Ek was geskok toe progressiewe aktiviste op 7 Oktober 2023 die strate ingevaar het om die hangsweeftuig-terroriste wat “hipsters” by 'n musiekfees vermoor het, te vier.
Nie omdat ek onbewus was dat progressiewe linkses geen skaamte het nie, maar omdat hulle dit só openlik gedoen het. Gewoonlik is dit mos die regses wat oordadig met hulle retoriek is. Ek het egter gedink die linkerkant hou hulle kaarte nader aan die bors. Hierdie aktiviste wou klaarblyklik eerder 'n spotbeeld van linkse aktiviste wees eerder as die egte ding. Hulle stel duidelik meer daarin belang om die rol te vertolk as om ondersteuners by te kry of beleid te bevorder.
Ek het lankal al dieselfde verskynsel aan die ander kant van die politieke spektrum opgemerk. Vir jare het Demokrate beweer Republikeine is bloot ou, ryk, rassistiese, seksistiese wit mans. Toe Donald Trump op die toneel verskyn het, het hy vinnig daardie spotbeeld beliggaam, siende dat hy inderdaad oud, ryk, wit, en rassisties is. Die MAGA-beweging het konserwatiewe beginsels en gesonde politiek by die venster uitgegooi en eerder 'n persoonlikheidskultus omhels wat elke slegte stereotipe wat hul teenstanders van hulle gekoester het, toe sou bevestig.
So, is hierdie politieke opponente inderwaarheid net spieëlbeelde van mekaar? Albei kampe word geteister deur mense wat liewer Twitter-oorloë wil wen en die ander kant oorwin, selfs al beteken dit dat hulle doelbewus die spotbeeld word wat hul opponente van hulle voorgehou het.
'n Paar jaar gelede het Jonathan Haidt 'n insiggewende artikel geskryf met die titel “Why the Past 10 Years of American Politics Have Been Uniquely Stupid.” Hy het dié verskynsel grotendeels aan digitale tegnologie toegeskryf. Mary Eberstadt het in haar vergelyking tussen QAnon en die transbeweging daarop gewys dat kultusse dikwels in versplinterde internetgemeenskappe ontstaan en dat samesweringsteorieë broei waar mense te veel tyd aanlyn spandeer. Indien jou voete te lank gelede gras onder hulle gevoel het, dan skielik begin alles “sin te maak”: Jy begin glo dat die werklikheid self volgens die reëls van die digitale wêreld funksioneer. Dat narratief die realiteit skep, eerder as andersom, en dat daar geen vaste grense of beginsels meer is nie. Die podsendingsreeks “The Witch Trials of J.K. Rowling” het trouens ook gewys hoe die aanlyn-radikalisering van die transbeweging (op Tumblr) ooreenstem met soortgelyke verskynsels aan die regterkant (op 4chan).
Trump kan net binne hierdie konteks verstaan word. Hy sou nooit in 'n pre-digitale era geslaag het nie (trouens, hy het nie). Hy het die rol van 'n “realiteits-TV-president” gespeel en was 'n meme. Maar al het hy die “libs” ore aangesit en was hy snaaks, het hy selde werklik konserwatiewe beleid bevorder (kyk maar na sy administrasie se hantering van die aborsiepille-kwessie). Hy het geen filter gehad nie en sy berugte “covfefe”-tikfout het in 2017 selfs sy grootste kritici laat giggel.
Maar miskien is die beste voorbeeld van Trump as spotbeeld die vreemde oortuiging van sommige mense dat Trump 'n “alfa-man” is. In die werklike wêreld, kom ons wees eerlik, is hy alles behalwe dit, en party van ons het dit reeds in 2010 besef. Aanlyn is hy egter die digitale alfa, die meme van hoe 'n “sterk man” veronderstel is om te lyk. Hy het nog nooit enige egte taai-man-kwalifikasies gehad nie, maar omdat hy mense op sosiale media uitskel, word hy deur die wat kronies aanlyn is as dapper beskou (of, soos hy self sou sê, “TREMENDOUSLY BRAVE”).
Sy aanhangers maak graag memes van hom as 'n spiere-held met bultende boarmspiere en skouers so breed dat hy nie deur 'n deurkosyn sal pas nie. Maar juis dít is die teken. Almal weet (selfs dié wat die memes maak) dat hy 'n ou man is wat nie meer op sy fikse hoogtepunt is nie. Sy maag bult en hy het nie spiere nie. Trouens, in werklikheid lyk hy meer soos die gemiddelde Amerikaner as die superheld-weergawes van hom. Maar in die aanlyn-fantasiewêreld kan Donald Trump so gespierd soos Dwayne Johnson wees.
Hoekom fokus ek op Trump se fisieke voorkoms? Omdat dit 'n daaglikse, sigbare bewys is dat die reëls van die digitale wêreld eenvoudig nie op die werklike wêreld van toepassing is nie. Al hou almal ook voor dat dit wel so is, bly die fisieke werklikheid ongeërg. Uiteindelik bly ons net agter met memes wat jou dalk laat glimlag, maar niks werklik verander nie.
Die Internet het Beide Partye Verwoes
Kyk 'n bietjie wyer, en dis duidelik dat Amerika nie alleen is nie. Die internet het politiek wêreldwyd dommer en minder doeltreffend gemaak. Politici se geblaf was nog altyd erger as hul byt, maar nou, in die digitale era hoor ons dat byt glad nie saak maak nie, eerder net die geblaf.
Vir die van ons wat te oud of te oningelig is vir hierdie aanlyndenke, is dit absurd. Party van die mense wat te veel tyd aanlyn spandeer, verdien ten minste geld daaruit. Maar baie glo regtig die “werklikheid” wat hulle daar sien. Hulle glo 'n meme oor 'n valskermspringer (of 'n padda) bereik iets.
Dis alles beeldvorming en kayfabe. Oppervlakkig en leeg, en meeste nugtere mense sien deur dit. Die kroniese aanlyn linkse en regse mense glo werklik dat realiteit bloot 'n storie is, en dat as ons almal net iets anders glo, die werklikheid sal verander. Daar is “ernstige” denkers aan die “nuwe regse” kant wat opreg glo dat as ons almal net ophou om in die vrye mark te glo, die bedrogspul sal eindig en kapitalisme uiteindelik weens sy eie teenstrydighede sal ineenstort (die linkerkant glo dit al jare lank). As ons net 'n ander storie oor geskiedenis vertel, sê hulle, sal ons die verlede self herskryf.
Maar die enigste ding wat werklik inmekaar stort as ons ophou om daarin te glo, is die idee dat die digitale wêreld werklikheid is. As ons die gemene dinge op Twitter ignoreer, verloor Twitter sy mag. As ons ophou voorgee dat memes enigiets doen, dan erken ons hulle doen niks. En as ons politiek ernstig begin opneem, kan ons die spotbeeld-debatte aan beide kante van die gang ignoreer.
Piesangrepubliek
Aanlyn hoor jy linksgesindes sê die ergste van kapitalisme is … piesangs. Of dat ons in 'n “helle landskap” leef wat eerder soos 'n koorsdroom klink. Dan is daar die nuwe reaksionêres wat beweer dat Poetin se goddelose Rusland 'n toonbeeld van krag, deug en vryheid is. Party sê selfs, regtig waar, twee plus twee is vyf.
Die beste voorbeeld van hierdie LARPing is waarskynlik die herhalende “ons is in 'n tweede koue burgeroorlog”-praatjies. Ons is nie. Dit is die soort pratery van mense wat nog nooit 'n werklike oorlog gesien het nie. Dis onernstig, maar dit laat mense dink die skrywer is ernstig met 'n hoofletter “E”. Dit laat bloeddruk styg, dit laat sommige mense se maag draai en vir ander maak dit hulle effens té opgewonde.
In werklikheid is dat die aanlyn-spieëlbeelde van links en regs mekaar se grootste vyand én beste vriend is. Hulle leef van mekaar se bestaan in 'n soort simbiose. Elke kant is vasbeslote om die ander se ergste nagmerrie te word, nie net te bewys dat hulle een is nie. Party linkses wat die Sowjet-suiwerings prys, glo dat dit dalk regtig 'n noodsaaklike stap na heilstaatsdom was. Maar meeste doen dit net om regses te terg. En as regses dan reageer met iets soos: “Mense soos jy is die rede waarom Pinochet helikopters gebruik het”, bevestig ons net presies wat hulle van ons dink. Dis dalk snaaks vir 'n oomblik, maar dit skuif politiek nêrens heen nie.
Ware politieke beweging kom deur oortuiging. Jy hoef nie almal te oortuig nie, maar jy moet wys jy is nie 'n monster nie, en dat jou standpunt geloofwaardig is. Miskien kan jy selfs wys dat, al verskil hulle, daar iets aanloklik is aan jou argument. En hoe moeilik ook al, vermy dit om mense 'n rede te gee om jou te haat of te ignoreer.
Dit beteken nie jy moet elke geveg vermy nie. Soms moet jy baklei. Ek het ook (meestal in persoon). Dis dikwels ongemaklik en selfs bitsig. Maar jy hou jou kop. Soos Kipling gesê het, as jy jou kop kan koel hou terwyl almal hulle sinne verloor, dan is jy 'n man. 'n Ware man baklei nie vir “lulz” of om die “libs te own” nie. Hy is stadig om kwaad te word, vinnig om te vergewe. Hy gee nie pad nie, maar hy terg ook nie onnodig nie. Hy het selfbeheersing en laat nie sarkastiese twiets onder sy vel inkruip nie. Kortom: moenie 'n papbroek wees nie, maar moenie 'n “edgelord” wees nie.
Die kroniese aanlyn linkses en regses gee soms om vir beleidsukses, maar wat hulle regtig wil hê, is die stryd self. Hulle wíl haat, en wil ook gehaat word. Want in die virtuele wêreld beteken om die ander kant te oorwin meer as om wetgewing deur te voer. En as jou doel is om haat te lok, is die maklikste manier om jouself tot spotbeeld te reduseer: As hulle sê jy is 'n fascis, besluit jy om “die hele Nazi-ding” te omhels. As hulle sê jy is 'n teokraat, antwoord jy dat ateïsme eintlik onwettig behoort te wees.
Dis aanloklik, veral as jy moedeloos is oor hoe stadig werklike politieke verandering kom. Maar dis verniet. Want as jy lank genoeg die spotbeeld speel, dan word jy dit. Op 'n dag word die masker jou gesig. En jy weet nie meer hoe om anders te wees nie.
Dis gevaarlik. Akteurs wat dokters op TV speel, vergeet nie dat hulle nie regte dokters is nie. Maar mense wat aanlynfasciste, kommuniste of Hamas-aanhangers “speel,” vergeet soms wel.
Karakterspele Verhoed Werklike Werk
Kortliks: Twitter lei ons aandag van die werklike wêreld af. Dit trek ons aandag weg van konkrete politieke verandering. Selfs Elon Musk is 'n voorbeeld. Sy oorname van Twitter het hom van Tesla en SpaceX af weggesleep. Dogecoin was nog altyd meer meme as geld (en ek sal my geld verwed dat dit oor tien jaar meer geld sal kos as wat dit ooit bespaar het), al stem ek saam dat staatsbesteding drasties gesny moet word.
Die Trump-administrasie, net soos die Biden-een voor dit, is lig op wetgewing en swaar op uitvoerende bevele. Sy administrasie is vinnig en lawaaierig, maar oppervlakkig. So kry ons die vertoning, sonder die inhoud. Party dink Trump wou diktator wees, ek dink hy wou net koning speel deur memes.
Daar is niks fout daarmee om oor 'n meme te lag nie. Ek lag steeds oor “covfefe.” Maar wanneer politiek net memes word, beland ons in 'n wêreld waar Demokratiese aktiviste werklik “gay woke kommunisme” verteenwoordig, en Jong Republikeine werklik “rassistiese, seksistiese wit seuns” is.
Ek gee eerlikwaar nie om daaroor om die “libs” te "“own” nie. Ek gee om vir die vrye mark, die gesin, die heiligheid van ongebore lewe, die Amerikaanse Grondwet, Amerika se plek as wêreldmoondheid, sterk grense, en die tradisie van natuurlike regte en individuele vryheid. Ek wens daar was 'n politieke party in Amerika wat weer daarvoor sou staan.
Hierdie artikel is met vergunning van John Grady Atreides vertaal en aangepas. Besoek sy Substack Carrying the Fire hier.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










