Die komende Aanspreeklikheidskrisis?
Oor die verstaanbare wantroue in nóg 'n kommissie van ondersoek.
Toe dit vir die eerste keer bekend gemaak is dat 'n kommissie aangestel gaan word om die korrupsiebeskuldigings teen die Minister van Polisie, Senzo Mchunu, te ondersoek, was die nasionale reaksie myns insiens gedemp; in goeie anglisisties sou 'n mens dit dalk as onderweldigend kon beskryf.
In 'n land waar daar al dekades lank vir geregtigheid gepleit word, en waar die oorlog teen korrupsie dikwels eerder 'n sprokiesverhaal as werklikheid is, behoort so 'n aankondiging amper gevier te word - so waarom dan hierdie stilte? Ek vermoed, en heelwat kommentaar nadese bevestig dit, dat Suid-Afrikaners moedeloos geraak het oor die “kommissie van ondersoek-spel”. 'n Skandaal breek los, 'n kommissie word aangekondig, koerantopskrifte vlam op, getuienis word uitgesaai, verslae word opgestel, en dan gebeur daar niks. Ek bevraagteken nie die benadering nie, die probleem is eerder dat die berge bruikbare bewysstukke en getuienis voorheen aan die Nasionale Vervolgingsgesag gelewer is, maar dat die tekkie daardie teer nog nooit regtig lekker getref het nie.
Aanvanklik het hierdie ondersoeke vertroue gebring of gekrenkte vertroue herstel, maar dit begin al hoe meer voel soos een of ander openbare teater, 'n skynhof vir grootmense. Die kern van ons krisis is nie net die korrupsie self nie, maar die ineenstorting van openbare vertroue daarin dat enigiemand op die ou end aan die pen sal ry. My noodwendige gevolgtrekking moet wees dat ons regeer word deur rituele van aanspreeklikheid in stede van aanspreeklikheid self.
Geregtigheid word aan ons voorgehou, maar geregtigheid oorwin (tans) nie.
Die Teater van Aanspreeklikheid
Die post-apartheid tydperk (so blyk dit uit my leeswerk daaroor) het begin met 'n edele, wydverspreide oortuiging van die krag opgesluit in deursigtige aanspreeklikheid. Die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) was meer as net 'n oorwinning vir geregtigheid, dit was 'n morele baken wat die wêreld geïnspireer het. Die kommissies wat daarop gevolg het, het egter hoe langer hoe meer begin lyk na lang aanloopbane reguit op pad na Nêrensdorp. Die Seriti-kommissie, Marikana-ondersoek, Mpati- en Zondo-kommissies het die een na die ander as skouspelagtige vertonings tot 'n einde gekom. Telkens met teleurstellende uitkomste, indien enige. Veral die mees onlangse grote, die Zondo-kommissie, laat 'n onaangename nasmaak. Die bundels en volumes wat daardeur geproduseer is lê en versamel stof, terwyl die aangeklaagdes hul op verkiesingslyste en in Kabinetsposisies bevind.
Dit kom voor asof ons regsstelsel vaardig geraak het in die taal van “prosedurele reg” sonder om ooit by sy bestemming uit te kom. Die voorspelbare gevolg is 'n publiek wat toenemend vertroue verloor in die regerende partye, of in ekstreme gevalle, in die idee van regmatige demokratiese prosesse. As geregtigheid altyd prosedureel is, maar nooit werklik op iets in die praktyk uitloop nie, skakel mense eenvoudig af. Dit is geen verrassing nie dat slegs 22% van Suid-Afrikaners die polisie vertrou -waarom dan 'n misdaad aanmeld as jy geen optrede verwag nie?
So onaangenaam as wat sukkelende instellings is, gaan die probleem vir my dieper, en dit is die verdieping wat my bekommer. Die groter uitdaging is dat die burgery uiteindelik vertroue sal verloor in 'n stelsel wat daarop gemik is om legitimiteit na te boots in plaas daarvan om dit te verwesenlik. Met nabootsing bedoel ek wat ek skryf, so onaangenaam as wat dit ook mag voel. Speel-speel geregtigheid, waar daar in werklikheid lankal reeds besluit is dat die oortreders baie lig daarvan af sal kom sal op 'n stadium nie meer bevredigend wees nie. Ek dink daardie stadium het aangebreek.
Kommissies, so kom dit vir my voor, het die staat se manier geword om openbare woede te absorbeer sonder om dit in optrede om te skakel. As student het iemand my eenmaal die advies gegee om 'n staking op kampus toe te laat omdat mense soms nodig het om stoom af te blaas. Is kommissies dalk maar net die Luthuli-huis se manier om ons te laat stoom afblaas? Ek dink so. Dit is katarsis sonder verandering. Soos 'n Dickens-agtige hof waar die argumente aanhou maar die armes buite sterf, bied ons staat proses sonder einde, geregtigheid met 'n lang tong en vlytige lippe, maar sonder skerp tande - of sommer sonder enige tande.
Opvoerige geregtigheid
Nou ja, hierdie verskynsel is natuurlik nie uniek nie. Die geskiedenis bied legio ontnugterende voorbeelde van samelewings waar regsprosesse bly voortbestaan het in vorm, maar nie in inhoud nie.
In post-diktatoriale Chile het waarheidskommissies dikwels die gruwels van die Pinochet-regime sonder enige werklike nagevolge blootgelê. Die regsraamwerk was daar; die politieke wil nie. Tydens generaal Pervez Musharraf se militêre bewind in Pakistan is die regbank openlik uitgedaag en ingeperk toe dit die uitvoerende gesag probeer teenstaan het. In 2007 is die Hoofregter, Iftikhar Chaudhry, summier geskors toe hy geweier het om die legitimiteit van Musharraf se herverkiesing te bekragtig. Na 'n mislukte staatsgreep in 2016 het Turkye se regbank onder die regering van Recep Tayyip Erdoğan 'n dramatiese en ontstellende verskuiwing ondergaan. Duisende regters en aanklaers is summier afgedank of in hegtenis geneem op grond van vermeende simpatie met die religieuse Gülen-beweging. So ver soos Pakistan en Turkye is ons nie, maar wat is die logiese volgende stap wanneer die uitvoerende gesag se invloed op die regssprekende gesag verlammend is, wanneer dit hom ook al pas?
Die punt bly myns insiens onaangeraak. Wanneer instellings geregtigheid nadoen sonder om dit werklik enduit te lewer, verswak hulle nie net nie, hulle doen afbreek aan die morele weefsel van 'n samelewing. In die mees eksreme omstandighede hou burgers op om te stem, hulle hou op om misdaad te rapporteer, en hou op vertrou in die idee van 'n demokratiese oplossing.
Geregtigheid moet ook gevoel word
'n Geregtigheidsisteem kan nie op simboliek alleen oorleef nie. Dit moet werklike gevolge hê. Suid-Afrika het nie nóg 'n kommissie nodig nie. Ons het daadwerklike optrede nodig op sterkte van die bevindings wat reeds bestaan. Ons het vervolgings nodig, nie nog ondersoekpanele nie; vonnisse, nie kommentaar nie.
Ek dink aan Esopus se fabel oor die verliefde leeu. Nadat die leeu op die boer se dogter verlief raak, vereis die boer dat die leeu sy tande en kloue verwyder as voorwaarde vir sy dogter se hand. Sodra die tande en kloue nie meer daar is nie, slaan die boer die leeu eenvoudig met sy knuppel dood.
Nog 'n kommissie sonder tande gaan die mense in 'n stadium laat wonder of die leeu enigsins tande het - want wie is nou regtig bang vir 'n leeu sonder tande?
Nog artijels deur Paul:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.