Ek sit meestal saans in my stoel.
Dis 'n La-Z-Boy. 'n Egte een. Hy was op special op OneDayOnly.
Ek het hom gekoop toe ek afgetree het. As 'n mens veertig jaar lank gewerk het, kan jy darem 'n ordentlike stoel koop.
Ek mis nie regtig my werk as rekenmeester nie.
Al was ek nie juis bekend nie, was ek 'n goeie rekenmeester, reken ek.
Ek het my eie praktyk gehad. Ons het goed gedoen. Ek het my kliënte se boeke gehou, hulle belasting betyds ingedien en nou en dan verduidelik hoekom 'n nuwe regulasie nie heeltemal dieselfde beteken as wat hulle op Facebook gelees het nie.
Mens leer geduld met mense as jy lank genoeg 'n rekenmeester is.
En gelukkig kon ek my kinders goeie skole toe stuur. Hier in Pretoria-Oos is mens darem geseënd met goeie skole.
My dogter wou wel dokter word. Maar sy het nie hier plek gekry nie. Daar was glo ander oorwegings. Sy is toe oorsee om medies te studeer. Dit het my nogal geld gekos. Maar vandag is sy 'n uitstekende dokter.
My kinders woon nou almal oorsee. Hulle kom wel gereeld kuier.
Ek het dus nie veel om oor te kla nie.
Maar daar is natuurlik dinge. Daar is altyd dinge.
Die ander aand was daar weer 'n klomp goed gesê oor Donald Trump. Hy’t iets gesê of aangekondig. Hy vat darem nie nonsens van die woke mense nie, maar ek dink nie hy gaan kerk toe nie.
Ek kan nie meer presies onthou waaroor Trump gepraat het nie. Maar dit was iets oor Afrikaners en daai vlugtelingprogram van hom.
Teen nege-uur die volgende oggend sien en daar is 'n verklaring deur 'n groep wat glo met Trump in kontak is.
Ek het die verklaring op WhatsApp gekry.
Ek is in drie groepe waarin 'n mens sulke goed kry.
Een is my ou skoolvriende.
Een is die manne saam met wie ek voor Covid Woensdagmiddae gholf gespeel het.
Die derde een weet ek nie meer nie. Ek dink dit was oorspronklik vir 'n braai.
Onder die verklaring het Koos geskryf:
UITEINDELIK.
Hy het drie Suid-Afrikaanse vlaggies en twee Amerikaanse vlaggies bygesit.
Ek het 'n duimpie gegee.
Die verklaring het gesê dat die wêreld uiteindelik begin raaksien wat met Afrikaners gebeur. Ek het gedink dit is seker goed dat iemand raaksien.
Teen middagete was iemand verontwaardig dat die burgerregte groep namens die Afrikaner praat. Blykbaar mag hulle nie.
Die joernalis van Simonstad of iewers het geskryf dat Afrikaners nou weer in die laer intrek. Hy het gesê ons moet ophou om onsself as slagoffers te sien. Hy het ook gesê Donald Trump verstaan niks van Suid-Afrika nie.
Die skakel was na 'n meningstuk agter 'n betaalmuur. Maar gelukkig stuur ou Koos altyd die goed in PDF vir ons aan.
Die opskrif van die artikel het 'n vraagteken gehad. Ek het hom ook gelees. Saam met daai verklaring. Ek probeer altyd albei kante lees. Mens moet tog gebalanseerd wees in die lewe.
Sondag sien ek toe iemand het op die meningstuk geantwoord. Ek lees nou maar Rapport op my boksrekenaar elke Sondag. Ek mis nie juis die gedrukte koerant nie maar wel die papier wat ek vir my braairooster kon gebruik.
Anyway, die persoon het gesê die meningstuk van Simonstad bewys presies wat fout is met Afrikaners soos die skrywer.
Hy het plaasmoorde, regstellende aksie en BELA genoem.
Ek was nie heeltemal seker wat BELA met Donald Trump te doen gehad het nie, maar ek neem aan alles het met mekaar te doen.
Daar was baie statistiek beskikbaar. En blykbaar ook gesprekke in Suid-Tirool oor die Afrikaners en die kwessie.
Die volgende Sondag het iemand anders geskryf dat albei kante die punt mis.
Hy sê hy's 'n gematigde. Ek weet dit omdat hy dit gereeld sê. Dink staan in sy bio onder elkeen van sy artikels. Die man sê hy is bekommerd oor polarisasie. Hy het geskryf dat die waarheid nie links of regs lê nie. Dit lê iewers tussenin. Ek was bly daar was iemand wat geweet het waar presies die waarheid lê.
Hy het gesê ons het meer gesprek nodig. Gelukkig is daar baie gesprek hier in Rapport die afgelope drie weke oor wat Trump gesê het.
Ek wonder hoeveel mense lees elke week hierdie heen en weer geskrywery? Daar’s darem altyd lekker baie kommentare. Satoshi Nakamoto (ek dink dis dalk 'n skuilnaam?) en Woestynroos is altyd eerste met die kommentare. Is daar ooit nog geld te make met die nuus?
Die volgende Maandag om agtuur die aand het ek in my stoel gesit en op TV gekyk hoe vier mense oor die kwessie praat.
Een het gesê Afrikaners word geteiken.
Die ander een het gesê Afrikaners dink hulle word geteiken omdat hulle nog nie met hulle verlede vrede gemaak het nie.
Die derde een het gesê albei stellings is te simplisties.
Die vierde een was die aanbieder. Lyk na 'n heel statige joernalis.
“Maar is daar nie waarheid in wat albei van julle sê nie?” het sy gevra.
Daar was, dink ek. Net nie seker presies hoe nie.
Almal het wel saamgestem dat dit 'n belangrike gesprek is. Snaaks, hulle is altyd so vriendelik daar in persoon op die TV maar vreeslik naar met mekaar op sosiale media. Ek bly maar weg van sosiale media af.
Ek het halfpad deur die tweede advertensiebreek aan die slaap geraak.
Toe ek wakker word, het iemand gesê dat ons as Suid-Afrikaners moet leer om na mekaar te luister.
Ek het gevoel ek het dit al gehoor.
Ek kon net nie onthou wanneer nie.
Die volgende oggend sien ek een of ander proffie van Kovsies het 'n lang Facebook-plasing geskryf. Hy’s sommer op klomp Facebook groepe gedeel, insluitend #EkIsVanDieMoot. Ek is nog steeds op daai groep al bly ons lankal nie meer in Soutpansbergweg nie.
Hy het gesê die reaksie op die TV program bewys presies hoekom sy soort gematigdheid nodig is.
Sy vriende het saamgestem.
Ek het nie kommentaar gelewer nie. Ek hou mos nie van sosiale media nie.
Teen Woensdag het nog twee organisasies verklarings uitgereik.
Teen Donderdag was daar 'n podcast. Een van daai joernaliste wat nou 'n oggend program op YouTube doen. Ek sien hy’t lekker baie adverteerders.
Dit was een uur en sewe-en-veertig minute lank.
Die titel was: Die waarheid oor Afrikaners wat niemand wil hoor nie.
Maar lyk my so honderd duisend mense wou dit hoor.
Vrydag het 'n man wat ek nie ken nie 'n lang plasing geskryf oor hoe teleurgesteld hy in Afrikaners is.
Hy woon in Kaapstad.
Sy profielfoto is swart-en-wit met so 'n Oekraïne vlaggie by.
Hy het gesê Afrikaners moet ophou praat en begin doen. Die plasing was baie lank. Ek kon nie als lees nie.
Later die week het RSG ook by die kwessie uitgekom. Ek luister RSG as ek Woensdae water aerobics toe ry.
Daar was drie gaste. Twee van hulle praat mooi Afrikaans, die ander een meng sy taal vreeslik. Maar darem was hulle divers. Ook weer so mooi links, regs en sentrum.
“Wat beteken dit om vandag Afrikaner te wees?” het die aanbieder gevra.
Ek het by 'n robot op Lynnwoodweg stilgehou en daaroor gedink. Ek is seker min of meer dieselfde Afrikaner as verlede week.
Toe toet die man agter my omdat die lig groen geword het.
'n Paar dae later sien ek het 'n Engelsman op Politicsweb verduidelik wat fout is met ons huidige bestel. Hy hou nou deesdae van die Afrikaner. Sê ons wys die Weste wat om te doen wanneer dit by enklawes kom.
Ek dink hy kom oorspronklik van Durban of iewers af.
Hy het oor groepsdenke geskryf. En een of ander Scruton ou aangehaal oor Westerse waardes.
Daar was ook iets oor politieke wrok en slagoffermentaliteit.
Ek het nie die hele stuk gelees nie. Maar die Pretoria Sakekamer se nuusbrief sê dis die week se moet lees.
Onder in die kommentaar het iemand die Durban man 'n globalis genoem.
Iemand anders het gesê die man wat hom 'n globalis noem bewys presies die Durbaniet se punt oor etniese nasionalisme.
Daar was nog so 15 kommentare maar ek kon nie almal lees nie.
Ek sien toe die groot media huis was intussen besig met 'n diepgaande ondersoek.
Daar was mooi foto’s.
Een man het in 'n khakihemp by 'n draadheining gestaan.
Die ander foto 'n jong Afrikaanse vrou met 'n neusring het in Melville koffie gedrink.
Daar was ook ’n akademikus. Maar toe blur die artikel. Ek moes inteken om die res te lees. Ek het dit toe gedoen. Ek wou darem weet wat van ons geword het.
Die akademikus het verduidelik dat Afrikaner-identiteit tans heronderhandel word.
Ek het gewonder wanneer ons laas klaar onderhandel het.
Die artikel het gesê die Afrikaner staan by 'n kruispad.
Die organisasie wat die oorspronklike verklaring uitgereik het, het intussen 'n konferensie gehou.
Die man wat teen die verklaring geskryf het, het ’n lesing oor populisme by Wits gegee.
Die gematigde man het ’n paneel oor brugbou gelei en saam met twintig ander organisasies aan die Amerikaanse ambassadeur geskryf.
Almal het foto’s op Facebook gesit.
Lyk darem asof dit met almal se veldtogte goed gegaan het.
Toe sê Trump weer iets.
Ek onthou nog dit was ’n vreemde ding om te sê. Iets oor satellietskottels.
Almal het vir weke probeer uitwerk of hy ernstig was.
Daarna was daar ’n nuwe kwessie.
Ek hou nogal daarvan dat daar altyd ’n nuwe kwessie is.
So drie maande later het iemand weer die vlugtelinge genoem.
Toe begin alles weer.
Die drie paneellede wat so hoflik met mekaar was al beskuldig hulle mekaar van die vreeslikste goed was terug op die Maandagaand program. Dit help seker as mens nie elke keer nuwe mense hoef te kry nie.
Iemand het gevra waarom niemand bereid is om ’n genuanseerde gesprek te voer nie.
Gelukkig was daar toe weer ’n genuanseerde gesprek.
Ek het weer in my stoel gesit.
Ek kon nie heeltemal uitwerk wie gewen het nie.
Die regse mense het gedink die regse mense het gewen.
Die linkse mense het gesê die regse mense het hulleself ontmasker.
Die gematigdes was ook tevrede.
Hulle het gesê die feit dat die ander twee kante steeds kwaad is, bewys dat gematigdheid nou belangriker as ooit is.
Ek het die televisie sagter gesit.
Buite was dit donker.
Die groen liggie van die elektriese heining het teen die muur geblink.
My kleindogter het vroeër die middag uit Brisbane gebel.
Haar Afrikaans is goed.
Beter as wat ek gedink het dit sou wees.
Hulle kom Desember weer kuier.
My seun het gevra of ek vir hom Aromat kan saamstuur wanneer iemand weer Australië toe vlieg.
Mens kry dit glo daar, maar dis nie dieselfde nie.
Ek verstaan nie heeltemal hoe Aromat nie dieselfde kan wees nie, maar ek het gesê dis reg.
Ek het reeds ’n groot bottel gekoop.
By Woodlands.
Ek het net gou ingegaan.
Toe ek terugkom, was die Prado se klein agterruit stukkend.
Hulle het die sak agter die sitplek gevat.
Daar was gelukkig niks besonders in nie.
Ek het die polisie gebel.
Hulle het vir my 'n CAS-nommer gegee.
Ek het skielik onthou ek moet nog daaroor opvolg.
Op die televisie het iemand gesê Afrikaners moet nou besluit of ons in vrees of in hoop wil leef.
Ek het die televisie afgesit.
Ek het my bril opgesit en my foon nader getrek.
Die CAS-nommer was seker iewers tussen die boodskappe. Die versekering vra vir dit.
Die Aromat het op die kombuistoonbank gestaan.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









