Wie is die ware konserwatiewes in Suid-Afrika?
'n Reaksie op Barend Wesseloo se artikel van 19 November 2025.
In 'n onlangse artikel op OntLaer lewer Barend Wesseloo kommentaar op konserwatiewes in die algemeen en op Willem Petzer in die besonder. Hy bied omskrywings aan wat die konserwatiewe tradisie verbind met “waarheid, stabiliteit en orde”. Dit het my laat wonder of die woord “konserwatief” in Suid-Afrika nog sin het — en vir wie.
Want op grond van Wesseloo se omskrywings sou selfs 'n kommunistiese staat “konserwatief” wees. Die Sowjetunie het immers vas geglo in die waarheid van kommunisme, obsessief stabiliteit en orde bewaak, en enige bedreiging vinnig na Siberië gestuur. Volgens Wesseloo se omskrywing sou Stalin 'n konserwatiewe ikoon wees. Dit wys hoe onvanpas die begrip raak wanneer dit sonder konteks gebruik word.
Die omskrywing – en om die begrippe te dekoloniseer
Etimologies beteken konserwatisme eenvoudig “om te bewaar”. Dit staan teenoor progressivisme, synde om die status quo te verander.
Die filosoof Michael Oakeshott beskryf konserwatisme as 'n ingesteldheid wat gemaklik is met wat bestaan, eerder as met groot projekte wat daarop ingestel is om die samelewing te herskep. In sy essay On Being Conservative sê hy: “To be conservative… is to prefer the familiar to the unknown.” Hierdie aanhaling wys dat konserwatisme nie net oor waardes gaan nie, maar oor die behoud van 'n bepaalde orde. Maar – en dit is die sleutelgedagte – hierdie omskrywing maak slegs sin wanneer ons weet watter orde in werklikheid bewaar word.
In Westerse demokrasieë is konserwatisme geskiedkundig verbind met sekere waardes, soos die gesin, godsdiens, markvryheid en beperkte regering. Maar dit is 'n spesifieke geskiedkundige tradisie, nie 'n universele waarheid nie. Daarom moet ons die begrippe konserwatief en progressief in Suid-Afrika dekoloniseer. Ons moet dit bevry van Westerse geskiedkundige bagasie en dit toepas op ons eie werklikheid, nie deur dié van 18de-eeuse Engeland nie.
Wat is die status quo in Suid-Afrika?
Sedert minstens 1948 was die sentrale organiseringsmeganisme van die staat rasseklassifikasie. Ná 1994 het die meganisme verander (die staat klassifiseer nie meer namens jou nie — jy moet dit self doen), maar die funksie van die klassifikasie het dieselfde gebly: toegang tot universiteite, werksgeleenthede, staatskontrakte, grond, lenings en selfs tuisonderwys-registrasie word op grond van ras bepaal. Die vorm verskil maar die essensie bly. Die staat maak steeds die samelewing op raslyne oop en toe. Die publiek moet steeds op elke vorm hul ras verklaar, en die ras wat gekies word bepaal die uitkoms. Al verskil is dat mense hulleself moet klassifiseer, en nie die staat nie.
Dit, en niks anders nie, is die werklike Suid-Afrikaanse status quo.
Wie is dan vandag konserwatief?
As konserwatief beteken “om die status quo te bewaar”, dan is iemand soos Willem Petzer – wat 'n nie-rassige samelewing bevorder wat geen lewende Suid-Afrikaner nog ooit ervaar het nie – nie konserwatief nie, maar progressief. Hy bevorder iets wat radikaal nuut is vir Suid-Afrika.
Die regering daarenteen is die ware konserwatiewes. Hulle noem dit “transformasie”, maar in werklikheid is dit niks anders as 'n verskerping van die rasgebaseerde status quo nie. Die enigste ontwikkeling is dat die meganisme van klassifikasie nou vryer en meer selfrapporterend geword het – maar die funksie het bly staan. Die ANC se transformasieprojek is dus nie progressief nie, maar 'n poging om die ou orde te bewaar deur dit as “regstelling sonder einde” te herverpak.
Wanneer kritici van transformasie daarvan beskuldig word dat hulle “apartheid terug wil bring”, is die beskuldiging nie net onlogies nie – dit word gebruik om die verlengstuk van apartheid te beskerm. Dit is 'n beskuldiging wat slegs sin maak vir mense wat nie die kontinuïteit van die status quo insien nie.
Waarom konserwatisme altyd verloor
As ons die regering korrek verstaan as 'n konserwatiewe beweging, dan is daar rede vir hoop, want konserwatiewe bewegings kan nooit wen nie, vir verskeie redes.
Eerstens is dit omdat konserwatisme altyd op 'n ander se agenda reageer. Die groep met die inisiatief beheer altyd die agenda. Die progressiewe beweging bepaal die agenda, terwyl die konserwatiewe beweging bloot die rol speel wat vir hom oorgelaat word. Tweedens inspireer konserwatisme nie. Oakeshott wys dat konserwatisme nie 'n utopie aanbied nie – net 'n gevoel van veiligheid dat dinge nie slegter sal word nie. Liewer die duiwel wat jy ken. Maar mense word gemobiliseer deur visies, nie deur versigtigheid nie. Progressiewes mobiliseer en konserwatiewes waarsku. Veral as die huidige werklikheid 'n distopie is van werkloosheid, misdaad, falende infrastruktuur en honger, gee die veiligheid dat dinge nie slegter sal word nie min hoop.
Derdens reageer konserwatiewes te laat. Die Italiaanse Marxiaanse denker Antonio Gramsci se siening van “posisionele oorlogvoering” illustreer dat progressiewes lank voor die geveg reeds die terrein voorberei. Konserwatiewes kom eers tot besinning wanneer die vyand reeds binne die poorte is. Vierdens is konserwatiewe skermpogings duur en riskant. Om te reageer op inisiatiewe van progressiewes skep krisisse. Op kort termyn word oorgegaan tot litigasie, mobilisasie, en noodsamesprekings. Dit is 'n sukkelstryd teen 'n vyand wat reeds die kulturele en administratiewe veld beset het.
Die toepassing op Suid-Afrika
Die regering is dus nie progressief nie – maar 'n ultra-konserwatiewe bewaker van 'n uitgediende rassebestel wat nog besig is met 'n laaste desperate poging om dit te verskerp met drakoniese kwotas en lisensies vir alles wat leef en beef. Baie energie gaan nodig wees om hierdie pogings af te dwing, maar staatsverval ondermyn die instrumente wat hiervoor nodig is, die stelsel kan nie meer sy eie konserwatisme onderhou nie.
Die opposisie – en selfs burgerorganisasies buite die parlement – is in werklikheid die progressiewe beweging. Hulle is besig om 'n nuwe samelewing te bou deur regsaksies, beleidsvoorstelle, parallelle instellings: privaat sekuriteit, privaat water, privaat onderwys, private dorpe. 'n Nuwe werklikheid wat van onder af kom. Die konserwatiewe beweging (die staat) leef op lenings, 'n verbrokkelende administrasie en die laaste oorblyfsels van legitimiteit. 'n Orde wat sy interne morele bronne uitgeput het en nou bloot op dwang staatmaak.
Aangesien die staat nog lank kan oorleef danksy 'n swak getransformeerde en effektiewe belastingdiens, kan die stryd nog lank duur. Terwyl daar 'n groeiende konsensus daaroor is dat die staat niks anders is as 'n misdaadsindikaat nie, word die agentskap wat die befondsing voorsien vir hierdie sindikaat nie beskou as medepligtig aan die misdade van die staat nie. Terwyl legio regterlike kommissies bewyse gedokumenteer het oor die misdadigheid van die staat, kan die befondser van daardie misdadigheid nie onbepaald vrygestel word oor die misbruik van daardie fondse nie.
Wie is konserwatief?
As Barend Wesseloo 'n Westerse of moreel-gelaaide definisie van konserwatisme gebruik, sal hy tot een gevolgtrekking kom. Maar as ons die term dekoloniseer en toepas op ons eie konteks, dan word die prentjie helderder:
Die ANC, met sy hardnekkige beskerming van 'n rasgebaseerde bestel, is die konserwatiewe beweging.
Diegene wat 'n nie-rassige bedeling bevorder, soos Willem Petzer, is die progressiewe beweging.
En diegene wat teen transformasie protesteer, wil nie terug na apartheid nie – hulle wil weg van apartheid se laaste oorblyfsels.
Ons moet die politieke taal van Suid-Afrika herlei na die werklikheid, nie na die ideologiese erfenis van ander kontinente nie. Eers dan kan ons eerlik vra: Wie bewaar die ou orde? En wie waag dit om iets nuuts te bou?
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












Puik gestel Bouwe. Ons moet aanhou baklei vir 'n ware nie-rassige Suid-Afrika.