Brand Suid-Afrika? En dan wat?
Suid-Afrika moet nie sy grondwetlike belofte saam met transformatisme begrawe nie.
In die Weste ontvou daar toenemend 'n gesprek oor die einde van die liberale orde. Die “nuwe regses” (“new right”) praat van postliberalisme as 'n era van nasionale herstel. Hulle wil Westerse beskawing beskerm teen massa-immigrasie, progressiewe politiek en institusionele verval. Aan die linkerkant het sosialistiese en radikaal-linkse bewegings terselfdertyd weer momentum gekry, met dieselfde wantroue in die bestaande orde, maar in 'n ander ideologiese gewaad. Mense soos Zack Polanski in Brittanje en Zohran Mamdani in New York voer aan dat die ekonomiese en politieke bestel nie bloot beter bestuur of hier en daar hervorm kan word nie. Hulle argumenteer dat dit van die grond af herskep moet word.
In sy mees radikale vorm klink die nuwe refrein van links én regs dus al hoe meer dieselfde. Om alles af te brand want die aanname is dat dit wat daarna kom, moet sekerlik beter wees.
Ek is altyd huiwerig om Westerse kultuurkwessies regstreeks op Suid-Afrika van toepassing te maak. Ons politiek is reeds te vol ingevoerde idees wat sonder hul oorspronklike konteks, maar met al hul slagspreuke ongeskonde, hier aankom.
Dit gesê, die winde van die Weste waai oor Suid-Afrika of ons daarvan hou of nie. Debatte in die Weste raak ons hier op die suidpunt van Afrika. Ons sien dit selfs op OntLaer. Artikels oor Donald Trump, immigrasie in Europa en die jongste Amerikaanse kultuurstryd trek dikwels van die meeste virtuele voete selfs terwyl Suid-Afrika sy eie immigrasiekrisis, staatsverval en identiteitsvrae het. Dit mag bloot wees dat daardie gevegte algoritmies aantreklik selfs hier in Suid-Afrika is, en dus geniet dit buitensporige aandag. En Suid-Afrika is immers, ten spyte van sy ligging, steeds tot 'n mate 'n klein uithoek van die Weste op die donker kontinent. Dit is dus waarskynlik onvermydelik dat die debatte in die Weste ons hier ook sal raak.
Verskille met die Ou Wêreld
Die gedagte van omverwerping van die liberale gesagsorde is ook plaaslik relevant weens drie dekades van mislukking. Suid-Afrikaners is nie meer net teleurgesteld met die regering nie, maar toenemend met die hele gesagsorde wat sedert 1994 in die naam van transformasie opgebou is. Die populistiese oomblik elders is dus nie irrelevant nie. Maar dit is ook nie vanself hier toepaslik nie.
In Europa gaan die stryd oor oorspronklike etniese- en kultuuridentiteit en instellings te midde van migrasie, demografiese verandering en sekularisering. Dit is 'n beskawing wat vir dekades redelik gemaklik voortbestaan het, maar nou skielik onseker is oor hul eie reg om voort te bestaan.
In die Verenigde State gaan dit weer oor die naoorlogse orde waarin Amerika homself as die welwillende oorheerser van die vrye wêreld gehandhaaf het. Donald Trump stroop die VSA se hegemonie van sy beleefde woordeskat en vervang dit met 'n meer onbeskofte regstreekse diplomasie. Sy politiek is 'n meer onbeskaamde handhawing van Amerika as moondheid met minder sendingwerk vir 'n abstrakte wêreldorde en meer sigbare voordeel vir Amerika self.
Die nuwe regse populisme word nou na Suid-Afrika ingevoer asof ons bloot Amerika of Europa, net onder die Afrika-son is. Veral op sosiale media word daar bloedernstig oor “Westerse kultuur”, Christelike nasionalisme, die “diep staat” en MAGA gepraat, asof Suid-Afrika se groot krisisse in Washington of Brussel lê en nie in werkloosheid, misdaad, kaderontplooiing en staatsverval nie. Dit is net so bisar soos die manier waarop Amerikaanse raswoordeskat en ander progressiewe modekwessies die vorige twintig jaar plaaslik toegepas is, dikwels sonder veel verband met die probleme van die meeste gewone Suid-Afrikaners. Universiteite en ondernemings het die taal van Black Lives Matter, “safe spaces”, voornaamwoorde en Amerikaanse “white privilege” ingevoer, en 'n binêre Amerikaanse rassesjabloon oor Suid-Afrika se veel ingewikkelder geskiedenis probeer trek.
Maar ons was natuurlik nie net ontvangers van ideologiese uitvoerprodukte nie. Suid-Afrika het ook sy eie bydraes gelewer. Rhodes Must Fall het van Kaapstad na Oxford gereis. Dekolonialisme het selfs die natuurwetenskappe bereik. Byna 'n dekade gelede het ek oor die berugte UCT-video geskryf toe kortsigtige studente aangevoer het dat die wetenskap “gedekoloniseer” moet word en in sekere opsigte van voor af opgebou moes word. Dit was lank voordat kunsmatige intelligensie elke tweede LinkedIn-gebruiker in 'n meningsvormer omskep het en elke derde politikus in 'n filosoof verander het. Maar ek dwaal van die onderwerp af.
Die belangriker plaaslike vraag is wat presies wil Suid-Afrikaners afbreek?
Transformatisme is wat Werklik Misluk het
Vir sommige is die antwoord toenemend die grondwetlike bestel self. Die Grondwet, die 1994-skikking, nie-rassigheid, individuele regte en selfs die idee van 'n gedeelde Suid-Afrikaanse burgerskap word as naïewe oorblyfsels van 'n mislukte kompromie behandel.
Die bewys, so lui die argument, is oral. Staatsverval, korrupsie, raswetgewing, misdaad, vervalle infrastruktuur en 'n ekonomie wat te min mense 'n werklike kans bied is alles tekenend daarvan. En hierdie diagnose is nie heeltemal verkeerd nie. Maar die teiken is.
Wat die afgelope dertig jaar misluk het, is nie in die eerste plek die liberale teks van die Grondwet nie. Dit is transformatisme. Die staatsgedrewe ideologie wat die samelewing deur een geskiedkundige en rasgebaseerde verhaal wou verklaar en herskep.
In dié verhaal het die staat die primêre agent van morele herstel geword en ras die hoofmaatstaf van geregtigheid of eerder, onreg. Transformasie was 'n doel wat selde aan werklike uitkomste getoets is want die bedoeling was edel. Wie wil nie die onreg van die verlede aanspreek nie?
Maar dit sal 'n fout wees om die huis met sy slegte bewoners te verwar.
Die uitvoering sedert 1994 verdien harde oordeel. Die belofte van 1994 van gelyke burgerskap, menswaardigheid, beperkte staatsmag, veelparty-demokrasie en beskerming teen die staat bly egter beskermingswaardig. Dit is juis omdat dié belofte so blatant verraai is dat dit herwin moet word.
Roger Scruton het gewaarsku dat goeie dinge maklik vernietig, maar nie maklik geskep word nie. Die werk van vernietiging is vinnig, maklik en opwindend. Maar die werk van bou is stadig, moeisaam en vervelig.
Dit is te verstane dat die versoeking daar is om die hele grondwetlike badwater saam met die transformasiebaba uit te gooi. Dit is maklik om die grondwetlike bestel as 'n totale mislukking af te skryf. Dit is moeiliker om te onderskei tussen wat behoue moet bly, wat herstel moet word en wat weggegooi behoort te word.
Die geskiedenis wys dat die mense wat eis dat alles afgebreek moet word, is boonop selde die mense wat daarna in die puin moet bou. Hulle hoef nie 'n werkende staatsdiens te ontwerp, 'n beleggingsklimaat te herstel, ingewikkelde gemeenskappe te versoen of hul eie kant se ideologiese oordade te beperk nie.
Hulle hoef net te bewys dat die huidige orde boos is. Iemand anders moet dan later die moeilike vrae beantwoord en tussen die puin met die ingewikkelde bouwerk begin.
Ons moet dus waak teen die onnadenkende invoer van geldige, maar eiesoortige Westerse griewe oor hulle mislukkende gesagsordes. Suid-Afrikaners maak tereg beswaar teen 'n staat wat mense volgens ras klassifiseer, 'n sukkelende ekonomie en staatsverval. Maar net omdat sommige van ons probleme op bumpersticker-vlak met sommige van dié van Amerika of Europa oorvleuel, beteken dit nie dat hul diagnoses en oplossings net so op Suid-Afrika toegepas kan word nie. Ons geskiedenis, instellings en die gesagsorde wat hier onder druk verkeer, is nie dieselfde een waarteen die nuwe regses en linkses in New York, Washington, Londen of Brussel in opstand kom nie. Trouens, die uitdagings in die onderskeie Westerse lande verskil ook.
Ingevoerde Kultuuroorloë
Vir jare het die breër koalisie aan die regterkant die beginsel van identiteitspolitiek verwerp. Die argument was dat burgers as individue behandel behoort te word en nie as verteenwoordigers van hul ras, geslag of afkoms nie. Maar dit begin ongelukkig te verander. Die politiek van die Tucker Carlson- en Nick Fuentes-vleuel van die Amerikaanse regses spoel toenemend na Suid-Afrika oor. Ons sien 'n mengsel van populisme, beskawingsangs en groepsbewustheid waar identiteitspolitiek nie meer as sodanig verwerp word nie. Die beswaar is bloot dat die verkeerde groepe dit tot dusver gebruik het. Nou wil hulle dit vir hul “eie mense” aanwend.
Op 'n menslike vlak is dit verstaanbaar. My geslag word al dekades lank met die kultuuroorloë van die Verenigde State en elders gevoer. Politiek is dikwels voorgestel as hoofsaaklik 'n stryd tussen groepe om status, mag en geskiedkundige vergelding. Dit behoort dus niemand te verbaas wanneer wit mense, Afrikaners of ander minderhede hulself uiteindelik ook as 'n beleërde groep begin beskou nie. Veral nie in ons algoritmiese sosialemedia-era nie.
Die leë belofte van nie-rassigheid ('n veronderstelde hoeksteen van ons grondwetlike bestel in teks, maar selde in praktyk) mag nog een van die nuwe Suid-Afrika se grootste mislukkings wees. Die wrange ironie is dat 'n land waarvan rassigheid die historiese sonde was, dertig jaar later steeds nie daarin kon slaag om ras uit die sentrum van sy politiek te verwyder nie.
Maar slagofferpolitiek bly slagofferpolitiek, selfs wanneer die slagoffer verander. En daar is immers 'n belangrike onderskeid tussen 'n ware grief en 'n wyse politiek.
'n Jong wit man kan met reg beswaar maak teen beleid wat hom op grond van sy velkleur uitsluit. 'n Afrikaanse student kan tereg voel dat sy taal uit openbare instellings gedruk word. 'n Minderheidsgemeenskap kan goeie rede hê om te vrees dat 'n meerderheidsregering min erg aan sy belange het.
Maar uit die feit dat 'n onreg werklik is, volg dit nie dat elke reaksie daarop regverdig of verstandig is nie.
Die antwoord op rasgebaseerde transformatisme kan nie 'n ander rasgebaseerde politiek wees nie. Die antwoord op staatsmagsmisbruik kan nie 'n sterker staat in die hande van “ons mense” wees nie. Die antwoord op uitsluiting is nie wederkerige uitsluiting nie.
Liberalisme in sy progressiewe sin het ernstige gebreke. Dit kan vir mense ruimte gee, maar nie noodwendig betekenis nie. Dit kan jou reg beskerm om 'n gesin te vorm, 'n kerk te stig of 'n gemeenskap te bou, maar dit kan nie liefde, geloof of lojaliteit by ’n staatskantoor uitreik nie. Trouens, die liberale orde leef van morele bronne wat hy nie self kan vervaardig nie. Eerlikheid, vertroue, pligsbesef, verdraagsaamheid en die bereidheid om mag te beperk wanneer jy dit besit is alles kenmerke van liberalisme wat in gedrang is wanneer liberalisme gekaap word.
Wanneer families verbrokkel, kerke leegloop en gemeenskappe in eensame individue afbreek, word liberalisme 'n dun prosedurele kors oor 'n groeiende leegte. Dit is hoekom radikale voorstelle so aantreklik raak. Dit bied identiteit, rigting en 'n vyand aan mense wat nie meer weet waar hulle behoort nie.
Maar politiek kan nie 'n plaasvervanger vir geloof, familie en gemeenskap wees nie. Dit sluit alle vorme van politiek, formeel en informeel, in. Die staat kan die ruimte beskerm waarin dié instellings groei. Hy kan eiendomsreg beveilig, misdaad bestry, burgers gelyk behandel en mag desentraliseer. Maar politiek sal nooit 'n volk of 'n mens van binne herstel nie. Ons moet die mislukte ideologie afwerp sonder om die liberale beskerming wat dit verdraai het, saam daarmee te verloor. Nie-rassigheid moet nie as 'n verleentheid begrawe word nie, maar as 'n onvoltooide opdrag teruggeëis word. Gemeenskappe moet meer ruimte kry om hul eie instellings te bou. Die staat moet minder probeer om die samelewing te herskep en meer probeer om sy basiese werk te doen.
Dit is baie minder dramaties en aanloklik as omverwerping. Dit verg geduld en die ongewilde bereidheid om iets te herstel wat iemand anders gebreek het. Maar dit is die enigste ernstige antwoord op die vraag wat elke brandstigter probeer vermy. As ons alles afbrand, wat bou ons daarna?
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











