“The simplification of anything is always sensational,” het die filosoof G.K. Chesterton geskryf.
Dis 'n sin wat in my kop bly vassteek. Daar is 'n handjievol aanhalings en Bybelverse wat ek onthou, soos 'n klippie wat in my skoen vassteek, en hierdie een van Chesteron is die nuutste klippie in my vellies. Want hoe ouer ek raak, hoe meer verstaan ek wat Chesterton bedoel het.
Die wêreld is ingewikkeld, mense is ingewikkeld. Regerings, beleid, die geskiedenis is alles is vol lae, teenstrydighede en gevolge wat jy eers van agterkom as jy lank genoeg dit oorweeg. Meer dikwels eers wanneer baie tyd verloop het.
Maar dis ook waar dat ons, as mense, hou van eenvoud. Van 'n duidelike goed en kwaad. Van 'n storie wat 'n begin, middel en einde het. Dit gee ons iets om aan vas te hou. Daniel Kahneman noem dit ons brein se voorkeur vir vinnige, eenvoudige antwoorde wat nog 'n oorblyfsel van ons oer-oorlewingsinstinkte is.
Die lewe is nie so klinkklaer nie
Toe ek nog as prokureur in die privaatpraktyk gewerk het, het ek gereeld teen die regering gelitigeer. Dit was my spesialiteit. En ek dink ek het dit redelik bekwaam gedoen. My vryemark, libertariese oortuigings het gesorg dat ek rotsvas glo in individuele vryheid, aan die beskerming van regte en aan die idee dat die staat altyd op die rand van oorskryding van hul bevoegdhede is. Dit was vir my dikwels eenvoudig. Aan die eenkant is daar die individu of gemeenskap en aan die ander is daar staatsmag, en ek was daar om seker te maak dat staatsmag binne grense uitgeoefen word, selfs te midde van die onbevoegdheid van talle van die plaaslike regerings en staatsentiteite teen wie ek namens kliënte opgetree het.
Maar na sewe jaar as openbare belange prokureur werk ek nou, ironies genoeg, vir 'n regering. Meer spesifiek, in die Burgemeester se kantoor van die Stad Kaapstad. En skielik is die wêreld nie meer so netjies in boksies soos dit altyd vir my was nie.
Wat ek begin agterkom het (en dit het nie met een slag gebeur nie, maar geleidelik) is dat baie van die dinge wat ek vroeër as eenvoudig beskou het, glad nie eenvoudig is nie.
Besluitneming deur regerings is aansienlik meer kompleks as wat 'n mens besef wanneer jy net na foute soek as prokureur wat 'n saak teen die regering bou.
Nou hier moet ek ook uitwys dat dit natuurlik in die besonder anders is by verskillende regerings of staatsentiteite. Om die kompleksiteit van regeerkunde te bespreek wanneer dit die Stad Kaapstad betref, is geheel en al anders as om dit te vergelyk met Ditsobotla in Noordwes of Makana in die Oos-Kaap. Ek het gegaan van litigasie teen van die land se mees disfunksionele munisipaliteite en staatsentiteite na die enigste metropool wat jaarliks 'n skoon oudit uitslag kry. 'n Mens moet dus appels met appels vergelyk.
Gedurende my tyd by die Stad Kaapstad tot dusver, ervaar ek wel dat die oplossings wat ek vir talle van hierdie disfunksionele munisipaliteite in gedagte gehad het, nie sommer net so uit Hayek, Friedman of Sowell se boeke toegepas kan word nie. Die beginsels bly vir my belangrik en ek het nie my idees verruil vir 'n rooi baadjie (of beret) nie, maar ek sien nou dat goeie idees alleen nie genoeg is nie. Jy kan nie net sê “privatisering” of “beperkte regering” en dan verwag dat dinge sal werk soos dit op papier belowe word nie. Want die praktyk is morsig. Jy werk met mense, menslike strukture en geskiedenis wat ingewikkeld is. Jy werk met dorpe en gemeenskappe wat uitmekaar val, en begrotings wat nie alles kan befonds nie. Jy’t 'n teorie, maar voor jy dit kan gebruik, moet daar eers 'n waterpyp van 1973 vervang word en 'n hofsaak hanteer word oor grond wat dertig jaar gelede verkeerd oorgedra is, en nou boonop deur 100 mense sedert die pandemie beset word.
En dis waar die ontnugtering vir my gekom het. Ek het besef dat die waarheid nie net aan een kant lê nie, en dit ook nie eers in die middel is soos baie mense wat “neutraal” of gebalanseerd wil voorkom aanvoer nie. Die waarheid is dikwels versprei oor verskeie punte, afhangende van wie jy vra en wanneer. Maar dit gesê, glo ek steeds dat daar wel altyd 'n waarheid en 'n beste opsie is. Die kuns is om so naby as moontlik daaraan te kom met die feite voor jou.
Van buite beskou is dit maklik om na die regering te kyk en alles toe te skryf aan onbevoegdheid of 'n traak-my-nie-agtige houding. Maar inderwaarheid is om te regeer soms eenvoudig net moeilik, en veral stadig. In 'n stad soos Kaapstad wat werklik sy heel beste doen om so bekwaam as moontlik binne oorhoofse nasionale disfunksie te regeer, is dit dikwels die geval dat elke tree vorentoe vier kompromieë noodsaak.
Maar dis nie 'n verskoning nie. Ek sal nooit sê enige iets is geregverdig bloot omdat dit kompleks is nie. Suid-Afrika het ernstige probleme en meeste daarvan is weens swak regering. Mense verwag tereg resultate. Ek verstaan hoekom, want ek doen dit ook en dit is besonders menslik. Dis ook waarom Chesterton reg is: eenvoudige stories is lekker en maklik om te glo, want dit gee vir ons 'n sin van sekerheid. Maar die feit bly staan, dinge is nooit so eenvoudig nie.
Ek gebruik altyd die voorbeeld oor hoe 'n mens geskiedkundige figure onthou om iets van hierdie kompleksiteit van die mens vas te vang. Was Winston Churchill 'n held of 'n onderdrukker? Vir die Weste, veral in die konteks van die Tweede Wêreldoorlog, was hy onteenseglik 'n held. Hy het gestaan toe ander geval het. Maar vir Indiërs en vir ander koloniale onderdane was hy 'n simbool van onderdrukking. Albei is waar. Die een waarheid kanselleer nie die ander uit nie.
Veelvoudige waarhede
Dis miskien die kern van wat ek tans leer, dat waarhede nie altyd mekaar uitskakel nie, hulle bestaan neffens mekaar. Dis 'n ongemaklike manier van dink. Dit laat jou minder seker voel, en dit is dalk hoekom ons dit so gereeld vermy.
Ek het as prokureur geglo dat die regering 'n dom en gevaarlike dier is. En dikwels is dit waar. Maar nou weet ek ook dis nie net dom nie, dis ook oorweldig. En die mense binne dit probeer regtig soms hul bes in 'n stelsel wat nie gebou is om maklik te werk nie.
Thomas Sowell het eenmaal gesê: “There are no solutions. There are only trade-offs.” En dis 'n ongemaklike waarheid vir enige iemand wat van idees hou. Ek het dit eers as 'n soort akademiese wysheid beskou, veral iets wat jy sê as jy teen 'n regering se besluit is. Maar inderwaarheid is die advies van Sowell prakties. Elke besluit is 'n keuse tussen twee dinge waarvan jy eintlik altwee wil hê. Elke plan het 'n slagoffer en elke slagoffer word later iemand wat teen jou gaan baklei.
So waar laat dit my?
Ek dink, ironies genoeg, dat dit my weer nader bring aan die ou instink wat ek gehad het dat hoe kleiner die regering is, hoe nader aan die mense, hoe minder skadelik is sy foute. Ek sê nie kleiner is altyd beter nie. Maar wat ek wel sê is dat jy nie kompleksiteit kan uitskakel nie. Jy kan dit net beter bestuur. En hoe nader jy aan die probleem is, hoe meer sien jy die nuanses, die persoonlike stories en die menslike oorwegings.
Die idee van subsiariteit behels dat die vlak van regering wat die naaste aan die saak is, die een is wat moet besluite neem, want hulle ken die konteks. En hulle het nie die luukse om groot abstrakte idees te koester sonder om dit te toets aan die werklikheid nie.
Want elke besluit het 'n agtergrond en soms is die beste opsie nie 'n oplossing nie, maar 'n minder slegte kompromie. Dis nie hoe ons graag stories vertel nie. Dis wel hoe dinge regtig is.
Nog artikels deur Daniël op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: