Na afloop van die gebeure wat afgespeel het rondom Jason Arday, die jongste swart professor aan Cambridge Universiteit, wat na aantygings van plagiaat selfdood begaan het, is daar steeds talle onbeantwoorde vrae. Nie alleen oor sy eie geval nie (insluitend die kontroversie rondom sy aanklaer, die ‘ras-realis’, Nathan Cofnas), maar ook oor die klimaat waarbinne die gebeure afgespeel het.
Die vraag is nie soseer of Arday skuldig is aan die talle versinsels en plagiaat waarvan hy aangekla word nie – dit blyk grootliks 'n uitgemaakte saak te wees, maar eerder hoe hierdie gegewens hoegaamd oorgesien en toegelaat is by een van die top universiteite in die wêreld. Dit gaan hier oor meer as blote nalatigheid, dit gaan oor die versaking van die wese van die universiteit, 'n versaking wat gesetel is in 'n verreikende en onnadenkende beswyming. Sowel Arday as sy aanklaer Cofnas het in die ban van 'n beswyming beland wat denke volledig belyn met ras.
Dit sal daarom oorhaastig wees om die verhaal wat Arday oor homself vertel het, as onbelangrik te beskou vir die ontvouiing van die gebeure. Arday se verhaal oor homself toon sterk ooreenkomste met die verhaal van Prins Lev Nikolajevitsj Mysjkin, die hoofkarakter uit Dostoevsky se roman Die Idioot. Mysjkin ly as kind aan epilepsie, wat hom verhinder om normaal te ontwikkel. Op 'n gegewe oomblik verslap die greep van sy kwaal en ontwikkel Mysjkin teen 'n ongekende spoed en toon hy buitegewone potensiaal. Soos in Arday se geval word Mysjkin 'n oornagsensasie. Een ding wat hy nogtans behou, is sy kinderlike onskuld, omdat sy insigte gesuiwer gebly het van alledaagse lewenservaring, en hierdie onskuld was by uitstek die bron van sy betowering oor die publiek.
Mysjkin raak boonop op twee vroue verlief. Hoewel hulle in baie opsigte van mekaar verskil, vorm albei spieëlbeelde van die prins in dié opsig dat hulle in welgestelde families ingebore word (wat weliswaar nie by Arday die geval is nie), en hoogsbegaafd is. Nastasja Filippovna Barasjkova word beskryf as die donker skoonheid, 'n weeskind van adelike herkoms wat onder die toesig van 'n weldoener mishandel word. Haar onskuld is dan van jonks af besoedel. In die tweede geval is Aglaja Ivanovna Jepantsjina, 'n welgestelde, voorbeeldige vrou wat skerpsinnig is, maar wat nie met haar intelligensie te koop kan loop nie. Altwee vroue kon nie teregkom in die samelewing van hulle tyd nie, en altwee sien in Mysjkin 'n ongerepte potensialiteit waardeur hulle eie potensiaal na buite gekannaliseer kan word.
Dit is uiteindelik Nastasja se donker en aangetaste skoonheid wat Mysjkin aantrek. Nadat sy egter deur 'n ander jaloerse minnaar vermoor word, word Mysjkin so erg getraumatiseer dat hy weer in sy aanvanklike kondisie verval. Die wêreld was helaas nie vir sy onskuld geskik nie, soos die refrein van Don McLean se liedjie oor Van Gogh weerklink “this world was never meant for one as beautiful as you”.
Mens sou iets van hierdie tweespalt tussen die vervreemde, beskadigde skoonheid en die meer tradisionele gestalte kon inlees in die diskoerse van Arday as akademikus en Cofnas. Arday verteenwoordig nie alleen Mysjkin nie, maar die koppeling van Mysjkin aan Nastasja, die mishandelde donker skoonheid. Na die ontmaskering kan Arday egter nie anders as om soos Mysjkin terug te keer na sy aanvanklike onskuld nie (in hierdie geval was dit egter 'n vervalsde onskuld, en derhalwe neem Arday sy eie lewe).
Cofnas se ras-realisme is gesetel in ewe bedenklike idees onder die dekmantel van wetenskaplike objektiwiteit, naamlik dat aanlegtoetse sekere rasse ondergeskik aan ander bewys. Hierdie toetse meet die vermoë van kinders op 'n bepaalde ouderdom sonder inagneming van die impak van vroeë kinderontwikkeling. Daarvolgens deel hulle rassegroepe dan op in verskillende ingebore vlakke van intelligensie.
Daar heers 'n vals tweespalt tussen Cofnas en Arday wat op niks minder as 'n lui terughunkering na 'n suiwer en onskuldige essensie dui nie, 'n suiwerheid wat sy bestaan regverdig in spanning met 'n gekontamineerde ander wat konstant negeer moet word. Hierin lê die Janusgesig van die hedendaagse politieke en akademies-ekonomiese diskoers opgesluit.
Hoewel raspolitiek vir die moderne mens welbekend is, moet die herkoms maar ook die ontwikkeling daarvan verstaan word. Raspolitiek is in wese 'n moderne verskynsel, en moet gelees word teen die agtergrond van mites oor verhewe herkoms gekoppel aan eksklusiewe toegang tot tegnologie. Twee gelyklopende gebeurtenisse lê in die agtergrond van hierdie verskynsel, wat telkens met nuwe oorgange op nuwe wyses neerslag vind, naamlik die Industriële Revolusie en nasionalisme.
Die opkoms van nasionalisme is juis gekoppel aan die industriële revolusie omdat die staat 'n bondgenoot in nyweraars gevind het wat landelike mense gelok het na die stad waar hulle geld wat deur die staat gedruk is kon ontvang, wat hulle losgemaak het van die vasale landhere. Sodoende is identiteit tot mindere kategorieë soos nasionaliteit verskraal wat die gelaagde samelewing ondermyn en wat noodwendig met die breedste merkers werk wat binne die logika van die merkers bevoordeling en onderdrukking tot gevolg sal hê.
Reeds met die ingang van die Industriële Revolusie is die vrees boonop vir die vervanging van die mens met die masjien gekweek. Hieruit ontstaan die risiko dat die mens in sowel sy produktiwiteit as sy verbruik tot die eenvoudigste en berekenbaarste kategorieë verskraal word, naamlik tot werker en verbruiker. Vroeg reeds waarsku Adam Smith teen hierdie logika wat dreig om ‘stupidity’ te verhoog, en bygevolg word die winspunte van die Verligting, naamlik die verhoging in algemene geletterdheid (oftewel bemagtiging), vervang met die moralistiese politiek van werkskepping – die bedding van populisme. Op die korttermyn kan meerderheidsdiktatuur soms vooruitgang in die hand werk (dink aan die 1930’s in Duitsland), maar dit beskou mettertyd alle kompetisie as lewensbedreigend. Raspolitiek as moderne verskynsel verteenwoordig in wese 'n mismoedige oorgawe aan determinisme, die determinisme bepaal deur kenmerke los van bemeestering, naamlik gene en tegniek, waardeur sukses behaal word.
Kultuur is nie abstrak nie, dit wil sê dit herken geskiedenis en omstandighede, maar steek nie vas hierby nie, dit behou 'n aanvoeling en verantwoording teenoor die verlede, hede en toekoms, self en ander, nie as eksklusiewe dimensies nie, maar as gespreksgenote. Om 'n voorbeeld uit geykte cliché’s te ontleen: beskawing dra bewustheid van die feit dat dit die beste is om mense self te leer visvang vir 'n voortbestaan, maar dit weet ook dat visvang kwalik moontlik is waar die damme opgedroog het en waar visvangregte weggeneem is (soos treffend uitgebeeld word in die kortverhale van E. Kotze oor die Weskusgemeenskappe in die vorige eeu).
Soortgelyk aan die biometriese identifikasie van swart mynwerkers wat nie kon skryf en handtekeninge maak nie deur hulle vingerafdrukke en later pasboeke, so word ras as toegang tot die kennismyn van die universiteit gebruik. Die diamante wat as kennis gemyn word is allerlei citation index begrippe. Hoe meer aanhalings 'n artikel verwerf, hoe hoër word die artikel aangeslaan. Oor die geldigheid van die argumente word daar weinig gesê, dit is die akademiese ekwivalent van meerderheidsdiktatuur. Die kennisekonomie skakel dan sodoende oor in 'n tegnopopulisme, wat gesag verwerf in eenvoudige merkers wat mettertyd nuwe konfigurasies van gesag vorm rondom uiterlike kenmerke en identifikasie, eerder as bemeestering en inhoud.
Is akademiese instellings nog ingestel op bemeestering, verantwoordende agentskap met kritiese diskoers as onderbou, of bloot op belyning, nakoming en instemming tot oorvereenvoudigde begrip en welluidende slagspreke?
Nog artikels deur Dr. Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









