Die Hersenskim van Gelykheid
Die strewe na gelykheid bots met die werklikhede van menslike verskeidenheid.
Meer as dertig jaar ná die ondergang van die apartheidsregime soek Suid-Afrika steeds na sogenaamde “gelykheid”, wat soos 'n hersenskim elke keer, as ons daarna staar en dink ons beweeg nader aan daardie doel, eenvoudig weer in die niet verdwyn.
Daar is nie 'n tekort aan verklarings waarom Suid-Afrika nie gelykheid ervaar nie, maar is hierdie wye verskeidenheid verklarings enigsins van fundamentele nut? Voordat ons dié vraag probeer beantwoord, gee ons eers 'n breë oorsig van die “verklarings” vir die hardnekkigheid waarmee “gelykheid” in Suid-Afrika uitbly.
Hier is van die vernaamste veronderstelde argumente: Kolonialisme. Apartheid. 'n Kompromie-oorgang in 1994 met te veel konsessies aan die voormalige onderdrukkers. Voortbestaan van die apartheidsera se onregverdige materiële gewin en die opgeboude reservoir van kennis deur onderrig en ervaring uit die vorige bedeling. Onvoldoende herverdeling. Voortgesette rassisme en rassediskriminasie. Neoliberalisme. Kapitalisme.
Gebrekkige transformasie. Wydverspreide korrupsie. Baantjies vir boeties.
Kaderontplooiing. Onbevoegdheid in die breër staatsektor. Nuwe-regime-selfvoldaanheid. Ontoepaslike of verkeerde regeringsbeleide en ideologiese ingesteldhede. Beleide wat bestaan, maar nie toegepas word nie, of gebrekkig toegepas word. Elitisme. 'n Swak onderwysstelsel. Gebrekkige herstel van grondeienaarskapsregte.
Sekerlik sal lesers nog redes, verskonings of argumente kan byvoeg wat aangevoer word vir die bestaan van die ontwykende fenomeen waarna verwys word as “gelykheid” in Suid-Afrika. Al daardie redes, verskonings en argumente berus egter op die aanname dat “gelykheid” inderdaad moontlik is. Of selfs gewens is. Maar is dit?
Integrale ongelykheid?
Ek gaan vervolgens uiteensit waarom die nastrewing van sogenaamde “gelykheid” neerkom op selfbedrog en noodwendige stagnasie. Daarom het ek ter inleiding na “gelykheid” as 'n hersenskim verwys: elke keer as ons daarna staar en dink ons beweeg nader aan daardie doel, verdwyn dit eenvoudig weer in die niet. En dit is ook goed so, soos ek hieronder sal verduidelik.
My hipotese is dat “gelykheid” eenvoudig nie te versoen is met wat evolusionêre biologie ons leer nie: die welbekende evolusieproses van natuurlike seleksie is onder andere gegrond op veranderlikheid, verskillendheid en verskeidenheid. Dit is juis die teenoorgestelde van sogenaamde “gelykheid”. Die natuur het nog nooit probeer om alles en almal “gelyk” te maak nie. Inteendeel, ongelykheid is juis 'n integrale deel van wat ons in die natuurlike wêreld waarneem. Dit sluit die mens as kroon van die skepping nie uit nie. Dit is juis in ons genetika ingebou; en met goeie rede: om “gelykheid” na te streef is net enkele stappe verwyderd van die kunsmatige aftakeling van natuurlike menslike strewes na prestasie, verbetering en vooruitgang — tot op die uiteindelike vlak van middelmatigheid.
Afgedwingde pogings om sogenaamde “gelykheid” te bewerkstellig, is nie 'n aansporing tot prestasie, uitsonderlikheid, kreatiwiteit en ander menslike eienskappe wat die mens juis die kroon van die skepping gemaak het nie. Almal kan egter ongelukkig nie die spreekwoordelike “kroon” dra nie. Ons kan net daarna strewe, en dit maak ons getrou aan wat ons geneties gemaak is om te wees. Dit is ook goed so, want nou word almal wat die reg op “gelykheid” pleit en daarop aandring, aangespoor om ook 'n kroon te wíl dra.
Stel jou voor ons maak almal gelyk deur te sorg dat almal byvoorbeeld eenvormige rooi barette dra. Hoe lank daarna gaan enige persoon nog aspireer om eerder 'n kroon te wil dra? Of is ons gewillig om ons genetika as mense te versaak?
My hoogs vereenvoudigde metafoor van die rooi baret teenoor die kroon kan natuurlik uitgebrei word na talle werklikheidsvoorbeelde van die skade wat die strewe na “gelykheid” aan die mensdom kan aanrig — en inderdaad aanrig waar die illusie daarvan nie begryp word nie, of meestal nie begryp wíl word nie. Suid-Afrika is 'n goeie voorbeeld. Aangesien die begrip van “gelykheid” 'n menslike konstruksie is, is dit net regverdig om ook te besin oor die menslike redes vir die ontstaan van die begrip. Dit is deels gebore uit skuldgevoelens. Dit is ook ontwikkel as 'n instrument om konflik te probeer besweer wat voortspruit uit afguns. Maar ten spyte van ons beste en eerlikste pogings — of versinde pogings wat bloot oëverblindery is om voor te gee dat almal gelyk kan wees, om vredesonthalwe — is ons nie suksesvol nie.
Ons is nie suksesvol nie, en sal nooit suksesvol kan wees nie, want ons jaag die onmoontlike na. Ons tree wetens of onwetens op oneerlike wyse op deur voor te gee dat “gelykheid” haalbaar is. Van ons bymotiewe is om te probeer om ons eie bevoorregting te verdoesel — bevoorregting wat ons dikwels met meriete verdien het, maar wat alte maklik getipeer kan word asof dit ten koste van ander verwerf is.
Diegene wat besef dat “gelykheid” 'n hersenskim is, voel egter nie gedwonge om voor te gee dat dit 'n bereikbare doel is nie. Hulle is eerder eerlik oor die feit dat ongelykheid die norm is. Dit veroorsaak natuurlik ongemak en skuldgevoelens by diegene wat utopiese bestaansomgewings propageer. Hulle oortuig hulself dan dat hul pogings om “gelykheid” te bewerkstellig wel moontlik is. Daarom hou hulle dikwels maar net aan om die hersenskim na te jaag, al weet of vermoed hulle dat dit futiel is. Dit verskaf verligting van skuldgevoelens, maar is oplaas bloot selfbedrog.
Blote Normatiewe Gevoelslewe
Ons in Suid-Afrika het grootliks en hard geval vir die skyn van “gelykheid”. Dit is gewoon onbereikbaar, maar dien wel 'n doel om normatiewe, mensgemaakte “regverdigheid” te probeer bewerkstellig deur “gelykheid” te predik. Daarom sal “gelykheid” altyd nagejaag word, al is dit bloot 'n mensgemaakte versinsel.
Kom ons noem wat ons in die naam van sogenaamde “gelykheid” doen, eerder wat dit werklik is: meestal die blote kunsmatige herverdeling van dit wat sommige beter kon regkry om op te bou as ander. Natuurlik het dit meriete, maar dan moet ons nie die ontvangers van die herverdeelde opbrengste van die gewers — of meestal eerder die opbrengste van diegene van wie dit onder staatsdwang weggevat word om herverdeel te word — met die valse indruk laat dat dit “gelykheid” gaan bring of hoef te bring nie. Sosialistiese eksperimente wat gefaal het om sogenaamde “gelykheid” te bewerkstellig, moet tog sekerlik iets vir ons vertel. Ek sluit af met die bekende George Orwell-aanhaling uit sy juweel van 'n boek, Animal Farm:
“All animals are created equal, but some animals are more equal than others.”
Kom ons erken maar dat selfs Orwell se varke die teenstrydigheid in die gewaande strewe na “gelykheid” raakgesien het.
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










