Die geval van Sisisi Tolashe, ons onlangs geskorsde en nou gewese minister van maatskaplike ontwikkeling – wat ondersoek is oor ernstige vergrype – het my genoop om te skryf oor die verskynsel waarna ek sal verwys as die “gewaande aandringing op slagofferskap en/of selfs martelaarskap” in die Suid-Afrikaanse konteks.
Vir diegene wat dit nie weet nie, Tolashe het na bewering twee luukse sportnutsvoertuie by die Chinese ambassade ontvang as skenkings ten bate van die ANC-vroueliga. Onse minister het dit toe egter goedgedink om die twee voertuie eerder aan haar kinders te skenk. Maar dit is nog nie die einde nie, want sy het na bewering ook haar huishulp, wat met belastinggeld betaal word, gedwing om die helfte van daardie staatssalaris aan haar dogter oor te betaal.
Wat was Tolashe se amptelike reaksie? Ontkenning, natuurlik. Maar ook slagofferskap: sy is kwansuis die slagoffer van 'n doelgerigte en volgehoue poging om die publiek te mislei en haar leierskap te ondermyn deur die verspreiding van vals en verwronge inligting.
Tolashe se verhaal klink ongelukkig al te bekend in die Suid-Afrikaanse konteks. Wanneer ’n ANC-kader uitgevang word weens bedrog, is die eerste linie van verdediging gewoonlik bewerings van die een of ander komplot wat daarop neerkom dat hy of sy slegs 'n slagoffer van iemand anders se mala fides was. Dikwels word die redes vir die slagofferskap baie ver in die verlede gesoek. Dit is nie ongehoord dat beweer word dat dit teruggevoer kan word na die tyd van Van Riebeeck, kolonialisme of apartheid nie.
Aversie vir Verantwoordbaarheid
Hoewel die beweerde bron van Tolashe se slagofferskap in hierdie geval “een van haar eie” is – naamlik ’n voormalige woordvoerder van die departement wat afgedank is en na bewering nou wraak neem – vat dit gewoonlik nie lank voordat die verre verlede se onregte opgehaal word nie. Laat ons maar net hoop dat die verre verlede nie ook weer in hierdie geval – al is dit net by implikasie – opgehaal sal word as 'n “ernstig bydraende faktor” wat die beweerde vergrype van die Minister behoort te verskoon, indien nie selfs te regverdig nie.
Ons kan nou aanbeweeg na die groter verhaal van gewaande slagofferskap weens die verre verlede, wat klaarblyklik nie 'n vervaldatum in Suid-Afrika het nie. Dit is bloot te gerieflik, óf as regstreekse en blatante verskoning vir vergrype, óf as gesuggereerde verskoning en/of regverdiging vir vergrype. As ons almal dit nie al so dikwels gehoor het nie, sou ek hier die talle gevalle kon aanhaal waar die onregte van die verlede gebruik is – en nog steeds gebruik word – om afwykende gedrag te regverdig.
Een van die mees klassieke gevalle wat herhaling werd is, was egter dié van Maite Nkoana-Mashabane, wat van 2009 tot 2018 as Suid-Afrika se Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking gedien het.
'n Onderhoud met die agbare Minister is deur Jane Dutton, 'n joernalis wat in Suid-Afrika gebore is, op die Al Jazeera English-kanaal in laat Mei 2016 uitgesaai. Die Minister het geweier om regstreekse vrae oor die destydse politieke klimaat te beantwoord, wat groot verleentheid onder Suid-Afrikaners veroorsaak het. Om alles te kroon, het Nkoana-Mashabane die gesprek toe herlei na haar eie grootwordjare onder apartheid. Sy het vir Dutton gesê: “Sekerlik is ek en jy in dieselfde ouderdomsgroep, maar jy het nog nooit 'n waterkan op jou kop gedra nie. Ek het, toe ek 10 jaar oud was... Ek het 'n gat hier in my kop van ’n waterkan dra.” Sy het na die bokant van haar kop gewys terwyl sy die bewering gemaak het, en dit as 'n analogie gebruik om die swaarkry wat sy verduur het, te kontrasteer met die ervaring van die onderhoudvoerder.
Kritici het regverdiglik gevoel sy gebruik haar persoonlike geskiedenis om aandag af te lei van die ernstige kontemporêre kwessies in die land.
Soos reeds gesê, daar is 'n berg ander soortgelyke gevalle, ook baie kontemporêres, waarmee ek nie die lesers gaan verveel nie, want ons almal is al te bewus daarvan. Daar is egter 'n bykanse psigose te bespeur, waarna ek verwys as “gewaande aandringing op slagofferskap en/of selfs martelaarskap”.
Werklike teenoor Opportunistiese trauma-beweringe
Dit gesê, daar is beslis baie gevalle waar werklike slagofferstatus wel bestaan weens die trauma wat onder apartheid beleef is. Dit is nie na daardie gevalle wat ek verwys nie, maar na die geveinsde bewapening daarvan ten einde ontoerekeningsvatbaarheid te kan pleit.
Of om omgekeerde diskriminasie en selfs blatante rassisme daarmee te probeer regverdig. Of om duidelike misdadigheid en korrupsie daarmee te probeer toesmeer en af te maak as “geregverdig”. Dit is ook die ou “two wrongs make a right”-redenasie: dit is nou blykbaar “reg” om 'n verkeerde daad wat onder apartheid gepleeg is, te mag herhaal, want dan kanselleer die historiese verkeerde optrede die huidige verkeerde optrede uit. Of die geykte regverdiging vir vergrype wat verskoon word met woorde soos “dit is nou ons tyd om te eet”.
Sonder twyfel impliseer die mislukte ANC ook keer op keer dat redes vir hul mislukkings nie by hulself gesoek moet word nie. Onthou die lesers die bykans lagwekkende geleenthede waartydens ANC-leiers saam met die werklike slagoffers van die einste ANC se gebrek aan dienslewering gaan betoog het? Om teen jou eie gebreke te betoog, in plaas daarvan om die gebreke daadwerklik aan te spreek, kan myns insiens beslis as psigotiese optrede of gedrag beskou word.
Oorskakeling na agentskap – dit wil sê om van 'n passiewe slagoffermentaliteit na 'n aktiewe boueridentiteit te beweeg – word juis deur kenners gesien as een van die belangrike metodes om van kronies beleefde slagofferskap weg te beweeg en die lokus van beheer binne jouself te vestig, in plaas van buite jouself, by “die ander”. Dink net hoe die toepassing van korrekte ekonomiese en ander beleide, wat oor 32 jaar 'n bewese suksesvolle Suid-Afrika tot gevolg kon gehad het, die geregverdigde traumas sou kon versag het. Dit is nie wensdenkery nie, want dit is in Duitsland se geval na die Tweede Wêreldoorlog bewys as 'n effektiewe kuur vir diepe trauma: werklike heropbou en ontwikkeling, sonder om aan die verlede vas te klou en “bewusteloosheid” te pleit.
Die ontsaglik getraumatiseerde Jode het ook ná die Holocaust hulself opgehef deur 'n magtige staat in Israel uit niks uit op te bou.
Daar sal natuurlik verwys word na beide genoemde gevalle se eksterne hulp, maar dit is mos nie asof Suid-Afrika nie die wêreld agter hom gehad het in die beginjare ná 1994, en lank daarna, nie. Daardie morele ondersteuning en daadwerklike finansiële bystand deur baie wêreldlande is egter skandelik verkwis deur middel van korrupsie en gebrekkige ontwikkelingsimplementering. Laasgenoemde, naamlik gebrekkige ontwikkelingsimplementering, het dikwels plaasgevind omdat bekwame hulp uit die ou bedeling doelbewus gemarginaliseer is of heeltemal uit die ontwikkelingsektore uitgewerk is. Dit het gebeur ten spyte daarvan dat baie bekwame amptenare en ander professionele beroepslui uit die ou bedeling geensins 'n bedreiging vir die nuwe regime ingehou het nie. Hulle moes egter plek maak vir “boeties en sussies” met ander pigmentasie, ongeag of hulle opgewasse was vir hul take of nie. Dit op sigself het Suid-Afrika ook 'n geweldige terugslag op ontwikkelingsterrein toegedien.
Dit hoef nie eens gesê te word dat oorgange baie oordeelkundig bestuur moet word nie. Ervaring neem baie jare om verwerf en opgebou te word. Jy faseer dus nie een dispensasie bloot met oorhaastigheid uit en vervang dit met die nuwe dispensasie se “gewenstes” nie. Dis die soort dwaasheid wat volg op revolusionêre verandering, met tragiese gevolge wat oorbekend is aan ons. Die Russiese Rewolusie en die swaarkry-gevolge daarvan is waarskynlik die bekendste voorbeeld, maar daar is nog meer voorbeelde.
Komplekse Stelsels verg Komplekse Kompromie
In ons geval in Suid-Afrika was ons oorgang nie die gevolg van 'n rewolusie nie. Dit was 'n vreedsaam onderhandelde oorgang. Maar natuurlik kon die Kamerade, met hul ouderwetse en uitgediende Sowjet-ideologieë, toe nie wag om “revolusionêr” op te tree deur hul oorhaastige vervangingsbeleid nie.
Wat onder andere as gevolg daarvan vernietig is, word na verwys as “institusionele geheue”. Dis daardie poel van meestal “onsigbare” ervaring, kennis en implementeringsvaardighede wat oor baie jare binne 'n bepaalde werkerspoel of instelling as geheel opgebou word. Daardie elemente werk oor tyd in simbiose saam om uitsonderlike effektiwiteit moontlik te maak. Dis ook bekend as sogenaamde sinergie, wat postuleer en bewys dat die totaal van byvoorbeeld ’n stelsel groter kan wees as die som van al die mindere dele daarvan gesamentlik.
As een van die min “bevoorregtes” wat ná die oorgang van 1994 as Afrikaner in 'n senior posisie in die ANC-administrasie aangestel is, ten spyte van my politieke neutraliteit en status as nie-ANC-kader, kan ek eerstehands getuig hoe die ANC die land ontwikkelingskade aangedoen het deur ervaring en bekwaamheid uit te werp ten gunste van baantjies vir boeties en sussies, ongeag die vermoëns van die plaasvervangers. Ek kan ook persoonlik getuig van die uiters professionele staatsamptenare en werknemers in staatsondernemings uit die ou bedeling, wat weens hul professionele en bekwame werksetiek nie 'n oomblik se gevaar vir die nuwe regering ingehou het nie, maar steeds uit die stelsel uitgewerk is. Nes ek, het hulle ook omrede hul liefde vir die land nie geskroom om die nuwe regering tot diens te wees om landsontwil nie.
Dis juis 'n kenmerk van ware professionaliteit om persoonlike voorkeure en sydighede op die agtergrond te skuif ten einde werksdoelwitte te bereik. Dokters hoef nie hul pasiënte se ideologiese ingesteldhede te deel ten einde hulle op professionele wyse te behandel nie. Dit geld ook vir ander professies, onder meer professionele staatsamptenare. Ek het vele uiters bekwame en professionele staatsamptenare uit die ou bedeling geken en met hulle saamgewerk, veral tydens die oorgang van die ou bedeling na die nuwe toe. Dit het my hart gebreek, om ons land se onthalwe, om te sien hoe die meeste van hulle maar net nie aanvaarbaar was vir die Kamerade nie, weens redes van velkleur en die dikwels ongegronde verskoning dat hulle “ongetransformeerd” was; 'n skynbaar onskuldige etikettering wat egter gewoonlik beteken het dat hulle in die Kamerade se pad sou staan om al wat 'n reël is te oortree, meestal ten einde onverdiende persoonlike rykdom te bekom – ten koste van die belastingbetalers.
In soverre slagofferskap dus wel in die Suid-Afrikaanse konteks waargeneem kan word, is baie se sogenaamde slagofferskap egter bloot van selfopgelegde en selfveroorsaakte aard. Dit kom neer op minagting van diegene wat wel legitieme slagoffers is, maar nie net om historiese redes nie: hulle is slagoffers van beide geskiedkundige ongeregtighede en ongeregtighede gepleeg in die post-1994-era deur die nuwe politieke meesters en hul klein sirkel van bevoorregte en onregmatig bevoordeelde meelopers.
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










