Daar is 'n interessante stukkie verkiesingsnuus wat maklik so tussen al die groter politieke geraas minder as 50 dae voor stemdag verlore kan raak. Van Suid-Afrika se 4 485 wyke is die DA die enigste party wat in elke enkele wyk 'n gesertifiseerde kandidaat het.
Die EFF mis net een wyk. Die ANC mis 65. MK het kandidate in 3 770 wyke en mis dus 715, so ongeveer een uit elke ses wyke het die party nie 'n kandidaat nie. Die VF Plus dek sowat driekwart van die land se wyke. Die Patriotic Alliance het 2 932 kandidate en mis 1 553, meer as een uit elke drie het hulle nie 'n wykskandidaat nie. ActionSA het 'n kandidaat in net meer as die helfte van alle wyke.
Natuurlik beteken hierdie deelname-dekking nie dat 'n party noodwendig meer stemme gaan kry nie. Maar dit sê iets oor organisatoriese reikwydte. Om duisende kandidate te werf, keur, administreer en betyds deur die OVK se proses te kry, is 'n enorme logistieke onderneming. Die OVK het uiteindelik 136 790 kandidate vir 10 526 raadsetels gesertifiseer. Hier kyk ons natuurlik ook net na die wykslyste. Die ander helfte is natuurlik die proporsionele verteenwoordiging.
In 'n metros kry 'n kieser twee stembriewe: een vir 'n wyksverteenwoordiger en een vir proporsionele verteenwoordiging, oftewel PR. Die persoon wat die meeste stemme in 'n wyk kry, word direk verkies. Die PR-komponent dien dan as die balanserende meganisme wat die munisipale raad se uiteindelike samestelling in die algemeen proporsioneel maak. Die Grondwet vereis dat die kiesstelsel in die geheel proporsioneel verteenwoordigend moet wees.
Kieshof staan vas
Teen hierdie agtergrond is die ANC se huidige uitdagings met sy PR-lyste nie bloot 'n administratiewe verleentheid vir Fikile Mbalula en Kie nie.
Die Kieshof het Woensdag die ANC se poging van die hand gewys om 181 uitgeslote kandidate in ses munisipaliteite te herstel. Die ANC sê hy gaan verdere regsremedies ondersoek. Mangaung is een van die geraakte munisipaliteite. Daar in die Rosestad is die ANC se wykskandidate steeds in die wedloop, maar sy PR-lys is tans nie aanvaar nie. Derhalwe kan die ANC in Mangaung en 'n handjievol ander munisipaliteite geen proporsionele verteenwoordiging kry nie, net daar waar die party wyke wen.
In die 2021 plaaslike regering verkiesings het die ANC 51 van die raad se 101 setels gewen. Bestaande uit 40 wyke en 11 PR-setels. Die DA het 26 gehad, die EFF 12 en die VF Plus vyf.
Indien die ANC hierdie keer sonder 'n geldige PR-lys moet klaarkom, kan hy nie verlore wyke later met PR-setels “opmaak” nie. Sy raadslede sal in wese deur wyksoorwinnings verkies moet word. Die ANC sal sonder PR-setels, al 51 Mangaung-wyke moet wen om op sy eie 'n gewone meerderheid van die 101-setelraad te hê. Hierdie stad wie se grasvlaktes Mark Twain in 1896 beskryf het as “as beautiful as Paradise,” kry dus heel moontlik 'n nuwe regering in November vanjaar.
Dit wys ook waarom meningspeilings vir plaaslike verkiesings versigtig gelees moet word. Gestel 'n peiling sê party A het 40% en party B 30%. Dit vertel nog nie vir jou presies hoe die raad gaan lyk nie. Waar daardie 40% sit, is belangrik. 'n Party kan 'n klomp wyke met 52% wen en elders swaar verloor. 'n Ander party se stemsteun is dalk verspreid tussen klomp wyke.
Met PR-verrekening, onafhanklikes, plaaslike partye en vanjaar se ontbrekende kandidaatslyste- en die vertaling van “steun” na “setels” word veel meer wiskundig en ingewikkeld. Maar een ding is duidelik. Soos ek verlede week geskryf het is Suid-Afrika reeds besig om 'n post-ANC-erabinne te gaan. Die ANC gaan nie na November verdwyn nie maar die ou politieke orde waar die ANC die spil is waarom byna alles draai is besig om te verbrokkel. Die DA se volledige kandidaatdekking, saam met onlangse deurbrake soos die Evaton-Wes-tussenverkiesing dui op bepaalde politieke momentum. En dit wys op die party se groter organisatoriese selfvertroue en ambisie.
Maar 'n mens moet om dieselfde rede na die EFF kyk. Om in 4 484 van 4 485 wyke 'n kandidaat te hê, is 'n buitengewoon wye organisatoriese voetspoor. Wat ook al met die party se steunvlak gebeur, dit is nie 'n klein streeksparty.
Kyk mens na die terugkerende SAKP. Die ander rooi party het kandidate in 4 397 wyke (98% van die land) en betree dus hierdie verkiesing met amper nasionale dekking. Dit is die SAKP se eerste algemene verkiesing sedert 1994 wat hy direk en onafhanklik onder sy eie naam aan deelneem, hoewel hy reeds in die 2017 Metsimaholo-tussenverkiesings onafhanklik deelgeneem het. Die party se besluit om in 2026 “wall-to-wall” mee te ding volg op meer as twee dekades se interne debat oor sy verhouding met die ANC.
Wat die SAKP se deelname in November gaan inhou het ons reeds vroeër vanjaar 'n klein voorsmakie in Emfuleni van gesien. Maki Tshabalala het in Mei Evaton-Wes vir die DA met net agt stemme gewen. Die SAKP het slegs 3% oor die hele wyk gekry, hoewel hy by een stemdistrik 10% gehaal het. Die SAKP het nie noodwendig die ANC die wyk gekos nie want mens weer nie vir wie daardie kiesers andersins sou stem nie. Maar wanneer die wenmarge agt stemme is, kan selfs 'n 3%-party 'n noemenswaardige invloed hê.
MK en die SAKP ding nou op plaaslike vlak onafhanklik mee om dele van 'n kieserskorps waaruit die ANC histories steun geput het. Terselfdertyd brei ander partye hul geografiese voetspoor uit.
Ons staan dus op die vooraand van 'n plaaslike verkiesing wat waarskynlik gaan lei tot 'n groot politieke herskikking. Een wat peilings vooraf bloot 'n prentjie kan skets oor totale steun, en nie hoe munisipale rade saamgestel gaan word nie.
Wyke, PR-lyste, plaaslike kandidate is alles belangrik. Maar wie op stemdag opdaag gaan uiteindelik bepaal wie ons land se munisipaliteite gaan regeer.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










