Die Milnerton-drama van my stoep af
'n Voorval wat meer oor Suid-Afrika as oor boeliegedrag sê.
Milnerton-sentraal is 'n betreklik onbekende buurt in vergelyking met plekke soos Blouberg en Tafelsig. Met die boelie-insident by Milnerton Hoërskool het dit egter verander.
Boelie is 'n sistemiese probleem in skole, en wat in Milnerton gebeur het, is geensins uniek nie. So iets gebeur daagliks in baie skole. Die verskil is dat hierdie voorval op video vasgevang en wyd op sosiale media versprei is. Verantwoordelike partye het flink opgetree: Die skool het die leerlinge geskors, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het 'n ondersoek geloods, en die polisie is besig om 'n klag van aanranding te ondersoek.
Tog was hierdie vinnige optrede nie genoeg om die honger na publisiteit te stil nie. Hoofstroommedia het die verhaal op hul voorblaaie geplaas. Tot Amnesty International het hul skok uitgespreek. Die voorsitter van die Parlement se Portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys het haar ontsteltenis te kenne gegee. Radioprogramme het kundiges en aktiviste uitgenooi vir kommentaar. En op 23 Oktober het die leerlinge in die hof verskyn.
Toe kom die EFF ook aan boord. Hulle het 'n kennisgewing versprei wat mense oproep om op 22 Oktober te betoog. “Down with racist bullies,” het dit verklaar. “Transport will be provided.” Vanaf 13:00 het die rooi T-hemde begin aankom. Dit was 'n warm dag, so die meeste het hul berette by die huis gelos. Julius Malema en sy masjiengeweer was ook afwesig.
As deel van die buurtwag moes ek die optog dophou. Taxis het mense van heinde en verre afgelaai, en die skare het gegroei tot oor die honderd. Uit nuuskierigheid het ek nader gestaan. Die T-hemde het gelees: “Jobs Now, Land Now, Stop Loadshedding.” Uit pure hulpvaardigheid het ek een van hulle daarop gewys dat beurtkrag al meer as 'n jaar verby is en dat dit tyd is vir nuwe T-hemde. Miskien moes ek liewer stilgebly het want my opmerking kon dalk veroorsaak dat nuwe T-hemde bestel word, maar die verskaffer nooit betaal word nie.
Ek neem aan dat toestemming vir die betoging tot 15:00 verleen is. Teen daardie tyd is die skare waarskynlik versoek om uiteen te gaan, maar die dans en sang was te lekker. Die polisie was toe verplig om die betogers met traangas op te breek. Ná vyf skote het die skare binne sekondes uitmekaargespat. 'n Bonanza vir die kameras — want nou was daar weer dramatiese beelde vir die aandnuus.
Die volgende dag het ek 'n verdwaalde plakkaat buite die skool opgetel. Dit lees: “STOP. The parents are not pressing charges, then we as parents will do so.” Wat presies die doel van die betoging was, is dus moeilik om te bepaal.
Kort daarna het die Portefeuljekomitee 'n besoek aan die skool afgelê en beloof om die “grondoorsaak” van die probleem te ondersoek. Ná die hofverskyning het media berig dat die leerlinge tot 15 jaar tronkstraf in die gesig kan staar.
Wat het eintlik hier gebeur?
Afknouery is 'n diepgewortelde probleem wat dekades lank al bestaan. Erger dinge as wat in Milnerton gebeur het, gebeur gereeld sonder enige mediabelangstelling of regsoptrede. Waarom dan nou hierdie drama? Volgens Rapport van 26 Oktober het 'n laerskoolkind in Belhar op 3 Oktober sy lewe geneem nadat hy geboelie is, maar daaroor was daar geen drama nie.
In 'n bekwame regstaat is die publiek oorwegend wetsgehoorsaam, en die klein groepie oortreders word konsekwent vervolg. Suid-Afrika is egter 'n gefaalde rampokkerstaat — 'n land waar korrupsie en straffeloosheid so algemeen is dat wetteloosheid die norm geword het. Teen dié agtergrond het die Milnerton-insident verskeie “voordele” vir verskillende rolspelers gebied.
Milnerton Hoërskool oor die algemeen goed funksioneer, kon polisie en justisie lyk of hulle doeltreffend optree — sonder die risiko dat geraamtes uit die kas val van vorige soortgelyke oortredings wat nooit ondersoek is nie. Die EFF het kans gekry om weer in die nuus te verskyn. Die media het 'n nuwe sensasie gehad om klieks te lok. Allerlei kundiges en aktiviste kon lugtyd kry. En selfs die Portefeuljekomitee kon voorgee dat hulle kragdadig optree teen 'n probleem waarvoor hulle toenemend geblameer word — omdat die BELA-wet nuwe reëls ingestel het wat dissiplinering in skole nog moeiliker maak.
Maar ander is benadeel. Die dissiplinêre stappe wat geneem is, is bedoel om 'n onreg reg te stel, nie om lewens te verwoes nie. Deur die saak só op te blaas, is die betrokke leerlinge aan 'n nasionale publieke verhoor onderwerp wat nie in verhouding tot hul dade staan nie. Dit is die moderne ekwivalent van die 17de-eeuse doodstraf vir die steel van 'n brood. Die hoop is nou dat hierdie oordrewe reaksie 'n afskrikmiddel sal wees vir ander. Of daar enige rede is om so 'n hoop te koester, is 'n oop vraag.
Uiteindelik sê die Milnerton-drama minder oor boeliegedrag as oor Suid-Afrika self — oor 'n samelewing wat slegs reageer wanneer kameras rol, en instellings wat eers optree wanneer hulle beeld bedreig word.
Die werklike tragedie is nie die voorval nie, maar die manier waarop dit gebruik is om 'n siek stelsel gesond te laat lyk.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












