2025 sal in die geskiedenis onthou word as 'n waterskeidingsjaar vir die joernalistiek. Met die beëindiging van die gedrukte weergawes van Beeld en Rapport teen die einde van 2024, is 2025 die eerste jaar van die nuwe digitale hoofstuk van Afrikaanse media.
Met hierdie verskuiwing het Afrikaanse media deel geword van wat die Franse denker Regis Debray die oorgang van die grafosfeer na die kubersfeer noem. Vir Debray het die instellings, tegnologieë en infrastruktuur waarin boodskappe oorgedra word 'n groot impak op hoe idees verstaan word en wat as waar aanvaar word. Effens aangepas (Debray is maar 'n komplekse denker) onderskei Debray tussen drie basiese media-eras. Vir die doel van hierdie gesprek beperk ons onsself tot die moderne era. Daar is natuurlik die oraal-logografiese tydperk, van die antieke tydperk tot ongeveer die sestiende eeu, toe inligting hoofsaaklik oraal en in sommige wêrelddele deur 'n geletterde elite oorgedra is.
Die logografiese era neem 'n aanvang met die uitvinding van die drukpers in 1436. Dit lei 'n tydperk in wat deur die geskrewe boek oorheers word, gekenmerk deur 'n nuwe vryheid van denke en die groot Europese denkhoogtepunte van die Renaissance, Hervorming en Verligting. Polities assosieer ons hierdie era met sleutelbegrippe soos die sosiale kontrak, die individu en veral die verskyning van vooruitgang as ideaal. Aan die een kant het ons liberale denkers soos John Locke, maar dit is ook die geboorte van die Marxisme, en die gedagtes van die bevryding van diegene wat deur die gegewe sisteem uitgesluit of onderdruk word.
Die videosferiese era (soms ook grafosferiese era genoem) kenmerk die era van massakommunikasie: groot nasionale koerante, radio, film en televisie. Met sy begin in die laat-Victoriaanse tydperk strek hierdie era tot in die laat-twintigste eeu. Dit word gekenmerk deur groot instelllings en eenrigtingkommunikasie. Groot koerante soos die Times, Guardian ens. asook die groot TV-netwerke soos CNN en BBC definieer hierdie era, asook meestal die politieke narratief. Dit is die era van die “vis-en-tjips”-koerante, omdat hierdie wegneemetes altyd tradisioneel in ongedrukte koerantpapier toegedraai is. Alhoewel daar heelwat behoudende publikasies en stasies is, is hierdie medium per definisie progressief, omdat dit afhanklik van die ontbloting van verborge skandale en feite van die “establishment” is. Debray verbind dit aan die republikeinse modernistiese projek (alhoewel dit in die Anglosfeer eerder met die demokrasie in verband gebring moet word). Hoe dit ook al sy, gedrukte media vorm burgers, dit is die medium van rede, van die logos. In hierdie era word suksesvolle joernalistieke ondersoekers dikwels helde. Dink maar aan die dekking van enige heersende politieke skandaal.
Hierdie era se pers is tans besig om hulle beherende greep op die politieke narratief te verloor. Die videosferiese era sal nog lank met ons wees, maar dit word tans verswelg deur die opkoms van die kubersferiese era, waarin elektroniese en digitale netwerke hegemonies word. Hierdie tydperk beweeg van beheerde oordrag na onmiddellike uitruil. Kommunikasie is nie meer 'n eenrigting-oordrag van kennis nie, maar 'n eindelose sirkel van beelde en interaksies. Ons vind ook 'n oorgang van duur na onmiddellikheid: Waar die boek standvastig is, is inligting in die kubermedium vloeibaar, verganklik en kortstondig. Debray identifiseer drie belangrike kenmerke van hierdie verskuiwing. Daar vind volgens hom 'n de-territorialisering plaas (kennis is nou oral — mens sukkel trouens om dit te vermy!), de-hiërargisering (iedereen is nou in beginsel 'n sender) sowel as de-temporalisering (die Nou verdring die geskiedenis).
Veral laasgenoemde is 'n baie komplekse vraagstuk, waarop daar later teruggekeer sal word. Vir eers val die fokus op 'n baie interessante verskynsel wat sterk verband hou met hierdie verskuiwings in mediavorme: Die opkoms en verval van die progressiewe ideaal, beide wêreldwyd en in Suid-Afrika.
Verligtingsmedia: die Vrye Weekblad en die Progressiewe Stem
2025 sal ook in mediaterme spesifiek onthou word as die sluitingsjaar van die herrese Vrye Weekblad. In 'n era waar die tradisionele media – dit is nou die “vis-en-tjips” media, of “egte” koerante onder druk is, moet 'n mens maar versigtig praat wanneer 'n publikasie sy deure sluit. Veral as dit Afrikaans is.
Maar dit beteken nie dat 'n mens nie rustig kan nadink oor die implikasies van hierdie gebeurtenis nie. Veral as hierdie publikasie 'n lang en invloedryke geskiedenis het en aanvanklik die verskuiwing na 'n meer permanente kuberruimte suksesvol en kreatief aangepak het. Die sluiting van die Vrye Weekblad is nie net 'n weerspieëling van die stand van die media oor die algemeen nie, maar ook van 'n diskoers wat die Weste tot 'n groot mate intellektueel bepaal het.
In die wyer verband is dit 'n bepaalde plaaslike manifestasie van 'n baie groter verhaal van verbetering, wat begin het met die geletterdheidsontploffing van vroeë moderne Europa. Die sukses van die empiriese wetenskappe – en die beskikbaarheid van die media om dit suksesvol te versprei – het gelei tot 'n groeiende optimisme dat 'n universele Rede die mens die geleentheid bied om sy wêreld sonder tradisionele gesagsfigure en instellings te verstaan en sy lot radikaal te verbeter. Waar die Middeleeue gekenmerk is deur 'n rigiede Synsketting, met die monarg as God se verteenwoordiger op aarde, het denkers so uiteenlopend as Jean-Jacques Rousseau, Thomas Hobbes en veral John Locke meer rasionele gronde vir 'n politieke bestel bepleit, soos byvoorbeeld die sosiale kontrak.
In die agtiende eeu het die progressiewe ideaal vergroot: die Markies van Condorcet het die “oopheidsdiskoers” van die Verligting– wat die insluiting van feitlik alle groepe wat tradisioneel sonder mag was, in 'n neutedop verteenwoordig. Hy het afskaffing van slawerny bepleit, gelyke regte vir vroue en mense van alle rasse, asook universele opvoeding en die skepping van 'n welsynstaat voorgestaan. Na die Franse Rewolusie het 'n verskeidenheid van denkers, van John Stuart Mill se utilitarisme tot die laat-Victoriaanse melioriste, vorme van progressivisme voortgesit. Die berugste voorbeeld is egter Karl Marx, wat die geskiedenis tot 'n klassestryd gereduseer het en 'n globale werkersrewolusie bepleit het. Die progressiewe ideaal het sterk gerus op die grafosfeer: van Rousseau se pamflette tot die klassieke werke van die groot progressiewe denkers en die groot sosiale romans van skrywers soos Dickens, Eliot, Zola en Dostoyevsky was 'n gewillige en geduldige drukker broodnodig. (Die drie volumes van Das Kapital is meer as 1300 bladsye lank). Marx se invloed het natuurlik nie in die grafosfeer gebly nie. In die vroeë twintigste eeu het die gedagte van groter sosiale geregtigheid ook deur ander media versprei, radio, film, kort opstelle, en selfs die beeldende kunste en toneel – dink maar aan Brecht en later Arthur Miller.
Hierdie kort opsomming laat natuurlik nie reg geskied aan 'n baie komplekse verhaal waar die gedrukte woord gebruik is om mense van sosiale onreg bewus te maak nie en dit sou moontlik wees om nog baie oor hierdie onderwerp te sê. Wat van belang is, is dat tradisionele media in 'n groot mate die draers van progressiewe ideale is. Vir dekades is joernaliste, intellektuele en skrywers gevoed deur geesteswetenskappe wat sterk gevorm is deur radikale literêre teorie en kritiese filosofie — wat die indruk geskep het dat 'n intellektuele omgang met die wêreld noodwendig 'n skeptisisme teenoor tradisie impliseer. Om te dink is om teen iets te wees. Daar was natuurlik vir 'n baie lang tyd nie 'n tekort aan strukturele onregte en onwyse militêre besluite wat wel radikale optrede vereis het nie.
Hierdie diskoers het homself baie intensief gemanifesteer in die tagtigerjare van die vorige eeu. Opsommend kan ons dit beskryf as die gedagte dat diegene wat altyd die mag gehad het, soos Europa en sy klassiek-Christelike beskawing, en diegene wat dit verteenwoordig (behoudende mans in magsposisies) eintlik nie so “beskaafd” was nie en nie eintlik hierdie mag “verdien” het nie. Hierdie gedagte was veral na die gruwels van WWII geopper. Dit was nou die Ander se “beurt”: gekoloniseerdes, die werkersklasse, vroue, en mense met alternatiewe vorme van seksualiteit. In Suid-Afrika het hierdie diskoers fel gebots met die staatsvormingsideale van die Nasionale Party, wat self tot 'n mate gesien kan word as 'n reaksie op Britse imperialisme.
'n Ironiese slagoffer
Die Vrye Weekblad het sy naam gemaak as 'n “doring in die vlees” van die Nasionale Party en hulle wêreld in die 1980’s, met onthullings oor die wandade van die veiligheidspolisie. Bekende voorbeelde sluit in die Vlakplaas-bedrywighede, wat ook gelei het tot 'n voorlegging by die Waarheids- en Versoeningskomissie in 1997. Die blad het egter reeds in 1994 gesluit, weens swaar regsonkoste in 'n lastersaak, aanhangig gemaak deur die polisiegeneraal Lothar Neethling. Die blad het in 2019 virtueel herrys met die missie om ook 'n doring in die vlees van die huidige regering te wees, voordat dit finaal in Maart 2025 gesluit het.
Tot 'n groot mate was die Vrye Weekblad – net soos sy tydgenoot, die Progressiewe Federale Party – 'n slagoffer van sy eie sukses. Met die oorgang van 1994 is al die ideale waarvoor die Vrye Weekblad geveg het, oënskynlik verwesenlik: die regime waarteen hulle geveg het, het verdwyn. En daarmee saam die magstrukture wat dit vergesel het. Hulle was eintlik 'n sprekende voorbeeld van die simbiotiese verhouding tussen die gevestigde media en die progressiewe ideaal: net soos die universiteitsintellektueel en gerekende skrywer vanaf die 1960’s, was dit 'n gegewe dat enige self-respekterende joernalis ook 'n aktivis vir sosiale bevryding sal wees.
Tog is dit asof die herrese Vrye Weekblad nooit werklik in die reine kon kom met hul eie sukses nie. Alhoewel daar pogings aangewend is om die huidige regering te kritiseer op 'n soortgelyke wyse as wat hulle die vorige regering hanteer het, het dit nooit werklik oortuig nie. Dit is hoofsaaklik toe te skryf aan die feit dat hulle hulself steeds sou sien as heldefigure in 'n massiewe stryd wat voortwoed tussen wat 'n mens – om Willem De Klerk se berugte etikette van 1966 ietwat aan te pas – goeie “verligtes” en bose “verkramptes” kan noem. Vandag is die “verkrampte” vyand ietwat meer kompleks as bloot die vasberade voorstanders van afsonderlike ontwikkeling: dit sluit 'n wye spektrum van behoudende denkers en kultuurverskynsels in, ook van buite Suid-Afrika. Die Vrye Weekblad was gou om 'n plaasvervanger vir PW Botha in Donald Trump te vind. Dit is geen ongeluk dat Du Preez juis in The Guardian 'n verband trek teen wat hy beskryf as die ongeldige betrokkenheid van die Amerikaanse regering by Suid-Afrikaanse binnelandse politiek nie. Die Guardian het, net soos Vrye Weekblad, homself graag geposisioneer as die progressiewe stem teen die bose verdrukkers. En net soos Vrye Weekblad, vind hierdie blad dit moeilik om sinvol te reageer wanneer die Arbeidersparty nou wel aan bewind is en deur sy eie vergrype gekenmerk word.
Daar is al baie oor wokeness geskryf, en daar gaan nie nou in diepte ingegaan word oor die oorsprong van die beweging in die straatkultuur wat die burgerregtebeweging in die VSA vergesel het nie. Maar wel die volgende: Dit is interessant om daarop te let dat wokeness in sy 21ste eeuse gedaante juis sy verskyning in die oorgangstydperk van grafosfeer na videosfeer maak. Wokeness kan beskryf word as dit wat oorbly as daar aan die formele vereistes van die progressiewe ideaal voldoen is. In die Weste is daar stemregtelike erkenning gegee aan elke moontlike uitgeslote groep: die werkersklas, slawe, vroue, feitlik elke denkbare groep mense van alternatiewe seksuele gebruik en lewensstyl. Dit sê natuurlik nie dat dit na ware ekonomiese vryheid gelei het nie, maar baie sal waarskynlik saamstem dat wokeness eintlik die indruk skep van 'n poging om saagsels te probeer saag: dit gebruik radikale rewolusionêre taal om idees te beskryf wat eintlik al deel geword het van ons alledaagse politieke gesprekke. Heel moontlik is dit die definiërende ideologie van die vroeë kuber/videosfeer omdat dit graag van ekstreme beelde gebruik maak en floreer op sosiale media. So ook iets vreemd onvanpas aan die gebruik deur wit linkses van die woke woordeskat in Suid-Afrika, amper soos iemand wat 'n deftige aandrok na 'n braai dra: dis nie soseer boos nie, maar dit pas net nie in 'n land wat nog met soveel konkrete probleme uit die ou progressiewe grafosfeer, soos armoede en ongeletterdheid, sukkel nie. Daarom is dit nie verbasend dat Max du Preez bieg dat hy inderdaad woke is nie.
Hierdie is maar 'n paar voorbeelde wat dui op die onvermoë van die Vrye Weekblad om sin te maak van 'n wêreld waar progressiwisme, hetsy in die breë sin van die vryheidsgolwe wat die Weste in die 1960’s getref het, of in die enger Suid-Afrikaanse sin, eintlik aan die uitbrand is. Die rede is dat die meeste groot doelwitte ten minste op wetlike en simboliese vlak reeds bereik is, en dat die meeste probleme, soos byvoorbeeld groeiende gapings tussen ryk en arm eerder kundige ekonome as vlagswaaiende aktiviste vereis. Dus meer praktiese wysheid en minder ideologie, meer in voeling met die werklike uitdagings en minder met die idealistiese strooipoppe. Plaaslik kan die probleem verder gesien word in die pogings om die 1994-droom “lewendig” te hou deur gerieflike sondebokke te vind. Sprekend is een van die laaste dialoë, met Helen Zille. Terwyl sy 'n anti-apartheidsgeskiedenis met die Vrye Weekblad deel, word sy amper as 'n rassis uitgebeeld asof dit net skurke soos sy is wat tussen die ANC en 'n skitterende suksevolle Suid-Afrika staan.
Dat kritiek meestal gelewer is in terme van daardie identiteitsaspekte wat progressiewes as boos behoort te beskou – synde wit, manlik, ryk en selfs klassiek liberaal – laat 'n mens wonder of die laaste jare van die Vrye Weekblad nie bloot gewy is aan 'n persoonlike gerusstellingsprojek nie: dat die droom van 1994 tog die moeite werd was en dat die Ander steeds net wag om te presteer. As dit tog net nie vir daardie dekselse Boere/liberales/Christene/kapitaliste was nie…!
Balkanisering of Vryheid?
'n Mens sou kon sê dat hierdie poging tot “gerusstelling” beskryf kan word as 'n laaste poging om “boheems” te wees, die uitskieterstem van redelikheid teenoor 'n agterlike, bekrompe massa wat “opgevoed” moet word en van hulle vooroordele verlos moet word.
Die Vrye Weekblad is ook nie die enigste plaaslike blad wat hom aan hierdie narratief skuldig gemaak het nie. Daar is ook sterk pogings van dag- en Sondagkoerante wat probeer om parrēsiastēs te wees, as sprekers van waarheid teenoor gevaarlike gesagsfigure wat nie hulle waarheid wil hoor nie. Die Watergate-joernaliste Bernstein en Woodward is uitstekende voorbeelde. (Parrhesia is 'n ou Griekse woord wat verwys na die praktyk van 'n persoon wat oor minder mag beskik en wat vir iemand wat oor meer mag beskik, die waarheid met legitimiteit vertel. 'n Interessante bybelse voorbeeld is Natan se konfrontering van die koning Dawid in 2 Samuel 12:1–15).
'n Beduidende afdeling van die tradisionele pers probeer steeds 'n groot morele waarheid aan 'n leserspubliek te verkoop wat al voos gekonfronteer is met die narratief dat hulle sleg is en “beter” gemaak moet word, of “getem” behoort te word deur uitskieterjoernaliste wat van beter weet. Die derde skuif waarvan Debray praat – die kuberrewolusie vanaf die 1990’s – het tot gevolg gehad dat mense se opsies vergroot het. Hulle is nie meer afhanklik van tradisionele instellings soos gedrukte media en nuusagentskappe wat die Groot Nuus oor afstande na hulle bring nie. Vir al die onderliggende verskille was die Groot Nuus eintlik baie eenvormig: Die gemeenskap/stelsel/tradisie waartoe die leser of kyker behoort is deel van 'n besoedelde erflating en hy of sy moet eintlik deur meningsvormers op die regte pad gelei word, ten einde 'n staat van verlossing te bereik. Dit kan gesien word in die mediaretoriek van die laaste president wat nog deur die gevestigde pers in die Wit Huis geplaas is: Barack Obama. Oppervlakkige verskille nieteenstaande, was daar in die mediadekking van die 2008 Amerikaanse presidensiële verkiesing – beide plaaslik en internasionaal – 'n sterk verlossingsnarratief, asof die triomf van Obama die noodwendige vervoltrekking is van 'n lang narratief waarvoor daar baie lank geveg is. Netwerke en meningsvormers het van sterk morele taal gebruik gemaak om die oorwinning te beskryf. 'n Soortgelyke aanslag is probeer in 2016 en 2024 – om die eerste vrou in die Wit Huis te plaas. Hierdie kere was dit natuurlik minder suksesvol.
Die vraag kan gevra word of die verdeling wat ons vandag in die Weste sien werklik berus op 'n links-regs polarisasie, en of ons nie eintlik te make het met die oorblyfsels van 'n tradisionele medianarratief teenoor 'n nuwe aanslag wat van 'n groter variasie “spoedmedia” gebruik maak nie? Anders as wat die tradisionele metanarratief dit wil hê, is die laat moderne mediaverbruiker baie gesofistikeerd en maak van 'n variasie van bronne gebruik. Daar is natuurlik altyd die gevare van balkanisering en eggo-kamers, maar daar is ook nuwe vryheidsmoontlikhede, die moontlikheid van 'n groot verskeidenheid van stemme wat die laat-moderne burger weer die geleentheid gee om asem te skep.
Dit kan ook meer outentieke linkse stemme insluit, wat werklike institusionele onregverdighede kan aanvat sonder om in 'n verdoemende moralisering te verval. Want 'n ware demokrasie benodig al sy stemme – selfs diegene wat uit pas is met 'n veranderende wêreld.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Ek wonder wat konserwatiewe media soos dié van die Murdoch-empire of The Telegraph sal sê oor Louise se aanspraak dat die grafosfeer progressief-gedrewe was. As gewese joernalis kan ek die leser verseker dat die eerste stryd om korrupsie en staatsvergrype te ontbloot daarin gelê het om konserwatiewe redakteurs te probeer oorreed, manipuleer of te systap. Dit was die vernaamste motivering vir die stigting van publikasies soos VWB en die Weekly Mail.
Ek dink 'n meer vrugbare lens om na die media te kyk is deur die konsep van "surveillance capitalism" van Shoshana Zuboff. Ingevolge daarvan is die "culture wars", die sosiale histeries van die Tea Party versus wokeness, die resultaat van die kolonisering van die Wilde Weste van die sosiale media deur die Faangs (die "Big Tech" maatskappye). Dat hierdie wederkerend-voedende histeries huidjie en muidjie die Afrikaanse sosiale diskoers oorgeneem het, onder ander diskoerse, is 'n treffende demonstrasie van hierdie kolonisering.
Baie dankie dr Mabille. Geweldig insiggewend.