Die Mkhwanazi Onthullings Wys Waarom Desentralisasie Nodig is
'n Liggaam vrot mos immers van bo af.
Die jongste onthullings deur Luitenant-Generaal Nhlanhla Mkhwanazi, die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, het die land geruk. In 'n land waar korrupsieberigte gereeld die nuus haal sonder werklike gevolge, het Mkhwanazi se direkte, naam-en-van beskuldigings teen topfigure in die polisie en politiek onmiddellik aandag getrek. Hy beweer dat meer as 120 saakdossiere, insluitend dié oor politieke moorde, doelbewus uit die spesiale taakspan verwyder is, in opdrag van die Minister van Polisie, Senzo Mchunu, wie nou al intussen op spesiale verlof geplaas is. Mkhwanazi praat van digitale bewyse, van ondersoekers wat in hegtenis geneem of weggeskuif is, en van 'n netwerk van sakemanne, regslui en politici wat verbind is aan dwelmkartelle.
Op die oppervlak lyk dit soos ’n dapper daad van ’n eerlike polisiebeampte wat genoeg gehad het. Die een man wat sy rug regop hou terwyl die res swyg of wegkyk. Maar die werklikheid is dikwels minder romanties en meer kompleks.
Die gevaar van maklike heldeverhale
Suid-Afrikaners is honger vir integriteit en aanspreeklikheid. Jare van staatskaping, kommissies sonder gevolge, en ‘n krimpende ekonomie het die vertroue in instellings laat verbrokkel. Dis dus verstaanbaar dat baie mense vinnig Mkhwanazi se kant wil kies en veral die bewerings wil glo. Ons wil glo dat daar nog goeie mense in die SAPD-uniform is. Maar dis juis hierdie emosionele verlange na geregtigheid wat ons vatbaar maak vir maklike en eenvoudige narratiewe. Goed teenoor kwaad of korrupsie teenoor eerlikheid.
Die waarheid is dat die SAPD al vir dekades nie net deur korrupsie geteister word nie, maar deur meervoudige, kompeterende faksies wat almal korrup is en die polisie gebruik om hulle belange te beskerm. Dit is nie net ‘n geval van ’n paar slegte appels nie, dis ’n stel mandjies met appels wat mekaar uitdaag vir beheer van die hele boord. Soos Mary de Haas, ’n ervare navorser en aktivis, lankal uitwys, funksioneer sekere dele van die polisie as onafhanklike magsblokke, sommige met hulle eie bande aan misdaadnetwerke. In só ’n stelsel is dit nie ongewoon dat die een faksie die ander probeer ontbloot nie. Dit gebeur dus nie uit morele oortuiging nie, maar uit politieke of kriminele selfbehoud.
Die waarheid as faksiewapen
Die ironie van Mkhwanazi se onthullings is dat dit dalk alles waar kan wees en tog steeds deel van 'n magspel kan bly. Waarheid en geregtigheid is nie altyd dieselfde ding nie. In ’n disfunksionele instelling soos die SAPD, kan waarheid net so maklik as wapen gebruik word. As 'n faksie voel hulle verloor grond, kan hulle kies om teenstanders te ontbloot. Nie om die stelsel noodwendig te red nie, maar om beheer daarvan terug te kry.
Mkhwanazi se onthullings kom op 'n tydstip van politieke verswakking. Die ANC het in 2024 die meerderheid verloor, en hou nou net met 'n koalisieregering die mag in stand. Die beskuldigings is ook gerig teen 'n minister wat self as deel van ’n spesifieke politieke lyn gesien word. Dis dus heel moontlik dat Mkhwanazi se optrede ook gelees moet word as deel van 'n groter faksiestryd binne die polisiediens en die regering self.
Die risiko is dat ons dink daar is nou 'n suiweringsproses aan die gang, terwyl ons eintlik net een misbruik van mag sien wat deur 'n ander uitgewis of oorgeneem word. Dis ’n sirkel van selfbehoud en nie stelselvernuwing nie.
Die kommissie as verdowingsmiddel
President Ramaphosa het natuurlik op die tipiese en voorspelbare wyse gereageer: ’n kommissie van ondersoek is aangekondig. Hierdie patroon is al goed gevestig. Marikana, Staatskaping, Life Esidimeni, die Seriti-wapenkommissie, almal was uitgebreide en duur prosesse, maar min het gelei tot werklike aanspreeklikheid. Kommissies het in Suid-Afrika die funksie van politieke verdowingsmiddels aangeneem. Hulle gee die indruk dat daar opgetree word, terwyl die werklike strukture onaangeraak bly.
Die geskiedenis leer vir ons dat dit onwaarskynlik is dat hierdie kommissie, hoe ernstig of waar die aanklagtes en bewyse ook al is, iets fundamenteel gaan verander. Veral nie as die bestaande magsverhoudinge onaangeraak bly nie.
Die kernprobleem is nie net korrupte individue nie. Dis 'n stelsel wat ontwerp is om vertikaal en sentraal te funksioneer. Mag vloei van die Minister van Polisie af na provinsiale en plaaslike strukture. Opdragte, inligting en invloed beweeg op en af in hierdie rigiede hiërargiese ketting. Dit beteken dat as die topbestuur gekaap word, die hele struktuur maklik lamgelê of gekaap kan word.
Wanneer 'n taakspan dus te suksesvol is, kan hulle summier ontbind word. Dossiere kan met die regte handtekening verskyn. Lojaliteit aan 'n nasionale bevelvoerder, eerder as 'n gemeenskap, is wat loopbane bevorder of breek. Dis 'n stelsel wat meer geskik is vir politieke lojaliteit as vir werklike dienslewering. En as gevolg daarvan lei die gewone man en vrou op straat.
So wat kan dan werk?
Die antwoord lê nie in 'n beter minister, of 'n dapper generaal wat praat wanneer daar korrupsie is nie. Dit lê in 'n herontwerp van die strukture self sodat mag versprei word en verantwoordbaarheid en plaaslike beheer en oorsig moontlik is.
As provinsies werklike beheer oor wetstoepassing het, nie net as ‘n aanvullende mandaat tot die nasionale regering nie, maar in praktyk en as die hoof-verantwoordelike entiteit dan word die kans vir nasionale faksiekaping baie kleiner en die risiko word versprei. Daar is dan veelvuldige punte van mislukking maar ook sukses. Wanneer plaaslike gemeenskappe die vermoë het om hul polisiehoof aan te spreek, verander die aansporingsstruktuur. ’n Offisier moet dan meer omgee wat sy of haar bure dink, en minder wat ’n minister in Pretoria sê.
Selfs as korrupsie plaaslik voorkom, is dit ten minste plaaslik aanspreekbaar en nie verspreid oor die hele land nie. ‘n Gedesentraliseerde stelsel versprei risiko. Dit bring magsbalans, skep ruimte vir eksperimentasie en mededinging en, belangrikste van alles, verminder die kans dat die hele SAPD as ’n enkele entiteit gekaap kan word.
Ten Slotte, ‘n paar gedagtes
Wat ons tans het, is ’n stelsel wat net werk as almal aan die bokant en in beheer, eerlik is. En ons weet al lank hulle is nie. Dis onvolhoubaar om 'n land en sy mense se veiligheid te laat afhang van die integriteit van ’n handjievol mense. Wat ons nodig het, is ’n gedesentraliseerde stelsel wat nie korrupsie uitskakel nie, maar dit moeiliker en minder omvangryk maak en ’n stelsel wat nie staat maak op lojaliteit aan die in mag nie, maar op diens aan die gemeenskap.
Die Mkhwanazi-onthullings is ernstig. Maar hulle moet nie verkeerd verstaan word nie. Talle kommentators in die hoofstroommedia sien dit as ’n keerpunt, ’n begin van aanspreeklikheid wat soseer nie in Suid-Afrika bestaan nie. Almal hou van ’n heldestorie in uniform. Maar dit sê dalk meer oor Suid-Afrika se desperate behoefte aan aanspreeklikheid as oor die realiteit van wat hier werklik gebeur en gaan gebeur. Want soos met soveel vorige skandale, is daar ’n gevaar dat hierdie krisis net weer gebruik gaan word as ’n geleentheid vir faksies om mekaar te ontwrig, sonder dat enige stelselverandering volg.
Die grootste en mees betekenisvolle gevolg wat dus uit hierdie nuutste debakel kan kom, is nie die aanspreeklikheid van een of twee “boewe” nie, maar ’n besef dat geen persoon, geen minister, en geen polisiehoof weer soveel gesentraliseerde mag behoort te hê nie. Die ware geleentheid lê daarin om ’n stelsel te skep wat kan staan, selfs wanneer die mense aan die stuur nie kan nie.
Juanita du Preez is bedryfshoof vir Action Society, 'n burgerregte organisasie wat hom beywer vir gemeenskapsveiligheid, regshervorming en die beskerming van kwesbare groepe soos vroue en kinders in Suid-Afrika.
Nog artikels deur Juanita op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Goeie punt. Ons moet nie die fout maak om te dink dat hy nie dalk self die leier van 'n ander, mededingende kriminele faksie binne die SAPD is nie net omdat hy eerste met die beskuldigings na vore gekom het.