Sterk Gode is in 'n Swak Republiek nodig
Die goeie bedoelings van die oop samelewing het misluk.
R.R. Reno se boek Return of the Strong Gods: Nationalism, Populism, and the Future of the West (2019) identifiseer die spreekwoordelike kanon wat gate in die Westerse beskawing skiet. Amazon se opsomming van die boek beskryf dit só:
“Reacting to the calamitous first half of the twentieth century, our liberal elites promoted open borders, open markets, and open minds. But this never-ending project of openness has hardened into a set of anti-dogmatic dogmas which destroy the social solidarity rooted in family, faith, and nation. While they worry about the return of fascism, our societies are dissolving.”
Reno voer aan dat ná die verstommende slagting van twee wêreldoorloë het die Weste die ideaal van die “oop samelewing” omhels. Die begrip self is in 1932 deur die Franse-Joodse filosoof Henri Bergson geskep en het nuwe momentum gekry ná die verskrikkinge van die Holocaust, toe Karl Popper se The Open Society and Its Enemies (1945) verskyn het. Die idee was dat ons oop samelewings moet bou, synde dié wat onderskraag word deur universele waardes van humanitarisme, om te keer dat geslote samelewings mense onderdruk wat nie die ras- of godsdienslojaliteite van die oorheersende groep deel nie. Maar die vrees vir so 'n moontlike gevaar is te ver geneem. Soos The Wall Street Journal se resensie dit stel: “Mr. Reno explains the present-day progressive’s paranoid fear of fascism and neurotic determination to ferret out racism where none exists.”
Popper se visie was dat deur onsself te bevry van die ou bande aan die nasie, stam en godsdiens (die dinge wat volgens hom eeue lank geweld aangevuur het) ons 'n voorspoedige wêreld sonder grense kon bou, vry van dogmas en bestuur deur kundiges. Reno meen egter dat ons nou 'n hoogtepunt van die sogenaamde oop samelewing bereik het en dat 'n korreksie onafwendbaar is. Die opkoms van populistiese figure in Amerika en Europa dui daarop dat baie mense moeg is vir diversiteit-en-insluiting-politiek en die selfhelp-terapietaal van moderne politieke diskoers. Ons wil hê ons politiek moet weer deur die “sterk gode” van waarheid en geregtigheid gelei word, asook die “gedeelde liefdes” van nasie en tradisie.
In Suid-Afrika verduidelik die oorwinning van oop samelewing denke die verrassende oorgawe van Afrikaner-nasionaliste aan swart meerderheidsregering in 1994. Daar is gehoop dat die nuwe Suid-Afrika 'n toonbeeld van die oop samelewing sou wees, gegrond op die wêreld se mees “oop samelewing-grondwet”, met die vriendelike gesig van Nelson Mandela as sy embleem.
Reno se boek verwys nie na Suid-Afrika nie, maar dit voel asof die mislukking van demokratiese regering hier by die Westerse liberales spook. Net soos die mislukking van Amerika se burgerregtebeweging om ongelyke uitkomste tussen swart en wit reg te stel. Reno is 'n liberale behoudende denker. Hy glo dus in liberale beginsels nie ten spyte van hulle wortels in die Westerse tradisie nie, maar weens dit. Hy verwerp die spreekwoordelike “donker gode”, veral die beheptheid met rassesuiwerheid wat kenmerkend van Nazi-Duitsland was.
Die beheptheid met rassesuiwerheid is vandag die strooipop waarmee die linkerkant die regterkant probeer verneder. Tog is dit nou die linkerkant wat, in hul onderdrukte-teenoor-onderdrukker-narratief, hul toevlug neem tot dieselfde lelike rasseskemas wat aan apartheid en Nazi-Duitsland herinner. Die ironie is natuurlik groot. Maar 'n gedeelde geskiedenis, veral een van gedeelde onderdrukking, is inderdaad 'n sterk god. Die konsentrasiekampe waarin 27 000 vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog gesterf het, het destyds as twyfelagtige regverdiging vir apartheid gedien en vandag put ons swart politieke elite, van Julius Malema tot Herman Mashaba, steeds emosionele energie uit die wond van wit kolonialisme.
As dit nie vir die sterk god van 'n gedeelde geskiedenis van onderdrukking was nie, sou die veelrassige Demokratiese Alliansie waarskynlik die swart partye wat vasgevang in korrupsie en wanbestuur is, maklik polities oorwin het. Maar die DA sukkel om die verbeelding van die kiesers te gryp omdat Suid-Afrikaanse politieke kultuur in die breë beperk bly tot die sterk god van die antikoloniale stryd. Die glorieryke geskiedenis van die swart bevrydingsbeweging teen wit oppergesag onderhou dit. Ongelukkig kan die enigste party wat Suid-Afrika van postkoloniale verval kan red, kwalik meer as 'n vyfde van die stemme wen.
Ons wit politieke akteurs is verdeel in twee kampe: liberales wat buig voor die swak gode van vooruitgang en individualisme, en tradisionaliste soos diegene in die Solidariteit Beweging, wat glo in die sterk god van geloof self en die voorspoedige lotsbestemming van “hulle volk”.
Suid-Afrika se politieke krisis lê daarin dat, waar sterk gode ons politiek dryf, swart en wit in verskillende kerke aanbid. Ons kan almal saamstem oor die swak gode (ons almal soek ekonomiese groei en werk), maar omdat kolonialisme en wit oppergesag geweldig uiteenlopende geskiedenisse vir swart en wit geskep het, bly ons sterk gode volgens kleur bepaal. Die krisis word vererger deur die feit dat daar net één Mandela was, en dat ons swart heersersklas nie genoeg wittes in hul geledere opgeneem het om die regering minstens die voorkoms van nierassigheid te gee nie. En sekerlik nie genoeg bekwame wittes om die staat van sy kroniese verval te red nie.
Te midde van die ontgogeling van die postapartheid-era is dit soms nodig om iets van AfriForum se sterk god in te asem. Hul webwerf wemel van kernagtige slagspreuke wat die bloed laat pomp in die stryd teen dit wat aan die weefsel van nasieskap skeur. AfriForum roer goed soos roeping as geheime wapen aan en praat van hulle “veg en bou”-plan, wat 'n nuwe toekoms sal skep.
Gegewe Suid-Afrika se demografie, kan sulke taal natuurlik nie verkiesings wen nie. En wat dan? Die ANC het nie oor verkiesings bekommer tydens apartheid toe hulle hul relevansie gevestig het nie. Waarom sou ons oor verkiesings bekommer in ons opposisie teen swart oppergesag? Ons het sterk gode aan ons kant, die soort wat Europeërs gehelp het om hierdie deel van Afrika in die mees ontwikkelde nasie-staat van die kontinent te omskep. Dit behoort genoeg te wees om ons belangstellend en betrokke by die politiek te hou. Want sterk gode vereis daadwerklike optrede. Soos AfriForum dit stel, benodig ons doeners.
So sit jou foon neer en gaan regmaak wat stukkend is. Jou sterk god is 'n veeleisende en jaloerse god. Hy wil hê jy moet Suid-Afrika weer sterk en voorspoedig maak. Of ten minste die pionierswerk van jou voorouers verlos deur van hierdie land weer 'n hoek van ordelike erns in die vrolike chaos van Afrika te maak.
Hierdie artikel is met vergunning van Angus Douglas vertaal en aangepas. Besoek sy Substack Saving South Africa hier.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










