Na sy Januarie-konferensie kondig die ANC aan dat 'n sogenaamde “oorlogskamer” gevestig gaan word om munisipale dienslewering reg te ruk voor die verkiesing. Oorlog word verklaar teen swak dienslewering. Die inisiatief staan onder leiding van Fikile Mbalula. Die kundigste kaders gaan ontplooi word. Die fokus is waterretikulasie en paaie. Daar is goeie hoop dat 'n gefokusde oorlogskamer hierdie probleme gaan oplos soos die elektrisiteitsprobleem “opgelos” is.
Die vraag is egter: Kan die waterprobleem soos die elektrisiteitsprobleem opgelos word? Kan 'n oorlogskamer die probleem oplos? Wil die politici dit oplos?
Kan water opgelos word soos beurtkrag?
Die hoop is dat waterprobleme opgelos kan word soos beurtkrag “opgelos” is. Die probleme verskil egter fundamenteel in argitektuur en sigbaarheid.
Die elektriese infrastruktuur bestaan uit kapasiteite vir opwekking, kragvervoer en verspreiding. Beurtkrag het hoofsaaklik ontstaan uit 'n tekort aan opwekking — 'n relatief gesentraliseerde probleem. Bykomende kragopwekking (hetsy vanuit die staat of privaat inisiatief) kon die druk op die hele netwerk verlig. Dit was nie eenvoudig nie, maar dit lyk of dit gewerk het. Al het dit 17 jaar geneem. Wateronderbrekings is meestal nie 'n generasieprobleem nie. Die damme is vol. Die probleem lê by distribusie. Lekkende pype, gebreekte pompe, en verwaarloosde reservoirs.
Die problematiese waterinfrastruktuur is gedesentraliseer en spesifiek tot plaaslike omstandighede. Groot hoeveelhede kundige spanne op verskeie plekke gaan nodig wees om die probleem aan te spreek. Wanneer infrastruktuur onsigbaar is, word voorkomende onderhoud dikwels nagelaat. Hoe sigbaarder die infrastruktuur, hoe makliker is dit om voorkomende onderhoud te motiveer.
Elektriese infrastruktuur is grotendeels bogronds en sigbaar. Kragsentrales, hoogspanningslyne, substasies, straatkaste en bogrondse distribusie. Slegs laagspanningslyne in die distribusienetwerk is ondergronds. Een van die onsigbare dinge in elektriese infrastruktuur is die olie in transformators, en dis juis wat lei tot die opblaas van substasies.
Waterinfrastruktuur is grotendeels ondergronds en onsigbaar. Die damme is bogronds, maar dis nie waar die probleem lê nie. Rioolverwerking is ook bogronds, maar die gevolge van disfunksionele aanlegte word nie direk deur inwoners ervaar nie. Waterpype is egter byna almal ondergronds en onsigbaar. Slegs in uitsonderlike situasies, soos die rioolpype van Dainfern, is pype bogronds.
As iets ondergronds is, is die verval onsigbaar. Om te besluit of 'n pyp vervang moet word benodig akkurate dokumentasie. Op grond van die ouderdom van die pyp en geprojekteerde leeftyd kan jy besluite neem. Daarsonder kan jy geen besluite neem nie. Dan neem pype hulle eie besluite en begin bars.
As onderhoud van die waterinfrastruktuur nagelaat is, is dit waarskynlik ook die geval dat die rekenaarstelsels met die rekords van die infrastruktuur ook nie onderhou is nie. Hardeware, bedryfstelsels en sagteware is nie opgedateer nie. Lisensies is nie hernu nie. Die data in die stelsel is oud. Die stelsel is bykans nutteloos vir doeleindes van beplanning.
Om dus die waterprobleem op te los is moeiliker as die elektrisiteitsprobleem:
Dit is 'n gedesentraliseerde instandhoudingsprobleem. Dit verg tegniese vermoë op grondvlak en nie net politieke koördinering en enkele kundiges op nasionale vlak nie. Jy kan nie 'n verspreide infrastruktuurverval met 'n gesentraliseerde noodstruktuur oplos nie.
Dis oorwegend 'n onsigbare probleem, omdat die problematiese infrastruktuur oorwegend ondergronds is. Om 'n onsigbare probleem sigbaar te maak, vereis die opgradering en opdatering van IT-stelsels. Daarvoor is addisionele groepe kundiges oraloor nodig.
Hoe lyk 'n oorlogskamer?
'n Oorlogskamer beteken:
Daaglikse vergaderings.
Senior politici en tegnici om dieselfde tafel.
Verlof wat gekanselleer word.
Oortyd.
Media-vrystellings.
Ministers wat krisispunte besoek net voor groot politieke toesprake.
Werk wat nie met die krisis te doen het nie, maar nog steeds belangrik is, word agterweë gelaat. Miskien word die opgradering van die stelsel wat rekeninge uitstuur weereens uitgestel.
Dit is hoogs sigbaar. Dit skep 'n indruk van dringendheid. Maar dringendheid is nie dieselfde as kapasiteit nie.
Oorlogskamers probeer bestaande strukture gebruik om probleme op te los. Dit verander nie beleid nie. Dit voer nie nuwe bekwaamhede in nie. Dit neem aan dat bestaande munisipaliteite die vermoë het om die probleem op te los, indien daar net genoegsame politieke druk uitgeoefen word. Hierdie aanname is fundamenteel foutief.
Van dag een af gaan die oorlogskamer ook vasbrand weens gebrek aan inligting. Sonder betroubare data kan geen prioritisering plaasvind nie en sonder prioritisering kan 'n oorlogskamer nie funksioneer nie. Begrotings gaan moeilik wees. Dit gaan moeilik wees om vordering te rapporteer. Die oorlogskamer kan dalk die herstel van 'n gebarste pyp bespoedig, maar sodra dit bereik is, bars die volgende pyp op 'n onvoorspelbare plek.
Wat 'n oorlogskamer wél doen
'n Oorlogskamer kan sekere dinge bereik. Dit kan politieke fokus konsentreer, dit kan administratiewe hindernisse tydelik verwyder en dit kan koördinering verbeter.
Maar dit verander nie die kwaliteit van plaaslike bestuur of die vaardigheidsvlak van aangestelde personeel nie. Dit doen ook niks aan die kultuur van (of eerder tekort aan) aanspreeklikheid of jare se uitgestelde instandhouding nie.
As dieselfde strukture en dieselfde besluitnemers in beheer bly, is die oorlogskamer eerder 'n versnellingsmeganisme as 'n hervormingsmeganisme. Wanneer die probleem tot 'n mate opgelos is, keer die plaaslike owerhede weer terug na hulle ou gewoontes.
Wanneer die oorlogskamer aangekondig word, gaan die narratief van die regering verander na: ”Ons het julle gehoor. Ons gaan nou iets doen. Gee ons nou tyd om ons werk te doen en hou op met julle kritiek.” Oorlogskamers word dikwels gebruik om politieke probleme op te los, naamlik die swak mediadekking en proteste. Nie noodwendig om werklike probleme op te los nie. As die oorlogskamer dit regkry om gemoedere te kan kalmeer met leë beloftes, dan is dit suksesvol, selfs al is geen enkele pyp vervang nie.
Die politieke wil om waterinfrastruktuur te herstel
As elektriese infrastruktuur faal is daar geen elektrisiteit nie. As die waterinfrastruktuur faal, kan water wel afgelewer word met tenkers. Nie genoeg om te stort nie, maar darem genoeg om te drink en te kook.
Tenkers het sekere politieke voordele. Eerstens kan tenders vir tenkers uitgedeel word aan lojale kaders deur noodaankope. Tweedens is dit 'n bietjie van 'n gelykmaker. Dit wis die verskille uit tussen die wat toegang het tot lopende water en die wat dit nie het nie. Derdens gee dit politici meer mag. As gemeenskappe moeilikheid maak word tenkers teruggetrek. Vierdens is tenkers genoegsaam om die grondwetlike reg op water te verwesenlik. Hofsake om lopende water te eis het min kans op sukses. Hierdie voordele ondermyn tot 'n mate die politieke wil om die probleem op te los.
In Maart 2026 het 'n burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Helen Zille, gaan swem in 'n slaggat wat al vir 3 jaar nie herstel is nie. Dit het soos 'n virus versprei en Johannesburg se stadsraad in so 'n groot verleentheid geplaas dat hulle dit binne drie dae herstel het.
Hierdie insident gee 'n belangrike insig. Hiermee demonstreer dit die stad se vermoë om slaggate binne 3 dae te herstel. Die feit dat die stad vir 3 jaar nie die slaggat herstel het nie, dui aan dat dit 'n politieke keuse is om nie infrastruktuur te herstel nie.
Wat nou?
Dit neem tyd vir die publiek om te besef dat die politici 'n probleem nie kan, of dikwels nie wil oplos nie. Weens die argitektuur en sigbaarheid van die waterprobleem is daar geen rede om te glo dat dit soos die elektrisiteitsprobleem opgelos kan word nie. Weens die politieke voordele is daar min politieke wil om die probleem op te los.
Wanneer die algemene publiek dit uiteindelik besef, word 'n draaipunt bereik. Hulle besef hulle is op hulle eie. Verkiesings, hofsake en optogte lewer op hul beste leë beloftes. Hulle moet 'n plan maak, of afhanklik word van kadertenkers.
Gemeenskappe en besighede maak planne om die probleem op te los. Ongeag of die wet dit toelaat of nie. As die staat nie water kan verskaf nie, raak dit moeilik om wette af te dwing wat ander verhoed om dit wel te doen. Dit gaan moeilik raak om te verduidelik aan 'n regter wat vir 'n week nie kon stort nie. Water word toenemend 'n sektor wat deur privaatspelers oorheers word. Dieselfde begin gebeur met waterverskaffers as wat met Telkom gebeur het, en wat besig is om met Eskom te gebeur. 'n Nuwe waterbedeling word van grondvlak af gevestig.
Of gemeenskappe toegelaat gaan word om 'n nuwe bedeling te vestig gaan die tyd leer. As Helen Zille burgemeester word van Johannesburg, gaan sy kies vir 'n bekwame staat, of bekwame gemeenskappe bemagtig?
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









