Ek was ’n kind van die 1980’s in apartheid Suid-Afrika. In my vormingsjare het ek die voorreg gehad om groot te word in ’n huis waar die rakke met boeke oor selfverbetering, leierskap, persoonlike groei en die sielkunde van motivering gevul was.
Die sogenaamde “selfhelpbeweging” wat in die 1980’s uit die Verenigde State van Amerika ontstaan het, het met sy vele “hoe om”-handleidings (how to) en “tien stappe tot sukses”-formules die soort Christenskap beïnvloed waardeur ek gevorm is. Dit het 'n kultuur van positiewe ingesteldheid wat in persoonlike ontwikkeling gegrond en 'n verwagting van maatskaplike vooruitgang gekweek.
Hierdie pseudo-profete, self produkte van die onbesonne dae van vryemark-kapitalisme, het 'n evangelie van leierskap gekweek en verkondig. Dit was 'n wêreldveranderende boodskap wat 'n buitensporige klem geplaas het op persoonlikheid, oortuiging en 'n tipe dissipelskap tot die “Jesus van materiële sukses”.
Met terugskouing blyk dit dat Maslow se idee van “selfaktualisering” in 'n vreemde maar kragtige verbintenis met Paulus se oproep tot “om die nuwe mens nuut te beklee” getree het. Saam het hierdie twee 'n kragtige mengsel opgelewer, dalk vergelykbaar met die Protestantse werksetiek, maar met 'n evangeliese sendingsdrang om die wêreld te red, buite die kerk se mure.
Ek het ek vas geglo in so 'n wêreldbeeld, waar leiers die wêreld kan verander en waar geloofsleiers dit ten goede moet verander. Maar hierdie oortuiging het min werklike instrumente gebied om dit te bewerkstellig, buiten vir die kweek van 'n moreel-deugsame lewe en 'n werksetiek wat fokus op opgaar of versameling van aardse besittings.
Op pad na geregtigheid
In my twintigs, tydens my studies, het ek kennis gemaak met Donal Dorr se boek The Social Justice Agenda: Justice, Ecology, Power and the Church. Dorr, 'n sendingwerker, open sy boek met 'n gedeelte oor die “huidige agenda” of die “groot vraagstukke van maatskaplike geregtigheid”. Dit was my eerste kennismaking met 'n geloofsdenker wat sistematies die strukturele ongeregtighede van die samelewing (van armoede, ongelykheid, ekologiese uitbuiting en magsmisbruik) deur 'n geloofslens ontleed het.
Dorr het my denke verbreed. Christelike sendingwerk hoef nie beperk te wees tot individuele pogings van geloofsverdieping en naaste-liefde nie, maar kan ook gestalte kry in die maatskaplike sfeer.
As iemand uit die Evangeliese tradisie, was my siening van die Koninkryk van God tot op daardie stadium redelik beperk tot 'n vae, hemelse ideaal wat dalk een of ander tyd op aarde verwesenlik sou word.
Volgens hierdie siening moes die lewe hier net “deurstaan” word met die belofte van 'n pelgrimstog na 'n beter bestemming ná die dood. Die Reformasie se idee van Sola Fide (geloof alleen) het my wêreldbeskouing só beïnvloed dat ek verlossing uitsluitlik verstaan het as individuele bekering wat deur 'n nou sleutelgat bereik moes word. Maar Dorr het 'n nuwe visie gebring, naamlik dat verlossing, die koms van Christus se Koninkryk van Liefde, geregtigheid en vrede, alle sfere van die lewe kan deursypel, en dat dit moet.
Hierdie nuwe perspektief het weerklank gevind by iets wat ek jare tevore gehoor, maar nooit ten volle begryp het nie: Dat die Romeinse kruis waarop Jesus gekruisig is, eers 'n simbool van verwerping en onderdrukking was, maar toe self verlos is om 'n simbool van hoop, herskepping en redding te word. In daardie verloste kruis lê die kruispunt tussen hemel en aarde, God en mens, en die versoening van die hele skepping met sy Skepper, deur liefde.
Dorr se geregtigheidsagenda het my laat besef dat alles in die lewe kan, en behoort, verlos te word. Dit bied 'n visie van hoop.
Op pad na sistemiese verandering
In die jare na my kennismaking met Dorr het ek deur studies in toekomsnavorsing, sosiale en politieke etiek, en uiteindelik openbare beleid en leierskap, die werklikheid van strukturele ongeregtigheid begin besef.
Met behulp van toekomsdenke en verwante dissiplines het ek begin verstaan hoe die wêreld werk. Nie slegs deur individue nie, maar deur stelsels. In post-apartheid Suid-Afrika en ander onderontwikkelde dele van Afrika blyk dit dat strukturele en sistemiese probleme eerder die norm as die uitsondering is.
Dit beteken dat ware verandering nie afsonderlik deur individuele leiers moontlik is nie. Om blywende transformasie teweeg te bring, moet daar verandering kom in die keuses en karakters van instellings, regerend en kommersieel. Beleid en strategie moet so aangepas word dat dit die stelsels self hervorm, en daarmee saam die werklikhede wat daardie stelsels in stand hou.
My eie teorie van verandering het gevolglik weg van 'n fokus op die snypunt tussen “leierskap”, “strategie” en “etiek” verskuif, na die veel dieper snypunt van “instellings”, “beleid/strategie” en “geregtigheid”. Die impak wat ek wou hê, moes verskuif van “verander leiers se denke”, na “hervorm die gedrag van stelsels.”
Die twee is natuurlik met mekaar verweef, maar hulle vereis verskillende ingrype, en hulle is fundamenteel verskillend in aard en benadering.
'n Oomblik van entropie of moontlikheid
Ons leef in 'n tyd van polarisasie en breuklyne. My aanvoeling is dat die wêreld sistemies besig is om onheilspellend naby aan 'n oomblik van entropie—'n verval in wanorde— te gly, eerder as 'n bestemming van sintropie, waar orde en harmonie te midde van kompleksiteit heers. Die mensdom was al van tevore hier, en ons sal dit soos in die verlede moet vryspring.
Die geskiedkundige oomblik waarin ons onself bevind vra nie net individuele wysheid nie, maar ook sistemiese transformasie. Ons het intervensies nodig wat die gemeenskapsbelang bo eng groepsbelang stel terwyl dit eweneens fyn op die ongeregtighede wat reggestel moet word ingestel is.
Mag ons geseën word om beide die persoonlike én die sistemiese leierskap te voorsien wat hierdie oomblik van ons vra.
Dr. Marius Oosthuizen is 'n senior beampte vir vermoëbou in toekomsverkenning by United Nations Global Pulse (UNGP), Helsinki, in die Uitvoerende Kantoor van die Sekretaris-Generaal (EOSG).
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: