Suid-Afrika: Middelmoondheid of Middelmatig?
Suid-Afrika se waardestryd word uitgelig deur Carney en Rubio se toesprake.
Voor ek by Marco Rubio uitkom, eers die volgende: Dit was interessant om heelwat kommentaar te sien na aanleiding van Mark Carney se opspraakwekkende toespraak in Davos op 20 Januarie 2026. Daar was verskeie pogings deur kommentators om uit te wys dat Suid-Afrika ook eintlik een van daardie “middelmoondhede” is wat moet saamstaan sodat Amerika (Trump) hulle nie kan boelie nie. Sommige kommentators was van mening dat as Suid-Afrika dan nie as deel van die voorgestelde “Carney-klub” gesien word nie, of nie só gesien kán word nie, dit ten minste daardie status in Afrika behoort te hê.
Die meeste kommentators was dit egter eens dat Suid-Afrika eers baie sal moet doen om sy eie huis in orde te bring voordat dit as 'n ernstige lid van enige klub aanvaar sou kon word, hetsy die Kanadees-Europese een, of 'n Afrika-kloon daarvan. Die oorbekende wanorde in Suid-Afrika is dan weer eens tot vervelens toe deur kommentators uitgewys; dinge só bekend aan ons almal dat ek dit nie hier gaan probeer herhaal nie. My punt is bloot: Suid-Afrikaanse kommentators het Carney se uitlatings ernstig opgeneem, en pertinent uitgewys hoe dit ook op Suid-Afrika van toepassing mag wees, of dalk nie.
Dit bring my by Marco Rubio se München-toespraak van 14 Februarie 2026, wat ook groot opspraak verwek het. Rubio het 'n Amerikaanse hand van versoening na ander Westerse moondhede in Europa uitgesteek. Hy het Amerika se Europese herkoms beklemtoon en uitgewys hoe belangrik Westerse waardes is en waarom dit té kosbaar is om te versaak. Hy het Westerse kulturele waardes uitgelig, dit gekoppel aan wat as beskaafd beskou kan word, en gewaarsku dat die instroming van immigrante met nie-Westerse waardestelsels wesenlike gevare inhou. Hy was van mening dat Europa weer selfvoorsienend en selfgeldend moet word, onder andere deur homself militêr te versterk.
Hoewel Rubio se opspraakwekkende toespraak maar kort gelede plaasgevind het, was ek tog verbaas dat daar hier in Suid-Afrika nie ook raakpunte met ons eie situasie raakgesien is soos met Carney se toespraak nie. Maar eintlik moet ek nie verbaas wees nie, omdat die hoofstroommedia in Suid-Afrika min ooghare het vir enigiets Westers. Ja, hulle maak ten volle gebruik van alles wat hier aan die suidpunt van Afrika tot stand gekom het deur Westerse inisiatief, maar dit is nie polities korrek om erkenning te gee aan die feit dat dit wat nog van Suid-Afrika se ontwikkelde sektore oor is, deur Westerse inisiatief — met Westerse waardes as onderbou — hier geplant is nie. Die tragiese feit dat dit met al die euwels van kolonialisme en apartheid gepaard gegaan het, maak dit nog steeds nie iets wat bloot weggewens of geïgnoreer kan word nie.
Westerse roem en faam in SA
Ek het dit dus goedgedink om, na aanleiding van Rubio se toespraak, onsself —en dié in ontkenning — daarop te wys dat ons in Suid-Afrika, selfs vandag nog, geseënd is weens Westerse waardes en inisiatiewe.
Dit is terselfdertyd tragies om te moet erken dat baie van die materiële en ander nalatenskappe van daardie waardes en inisiatiewe, veral gedurende die laaste tien tot twintig jaar, ongedaan gemaak is. Maar laat ek begin by die begin, sonder om in detail uit te spel wat alle ingeligte lesers reeds weet. Kom ons begin by ons erfenis ten tye van die oorgang in 1994. Ons het al die materiële vooruitgang van die voordemokratiese era geërf. Dit hoef nie uitgespel te word nie: ons sien nog elke dag wat daarvan oorgebly het — stedelike infrastruktuur in verval; geboue wat verkrummel; veiligheidstrukture wat nie meer veiligheid kan verseker nie; verdedigingsmagte wat nie meer kan verdedig nie; ontwikkelingsagentskappe wat nie meer kan ontwikkel nie. Ek kan sekerlik aangaan en aangaan, maar dit sal bloot die ingeligte leser verveel.
Baie van die Westerse waardes en inisiatiewe waarna Rubio in sy toespraak verwys het, het juis dít tot stand gebring in Suid-Afrika wat dit vir ons moontlik gemaak het om vir ten minste tien jaar ná die oorgang tot demokrasie 'n geweldige opheffing in ons breër bevolking te kon bewerkstellig. Die feite ter stawing van hierdie stelling is ook welbekend. Ons algemene bevolking het eers begin om armer en meer ontmagtig te word toe instellings wat met Westerse waardes en inisiatief opgebou is, begin verval het. Die verval in die fisiese omgewings waarin ons leef, is bloot die materiële vergestaltings van dit wat afgebreek is deur “waardes” wat moeilik met beskaafde waardes versoen kan word. 'n Mens dink dadelik aan die toenemende fisiese geweld en sluipmoorde wat gebruik word om mededingers uit die weg te ruim — hetsy met die oog op 'n staatskontrak, of 'n posisie in die staatsmasjinerie wat aangewend kan word om onverdiende persoonlike verryking moontlik te maak.
Ek dink egter herbesinning begin weer posvat onder ons breër bevolking. Nie net dui baie meningsopnames daarop dat daar weer 'n nuwe waardering vir die “waardes van die verlede” is nie, maar ook vir persoonlikhede wat steeds staan by die ontwikkelingswaardes wat Suid-Afrika eens 'n uitsondering op die Afrika-kontinent gemaak het. Wie sou kon dink dat 'n Helen Zille in Soweto sou kon rondloop om steun te werf — en dit op 'n ontwikkelings-“ticket”?
Ek sien dus in Suid-Afrika 'n herwaardering van sommige van die waardes en waarhede wat Rubio met Europese leiers gedeel het. Dit is ook baie bemoedigend vir my dat ek 'n Suid-Afrikaanse beroering waarneem wat terug neig na ontwikkelingswaardes wat vir die Westerse wêreld nog altyd baie goed was — en wat selfs hier aan die suiderpunt Afrika 'n uitsonderlike nalatenskap kon baar.
Ons durf dit nie verlore laat gaan nie, al het ons dit reeds baie skade aangedoen deur goeie Westerse waardes verdag te maak, eerder as om dit te laat gedy in 'n konteks waar gelykberegtiging vir almal 'n werklikheid is — soos dit hoort.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











