Steven Pinker skryf die afgelope week vir Persuasion oor common knowledge. Hy beskryf dit as kennis wat 'n gemeenskap weet almal weet.
In Hans Christian Andersen se bekende verhaal Die keiser se nuwe klere word 'n ydele keiser deur twee swendelaars oortuig dat hulle vir hom buitengewone klere kan weef. Soos ons almal nou al van die sprokiesverhaal weet, is die klere glo onsigbaar vir enigiemand wat dom of onbevoeg is.
Al kyk almal in die verhaal na die leë weefstoel en weet daar is niks, vertel almal kopknikkend hoe pragtig die materiaal is, omdat niemand die een wil wees wat erken dat hy dit nie kan sien nie. Wanneer die keiser uiteindelik kaal deur die strate paradeer, speel die skare saam. Maar net totdat 'n kind onskuldig sê wat almal reeds weet, naamlik dat die keiser geen klere aan het nie.
Pinker se punt is dat die kind se onskuldige opmerking geen nuwe inligting verskaf nie. Hy verander bloot die soort kennis wat bestaan. Voor sy onskuldige opmerking het elke persoon reeds privaat geweet dat die keiser kaal is. Maar ná die kind se onskuldige opmerking weet ek dat jy dit ook weet, en jy weet dat ek weet dat jy dit weet. So het, soos Pinker dit stel, private knowledge (private kennis) common knowledge (gemeenskaplike kennis) geword.
Nou, Pinker sit volgens my gereeld die pot oor 'n paar goed mis, maar ek glo dat hy hier 'n belangrike tema aanraak.
Die onderskeid tussen private kennis en gemeenskaplike kennis klink dalk aanvanklik na 'n filosofiese foefie totdat mens besef hoeveel van die maatskaplike orde daarvan afhanklik is. 'n Diktator kan oor miljoene mense wat hom privaat verag regeer, solank as wat hulle onseker is oor hoeveel ander mense die diktator ook verag. Of 'n taboe wat lank kan voortbestaan al glo min mense nog daarin.
Die verwante begrip is pluralistiese onkunde. Almal twyfel privaat, maar elkeen vermoed dat hy twyfel alleen. Die onversetlike vertroue in transformatisme die afgelope drie dekades, wat nou uiteindelik in Suid-Afrika begin wankel, is 'n nuttige plaaslike voorbeeld hiervan.
Vir baie jare was daar waarskynlik veel meer private twyfel oor die land se transformasie-ortodoksie as wat die openbare gesprek laat blyk het. 'n Sakeman het om die braaivleisvuur erken dat SEB sy onderneming duurder en minder doeltreffend maak, maar tog steeds met sy maatskappy se SEB status op sy webblad spog. Of 'n staatsamptenaar kon weet dat 'n aanstelling op grond van ras eerder as bekwaamheid die instelling verswak, maar geen weerstand daarteen bied nie.
Maar dit was nie noodwendig omdat almal die dominante verhaal geglo het nie. Die krag daarvan het deels daarin gelê dat niemand presies geweet het hoeveel ander mense ook nie meer daarin glo nie.
Só ontstaan 'n vreemde sosiale ewewig waar almal hul openbare gedrag aanpas by 'n konsensus wat moontlik reeds veel swakker is as wat enige individu besef. Die ortodoksie oorleef omdat almal dink dat almal anders nog ortodoks is.
Daarom is die openbare plein (en derhalwe vryheid van spraak) so belangrik. En daarom was die opkoms van alternatiewe media, podsendings, burgerlike organisasies en nuwe digitale platforms meer betekenisvol as bloot die toevoeging van nog menings. Dit is hierdie instellings wat lostorring aan 'n ortodoksie. Hulle het mense die geleentheid en ruimte gegee om te ontdek dat hul private twyfel nie noodwendig privaat of uniek was nie.
Maar Andersen se sprokie veronderstel een keiser, een straat en een skare.
Wat gebeur wanneer daar twee strate is? Wat gebeur wanneer daar nie meer net een openbare plein is nie?
Pinker se konsep veronderstel een keiser, een skare en een kind. Maar ons leef toenemend met twee keisers, twee skares en twee pleine, indien nie selfs meer nie. Elke groep het sy eie media, podsendings, WhatsApp-groepe, kundiges en ketters. Selfs die Overton-venster (dit wat binne 'n gemeenskap as redelik, aanvaarbaar of sêbaar aanvaar word) bestaan toenemend in die meervoud. Daar is sekere dinge wat bespreekbaar op 'n gemeenskapsradiostasie diep in Kwazulu-Natal is, maar waarskynlik nie by die Woordfees nie. En ander idees wat by die Woordfees bespreek word, maar wat kwalik dieselfde ontvangs in ander ruimtes sal kry.
Aanlyn algoritmes help met die afsondering, hoewel dit te eenvoudig is om hulle vir alles te blameer. 'n Navoringstudie oor Facebook het bevind dat mense inderdaad hoofsaaklik inhoud uit eendersdenkende bronne sien, maar ook dat die vermindering van sulke inhoud nie vanself politieke polarisasie verminder het nie. Ons word nie net in ons afgesonderde koninkryke en hul keisers ingedwing nie. Ons kies hulle ook.
Gevolglik kan gemeenskaplike kennis ook plaaslik en beperk wees.
Wanneer dit kom by gemeenskaplike kennis, almal in Ryk A weet dat almal in Ryk A weet dat die keiser kaal is. Almal in Ryk B weet ewe seker dat almal in Ryk B weet dat die storie oor die kaal keiser 'n histeriese versinsel is.
Albei het common knowledge. Wat ontbreek, is gemeenskaplike kennis oor mekaar se kennis.
Lourensa Eckard se puik TV-program In Gesprek (een van Suid-Afrika se plekke waar Ryk A en Ryk B dikwels bymekaar kom) het ons hierdie week herinner aan 2020 se merkwaardige illustrasie daarvan.
In haar gesprek met Alex van den Heever oor die onlangse Amerikaanse Senaatsverhoor oor Covid-19 is 'n epistemiese tweespalt duidelik. Anthony Fauci het op 29 Julie voor die Senaat verskyn en hy het hom meer as honderd keer op sy reg tot stilswye beroep. Republikeinse senatore onder leiding van Rand Paul wou hom onder meer uitvra oor Covid se oorsprong, navorsing in Wuhan en sy pandemie-era-dagboekinskrywings. Fauci het op sy beurt aangevoer dat Paul se optrede 'n poging tot vervolging eerder as 'n onbevange ondersoek geword het.
Dit is byna onmoontlik om 'n beter voorbeeld van twee epistemiese ryke te kry.
Vir een gehoor was die verhoor die oomblik toe dinge wat “ons almal eintlik geweet het” uiteindelik op die lappe gekom het. Vir 'n ander gehoor was presies dieselfde verhoor 'n partydige skouspel waar die normale onsekerheid van die wetenskap agterna as bewys van bedrog of kwaadwilligheid aangebied word.
Na ses jaar is dit nou makliker vir die hoofstroom om dinge te erken wat in 2020 en 2021 dikwels onsêbaar was. Baie van die sekerheid waarmee Covid-beleid geregverdig is, was eenvoudig nie geregverdig nie. Die openbare indruk dat inentings infeksie en oordrag min of meer sou voorkom, het nie die toets van tyd deurstaan nie.
Net so was natuurlike immuniteit ná vorige infeksie nie 'n soort pseudowetenskap soos dit dikwels behandel is nie. 'n Lancet-meta-analise het later bevind dat vorige infeksie sterk beskerming teen ernstige Covid-siekte gebied het. Novak Djokovic se hardkoppigheid oor sy eie liggaamlike outonomie lyk daarom vandag heelwat minder eksentriek as wat die hoofstroom internasionale media destyds uitgebeeld het.
En hoewel dit ewe verkeerd sou wees om nou te beweer dat die entstowwe oor die algemeen gevaarlik was, weet ons ook dat sekere seldsame nadelige gevolge, onder meer miokarditis en perikarditis na mRNA-inenting, veral by jong mans werklik bestaan en 'n kousale verband met die entstowwe het.
Die kaal-keiser-element van Covid was dus nie dat elke voorsorgmaatreël verkeerd of elke kundige oneerlik was nie. Dit was die merkwaardige sosiale meganisme waardeur redelike twyfel oor inperkings, natuurlike immuniteit of die omvang van entstofbeskerming so vinnig van 'n wetenskaplike vraag in 'n karaktergebrek verander het. Diegene wat privaat gewonder het, kon maklik dink hulle wonder alleen. Ses jaar later is baie van daardie vrae heeltemal gewone gesprekspunte.
Mens wonder watter kontemporêre kwessies vandag ons ook oor 'n paar jaar na sal terugkyk en dink hoe kon soveel mense dit geweet het, maar so min dit hardop gesê het?
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










