Selfbeskikking sonder skroom
Politieke etikette verdonker 'n legitieme dog debatteerbare strewe.
Wat hier volg, is 'n losse interpretasie van wat ek as “selfbeskikking” sal beskryf, met spesifieke verwysing na die Suid-Afrikaanse konteks. Ek gaan probeer om iets regverdig en legitiem in selfbeskikking raak te sien, as teenvoeter vir die gewilde “linkse” narratief wat dit summier as boos afmaak, saam met alles wat daarmee gepaardgaan.
Natuurlik kan daar ook 'n potensieel bose kant aan selfbeskikking wees, byvoorbeeld waar dit ten koste van ander mense plaasvind en/of ander leed aandoen.
Ons almal weet waartoe die apartheidsbeleid aanleiding gegee het. Maar om dit wat tóé gebeur het as voorwendsel te gebruik om alle selfbeskikkingstrewes verdag te maak en sommer by voorbaat te veroordeel, is myns insiens hoogs subjektief.
Maar wat is “selfbeskikking”? Daar is baie beskrywings en omskrywings daarvan, tog wil ek dit vir die doeleindes van hierdie meningstuk eenvoudig beskryf as die vreedsame strewe deur lede van 'n groep wat een of meer belangrike elemente met mekaar in gemeen het — soos taal, godsdiens, etnisiteit, ekonomiese belange, geografie, ensovoorts. Op grond daarvan wil hulle ’n vrywillige gemeenskap bou wat gegrond is op daardie gemeenskaplikheid of gemeenskaplikhede.
Daar behoort tog, in alle billikheid en redelikheid, ruimte te wees om sodanige selfbeskikking na te streef. Daar kan nie slegs ruimte wees vir subjektiewe, polities-geïnspireerde omskrywings van waarom selfbeskikking noodwendig “verkeerd” of “boos” sou wees nie.
Ongelukkig word selfs daardie vorme van selfbeskikking wat volkome aan die vereistes voldoen om nie ten koste van ander mense te geskied nie, en ook nie ander mense leed aan te doen nie, dikwels verdag gemaak. Dit gebeur deur daarna te verwys met talle naamwoorde en sinsnedes wat by voorbaat iets “verkeerds” of “boos” impliseer. Hier is 'n paar voorbeelde wat vir ons as Suid-Afrikaners maar al te bekend is (lees dit asseblief tussen aanhalingstekens, want dit is bloot etikette wat dikwels om baie verdagte redes geskep word):
“Laertrekkers” (nogal ironies, gegewe dat ek hierdie woord juis in OntLaer gebruik …)
“ 'n Hunkering terug na die apartheidsjare met blanke baasskap en -bevoorregting”
“ 'n Onwilligheid om te transformeer” (Franz Kafka-styl?)
“Wit meerderwaardigheid en beterweterigheid”
“(Blanke/wit) rassisme”, want daar is mos geen ander soort rassisme nie.
“Die noodsaak van swart regstellende aksie”, want geen wit kind of jong wit man het mos enige reg op, of behoefte, aan regstelling nie — selfs die ongeborenes van die apartheidsjare is, volgens staatsomskrywing, dertig jaar later bevoorreg.
Nou kom ek by die kern van my gedagtegang: Op grond van watter totaal objektiewe, nie-polities geïnspireerde redes moet iemand besluit dat die etikette waarna ek verwys het (en waaraan nog baie meer toegevoeg kan word) as regverdiging moet dien om mense te verhoed om selfbeskikking na te streef?
As lede van 'n groep byvoorbeeld een of meer belangrike elemente met mekaar in gemeen het — taal, godsdiens, etnisiteit, ekonomiese belange, geografie, ensovoorts — waarom moet die etiketteerders (“eti-ketters?”) dan besluit dat hul selfbeskikkingsmotiewe noodwendig verdag is? Moet selfbeskikkers geëtiketteer word met naamwoorde en sinsnedes wat nie eers bewys hoef te word nie, maar bloot met staatsmag, politieke oorheersing, getalle-oorheersing, of watter ander gewaande regverdiging ook al, afgedwing word — net om hulle nie toe te laat om hul eie pad te loop nie?
Ná alles is federalisme, of minstens iets van daardie aard, tog wel bekend en funksioneer dit in baie dele van die wêreld heel goed.
Is dit dus geregverdig om groepstrewes om weer kleiner eenhede rondom gemeenskaplike belange te vorm, bloot as “boosheid” te bestempel en dit te probeer diskrediteer met onbewese insinuasies en etikette? Ek dink nie so nie.
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











