Daar is redelike konsensus dat onderwys in Suid-Afrika in 'n krisis verkeer. As bewys hiervan word daar verwys na oorvol klaskamers, swak prestasie in internasionale peilings, leerders wat uit die skoolstelsel uitval, en 'n oorvol kurrikulum.
Onder kenners bestaan daar ook redelike konsensus oor die voorgestelde oplossing: Die skoolstelsel moet reggeruk word. Hierdie skoolstelsel verplig ouers om hul kinders by 'n skool in te skryf. Kenners meen dat hierdie skoolplig vervroeg moet word sodat kinders reeds op 'n jonger ouderdom begin om sogenaamde noodsaaklike vaardighede te bemeester. Meer klaskamers moet gebou word. Die staatsvoorgeskrewe kurrikulum moet hervorm word sodat die vaardighede wat nodig is vir die ekonomie oorgedra kan word, sonder oormatige administrasie.
Weens hierdie breë konsensus is daar min werklike debat oor onderwys. Die enigste onderwysdebat wat sowat 10 000 mense na die Voortrekkermonument kon lok, was die debat oor die magte van beheerliggame van openbare skole om taal- en toelatingsbeleid te bepaal, en sodoende identiteit, waardes en standaarde te handhaaf. Hierdie debat het egter min met die onderwyskrisis self te doen. Is hierdie gebrek aan debat dalk die gevolg daarvan dat ons oor die verkeerde saak praat?
Om hierdie vraag te beantwoord, is dit nodig om vanuit grondbeginsels te redeneer. Die eerste stap is om 'n omskrywing van onderwys te hê. In Suid-Afrika word basiese onderwys gereguleer deur die Suid-Afrikaanse Skolewet. Hierdie wet bevat egter geen omskrywing van onderwys nie. Vir 'n omskrywing kan 'n mens die Universele Handves van Menseregte raadpleeg, waarvolgens onderwys gemik moet wees op “die volle ontwikkeling van die menslike persoonlikheid en die bevordering van respek vir menseregte en fundamentele vryhede”.
Beperkinge van die Onderwysbegrip
Hierdie omskrywing alleen illustreer reeds 'n kernprobleem met die skoolstelsel. As elke mens 'n unieke persoonlikheid het, hoe kan 'n uniforme staatsvoorgeskrewe kurrikulum geskik wees om die menslike persoonlikheid te ontwikkel? Kan onderwys respek vir vryheid bevorder as die wet kinders met dwang in die skool hou?
Tweedens is dit nodig om 'n omskrywing van die ekonomie te hê. Volgens die bekende ekonoom Ludwig von Mises is ekonomie die studie van menslike handelinge. In ekonomiese handelinge word dinge geruil. Iemand koop byvoorbeeld 'n koeldrank omdat hy op daardie oomblik 'n groter voorkeur het vir die koeldrank as vir die geld wat hy daarvoor moet betaal. Net soos elke persoonlikheid uniek is, is elke individu se voorkeure ook uniek. Besighede probeer daarom produkte en dienste verskaf wat so na as moontlik by die voorkeure van hul mark aansluit.
Om hierdie uiteenlopende voorkeure te bevredig, is 'n groot diversiteit van kennis en vaardighede nodig. Hoe kan 'n uniforme kurrikulum, wat noodwendig slegs 'n beperkte stel kennis en vaardighede oordra, sinvol wees vir 'n ekonomie wat 'n wye verskeidenheid vaardighede benodig? Selfs al sou 'n mens vir 'n oomblik aanvaar dat 'n uniforme kurrikulum vir almal sinvol kan wees, lei dit tot 'n verdere vraag: Wie is geskik om so 'n kurrikulum vas te stel? Is dit werklik die staat – wat sy inkomste deur dwang invorder – wat die mees geskikte entiteit is om te bepaal hoe mense opgelei moet word om innoverende en produktiewe burgers te word?
Die wet bepaal verder dat skoolbywoning verpligtend is vir kinders van sekere ouderdomme. Die skool is 'n omgewing waar kinders streng volgens ouderdom in groepe verdeel word en binne daardie groepe onderwys ontvang volgens 'n staatsvoorgeskrewe kurrikulum vir daardie ouderdomsgroep. Nêrens in die werklike lewe word mense egter so rigied volgens ouderdom ingedeel nie. In gesinne en werkplekke leef en werk mense van verskillende ouderdomme saam. Is hierdie sintetiese skoolomgewing werklik geskik om kinders vir die werklike lewe voor te berei?
'n Eenvoudige ontleding van ons onderwysstelsel vanuit grondbeginsels dui daarop dat die onderwyskrisis nie bloot die gevolg is van 'n gebroke skoolstelsel nie, maar dat die skoolstelsel self die probleem is. Die stelsel het eeue gelede ontwikkel om jongmense voor te berei vir fabriekwerk en militêre diensplig, en is grotendeels ongeskik vir die vereistes van 'n moderne samelewing. Die regmaak van die skoolstelsel gaan daarom nie die onderwysprobleem oplos nie.
Die oorgrote meerderheid kenners op die gebied van onderwys het 'n gevestigde belang binne die bestaande skoolstelsel. Om dié rede is dit vir hulle moeilik om buite die skoolparadigma te dink. Hulle sal aanhou pleit vir meer skole, meer navorsing en meer hervorming binne dieselfde raamwerk. Wie sal egter motiveer om skoolplig af te skaf en die verantwoordelikheid vir onderwys aan ouers terug te gee?
Die Bedekte Seën van Skolingsverval
Die werklike hervorming in onderwys vind intussen onsigbaar plaas, in die huise van gesinne. Ouers besluit om hul kinders uit die skoolstelsel te haal, of om hulle glad nie daarheen te stuur nie. Kenners en ministers frons. Hoe kan mense sonder formele onderwyskwalifikasies hul kinders opvoed? Ouers mag dit nie doen sonder toestemming van die departement nie en moet deur die departement gemonitor word. Om hierdie rede vereis die BELA-wet toestemming en monitering vir onderwys buite die skoolstelsel.
Ten spyte van BELA groei onderwys buite die skoolstelsel meedoënloos en grotendeels onsigbaar. Mense hoor daarvan slegs deur vriende en familie, en soms deur 'n sporadiese media-onderhoud. Intussen swyg die kenners en ministers, terwyl hulle naarstiglik probeer om 'n mislukkende skoolstelsel met krimpende begrotings reg te ruk.
Miskien is die vinnige verval van die skoolstelsel in Suid-Afrika oor die afgelope dekades 'n bedekte seën. Dit dien as 'n katalisator vir die groei van wat moontlik die werklike oplossing vir onderwys is, naamlik onderwys buite die skoolstelsel. Soos die pogings van kenners en ministers om die bestaande paradigma te red aanhou misluk, neem ouers wat in staat is om buite hierdie paradigma te dink, geleidelik oor.
Mettertyd sal dit al hoe meer sigbaar word – wanneer onderwysdepartemente skoolgeboue begin verkoop om begrotings te laat klop. Wanneer skoolpligbeamptes so skaars raak soos rasklassifikasiebeamptes ná 1994.
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










