Volgens 'n ou Romeinse mite het die godin Cura (“sorg”) eendag langs 'n rivier met klei gespeel, en daaruit 'n mensvorm gemaak. Toe sy haar maaksel gadeslaan het sy soveel bewondering daarvoor gekoester dat sy gewens het dat die klei lewe moet kry, en sy het vir Jupiter gevra of hy lewe daarin sou blaas. Jupiter het ingestem, op die voorwaarde dat hierdie wese sy naam moet dra. Tellus, oftewel aarde, het beswaar aangeteken en daarop aangedring dat die wese haar naam moet dra aangesien dit uit klei gemaak is. Saturnus, die god van wysheid, het tussenbeide getree en bepaal dat by afsterwe die mens se siel na Jupiter sal gaan en die liggaam na Tellus (gedeeltelik is die naam homo afgelei van humus of grond), maar solank hierdie mens leef op aarde, sal hy aan Cura behoort.
Die grondtrek van menslike lewe is dan sorgsaamheid (soos omvattend bespreek in die grootste filosofiese werk van die twintigste eeu, Sein und Zeit van Martin Heidegger in 1929). Tereg kan egter gevra word of daar 'n kentering gekom het in die mens se ingesteldheid tot sorg, veral sedert die tweede helfte van die twintigste eeu. Waarom juis hierdie tydstip, 'n tydstip van relatiewe vooruitgang? Is vooruitgang en sorg dan nie aanverwant nie? Nie noodwendig nie.
Albert Camus skryf in sy bekende essay oor die mite van Sisyfos (wat verdoem is om elke dag 'n klip teen 'n heuwel uit te rol) dat hy gelukkig is om sy straf uit te dien. Wat Camus na my mening nie na behore verreken nie, is die rede vir Sisyfos se straf, naamlik dat hy die dood (Thanatos) vasgeboei het, en mense gevolglik van hulle dood ontneem het. Daarmee saam is die mens ook ontneem van die sorgsame bestaan, oftewel die koestering van die lewe.
Teenoor die sorgsame ingesteldheid ten aansien van die dood het die voerbande van die industriële revolusie iets Sisyfosiaans daaraan, 'n onophoude vorentoe-en terug beweging sonder dat dit die gepaardgaande gelate geluk bewerkstellig wat Camus by Sisyfos voorgestel het.
Van sorg na bestuur
'n Belangrike sosiale verskuiwing wat relatief ongesiens groot veranderinge meegebring het, was die uitbreiding van die bestuurswetenskappe. Dit het volgens James Burnham se boek uit 1941, The managerial revolution, 'n hele nuwe klas geskep wat die bekende verdeling tussen die bourgeoisie en die proletariaat ongedaan sal maak en vervang met nuwe sosiale stande, soos die bekende skrywer George Orwell in sy voorwoord tot Burnham se werk ook opgemerk het. Nog voor die Koue Oorlog was hier al 'n visie van 'n groter verskuiwing:
“Capitalism is disappearing, but Socialism is not replacing it. What is now arising is a new kind of planned, centralized society which will be neither capitalist nor, in any accepted sense of the word, democratic. The rulers of this new society will be the people who effectively control the means of production: that is, business executives, technicians, bureaucrats and soldiers, lumped together by Burnham under the name of ‘managers’.”
Orwell se voorspelling oor die uiteinde van hierdie nuwe klas is allesbehalwe optimisties: “each society will be hierarchical, with an aristocracy of talent at the top and a mass of semi-slaves at the bottom.”
Orwell was in een opsig verkeerd, naamlik dat diegene wat aan die bopunt van die orde sit, nie noodwendig dikwels oor talent of die kundigheid beskik oor die werk wat gedoen word nie. Die mense wat die werk doen op die vloer trek dikwels aan die kortste ent, terwyl meer burokratiese posisies oopgaan aan die bokant van mense wat hulle salarisse regverdig deur die “CC” knoppie op elke e-pos te druk.
Dit is belangrik om te noem dat organisasies nie meer funksioneer op die ou beginsels van “minimum inset, maksimum uitset” nie, maar eerder op grond van die grootte van die burokrasie, wat 'n voorwaarde vir deelname aan die mark geword het. Eenvoudig gestel, die verpakking het belangriker as die produk geword. Die rede hiervoor is volgens David Graeber in sy boek Bullshit Jobs (2018) dat “corporations are less and less about making, building, fixing, or maintaining things and more and more about political processes of appropriating, distributing, and allocating money and resources.”
Die verwringing van sorg
Sorgsaamheid word dermate onderdruk dat dit êrens wel 'n uitlaatklep kry in allerlei ekstremistiese politieke ideologie. Die onderdrukking van sorg “has left most working people with little way to express that care except to direct it towards some manufactured abstraction: “our grandchildren”; “the nation”; whether through jingoist patriotism or appeals to collective sacrifice”, aldus Graeber.
Soos eienaarskap en verantwoording oor hulle take uitgekontrakteer word aan voorafbepaalde uitkomste, so word sorg as sodanig uitgekontrakteer aan algoritmiese politiek en bemarkbare slagspreuke, aan wat Byung-Chul Han “infokrasie” noem. Die infokrasie is nóg kapitalisties, nóg sosialisties, eerder 'n mengsel van die slegste eienskappe van albei (dit wil sê 'n mengsel van sintuigprikkeling en spioeneringstegniek). Dit is in hierdie opsig miskien meer gepas om in plaas daarvan om die wenner tussen kapitalisme en sosialisme te probeer antisipeer, tesame met Lebow se boektitel te verklaar “We all lost the Cold War.” Die infokrasie soos dit tans funksioneer is 'n kapitalistiese koek met sosialistiese versiersuiker daarop, verpak in akronieme soos “PPP”: “People, Planet, Profit.”
Die versorging van die versorgers
Graeber wys daarop dat met die industriële revolusie 'n mite ontstaan het oor die wese van werk, naamlik dat dit wesenlik verband hou met die mens as Homo Faber, as maker.
Tereg kan ons egter vra hoeveel van ons dagtake hou werklik verband met nuutskepping, en hoeveel daarvan met onderhouding? Tesame met die opheffing van entrepreneurs en bestuurders het daar egter 'n daling in die salarisse van die sorgstand plaasgevind om plek te maak vir administrateurs. Wie is die sorgstand? Dit is mense soos onderwysers, terapeute, polisieoffisiere. Hulle take is nie om iets nuuts te skep nie, maar om iets te onderhou.
Ons begin besef dat die afname in die koopkrag van gewone mense kommerwekkende gevolge vir die samelewing inhou. Die organisasies groei, die BBP syfers styg (toegegee, nie soseer in die sogenaamde ontwikkelende lande soos 'n paar jaar gelede nie), maar waar staan die koopkrag van die gemiddelde burger, veral die jonger werkendes? Graeber se uitdaging is om die aard van die mens te heroorweeg soos dit in die ekonomiese diskoers daar uitsien, naamlik die idee dat elke mens 'n wolf vir die ander is:
“one of the things that we have discovered, which is quite interesting, is that human beings have a psychological need to be cared for, but they have an even greater psychological need to care for others, or to care for something.”
Dit bring ons terug by ons oorspronklike tema dat sorg nie hoort tot 'n buite-aardse ideaal nie. Sorg moet van politieke inmenging weerhou word en onder die jeuk van adminstrasie bevry word. 'n Samelewing wat nie sorg prioritiseer nie, en nie die versorgers versorg nie, stort in duie. Sorg lê tussen ideaal en die aarde, dit is iets meer as materialiteit, maar nie daarvan los nie en daarsonder verloor materialiteit sin en verval dit tot beheersug.
Dr Hercules Boshoff is 'n navorser en skrywer, tans woonagtig in Stellenbosch. Sy nuutste boek Verantwoording is tans beskikbaar by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












Puik skrywe wat dit, wat my ń geruime tyd al pla, baie beter uiteensit as wat ek dit ooit sou kon doen. Hoe inisieer/behou ons juis ń sorg gefokusde samelewing?