'n vervulde lewe word bewerkstellig deur verdienste. Iemand wat talent het, moet daardie talent kan ontwikkel deur geleenthede wat aan die persoon gegun word. Erkenning moet tasbaar wees in beloning en toekennings, sodat verskillende bedrywe en dissiplines selfstandig kan funksioneer, en minimaal op ander bedrywe of die staat moet staatmaak. Selfstandige funksionering beteken nie isolasie nie, maar vrye wederkerigheid. Verdienste is gegrond in waardering, wat 'n breër begrip is as blote geskiktheid vir 'n spesifieke taak.
Hoe verstaan ons verdienste as werklike waardering? In Thomas Abbt se werk Vom Verdienste (On Merit, 1765) wys hy op gulhartigheid as 'n noodsaaklike eienskap van 'n samelewing wat die goeie lewe ondersoek, ontwikkel en verwesenlik, en nie slegs markmeganismes navolg of modelle op die samelewing afdwing nie. Hy onderskei verder tussen gulhartigheid en sentimentaliteit. Eersgenoemde word gekenmerk deur “moeë voete” en laasgenoemde deur “tranerige oë”, soos in die nostalgie en primitiwisme hierbo uitgedruk word. Hier volg 'n omskrywing van die wyse waarop gulhartigheid neerslag vind in Abbt se woorde:
“There, where the transformation of the good heart into goodwill is to go forward, must the cocoon first be cast off. We may no longer crawl from one nearby being to another- we must be able to take off into flight, in order to comprehend all that lives, works, and is below; particularly on our own patch of earth. And how is this possible?
Through our clear recognition that we all belong to one and the same Lord, that we are all created for peace as neighbor-subjects, through thousands of bonds united, through every tightened bond happier, through every good deed more perfect, for all things outside of ourselves necessarily thankful, because they constantly make us better.”
Gulhartigheid is strewend, erkennend en samewerkend. Slegs daardeur verval dankbaarheid nie tot 'n vertonerige sentiment nie, maar vind dit neerslag in 'n lewensingesteldheid wat aktief ontvang– wat beteken om ontvanklik te bedink, verder te verken, ontdekkend-doelgerig te bewerk en oor te laat.
Onderliggend aan gulhartigheid is vergunning, wat beteken om toe te sien dat gesinne, individue, groeperings en sektore floreer. Vergunning in die geval van die staat verwys na die skep van gunstige toestande deur beleid, veiligheid en geleenthede, waarvolgens burgers die geleentheid toegestaan word om te ontwikkel en na hulself om te sien. Hieruit kan burgers weer deur belastings en vrye betrokkenheid tot die samelewing bydra.
Hierdie verhouding moet wederkerig en nie eensydig wees nie. Die wederkerige vertroue tussen staat en samelewing hang af van meer as sentiment, dit groei vanuit die daad.
Dr Hercules Boshoff is Navorsingsgenoot aan die Departement sistematiese teologie en ekklesiologie binne die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.