Die SA Staat se Minagting van Ouerskap
Hoe die Skolewet ouerlike gesag met bloedlose staatsbeheer vervang.
Die Skolewet probeer die reg op basiese onderwys verwesenlik deur ouers te verplig om hulle kinders na 'n publieke skool of staatsgeregistreerde privaat skool te stuur.
Dié wat hul kinders tuis wil onderrig, moet toestemming kry om daarvoor te registreer. Hierdie vereiste verander 'n reg op onderwys na skoolplig en ontneem ouers se vryheid om oor hul kinders se opvoeding te besluit. Die inwerkingtreding van die BELA-wet het skoolplig uitgebrei en tuisonderwys moeiliker gemaak. Dit het baie mense weer laat dink oor wie verantwoordelik is vir onderwys. Die staat of ouers? Hierdie artikel beskou die saak vanuit die perspektief van die Bybel, internasionale reg, die Grondwet en die Kinderwet.
Ouerregte het 'n lang geskiedenis in Westerse samelewings. Die Westerse samelewing het sy ontstaan hoofsaaklik in die Christelike godsdiens. Volgens die Bybel is die onderrig van kinders die verantwoordelikheid van ouers. Slegs in situasies van ballingskap word jongmense deur die staat onderrig, soos wat dit met Daniël in Babilon die geval was. As ouers die vryheid verloor om hulle kinders te onderrig, lyk dit dalk meer soos 'n straf oor 'n samelewing as gehoorsaamheid aan God.
In 1690 het die Britse filosoof John Locke geskryf dat ouers die natuurlike plig het om hul kinders te beskerm, te versorg en op te voed. Volgens hom is kinders nie bloot die skeppings van hul ouers nie, maar skeppings van God, en ouers moet rekenskap aan God gee vir hoe hulle hul kinders grootmaak.
Internasionale reg
In 1948 het die Verenigde Nasies die Universele Verklaring van Menseregte aanvaar. Artikel 26(3) daarvan bepaal: “Ouers het die reg om te kies watter tipe opvoeding hulle kinders ontvang.” Die oorspronklike Engelse vertaling stel dit nog sterker en praat van 'n “prior right”. Dus, 'n reg wat swaarder weeg as die regte van die staat wat opvoeding betref.
Hierdie bepaling is 'n reaksie op die Tweede Wêreldoorlog. In daardie tyd het die wêreld gesien hoe regerings onderwysstelsels gebruik het om ideologieë op die volgende geslag af te dwing. In Nazi-Duitsland is tuisonderwys verbied en is skole streng deur die staat beheer. Suid-Afrika het tydens die apartheidsera 'n soortgelyke pad gevolg deur tuisonderwys te verbied en skoolplig geleidelik uit te brei. Alhoewel die regering tuisonderwys in 1994 toegelaat het, is staatsbeheer sedertdien geleidelik weer uitgebrei. In 2024 het die BELA-wet die straf vir ouers wat nalaat om hulle kinders skool toe te stuur strenger gemaak, skoolplig uitgebrei na Graad R en registrasievoorwaardes vir tuisonderwys strenger gemaak.
Artikel 26(3) bevestig daarom 'n belangrike beginsel: Hoewel die staat minimum standaarde mag stel, lê die primêre verantwoordelikheid vir 'n kind se opvoeding by ouers en nie by die staat nie. In 1966 het die Verenigde Nasies twee verdere menseregteverdrae aanvaar: die Internasionale Verdrag oor Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte (ICESCR) en die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte (ICCPR). Suid-Afrika het albei hierdie verdrae geratifiseer. Hierdie verdrae vereis dat regerings die vryheid van ouers moet respekteer om skole vir hul kinders te kies wat nie deur die staat beheer word nie, en hul kinders se godsdienstige en morele opvoeding volgens hul eie oortuigings te bepaal.
Die geskiedenis wys ook dat howe dikwels regeringspogings om volle beheer oor onderwys te kry, verwerp het. In die bekende Amerikaanse hofsaak Pierce v. Society of Sisters (1925) het die hof 'n wet ongeldig verklaar wat alle kinders verplig het om openbare skole by te woon. Die hof het gesê: “'n Kind is nie bloot 'n skepsel van die staat nie.” Ouers het dus die reg en die plig om oor hul kinders se opvoeding te besluit.
Die SA Grondwet
Artikel 39 van die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal dat howe internasionale reg in ag moet neem wanneer hulle wetgewing uitlê. Dit beteken dat Suid-Afrika ook die internasionale reg moet respekteer dat ouers die vryheid het om oor hul kinders se opvoeding te besluit. Skoolplig en tuisonderwysregistrasie perk hierdie vryhede in.
Artikel 28 van die Grondwet bepaal ook dat elke kind die reg het op gesinsorg of ouerlike sorg. Die Grondwet self omskryf nie “sorg” nie, maar die Kinderwet verduidelik dat dit onder andere beteken dat ouers verantwoordelik is om hul kind se onderwys en ontwikkeling te lei en te rig. As ouers eers toestemming moet vra voordat hulle hul kinders tuis kan onderrig, raak dit dus ook die kind se reg op ouerlike sorg. Gesinne, skole, kerke en regerings het elkeen hul eie rol in die samelewing. Die opvoeding van kinders is 'n taak wat tuishoort in die gesin. Van geboorte af gebeur dit so. As ouers van instellings gebruik wil maak, moet dit hulle vrye keuse wees en onder hulle beheer wees. 'n Wet wat ouers verplig om van 'n sekere ouderdom af hierdie taak uit te kontrakteer aan 'n instelling buite die gesin is moeilik om rasioneel te verdedig. Wanneer ouers toestemming benodig om voort te gaan met iets wat hulle van geboorte af reeds doen, eis die staat in werklikheid gesag binne die gesin self op.
Die Grondwet van die Wes-Kaap erken ook hierdie beginsel. Dit bepaal dat die provinsiale regering moet streef na 'n omgewing waarin alle kinders basiese onderwys ontvang in 'n stelsel van hul ouers se keuse. As die skolewet die skoolstelsel verpligtend maak, maak dit inbreuk op die vryhede van Weskaapse ouers om stelsels anders as die skool te kies.
Die Kinderwet en Godsdiensvryheid
Die staat mag slegs ingryp wanneer daar bewyse is dat ouers nie meer besluite in die beste belang van hul kinders kan neem nie. In sulke gevalle maak die Kinderwet voorsiening vir ingryping deur die hof.
Volgens die Kinderwet is die Hooggeregshof die oppervoog van alle kinders. Slegs die hof het die gesag om ouerlike besluite tersyde te stel. Artikel 51 van die BELA-wet gee egter aan onderwysamptenare die mag om ouers se besluit om tuisonderwys te kies, tersyde te stel. Administratiewe amptenare behoort nie so 'n wye diskresie te hê om ouerlike besluite te verander sonder regterlike toesig nie, veral nie wanneer die registrasievereistes vaag en oop vir subjektiewe interpretasie is nie.
Volgens die Grondwet moet die beste belang van die kind altyd die belangrikste oorweging wees. In die meeste gevalle is ouers die beste in staat om hul kinders se opvoedkundige behoeftes te verstaan. Dit is dus onredelik dat staatsamptenare, wat nie die kind se situasie ken nie, ouerlike besluite moet goedkeur. Selfs onderwysers het nie hierdie gesag nie. Daar word dikwels gesê dat onderwysers in loco parentis optree. Dit beteken hulle tree in die plek van die ouers op, nie bo die ouers nie.
Opvoeding gaan nie oor waardevrye kennis en vaardighede nie. Dit is naby verbonde met godsdiens en wêreldbeskouing.
Daar bestaan nie neutrale opvoeding wat heeltemal los van waardes of godsdienstige oortuigings is nie. In Deuteronomium 6 staan daar “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” Die frase “hierdie woorde” verwys na God se Woord, en nie die staat se kurrikulum nie. Die sit, op pad en gaan lê dui op 'n volledige taak, en nie iets wat slegs na-ure gebeur nie.
Die Nasionale Kurrikulumverklaring in Suid-Afrika is gebaseer op 'n intergeloofsbenadering wat alle godsdienste as gelyk behandel. Vir gelowiges strook dit nie met hul oortuiging dat God bo alle menslike instellings staan nie. Dit was een van die redes waarom baie kerke beswaar gemaak het teen die invoering van hierdie kurrikulum in 2002. Wanneer die staat dus die inhoud van onderwys voorskryf, bots dit met ouers se reg op godsdiensvryheid, veral wanneer kinders verplig word om inhoud te bemeester wat nie met hul ouers se oortuigings strook nie.
Wat van standaarde?
Internasionale reg en Suid-Afrika se grondwetlike beginsels erken dat ouers die primêre verantwoordelikheid vir hul kinders se onderwys het. Die staat mag wel minimum onderwysstandaarde stel om te verseker dat kinders behoorlike onderrig ontvang. Die Grondwet bepaal ook dat standaarde in onafhanklike skole nie minderwaardig mag wees aan die standaarde wat in publieke skole gehandhaaf word nie.
Die promosiebeleid van publieke skole bepaal egter dat kinders slegs een keer per fase 'n graad mag herhaal. Daarna moet hulle deurgesit word na die volgende graad, ongeag hulle akademiese prestasie. Dit impliseer dus dat 'n leerder tot Graad 12 kan vorder sonder enige wesenlike akademiese prestasie. Alhoewel dit 'n uiterste voorbeeld is, impliseer dit dat daar nie 'n absolute minimum standaard vir publieke skole bestaan nie, en dat die vereiste dat onafhanklike skole se standaarde nie minderwaardig mag wees nie, irrasioneel is.
Daarby is die standaarde wat die staat vir tuisonderwys stel grootliks gebaseer op hoe skole funksioneer. Sulke kollektiewe maatstawwe is egter nie geskik om individuele vorme van onderrig te beoordeel nie.
Die Suid-Afrikaanse Skolewet is verantwoordelik vir 'n fundamentele wanbalans in die onderwysstelsel: ouers dra die primêre verantwoordelikheid vir hul kinders se opvoeding, maar die werklike beheer oor die inhoud en rigting van daardie opvoeding berus by die staat, deur die Minister en die LUR wat beleid bepaal. Skole, beheerliggame en amptenare moet hierdie beleid implementeer, terwyl ouers hoofsaaklik verplig is om toe te sien dat hul kinders skool bywoon, skoolgeld betaal en die stelsel ondersteun. Alhoewel ouers formeel deur beheerliggame verteenwoordig word, is hul invloed indirek en beperk, en kan dit deur owerhede oorheers word. Selfs ouers wat tuisonderwys gee moet toestemming by die staat kry en deur die staat gemonitor word. Die gevolg is dat ouers aanspreeklik gehou word vir die uitkomste van hul kinders se opvoeding, sonder dat hulle werklik seggenskap het oor die kernbesluite wat daardie opvoeding vorm.
Hervorming is Noodsaaklik
Suid-Afrika benodig 'n nuwe onderwysbedeling. Een wat ouers bemagtig. Nie net om toelating en taalbeleid van publieke skole te bepaal nie, maar ook om pedagogiek, inhoud en vaardighede te bepaal. Tog bly politici hoop dat die uitbreiding van skoolplig na jonger ouderdomme, meer toetse, meer onderwyseropleiding, meer leesprogramme 'n verskil gaan maak. Partye met gevestigde belange in die skoolstelsel soos vakbonde, departemente, skole en eksamenrade bly vra vir meer geld vir nuwe projekte om die skoolstelsel te verbeter.
Om te beweeg na 'n nuwe onderwysbedeling vereis dat mense 'n paradigma skuif moet maak. Van 'n paradigma van gesentraliseerde staatsbeheerde skoolonderwys na gedesentraliseerde diverse onderwys onder beheer van ouers.
'n Paradigmaskuif is moeilik vir persone met gevestigde belange in skole. Dit word oorwegend op grondvlak gemaak. Een gesin na die ander. Stroomop ouers wat besluit dat hulle iets beter kan doen as die skoolstelsel by die huis. Ouers wat gebruik maak van aanlynskole wat in die grysgebied van die wet bedryf word of gebruik maak van mikroskole wat sukkel om te kan registreer. Ouers wat stilweg buite die skoolstelsel werk sonder om aanstoot te gee aan die wat luidkeels aandring op die regruk van die skoolstelsel.
Die paradigmaskuif gaan nie oornag gebeur nie. Soos alternatiewe onderwys die norm word, gaan die SA Skolewet 'n uitgediende wet word. 'n Zombiewet wat in die boeke staan, maar in die praktyk geen effek het nie.
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











