Kritiese Teorie: Van Goeie Idee na Ideologie
Hoe 'n soort ideologiekritiek sigself ver-ideologiseer het.
Kritiese Teorie het oorspronklik ontstaan as 'n broodnodige intellektuele regstelling.
Dit het 'n lens gebied om die wêreld met meer bewustheid te beskou, en om die klakkelose aanvaarding van ideologieë— wat dikwels glorieryke beloftes gemaak het, maar selde hul ideale verwesenlik het— krities te bevraagteken. Dit was, in wese, 'n noodsaaklike teenwig wat weerstand gebied het teen sogenaamde “groot narratiewe” soos Marxisme, kapitalisme, en ander “-ismes”.
Maar nou het 'n ironiese probleem posgevat, naamlik dat die kritiese ingesteldheid wat hierdie benadering oorspronklik gedefinieer het, in baie kringe in 'n onkritiese, byna dogmatiese evangelisering ontaard het. En dit het nie net die skerp rande van linksgesinde bewegings afgestomp nie, dit het hulle ernstig verswak. In plaas daarvan om werklike vooruitgang te bewerkstellig, word lewenskragtige gemeenskappe dikwels gereduseer tot 'n nuttelose koor van klaagliedere. En nog erger, plaas hierdie verskuiwing 'n maklike wapen in die hande van regsgesindes, wat dan sonder veel moeite baie andersins aantreklike linkse idees as irrasioneel en onprakties kan afmaak.
Daar is volumes vol kritiek geskryf oor die tekortkominge van hedendaagse kritiese teorie. Maar ek wil ek op twee spesifieke aspekte fokus wat die moderne linkses besonder vatbaar maak vir uitbuiting deur kwaadwillige teenstanders: Eerstens, sy onvolledigheid en tweedens, sy inkonsekwentheid.
Die Gevaar van Gedeeltelikheid: Wanneer 'n Teorie Alwetendheid Voorgee
Kritiese teorie begin met 'n sinvolle uitgangspunt naamlik dat kulturele artefakte (of uitvloeisels), 'n baie wye kategorie wat bykans elke menslike skepping insluit, onvermydelik belaaid en weerspieëlend is van bestaande magsverhoudinge.
Die teorie voer aan dat hegemoniese magstrukture subtiel bepaal wat as “normaal” geld, en dat dominante kulturele narratiewe gebruik word om sistemiese rassisme, seksisme, homofobie en ander vorme van onderdrukking te handhaaf. Tot dusver is dit alles geldig en bruikbaar. Hierdie grondbeginsel bly, ten minste teoreties, waardevolle ontledingsgereedskap wat in goeie trou gesprekke kan verdiep.
Maar die slinkse verskuiwing kom met die (dikwels onbewese) aanname dat alle kulturele uitvloeisels volledig en uitsluitlik deur hierdie magsdinamieke verklaar kan word. In plaas daarvan om 'n aanvullende raamwerk vir begrip te wees, word kritiese teorie dikwels aangebied en geïnternaliseer as die enigste geldige paradigma wat die wêreld verduidelik.
Ek dink hier aan my eie akademiese loopbaan. Tydens my voorgraadse studies het ek 'n byvak in godsdiensstudies geneem. Al het ek hoofsaaklik tot die filosofie aangetrokke gevoel, moes ek vir die godsdiensmodule ook verskeie ander dissiplines bestudeer: die sielkunde van godsdiens, die letterkunde van die Bybel, die geskiedenis van Judaïsme, Christendom en Islam, en die sosiologie van godsdiens. Dit het vir my gou duidelik geword dat daar nie een “beste” benadering is om geloof te bestudeer nie. Elke benadering het unieke en waardevolle insigte gebied maar geen een benadering kon alles verklaar nie. Elkeen van hierdie benaderings was sinvol solank hulle nie mekaar weerspreek het nie, maar nie een kon uitsluitlik alles verduidelik nie.
Hierdie ervaring bevestig 'n fundamentele intellektuele beginsel: elke keer wanneer 'n teoretiese raamwerk (hetsy 'n “-ologie” of ‘n “-osofie”) daarop aanspraak maak dat slegs daardie raamwerk die volle waarheid bevat, is skeptisisme nie net geregverdig nie, maar noodsaaklik. Tog is dit presies wat baie aanhangers van moderne kritiese teorie doen, wat natuurlik ironies is, gegewe die oorspronklike doel van die teorie. Vir hierdie persone is alle kennis net 'n manifestasie van mag. Michel Foucault het selfs die term “magskennis” (power-knowledge) geskep om hierdie idee vas te vang. Niks wat “geweet” word, is dus vry van magsinvloede nie.
Op die oog af klink dit interessant, maar dit lei tot 'n uitgedroogde, siniese wêreldbeeld. Dit laat geen ruimte vir goeie motiewe of eerlike transformasie nie. Neem die wettiging van gay huwelik as voorbeeld wat 'n enorme maatskaplike paradigmaverskuiwing was. In die vroeë 1980’s, toe ek nog op hoërskool was en gay-regte bepleit het, was ek deel van 'n baie klein minderheid. Die opposisie was geweldig, en die vooroordele diep gewortel. Maar in 2016 het die Obergefell v. Hodges-beslissing van die Amerikaanse Hooggeregshof gay huwelike wettig verklaar, wat 'n monumentale stap vir gelykheid was.
Tog sou 'n streng kritiese teorie-oorweging van hierdie gebeurtenis dit interpreteer as 'n uitbreiding van heteronormatiewe magsdiskoerse en inderwaarheid bloot 'n poging om nuwe groepe in dieselfde ou strukture in te trek, eerder as om die magstrukture te ontwrig. Daar is geen plek vir die viering van vordering nie. Geen erkenning van werklike regverdigheid nie. Geen ruimte vir liefde, solidariteit, waarheid, of vordering nie, bloot net mag. En in die denkraam word mag altyd net deur wit, heteroseksuele mans uitgeoefen. Enige poging tot vordering of hervorming word afgemaak as 'n illusie.
Geërodeerde empatie: Inkonsekwentheid het gevolge
Die afgelope dekade het 'n ontstellende verandering gebring in die gedrag van sekere elemente binne die moderne linkse beweging, aksies wat 'n vorige generasie as ondenkbaar sou beskou het. Daar is geloofwaardige berigte van bomdreigemente, verkragtingsdreigemente, en selfs moorddreigemente wat nie van die regse kant af kom nie, maar van die linkses. En erger nog, hierdie dreigemente is dikwels nie teen “fasciste” of “Nazis” gerig nie, maar teen mede-linkses en links-liberales.
Ons sien ook toenemende voorvalle van gewelddadige (of deur dreigemente van geweld) onderdrukking van uiteenlopende menings, en uiters onregverdige afdankings van universiteitsdosente oor standpunte wat twintig jaar gelede nie eens as omstrede beskou sou gewees het nie. Trouens, baie sou destyds as hoofstroom waarhede gesien gewees het. Hierdie verskynsels pas glad nie in by die tradisionele beeld van ’n beweging wat eens trots was op sy menslikheid en empatie nie. Maar wanneer iemand heeltemal oorheers word deur die rigiede ideologie van kritiese teorie, dan kan menslikheid en empatie onrusbarend maklik gereduseer word tot blote optrede. 'n Vertoning eerder as 'n deug.
Hierdie raamwerk gee aanhangers die gereedskap om van meet af te aanvaar dat enige iemand wat van hulle verskil, dit uitsluitlik doen uit 'n strewe na oorheersing deur onderdrukking. Dat “wit, manlike, heteroseksuele” denke en wetenskap op sigself geweld is, en gebruik word om ander uit te wis. Daar is geen ruimte vir eerlike verskille meningsverskille nie. Elke andersdenkende word geag 'n aggressor te wees.
As iemand wat myself altyd as links-liberaal beskou het, erken ek vrymoedig dat hierdie wending my telkens verbaas. Ek dink aan figure soos Martin Luther King Jr., die Berrigan-broers, Desmond Tutu en Nelson Mandela. Dit was mense wat geglo het in die krag van morele verbeelding en dat dit moontlik is om nie net bondgenote nie, maar selfs vyande se denke te verander.
Hulle het nie onder enige illusies verkeer oor hoe mag werk nie. Hulle het dit aan eie lyf ervaar. Maar, en dit is belangrik om hierop te let, hulle het geglo die wêreld bestaan uit meer as net mag. Deur regstreekse optrede geskoei op goeie beginsels het hulle geglo die samelewing kan werklik ten goede verander. Die meer onbuigsame uitlegte van kritiese teorie laat egter min tot geen ruimte vir die goeie in mense nie, hetsy individueel of as deel van gemeenskappe.
Gevolglik sien ons dat sekere afdelings van die linkses, veral die wat die diepste in kritiese teorie gewortel is, dikwels heeltemal afgesien het van pro-sosiale gedrag wat eens die hart was van solidariteitsgedrewe bewegings aan die linkerkant van die politieke spektrum was. In die vakbonde, burgerregtebewegings en anti-koloniale vryheidstryd het politieke mobilisering altyd gepaard gegaan met tasbare, materiële ondersteuning van kamerade. Voorbeelde sluit in:
Stakingsfondse
Regshulp
Voedselverspreiding en sopkombuise
Behuisingshulp en beskerming teen uitsetting
Borggelde
Ondersteuning op betogingslyne
Deesdae sien ons bitter min van hierdie konkrete ondersteuning onder die linkses wat die meeste beïnvloed is deur kritiese teorie. Die “werk” wat gedoen word, bestaan dikwels hoofsaaklik uit akademiese taalontleding deur studente uit die hoër middelklas, en dosente wat hul plig versaak het deur studente te leer wat om te dink, eerder as hoe om te dink.
Politieke aksie word gereduseer tot die dekonstruering van taal in lesingslokale, en 'n eindelose uitbreiding van woordelyste en konsepte wat op hul eie reeds as onderdrukkend beskou word. Protesoptrede, “uitwysing,” “kansellering,” en ander “aksies” wat geen persoonlike opoffering vereis nie, is die primêre vorme waarmee kritiese teorie tot uitdrukking kom.
In plaas daarvan om daadwerklike hulp te bied aan diegene wat werklik ly, of om werklik diverse gemeenskappe te bou, beweer aanhangers van kritiese teorie dikwels dat hul “veiligheid” bedreig word bloot deur die uitruil van idees met mense wat anders dink. Hierdie eng wêreldbeskouing waarbinne daar net een geldige manier is om die wêreld te ontleed laat weinig ruimte vir solidariteit, meegevoel, of enige ander positiewe gemeenskapswaarde wat die linkses nog altyd gekenmerk het.
Die ergste aspek van kritiese teorie se aanspraak op intellektuele alleenreg is miskien dat sy oordaad en arrogansie dit uiters maklik maak vir die regses om die hele linkse beweging in geheel af te maak as broos, onredelik, oordrewe sensitief, outoritêr, en inkonsekwent.
Ek sal in opvolg hierop uitbrei op hierdie oordaad, maar dit behoort reeds duidelik te wees dat bykans niemand tot kritiese teorie se praktiese uitwerking aangetrokke voel nie. Dit is nie 'n vreugdevolle beweging nie. (Ek dink aan Emma Goldman se beroemde aanhaling: “As ek nie mag dans nie, wil ek nie deel wees van julle rewolusie nie!”)
Die venyn waarmee enigiemand behandel word wat nie die hele intellektuele projek van kritiese teorie onderskryf nie, is retories totaal ondoeltreffend. Nog nooit is iemand oortuig om 'n politieke beweging te steun deur hul eerlike vrae of meningsverskille as “onderdrukking” af te maak nie. Die regses weet dit, en het die algemene afkeer teenoor die kritiese linkses se veroordelende houding suksesvol benut, tot so 'n mate dat hulle nou beheer het oor al drie takke van die Amerikaanse regering.
En wie ly daaronder?
Nie die professionele bestuursklas, wat dikwels kritiese teorie se luidste voorstanders is nie. Nie die dosente en studente by elite-universiteite wat $70 000 per jaar betaal nie. Nie die mense in die boonste vlakke van kultuur en samelewing wat so doof is dat hulle neersien op diegene wat hulle beweer om voor op te staan nie.
Nee, dié wat werklik ly is:
Swart en bruin mense wat sonder behoorlike regsproses in marteltronke verdwyn;
Armes wie se klein inkomste al hoe meer opgeskraap word deur die Musks, die Trumps, die Bezosse en die Zuckerberge van die wereld;
Die “ekonomiese prekariaat”, 'n klas wat nou bykans almal sonder oorerflike rykdom insluit; en
Jong mense met die swakste geestesgesondheid nog van enige generasie, wat geleer word dat alles en almal teen hulle is.
Toe die linkses suksesvol (goed) was, was die beweging geskoei op solidariteit en wedersydse bystand. Kritiese teorie bied die teenoorgestelde. Dis 'n ideologie wat 'n skynbaar eenvoudige manier bied om die wêreld te verstaan, maar dit doen niks om dit te verbeter nie. Dit ondermyn die werklike linkses. Ek hoop hierdie stuk wys duidelik hoe oordrewe sekerheid en intellektuele arrogansie lei tot prakties swakker uitkomste vir juis daardie mense vir wie die linkses geskiedkundig voor geveg het.
James Meachan is 'n besigheidsetikus, voldoenings- en risikokonsultant van die VSA.
Volg vir James se Substack hier:
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: