Die Kaal Keisers van Kontemporêre Kuns
Eietydse kuns neig na 'n doolhofagtige, elitistiese speletjie.
Net oos van Beverley Hills in Los Angeles (en nie Paternoster nie) staan daar 'n moerse rots (om vir Antjie Krog te parafraseer).
Dis nie 'n standbeeld wat beitel-vir-beitel geskep is en iets uitbeeld nie. Net 'n reuse rots wat 340 ton weeg en rus bo-oor 'n sementpad by die Los Angeles County Museum of Art. Die kunstenaar noem dit Levitated Mass en die museum beskou dit as baanbrekende kuns. Maar dis net 'n rots.
Daar is min dinge wat mense so vinnig aan stry kry soos die onderwerp kontemporêre kuns. Vir elke persoon wat iets in 'n Tracy Emin, Mark Rothko of Damien Hirst uitstalling sien, is daar tien mense wat net kopskuddend staan en wonder hoe dit deur die galery se deur gekom het.
Ek was onlangs in die Picasso Museum in Málaga, maar ek moet erken, ek was nie juis lus om te gaan nie. Dit was iets wat op my vrou se lysie was. Ek is nou bly dat sy daarop aangedring het dat ons moet gaan. Tot my verbasing het ek ontdek dat Picasso werklik kon skilder. Ek praat wel nie van sy bekende, verwronge gesigte en kubistiese skilderye nie, maar van sy vroeë werk van portrette, landskappe en tekeninge. Mens sien daar die hand van iemand wat met tegniek en begrip skilder en wat iets van die werklikheid probeer uitbeeld wat met die siel praat. Die man het duidelik nie begin as 'n rebel nie. Hy het eers die reëls bemeester voordat hy hulle gebreek het.
Dit het vir my laat wonder hoekom soveel kontemporêre kuns so sleg is. Of liewer, wat bedoel ek as ek sê bepaalde kuns is volgens my sleg? Is dit net ’n reaksie op iets wat nie mooi is nie? Of gaan dit oor iets dieper? Watter verwagtings dra ons nog saam wanneer ons vandag oor “kuns” praat?
Ek gaan nie voorgee dat ek 'n kunskenner is nie. Ek het nog nooit formeel kuns studeer nie, en ek sou waarskynlik nie Wie Word 'n Miljoener se miljoenrandprysgeld wen as die finale vraag oor Barok of Bauhaus was nie. Maar ek weet wanneer is kuns vir my roerend en wanneer nie. Hierdie artikel is dus net my beskeie en leke poging om sin te maak van wat ek sien en wat ek nie verstaan nie… binne OntLaer se beperking van 3000 woorde.
Kuns en vakmanskap
Vir eeue lank het kuns en vakmanskap hand aan hand geloop. 'n Skilder moes nie net verf kan meng en teken nie, maar komposisie verstaan, mitologie ken, anatomie bemeester. Hulle moes stories vertel, en hulle moes dit goed vertel.
Dis hoekom ons steeds in verwondering voor 'n Caravaggio of 'n Vermeer staan. Dis kuns wat nie net goed geskep is nie, maar wat die kyker se aandag beloon met fyn detail, emosionele diepte en 'n gevoel dat jy iets sien wat groter is as net die verf op doek. Dit is mooi, ja, maar ook betekenisvol en is dus nie oppervlakkig en ook nie skuldig aan pseudo-intellektuele warboel nie.
In teenstelling het kontemporêre kuns 'n radikale draai geneem. In plaas van tegniek, word die boodskap wat die kunstenaar deur die kuns stuur belangriker. In plaas van skoonheid poog kontemporêre kuns om te spog met dissonansie. Maar dis nie dat daar geen vakmanskap meer is nie. Party van die beste eietydse kunstenaars gebruik meesterlike tegniek. Maar die kunswêreld het begin glo dat vakmanskap opsioneel is en dat wat hoofsaaklik tel is die konsep of kritiek wat die kuns (eintlik maar die kunstenaar) “lewer”.
As daar een ding is wat kontemporêre kuns kenmerk, dan is dit dat dit hoofsaaklik fokus op kritiek en konteks. Met meer tradisionele style van kuns kan jy 'n skildery sien en onmiddellik weet na wat jy kyk en dat dit met doel en vaardigheid geskep is. Vandag sien jy 'n hoop klere op die vloer, en jy moet eers die plakkaat lees om te hoor dis “maatskaplike kommentaar op arbeid en uitputting in laat-kapitalistiese samelewings.”
Met kontemporêre kuns het die kritiek belangriker geword as die kuns self. Sonder die kurator se begeleidende teks is dit byna onmoontlik om met baie van hierdie werke sinvol te skakel. Dis kuns wat nie self kan praat nie en elke kunswerk het dus 'n tolk nodig. Daar is vir my iets kunsmatig aan die hele ding.
Die woord kunsmatig bestaan uit twee dele: kuns en matig. Die woordeboek omskrywing daarvan lui eenvoudig “nie natuurlik nie” of “deur mense gemaak”, maar daar skuil meer in die etimologie. Die eerste deel, kuns, verwys na vaardigheid, vernuf, of iets wat met bedoeling geskep is, dus 'n menslike ingryping in die natuurlike orde. Die tweede deel, matig, kom van dieselfde stam as matigheid, wat iets aandui wat beperk of afgewater is. In ouer Nederlands kon matig ook beteken “gemaak na die maat van” of “volgens 'n model”. Saam dui kunsmatig dus op iets wat deur die menslike hand óf ontwerp óf tot stand gebring is, maar iets wat nie outentiek is nie, en dus iets wat sy natuurlikheid verloor het. Iets wat dus kunsmatig is, is gemaak om so te lyk, maar is nie daardie Ding nie.
Die avant-garde as dogma
Die probleem is nie net dat kontemporêre kuns vreemd of lelik is nie. Dis dat nuutheid as 'n deug op sigself beskou word. Om die grens te skuif is opsigself goed en om verstommend te wees is beter. Maar om verstaanbaar te wees? Dis byna verdag.
Stel jou voor dat iemand drie willekeurige note op 'n klavier druk en dit dan 'n “konseptuele komposisie” noem. Hy neem dit op, druk dit op viniel en verkoop dit vir R75 miljoen. Die meeste mense sou dit as belaglik beskou, as 'n grap of selfs as bedrog. Maar in die wêreld van kontemporêre kuns is dit nie net moontlik nie, dis die norm. Die skynbare eenvoud van die skep van die “kuns” word herverpak as diepgaande simboliek, en enige skeptiese reaksie word as bekrompenheid afgemaak. Dis 'n goeie voorbeeld van hoekom baie mense kontemporêre kuns verwerp. Dit voel nie net betekenisloos nie, dit voel asof jy verplig word om saam te speel, al weet jy instinktief iemand is besig om aan jou 'n perdedrol as 'n vy te smous.
Dit herinner aan die verhaal van die keiser wat sonder klere is. Die keiser glo hy is geklee want sy hof fluister saam, en die publiek swyg uit vrees om dom te lyk. Dis presies wat in die kontemporêre kunswêreld gebeur. Galerye, kurators en kenners sien waarde waar daar niks is nie, en die publiek leer om nie vrae te vra nie want as jy vra, lyk jy nie ingelig nie. Die een wat durf sê dat die keiser kaal is, is ongehoorsaam volgens die vae standaarde van 'n kultuur wat eerlikheid as ongesofistikeerdheid beskou. In hierdie sin is kontemporêre kuns volgens my nie net 'n estetiese debat nie, maar ook 'n toets van integriteit.
Die onderskeid tussen modernisme en kontemporêre kuns (en hiermee bedoel ek hoofsaaklik bewegings soos konseptuele kuns, Dada, Fluxus, en Post-Internet “kuns”) is egter belangrik. Daar is tog 'n groot verskil. Modernisme het 'n bepaalde geskiedenis en visie gehad en dit het gebreek met die kunstradisies van die tyd, maar ongelukkig ook met erns en tegniek. Maar kontemporêre kuns is postmodernisties. Dis 'n styl wat homself hermeties afsluit en vereis dat jy eers moet inskakel, oortuig word, “opgevoed” word en dan eers mag jy oordeel en jou opinie lewer.
In hierdie konteks is die krisis van kontemporêre kuns volgens my nie uniek nie. Dis net een tak van 'n breër stroom van kulturele verval. Want die afskei van objektiewe waarhede, die verdagmaking van skoonheid en die sinisme teenoor universele norme is alles kenmerke van 'n postmoderne wêreld wat ook in universiteite, media en openbare gesprekke manifesteer. Die kunswêreld het net vroeër daar uitgekom.
Dit gesê, dis waar dat baie kunstenaars eers lank ná hul dood waardeer word. Van Gogh het byna niks in sy leeftyd verkoop of verdien nie nie. Modigliani word insgelyks eers na sy dood waardeer. Talle Impressioniste moes aanvanklik buite die gevestigde Salons uitstal omdat hulle werk as simplisties en eenvoudig geag was. Avant-garde kuns is dus nie per definisie sleg of oppervlakkig nie. Nuwe style het nog altyd gebots met ou smaak. Dis juis in die breek met die gevestigde vorme dat 'n kultuur nuwe uitdrukkings vind.
Maar die verskil lê nie in hoe vreemd of nuut iets is nie. Die vraag is: sê die kunswerk of styl iets oor waarheid en iets oor skoonheid? Die meeste van wat vandag as kontemporêre kuns geld, 'n piesang met duct tape of 'n tenk urine, sal nie die toets van tyd deurstaan nie. En dis reg so. Want soos met vroeëre eras, sal net dit wat eg is, oorbly.
'n Breër kultuurkrisis?

So wat is kuns? Kontemporêre kunstenaars sê alles is kuns, solank die kunstenaar so sê. 'n Hoop klere, 'n rots, 'n houer vol urine. Maar as alles kuns is, dan is niks kuns nie.
Kontemporêre kuns is dus volgens my eenvoudig 'n vorm van elitisme. 'n Spel met reëls wat net die binne die groep ken en aan mag deelneem. Jy mag nie vra of die keiser kaal is nie, want dan wys jy jou onkunde. So het kuns, wat eens 'n manier was om die werklikheid te verken en uit te beeld, bloot 'n selfverwysende speletjie geword. 'n Sirkel van idees sonder enige anker in skoonheid of waarheid. Wanneer alles kuns is, is niks meer verhewe of betekenisvol nie, en daar is geen standaard teenoor wat ons dit kan meet nie. As enige iets 'n kunswerk kan wees, dan beteken dit op die ou end niks, behalwe wat die kunstenaar en klein groepie elites besluit dit moet beteken.
En dit geld nie net vir kuns nie. Dis hoe idees oor waarheid, gesag, moraliteit en selfs geslag deesdae hanteer word, met dieselfde relativistiese gemak, dieselfde “alles is geldig” epistemiese ingesteldheid en dieselfde elitisme wat kritiek afmaak as agterlike onkunde. Die gevolg is nie bevryding nie, dis net verwarring, al word dit voorgehou as bevryding. Dit word voorgehou as pluralisme maar inderwaarheid dwing dit eenvormigheid af.
In hierdie opsig sluit kontemporêre kuns aan by die breër wêreldbeskouing van postmodernisme. Postmodernisme bevraagteken alles soos waarheid, gesag, betekenis, selfs die idee dat iets universeel of objektief kan wees. Maar daardie radikale agterdog word op die ou end self-vernietigend. As geen standaarde geld nie, hoe beoordeel jy enigiets? As alle betekenis bloot konstruksie is, hoekom sou een saak meer waarde hê as 'n ander? Wat begin het as 'n gesonde skeptisisme, eindig as 'n logiese doolhof. Postmodernisme se eie interne logika lei, as jy dit konsekwent toepas, tot kulturele disintegrasie, atomisering en die verval van instellings wat voorheen sin en samehang gebied het.
Mooi maak saak
Roger Scruton het eens op 'n 2009 BBC dokumentêre film gesê, “[b]eauty matters. It is not just a subjective thing, but a universal need of human beings.”
Hy het verder aangevoer dat ons moet onderskei tussen wat aantreklik is, en wat werklike skoonheid is. Die eersgenoemde bevredig, die laasgenoemde verhef. Kuns moet dus nie net mooi wees nie, maar betekenisvol en waar.
Scruton het nie net besin oor wat mooi beteken nie. Hy argumenteer dat skoonheid (en dus kuns) moet iets waar sê oor ons ervaring en ons wêreld. Dis nie net estetiese genot nie maar dis 'n manier van verstaan. Soos 'n melodie 'n liriek ondersteun, moet skoonheid die diepte van intellek en eerlikheid steun. Dus as ons praat oor kuns wat mooi moet wees is dit nie verheerliking van oppervlakkige skoonheid nie, maar 'n eis dat kuns gevul moet wees met waarheid en dat dit nie oneerlik moet wees nie.
Kuns hoef nie terug te keer na die verlede nie en nooit ontwikkel nie, maar kuns moet nie skaam wees vir skoonheid of waarheid nie. Ware kuns breek nie af nie, dit bou. Want sonder daardie strewe na waarheid en skoonheid verloor kuns volgens my sy sin.
Kuns hoef nie te preek of te paai nie. Dit moet net opreg wees. Kuns op sy beste moet iets wees en nie bloot iets sê nie.
Nog artikels deur Daniël op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in:
Hoor-hoor. So bly jy het die piesang-voorbeeld gebruik