Twintig jaar na die vrystelling van die lied De la Rey deur Bok van Blerk is dit steeds populêr. Buite oorsese rugbystadions word die lied selfs met oorgawe gesing waar die Springbokke speel, terwyl expats hand op die bors saamsing.
Hier te lande was daar oor die jare geen tekort aan hewige debatte en selfs akademiese navorsing uit verskeie dissiplines, begrond in onder meer die “ideologies-kritiese teorie”, oor die impak wat die lied op mense het, en die motiewe wat agter die skryf van die lied sit. 'n Kwessie wat egter min aandag geniet, is in hoe 'n mate 'n lied oor De la Rey sy eie goedkeuring sou wegdra, veral in die lig van die beskrywing van sir Percy Fitzpatrick, 'n mede-Volksraadslid van die Zuid-Afrikaansche Republiek, van De la Rey as synde “so habitually silent, so utterly free from all vanity and self-consciousness, so contemptuous of anything like advertisement of self.”
Die gebruik van die naam van De la Rey in die lied blyk toevallig te wees– toevallig soos die noodlottige koeël wat hom getref het in die opbloei tot die Rebellie in 1914. Of was dit? Die tweestryd tussen die toeval en die noodlot was 'n stryd wat nie alleen De la Rey se lewe nie, maar ook sy nalatenskap kenmerk. Drie aanrakings met die dramatiese sameloop van omstandighede staan uit: Hy is op twaalfjarige ouderdom byna dood aan 'n siekte en was vir 'n volle jaar bedlêend; tweedens die snelveranderende toeloop van omstandighede tydens die oorlog was iets waarmee hy en elke generaal konstant rekening moes hou, en die toeloop van omstandighede van die Uniewording en die opbouende spannings wat daar rondom geheers het, het dikwels die toeval in spanning met die voortbestaan van 'n kultuurgroep gebring.
Honderd jaar later word sy naam weer in 'n lied genoem– of is dit toevallig? Een verwysing in die lied na die “Leeu van die Wes Transvaal” kan jou onder die indruk laat dat die lied eksplisiet oor hom handel, maar dan word ook gesing van 'n vrou wat in 'n kamp sit, wat onjuis sou wees as dit na De la Rey se vrou, Nonnie de la Rey verwys. Oor haar is proefskrifte geskryf en word vertel hoe sy op behendige wyse die Engelse tydens die oorlog ontduik het (en steeds deurentyd maniere gevind het om met De la Rey in kontak te bly). Komende uit 'n rondswerwende agtergrond, kon sy haar weg in die ruwe veld beter as meeste vind. Wat die gebruik van De la Rey se naam in die lied dus betref, blyk dit uit onderhoude dat “De la Rey” bloot rym met “lei”– vandaar het die keuse op De la Rey geval. Rym is egter onvoldoende om die Generaal as persoon en figuur aan die inhoud en doel van die lied te koppel.
Soos die Engelse telkemale op die slagveld geleer het, is dit moeilik om De la Rey vas te pen, ook wat sy uitgangspunte betref. Van ons mees uitstaande geskiedkundiges sal hoogstens sydelings na hom verwys. Ons weet hy was 'n patriot vir sy mense. Ons weet hy was 'n Bittereinder. Die geskiedenis vertel vir ons 'n verhaal van 'n man van min woorde, van iemand wat hom meermale van die “oorlog van woorde” weerhou het. Wanneer hy wel in die Volksraad gepraat het, het De la Rey volgens Fransjohan Pretorius “nie geaarsel om sy mening kort en kragtig, helder en onomwonde te stel nie.” Hy sou gewoonlik volgens die kunstenaar Johannes Meintjies, wat die eerste vollengte biografie oor De la Rey geskryf het, eers sy mening lug nadat hy aandagtig na verskeie menings geluister het.
Voor en na die oorlog het De la Rey hom aan 'n breë politieke struktuur gekoppel. Hy was volgens Pretorius voor die oorlog strykdeur ten gunste vir die onafhanklikheid van die ZAR, maar was ook daarvoor te vinde dat die Uitlanders (hoofsaaklik Britte) “wat dit regtig verdien, stemreg moes kry.” In die jaar van sy dood, 1914, voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, nadat Herzog die Nasionale Party gestig het, bly De la Rey polities aan Botha verbind, 'n besluit wat hy as volg aan sy seun, Hennie, verduidelik: “ons gaan 'n moeilike tyd in. As ek generaals Botha en Smuts nou in die steek laat, lewer ek hulle aan die Engelse uit en sal hulle niks meer vir ons volk kan beding nie.” Die stappe wat Brittanje neem om die Boere te dwing om teen hulle bure in Duitse Suidwes die wapen op te neem, was dramaties genoeg dat De la Rey gewonder het of dit die vredesooreenkoms van Vereeniging in gedrang bring. Wat sy eie oplossing vir die toedrag van sake was, sal ons nooit weet nie. Nadat sy voertuig– dieselfde maak, kleur en model as die voertuig as die van die voortvlugtige Forster bende, reeds een polisieblokkade verontagsaam het, is hy noodlottig in Langlaagte in die suidweste van Johannesburg deur 'n dwaalkoeël gewond op 15 September 1914. Sy dood het ooreengestem met 'n voorspelling van sy vriend, Siener van Rensburg, dat sy dood verbind sal wees met die getal 15 (die somtotaal van 1,9,1 en 4 is ook 15). Hierdie voorspelling het weliswaar angs geskep by De la Rey, en of hierdie angs bygedra het tot die besluit om die eerste blokkade te verontagsaam, sal ons nooit weet nie.
Daar was iets klaarblyklik teenstrydig in De la Rey: polities was hy 'n figuur van kompromie, erkenning en dialoog; militêr was hy 'n man van beslissing en daad. Miskien kan hierdie teenstrydigheid verklaar word deur die begrip wat hy getoon het vir die onderskeie terreine van die oorlog en die politiek. Ander sien weer die politiek as oorlogsveld (maar is gewoonlik nie veel werd op die slagveld nie). Oorlog is vir diegene op die slagveld 'n saak van wen en verloor, van lewe en dood. Politiek is dikwels 'n saak van kompromie en wederkerige vergunning. De la Rey was nie 'n voorstaander van heethoofdige polarisering nie, maar hy was net so min 'n voorstaander van eenvormigheid ten koste van verskeidenheid. De la Rey was daarenteen, wat militêre strategie betref, uiters doelgerig en berekend. Volgens Neil Orpen was De la Rey “the greatest natural soldier to come out of South Africa.” De la Rey se aanvalstaktiek het berus op ruiteraanvalle, waarmee hy op sy legendariese perd, Bokkie, saam met sy manskappe, die vyand eers “sag gemaak het” en daarna die nekslag toegedien het, soos Prof. Raath dit in sy boek treffend beskryf.
Wat geloofsake aanbetref, sou mens kon sê dat hy Godvresend was, sonder dat dit sy oordeel belemmer het, en sonder dat hy ander wou opsweep, soos dikwels die geval was. Ofskoon hy sosiaal beskeie was in sy geloof, was sy optrede sommige opsigte op die slagveld sprekend van sy geloof. Min voorbeelde in die geskiedenis versinnebeeld die beginsel om jou vyand lief te hê so duidelik as De la Rey se optrede teenoor sy gedugte teenstander, Generaal-Lord Methuen op 7 Desember 1902 by Tweebosch, waar De la Rey die gewonde Methuen toegelaat het om deur sy eie mediese personeel behandel te word, en hom selfs vrygelaat het daarna. Na afloop van die oorlog het die twee eermalige vyande lewenslange vriende gebly.
Vir De la Rey kan alleen God “beskik oor die bestaan of nie-bestaan van 'n volk”, en dis ook alleen God wat De la Rey gevrees het, soms in verset teen ander volksleiers, maar nooit sonder die welstand van sy mense en die samelewing in sy agterkop nie. Hy word beskryf deur Fitzpatrick as 'n man met 'n sterk karakter, “honoured by all, and much loved; amazingly candid and outspoken in a careless, smiling, indifferent way.” Hy was nie 'n man wat doekies omgedraai het nie, nie een vir retoriek nie. Ten spyte van De la Rey se by tye bot en reguit uitsprake, word sy verhouding jeens sy volk en landgenote as volg deur Meintjies opgesom: “De la Rey knew few animosities and gave his friendship to Boer, Briton and Native alike.”
Volgens Raath sou mens De la Rey se lewensfilosofie kon opsom met die gesegde: “'n Handjie vol verstand is meer werd as 'n hoof vol geleerdheid.” 'n Handjievol woorde dan, ten slotte, uit die Generaal se oorlogkorrespondensie, in 'n nuwe tyd van woordoorloë, van verklarings en teenverklarings, woorde wat vir sommige onversoenbaar is, en nie in dieselfde sin hoort nie– woorde van 'n vredemaker: “God behoed land en volk.”
Dr Hercules Boshoff is 'n navorser en skrywer, tans woonagtig in Stellenbosch. Sy nuutste boek Verantwoording is tans beskikbaar by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Dr Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










Sonder om te probeer voorgee dat ek enige besonderse insig het in die wese van 'n latere generaal, nl. Generaal Constant Viljoen, kon ek nie help om op grond van lees van Herkules se insiggewende artikel, aan Viljoen te kon dink nie. Vergeet maar eers van die rampspoedige Bophuthatswana-insident en dink eerder in wat vertel word die generaal vir FW sou gesê het toe hy in die laaste dae van die ou bedeling gevra is oor die moontlikheid van die gebruik van militêre mag teen die vyhandiggesinde bevolking van Suid-Afrika. Hy het volgens oorlewering gesê dat hy net twee weke nodig het om die oorhad te kry, of so-iets, maar toe 'n teenvraag gestel: "Maar waarheen ( of wat?) daarna?"
Ek dink ook baie aan waarheen IEMAND "ons" in die hedendaagse konteks sal lei, of weliswaar reeds probeer lei? As die "ons" dan is wie mens vemoed dat Bok wou hê gelei moes word, nl. die ontevredenes met die post-'94 bestel, dan weet ons natuurlik nog steeds nie regtig waarheen nie. Sommige word Amerika to gelei (verlei?); sommige wil bly en hoop burgerorganisasies lei ons tot groter internasionale aanvaarding, en dat buitelandse druk ons dan die beloofde gelyke behandeling na die oorgang na 'n demokratiese bestel sal laat kry; terwyl party weer graag gelei wil word na 'n federale bestel met afwenteling van magte tot op die laagste vlakke. Daar is nog baie ander "lei-iterasies" ook, soos diegene wat gelei wil word na die ontwykende utopia genaamd Reënboognasie.
Ek kan voortborduur, maar ek dink my punt is onder andere dít: terwyl baie onder "ons" wel hunker daarna om gelei te word, is dit dalk meer van pas is om te waarsku teen die gevaar om "mislei" te word. "Ons as Nasie" was seer sekerlik vir die laaste 15-20 jaar deur die oneerlike ANC-leierskap mislei, maar dankie tog dat al meer en meer van die "Gesamentlike Ons" dit nou begin besef...