Die Neet* Van Geloof in Na-Christelike Denke
*Na die Afrikaanse spreekwoord "hy klou soos 'n neet."
Daar word dikwels gesê dat wanneer mense vir ‘n gewaagde meme op Facebook begin lag, dit al ou nuus op X is. Dit is op ‘n manier ‘n goeie metafoor vir die openbare gesprek in Suid-Afrika. Ten spyte van die feit dat die internet ‘n sinkronisiteit gebring het waar Eugène Marais maar kon droom – hy was nog besig om simpatie vir die Boere in Europa te probeer wen toe die Vrede van Vereniging al weke lank geteken was – vind ‘n mens soms dat Europese debatte in die teologie (maar ook in die geesteswetenskappe) wat al in die negentiende eeu afgesluit is hulle nou eers aanmeld in Suid-Afrika. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat Suid-Afrika geografies geïsoleer is en dat gebeure soos die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog ons gedwing het om maar te fokus op lewensnoodsaaklike sake. Ongelukkig beteken dit dikwels dat ons die gevaar loop om die wiel van voor af te probeer ontwerp, terwyl die gesprek globaal al in ander rigtings inbeweeg het.
In Reaksie
In ‘n onlangse artikel op Ontlaer, beskryf Jean Oosthuizen sy persoonlike reis van ‘dogmatiese’ gelowige, tot ‘n radikaal bevryde ‘humaniteit’. Hy begin met ‘n beskrywing van sy ervaring na ‘n plasing op Facebook. Sy punt dat gelowiges hulle dikwels wangedra in reaksie op sy ‘uitdagende’ plasings is tot ‘n groot mate geldig. Letterlik niemand – sekerlik ook nie die lesers hier nie – sou kon aanvoer dat hulle nog slegs met onberispelike gedrag onder Christene te make gehad het nie. In my eie voorgelowige dae was daar ‘n geval waar twee kerke aanmekaargespring het oor ‘n stuk grond! Optrede van Christene wat die Christelike moraal op ‘n skitterend ironiese wyse weerspreek is nou nie juis nuus nie. Voltaire se beroemde “If Christ were here now there is one thing he would not be — a Christian” is ‘n pittige voorbeeld van ‘n standaardkritiek op Christelike skynheiligheid wat strek van die Verligting tot by Richard Dawkins. ‘n Mens moet egter dadelik byvoeg dat Christene self nog altyd baie deeglik bewus was hiervan: Augustinus het het al gesê dat die Kerk nie ‘n museum van gesalfdes is nie en niemand minder as C.S. Lewis het daarop gewys dat “Of all bad men, religious bad men are the worst.”
Die eerste belangrike punt om te maak is dat sosiale media nie ‘n akademiese markplein is nie, dat dit dikwels die slegste uit mense na voorskyn bring in ‘n wêreld waar globalisme mense al hoe meer magteloos en vereensaam laat voel. Ek self stel baie in klassieke kultuur belang en kan getuig dat van die brutaalste bekgevegte – wat Oosthuizen se kommentators soos ‘n Sondagskoolonderwyser (sic) sal laat lyk – wat ek al beskou het, was tussen Griekse deelnemers en Masedoniërs oor wie Alexander die Grote nou sou ‘besit’. (Die Albaniërs het verbasend baie gevloek). So ‘n gesprek ‘bewys’ egter niks oor die erfenis van Alexander nie en om ‘n paar onopgevoede reaksies op ‘n Facebook-plasing te gebruik as begronding vir ‘n posisionering van ‘n ‘stoute’ avant-garde ‘vlam’ wat die motte van die Christendom sou aantrek, het min meriete en geen wetenskaplike gronde nie.
Die feit dat die skrywer steeds so betrokke by teologiese debatte, godsdiensjoernalistiek en religie-gesprekke is laat mens onmiddellik twyfel of hy werklik so bevry is as wat hy aanvoer. Nie alleen blyk dit of hy dit moeilik vind om afskeid te neem van die Afrikaanse teologiese wêreld nie, maar hy bly steeds homself uitdruk in Christelike metafoor en onderskryf blykbaar steeds ‘n Christelike metafisika.
‘n Christelike metafisika?
Wanneer ‘n mens die woord ‘metafisika’ gebruik, word mense se oë óf glasig, óf sogenaamde groot voorstanders van die rede maak skielik asof ‘n mens sou aanvoer die maan is van kaas gemaak. Metafiska is weliswaar ‘n akademiese woord. Mėta (soos die naam van die moedermaatskappy van Facebook), beteken agter en dit het oorspronklik bloot verwys na die boek wat in amptelike klassifikasies van die versamelde werke van Aristoteles agter die fisika geplaas is. In eenvoudige terme verwys dit eenvoudig na die ‘patroon’ waarvolgens mens oor die werklikheid dink. As ‘n mens byvoorbeeld sou sê – soos Neil de Grasse Tyson of Victor Stenger sou volhou – dat niks ‘bonatuurliks’ bestaan nie, net dit wat ‘n mens fisies kan waarneem, en dat slegs die natuurwetenskappe vir ons geldige kennis kan gee, dan is die metafisiese posisie se naam die positiwisme. Die posisie word met Auguste Comte (1798-1856) geassosieer, en min mense aanvaar so ‘n posisie in sy geheel, omdat dit baie implikasies het wat buite die natuurwetenskappe strek. Soos die leser kan sien, is dit al lank terug: Werklike denkende Christene kan nie meer in hierdie stadium van die stryd ‘geskok’ word deur sulke stoutighede nie. Ander metafisiese posisies sluit Plato se dualisme (die idee dat die ware werklikheid agter die skynwerklikheid lê), Aristoteles se teleologie (die idee dat alles neig na ‘n ingeboude ‘doel’) en nog vele ander in. Ook die moraliteit word uitgedruk in ‘n bepaalde metafisiese vorm.
Dit is ‘n konsep wat maklik misverstaan word. Die meeste mense dink dat wat ons onder ‘common-sense’ moraliteit verstaan – ‘behandel ander soos jyself behandel wil word’ tydlose ewige waarhede is wat enigiemand kan verstaan en dat dit bloot die doelbewuste keuse om boos te wees wat mense keer om hierdie wet deur te voer. So ‘n houding impliseer egter weereens metafisiese aannames. In hierdie geval berus die aanvaarding van so ‘n rasionele, tydlose ideaal by implikasies die aanvaarding van vrye wil en ‘n maklik identifiseerbare, soliede ‘self’ wat ‘los’ staan van sy dade, heeltemal rasioneel is en deur niks beinvloed word nie. Na Freud en Marx weet ons dinge is nie so eenvoudig nie.
Nietzsche en die Transendentale
Die denker wat egter altyd by my opkom wanneer ek pogings sien om groot stappe weg van die religie te neem is Nietzsche. Nietzsche is berug onder Christene vir sy stelling ‘God is dood’ - sekerlik een van die mees misverstaande stellings in die geskiedenis. Nietzsche het nie na een of ander kosmiese ramp verwys toe hy hierdie stelling gemaak het nie – trouens Luther self het hierdie metafoor vir die eerste keer gebruik – maar hy bedoel daarmee dat alle transendentale verwysingspunte tot ‘n einde gekom het. En dit deur die mens se eie toedoen. ‘n Transendentale verwysingspunt is enige Groot Standaard waaraan alle ander waarhede gemeet word. Transendentaal moet nie verwar word met ‘transendent’ nie – dit verwys nie noodwendig net na alle Groot Verwysingsraamwerke buite die die sigbare werklikheid soos God nie, maar alle abstraksies, soos byvoorbeeld die klassieke voorbeeld waaraan Jean vasgryp: Die ‘Humanisme’.
Ek sal toegee dat Jean hier ‘n kopknik in die regte rigting gee – die humanisme is geweldig kompleks, en die begrip het gedurende die Renaissance ontstaan juis om aktiwiteite aan te dui wat nie direk met die kerk te doene gehad het nie, maar byvoorbeeld klassieke bronne - soos bronne uit die Griekse en Romeinse wêreld - gebruik het. Dit beteken min of meer iets soos ‘sekularisme’, maar dit is natuurlik nie identies met hierdie begrip nie. Mense so divers soos Desiderius Erasmus en William Lane Craig is al humaniste genoem. Trouens die probleem met ‘humanisme’ is nie dat ‘n ‘-isme’ op sigself ‘sleg’ is nie – dit is bloot ‘n manier om ‘n abstrakte selfstandige naamwoord te vorm. Alle abstraksies doen egter geweld aan een of ander partikuliere vorm. Daarom is dit so gevaarlik om te veralgemeen. Ook wanneer mens ‘gelowiges’ onder een kam probeer skeer.
Nou kom ons egter by die kern van die probleem. Mense wat ‘dogma’ agter probeer laat in die naam van ‘n ‘nuwe’, ‘inklusiewe’ etiese raamwerk neem glad nie afskeid van die Christendom nie, maar probeer meer desperaat as ooit tevore daaraan vasklou. Die metafisiese patroon wat hier gevolg word kom op die volgende neer: X (wat dit ook al verteenwoordig) is onderdrukkend, eng en depressing. Daarom bied dit wat buite X lê, noodwendig vryheid.
Soos Nietzsche egter uitwys, geskied dit selde vanuit suiwere motiewe (die idee dat ‘n mens iets met net een doel voor oë doen, is op sigself ‘n stuk metafisiese vooroordeel - geen mens is so eenvoudig soos ‘n potlood of ‘n mes nie en die rede waarom X verwerp word, is dikwels omdat die verwerper nie eintlik mag het in die stelsel van X nie. Daarom moet X sleg of verkeerd wees. Maar meer nog: Bitter min mense besef dat die moraliteit in terme waarvan hulle die Christendom verwerp eintlik uit-en-uit ‘n produk van die Christendom self is wat deur tweeduisend jaar gevorm is en so deel is van ons kulturele landskap dat ons nie meer besef dat dit eintlik heeltemaal afhanklik is van baie spesifieke Christelike aannames – en dat hierdie aannames nie werklike natuurlik begrond kan word nie. Hierdie vervanging van die Christendom deur sy moraal is ‘n tipies Victoriaanse strooihalm waarna daar gegryp word. Mense soos George Eliot, die teoloog D.S. Strauss, Thomas Huxley, John Stuart Mill en ander pseudo- en proto-rasionaliste het almal of een of ander manier probeer om maniere te vind om die geloof in die hemel wat hulle verloor het, met ‘n vae humanistiese ideal te vervang wat darem ‘n soort van plaasvervanger op aarde sal skep.
Maar so maklik – of eerlik – is dit nie. X word eintlik net met ‘n gedeelte van X vervang. ‘n Gedeelte van die oorspronklike ideaal word nou aangebied as ‘n nuwe alternatief. Dit laat die vraag ontstaan wat Jean eintlik wil sê deur idees aan te haal wat nou al so diep ingegrawe is in die Westerse kanon. ‘n Mens kan tog net sowel A. N. Wilson se The Victorians lees om ‘n standaardgeskiedenis te vind van mense wat ‘dogma’ met humanisme of humaniteit probeer vervang. Breë verhale weerspreek hulself egter baie vinnig. Groot “inklusiewe” humaniste soos Cecil John Rhodes (gaan kyk gerus na die ideale uitgestippel in sy testament om ‘n tipiese voorbeeld van ‘inklusiwiteit’ te vind) versteek dikwels ander motiewe as begeertes om ‘inklusief’ te wees – almal versteek magsmotiewe. Loop Jean nie dalk die gevaar om ‘n nuwe soort immorele digotomie te probeer skep nie – die ‘bekrompe’ gelowige teenoor die ‘bevryde’ post-Christelike denker? Is so ‘n benadering nie dalk ook ‘n magstrategie wat in homself ‘n spieëlbeeld verteenwoordig van die Kerk se veelgekritiseerde magstrategieë nie?
Kom ons kyk wat sê Nietzsche self. Dit is ‘n eersteklas idee om na Nietzsche se hele paragraaf uit sy 1889 werk Götzen-Dämmerung (skemering van die afgode) te kyk. Eliot se Engelse vertaling, onder die titel Twilight of the Idols stel dit so:
They have got rid of the Christian God, and now think that they have to hold on to Christian morality more than ever: that is an English form of consistency, and we do not want to blame the moral little females for it. In England, every time you take one small step towards emancipation from theology you have to reinvent yourself as a moral fanatic in the most awe-inspiring way. That is the price you pay there. - For the rest of us, things are different. When you give up Christian faith, you pull the rug out from under your right to Christian morality as well. This is anything but obvious: you have to keep driving this point home, English idiots to the contrary. Christianity is a system, a carefully considered, integrated view of things. If you break off a main tenet, the belief in God, you smash the whole system along with it: you lose your grip on anything necessary. Christianity presupposes that humans do not know, cannot know what is good for them or what is evil, they believe in God who has privileged knowledge of this. Christian morality is a command; it has a transcendent origin; it is beyond all criticism, all right to criticism; it has truth only if God is the truth, - it stands or falls along with belief in God . - When the English really believe that they 'intuitively' know all by themselves what is good and what is evil; and when, as a result, they think that they do not need Christianity to guarantee morality any more, this is itself just the result of the domination of the Christian value judgment and an expression of the strength and depth of this domination: so that the origin of English morality has been forgotten, so that no one can see how highly conditioned its right to exist really is. For the English, morality is not a problem yet . . . (Uit: What I Owe the Ancients)
Die ‘Engelse’ waarvan hy hier praat, is juis daardie ‘veilige’ rasionaliste wat bo genoem is. Nietzsche het self in die Christendom ‘n etiese uitdrukking van swakkelinge gesien. Dit maak hom nie ‘n woeste geweldenaar of ‘n goedprater van wreedheid nie. Na Walter Kaufman se intensiewe studies in die 1950’s en Hannah Arendt se gebruik van Nietzsche, assosieer net die leek of die Facebook-warrior Nietzsche met die Nazis. Nietzsche het self die meer robuuste edel etiek van die Grieke en Romeine verkies bo die sagter univesele moraal van die Christendom. Hy dui aan – en denkers soos Freud, Foucault, Darwin, Hegel en Fukuyama beaam dit: Wat ons as moraliteit beskryf is eintlik heeltemaal kontingent – m.a.w. dit kon heeltemal anders uitgewerk het.
Die rol van openbaring in die Christelike moraal
‘n Mens behoort hierdie uitdagings ernstig op te neem: Wat sou Keiser Augustus byvoorbeeld gemaak het van Nelson Mandela? Dit is hoogs onwaarskynlik dat hy veel ag op hom sou slaan. Maar tog was Augustus alles behalwe sonder moraliteit. Nietzsche se groot probleem was dat mense wat die Christendom probeer ‘verlaat’ deur aan Rome se moraliteit vas te klou, selde besef wat die ware implikasies daarvan is. Die grootste implikasie is dat daar geen ‘ware’ moraliteit ‘agter’ die Christendom skuil wat nou spranklend na vore gaan tree as die eintlike werklikheid nie. Op die ou einde is Christelik-humanistiese waardes afhanklik van openbaring: ‘n openbaring waarvoor ons maar bitter dankbaar moet wees. ‘n Meer ‘natuurlike’ etiek sal baie nader aan die Grieks-Romeinse model val – daar sal geen sprake van inklusiwiteit wees nie. Verdraagsaamheid, skryf Aristoteles trouens, is die laaste stuiptrekking van ‘n sterwende kultuur. Mense wat werklik voel dat hulle nie met die waarhede van die Christendom kan saamleef nie, het eintlik slegs een opsie: om die Klassieke Oudheid te herontdek. Dit sluit ook die Oosterse paganistiese tradisies in. Sodaniges het op die ou end meer met die Westerse paganisme te make as die Christendom.
As ‘n mens dan outentiek post-Christelik wil leef, moet die beginsels van die voor-Christelike wêreld eerbiedig word. Dit beteken onder andere dat iets soos moraliteit nie bloot ‘n gegewe is vir mense wat ‘oopkop’ leef nie, maar iets waarvoor hard gestry moet word en voortdurend krities evalueer moet word. ‘n Werklik bevryde mens het niemand se ‘toestemming’ nodig om daardie vryheid te omhels nie, ook nie die natuurwetenskappe nie. Die natuurwetenskappe gee bloot vir ons empiriese kennis oor die wêreld, dit is nie ‘n get-out-of-church-free kaartjie nie. So ‘n houding laat geen reg aan die wonderlike potensiaal van ‘n outentieke omgang met die natuurwetenskappe geskied nie, en dit is sprekend van iemand wat tog na ‘n vorm van koesterring smag.
Om die natuurwetenskappe – of ‘die mens’ soos ‘n transendentale gesagsbron te hanteer dra die spore van ‘n steeds diep versugting om deel te wees van iets groters. So ook die God-substitute in die vorm van Groot Morele Beginsels – wat eintlik geen gesag dra as daar nie ‘n werklike band met die transendente is nie. Ons het die tragiese geskiedenis van twintigste eeu wat wys dat pogings om plaasvervangers te probeer vind dikwels nog al die foute van die oorspronklike gesagsbron herhaal sonder om werklike nuwe insigte of betekenis te vind. Ek sal dit dus ten sterkste aanbeveel om na die Oorspronklike Groot Verhaal terug te keer – al is dit in ‘n minder repressiewe of styllose vorm. Dalk bied ‘n verdere reis die ideale antwoord.
Louise Mabille het 'n PhD in Filosofie met Nietzsche as onderwerp verwerf aan UP, sowel as een in Letterkunde aan die Universiteit van Hull, oor John Milton as republiekein. Sy was 'n Erasmusgenoot, is die skrywer van twee boeke oor Nietzsche en die mederedakteur van The Morality Wars: The Ongoing Debate On Human Goodness (Fortress Academic).
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in:
Ek sou graag meer volledig wou reageer op Louise Mabille se artikel Die Neet* Van Geloof in Na-Christelike Denke. Ongelukkig verstaan sy duidelik nie die artikel van my waarop sy reageer nie. Haar skrywe spreek glad nie die werklike inhoud daarvan aan nie.
Sy veralgemeen die term “radikaal bevrydende humaniteit” as ’n sinlose, moreel relatiewe wêreldbeskouing. Ek verwerp nie moraliteit nie, maar eerder ’n transendente godheid, en ek beklemtoon juis deugde soos menswaardigheid en geregtigheid. Mabille misverstaan my posisie opsetlik as ’n verwerping van alle betekenis, wat ’n strooipop-argument skep.
Mabille se argument dat ek nie so bevry is van die Christelike dogma as wat ek voorgee nie omdat ek steeds betrokke is by teologiese debatte, is maar net nog een van die vele strooipoppe wat sy opsit en self afskiet.
Ongelukkig skiet sy mis. Om iets te kritiseer beteken nie jy vind dit moeilik om afstand te doen van dit wat jy kritiseer nie. Dit is net so belaglik soos om te sê iemand wat die ANC verlaat en hulle nou kritiseer oor hul korrupsie vind dit moeilik om afskeid te neem van die ANC of ʼn gewese katoliek wat die Katolieke Kerk kritiseer oor pedofiel priesters sukkel om afskeid te neem van die katolieke kerk. Dit is totaal absurd.
Mabille se hele argument is so breed dat ʼn wa met osse daarin kan draai. Dit is egter allesbehalwe ’n gefokusde argument. Dit lyk eerder asof sy ’n karikatuur van sekularisasie probeer maak of ateïsme wil aanval.
Gevolglik toon haar argument ʼn ’n gebrek aan betrokkenheid by die nuanses van my oorspronklike argument, wat haar reaksie onoortuigend maak. Sy stel dit dat die na-Christelike wêreld “geen hoop” bied nie, maar het geen argument waarop sy dit grond nie.
Die gebrek aan bewyse laat haar argumente emosioneel en subjektief lyk, eerder as ’n robuuste intellektuele reaksie op die stuk wat ek geskryf het. Mens sou hoop iemand wat spog met ʼn PhD in filosofie sou dit snap.
Ek sal op my beurt dus ten sterkste aanbeveel dat sy besef die sogenaamde “Oorspronklike Groot Verhaal” waarna sy wil hê ek moet terugkeer is nie so oorspronklik soos wat sy dink nie. Daar is vele ander groot verhale wat ewe veel of selfs meer gewig dra.
Hierdie emosionele benadering kan lesers wat reeds met haar saamstem dalk oortuig, maar dit sal nie skeptici of lesers van my oorspronklike argument beïnvloed nie. Dit versterk die indruk dat sy die oorspronklike argumente nie ten volle begryp nie, aangesien sy eerder ’n algemene verdediging van geloof bied as ’n spesifieke reaksie op die oorspronklike kritiek.