Die Oppergesag van Vrees
Elkeen moet opstaan teen die normalisering van 'n dreigbedeling.
Daar ontwikkel 'n duidelike patroon in Suid-Afrika: die staat stel toenemend wette in wat swaar strawwe bepaal vir geringe oortredings, maar beskik nie oor die administratiewe vermoë om hierdie wette regverdig, konsekwent of volgens 'n behoorlike proses toe te pas nie.
In plaas daarvan om duidelike prosedures te volg, steun hy op dreigemente, waarskuwings en geoutomatiseerde kennisgewings om burgers te intimideer tot “vrywillige” nakoming. 'n Voorbeeld hiervan het onlangs op sosiale media verskyn: iemand ontvang vir jare boodskappe dat hy aan skuldinvorderaars oorhandig is vir 'n uitstaande televisielisensie. Maar wanneer hy bloot vra vir 'n geskrewe faktuur — die mees basiese brondokument waarop enige regmatige eis berus — volg daar stilte. Geen verduideliking nie. Geen proses nie. Net 'n jaar later nog 'n dreigement.
Dieselfde logika het vanjaar in die onderwyssektor afgespeel. Die BELA-wet verhoog die straf vir nie-voldoening aan tuisonderwysregistrasie van drie maande tot een jaar tronkstraf. Hierdie swaar straf het vrees geskep — nie omdat die staat bewys het dat hy die proses kon administreer nie, maar omdat ouers bang was vir die moontlikheid van vervolging. Duisende ouers het aansoeke ingedien deur 'n stelsel wat sedert 1996 vaag, onvoorspelbaar en nooit konsekwent toegepas is nie. Daardie aansoeke kan nou as data gebruik word om ouers in die toekoms verder te druk, te herinner en te intimideer — veral as onrealistiese sperdatums ingestel word. So word die databasis van vrees opgebou.
Maar 'n grondwetlike demokrasie werk anders. Waar die oppergesag van die reg geld, het burgers die reg op duidelike wette, behoorlike administrasie en skriftelike redes vir enige besluit. Dit is presies wat die persoon met die televisie-lisensie gedoen het: Stuur net vir my die regsgronde van julle eis.
In 'n dreigbedeling begin mense hulself wegsteek — stilbly, onder die radar leef, hoop niemand let op nie. Maar dit is nie vryheid nie, dit is selfsensuur.
Daar is 'n beter antwoord, en dit is om op te staan vir die oppergesag van die reg. Dring aan op prosedure. Vra vir duidelikheid. Versoek geskrewe redes.
As die antwoord stilte is, is dit nie jy wat in versuim is nie — dit is die administrasie. Ons leef tans in 'n dreigbedeling, regeer deur die oppergesag van vrees. Wegkruip en kla verander niks. Burgers herstel die oppergesag van die reg deur dit uit te leef.
Dit begin met 'n eenvoudige vraag: Wat sê die wet presies, en waar is die prosedure op skrif? Om dit vreesloos te vra — rustig, volhardend en in die openbaar — is nie rebellie nie, dit is die grondbeginsel van 'n regstaat. Dit is ook die Christelike weg: nie om uit vrees toe te gee aan onregmatige eise nie, maar om die regte ding te doen. Die Bybel sê immers herhaaldelik: “Moenie vrees nie.”
Nie omdat daar niks is om voor bang te wees nie, maar omdat vrees nooit die bron van geregtigheid mag word nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










