Sosio-ekonomiese ontwikkeling tydens gewelddadige konflik
Suid-Afrika is 'n ontwikkelingstaat wat nie ontwikkel nie.
Ons weet almal van die groot ontwikkelingsinisiatiewe in Suid-Afrika wat op tragiese wyse eindig in onvoltooide infrastruktuur en half- of geheel onvoltooide boustrukture. Daarna – weet ons ook – volg die ontbloting van korrupsie en bedrog, diefstal en onbevoegdheid wat keer op keer sodanige projekinisiatiewe laat intuimel.
Die verliese beloop nasionaal miljarde rande en hou direk verband met Suid-Afrika se toenemende skuldlas, powere ekonomiese groeikoers, werkloosheid, armoede en sosiale onrus – om maar slegs enkele van die negatiewe gevolge uit te lig wat kenmerkend geword het van 'n sogenaamde ontwikkelingstaat wat nie ontwikkel nie.
Hierdie groot ontwikkelingsinisiatiewe of -projekte is egter slegs die sigbare vergestalting van inisiatiewe op die makro-ontwikkelingsterrein. Op gemeenskapsvlak – of grondvlak, selfs soms die voetsoolvlak genoem – bestaan daar honderde gemeenskapsinisiatiewe wat sonder nasionale media-fanfare daagliks voortstrompel, met die hoop om ontwikkeling te bewerkstellig deur middel van plaaslike projekte. In landelike gebiede is daar byvoorbeeld pogings om “tradisionele” of kommunale grond te ontwikkel vir landbou- of toerismedoeleindes. In stedelike gebiede is daar 'n enorme verskeidenheid inisiatiewe, soos infrastruktuur-onderhoud en die oprigting of verbetering van gemeenskapsfasiliteite, onder andere.
Ironies genoeg struikel sulke gemeenskapsprojekte dikwels as gevolg van ernstige konflik – dikwels gewelddadig – tussen gemeenskapslede onderling. Dit vertraag ontwikkelingsinisiatiewe aansienlik en lei dikwels daartoe dat projekte nooit begin of voltooi word nie, met die gepaardgaande vermorsing van geld. Ernstiger gewelddadige konflik volg dikwels ook, aangesien mislukte projekte gemeenskapslede uitmekaar dryf eerder as om samewerking te bevorder.
Lesse vir ontwikkelingsinisiatiefneming
Aangesien dit so gereeld gebeur, het dit my oortuig dat die ontwikkelingsmetodologie wat gevolg word, uiters gebrekkig is. Dit word dikwels deur politieke agendas oorheers, wat nie noodwendig die geval hoef te wees nie.
Dit het my laat terugdink aan 'n besonder suksesvolle “historiese” ontwikkelingsinisiatief van nie te lank gelede nie, waaraan ek self mede-leiding kon neem en wat, na my mening, vandag steeds relevante lesse inhou vir ontwikkelingsinisiatiewe wat op grondvlak begin en uiteindelik op nasionale vlak tot sukses kan lei. In die stormagtige vroeë negentigerjare van die vorige eeu het ek die twyfelagtige voorreg gehad om op nasionale vlak as een van twee fasiliteerders aangewys te word om die bitter en dodelike konflik tussen die ANC en die IVP in die hostel-konteks te probeer bylê. Dit was tegelykertyd uitdagend en vreesaanjaend, hoewel die ware vrees eers later in die proses my keel sou begin toetrek.
Die hostelle in die townships, met hul derduisende sogenaamde “trekarbeiders” – hoofsaaklik vir die mynbousektor – was 'n ideale teelaarde vir 'n kontestasie tussen die ANC en die IVP. Beide partye het op grondvlak meegeding om die “hearts and minds” van township-inwoners. Ek gebruik die begrip “trekarbeiders” met voorbehoud, aangesien baie van die hostelbewoners lank reeds nie meer trekarbeiders in die volle sin van die woord was nie. Hulle het dikwels nog primêre gesinne in hul gebiede van herkoms, veral in die destydse Natal en Oos-Kaap gehad, maar oor die jare tweede gesinne in die townships onderhou.
Hierdie verhoudings het aan die een kant as emosionele verligting gedien vir mans wat lank sonder hul gades moes klaarkom, maar het terselfdertyd uiteenlopende spannings geskep. Geldelik was dit uiters moeilik om twee gesinne te onderhou, en dit het ook konflik met omliggende township-inwoners veroorsaak. Die bron van vroulike geselskap vir hostelinwoners was immers die omliggende township-bevolking. Sonder twyfel is daar op hostelbewoners neergesien – 'n houding wat vandag steeds voortduur – en wanneer dit boonop gelyk het of hulle “ander mense se vroue en dogters wegneem”, was dit nie bevorderlik vir gemeenskapsverhoudinge nie.
Verder is hostelinwoners dikwels beskuldig van misdade soos verkragting, aanranding, diefstal, inbrake en selfs moord, veral in gebiede naby die groot hostelle. As gevolg van die numeriese oorheersing van Zoeloes in die hostelle, het die indruk posgevat dat Zoeloes – en by implikasie die IVP – vyandig teenoor township-inwoners gesind was. Aangesien die ANC sterk grondvlakstrukture in die townships gehad het, veral deur goed georganiseerde straat- en buurtkomitees, kon weerstand teen hostelbewoners relatief maklik gemobiliseer word. Om die politieke angel uit hul teenstrategie te haal, is daar egter toenemend onder die vaandel van sogenaamde “civic organisations” opgetree.
Volgens die inligting tot my beskikking is daar toe vanuit hoë IVP-kringe in Ngoma, Natal, besluit om Zoeloe-hostelbewoners te begin bewapen. Kort daarna het 'n bepaalde hostel in Soweto feitlik as die militêre hoofkwartier van die IVP in die destydse Transvaal begin funksioneer. Dit was die begin van 'n ernstige eskalasie van gewapende geweld en koelbloedige moordveldtogte. Boipatong was maar een van die vele bloedige slagvelde wat later, weens hul brutaliteit en omvang, groot nasionale en internasionale aandag sou trek.
Pogings tot vrede
Teen hierdie agtergrond – en later vanuit die binnekant van die voortgesette en eskalerende konflik – moes ek en die ander fasiliteerder na wie ek vroeër verwys het, vrede probeer bewerkstellig. As Afrikaner met 'n ontwikkelingsekonoom-agtergrond en sonder uitgesproke politieke lojaliteite of vooroordele, was dit vir my 'n unieke geleentheid om toegang tot die grondvlak-binnekringe van sowel die IVP as die ANC te kry.
Opmerklik genoeg was daar min weerstand teen die aanstelling van twee Afrikaners as bemiddelaars. Beide van ons is aangewys deur groot nasionale ontwikkelingsagentskappe wat destyds nie as verlengstukke van die regering beskou is nie. Dit het legitimiteit verleen, maar is ook aangehelp deur die feit dat die konflik letterlik lewens geëis het en daar weinig ruimte was vir kieskeurigheid ten opsigte van bemiddelaars. Sonder om arrogant te wees, kan daar ook gesê word dat die bemiddelaars goed gekies was en oor die nodige ingesteldheid, kennis en benadering beskik het om twee uiterste pole nader aan mekaar te bring.
Sonder om op alle besonderhede in te gaan, het die proses met talle voorafgesprekke begin, meestal tussen die twee bemiddelaars en een verteenwoordiger van 'n strydende party. Dit het dit moontlik gemaak om raakpunte te identifiseer in 'n omgewing waar deelnemers meer vrymoedig kon praat. Daarna kon individue van beide kante oorreed word om saam met die bemiddelaars aan tafel te sit, waarna groter groepe gevolg het en uiteindelik regstreekse vergaderings tussen die twee groepe moontlik geword het.
Die spanning was hoog. Daar was wedersydse beledigings en aantygings, maar gelukkig geen fisiese konfrontasie nie. Dit was grootliks te danke aan die feit dat meer gesofistikeerde en minder impulsiewe grondvlakverteenwoordigers namens beide hostelbewoners en township-gemeenskappe betrokke was. Aan die einde van hierdie fase is besluit om die fokus te verskuif na die breër behuisingsvraagstuk in Suid-Afrika. Dit het gehelp om die agenda te depolitiseer en gemeenskaplike ontwikkelingsbehoeftes – spesifiek behuising – sentraal te stel. Politiek is sodoende gedeeltelik na die agtergrond geskuif.
Die uitkoms was die stigting van 'n Hostelleforum, wat uiteindelik ontwikkel het tot die Nasionale Behuisingsforum. Na my beste wete was dit die eerste volledig nuwe ontwikkelingsbeleid vir Suid-Afrika wat op konsensus berus het en deur alle buite-parlementêre partye sowel as die destydse regering aanvaar is – nog voordat die 1994-oorgang eindelik beklink is.
Politieke ambisies moenie ontwikkelingsfasilitering kaap nie
Ter afsluiting is ek van mening dat selfs in hedendaagse demokratiese Suid-Afrika, waar gemeenskapskonflikte daagliks plaaslike ontwikkelingsinisiatiewe kniehalter, professionele, nie-politieke ontwikkelingsfasilitering en konflikbeslegting van onskatbare waarde kan wees om sosio-ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling op grondvlak in suksesverhale te omskep.
Een van die grootste uitdagings bly om kompeterende gemeenskapsgroepe – wat byna altyd ontstaan wanneer werk en geld ter sprake is – te oortuig om politieke ambisies nie hul ontwikkelingsagendas te laat kaap nie. Dit is vandag moeiliker as ooit, veral in 'n konteks waar gemeenskappe gekondisioneer word om te glo dat ontwikkeling slegs kan volg op lojaliteit aan 'n bepaalde politieke party. Ironies genoeg is dit dikwels juis hierdie politieke vertrekpunt wat 'n plaaslike inisiatief laat misluk, aangesien dit gevestigde belange onmiddellik aktiveer.
Dit maak objektiewe besluitneming bykans onmoontlik: Wie behoort die begunstigdes te wees, hoe moet die beste ontwikkelaar teen die beste prys aangestel word, hoe behoort werkers geselekteer te word; en so meer.
Om ware gelykberegtiging vir alle gemeenskapslede te verseker, is onafhanklike fasiliteerders 'n absolute vereiste. Sulke fasiliteerders moet deelnemers kan oortuig dat die “spelreëls” bepaal sal word deur gedeelde ontwikkelingsdoelwitte: Wie eerste baat, wie later, en waarom. Aangesien nie almal gelyktydig kan baat nie, moet daar ook 'n geloofwaardige vooruitsig wees vir die sogenaamde “verloorders” om by toekomstige ontwikkelings te kan inskakel. Ontwikkelingsinisiatiewe behoort dus nie eenmalige gebeure te wees nie, maar deel te vorm van 'n deursigtige en volhoubare ontwikkelingsbeleid.
Dit is presies hoe die hostel-inisiatief van die onstuimige en bloedige vroeë negentigerjare getransformeer is in 'n nasionale behuisingsbeleid wat selfs internasionaal erkenning geniet het.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










